Ons het vandag Entrepreneursdag by die laerskool.
Ek weet 'n mens sou eerder wou hoor dat Klaradyn vandag Entrepreneursdag by die skool het; dis egter inderdaad nie sýnie, maar óns. Die briefie wat Maandag hier aangekom het, stel dit duidelik: dis beter as die ouers hulle bystaan; as die ouers nie kan help nie, word ouer kinders in hoër grade glo gevra om met die graad-eentjies-paddabeentjies hande te vat.
So toe word daar verlof ingesit. 'n Positiewe herinnering in my kind se kop, is belangriker as die enkele werksdag wat ek vandag afstaan. Ek gaan jaarin en jaaruit siek skool toe, so om vir privaatverlof aansoek te doen, is nie my gewoonte nie. Had ons nie vanjaar begrafnis gehou nie, was hierdie my eerste privaatverlof in jare.
Dit was weliswaar vreemd, toe Klaradyn half te kenne gee ek moet die een wees wat moeite doen om daar te wees. Waarom sal nugter weet –Annieka se persoonlikheid pas hierdie soort dinge honderd maal beter as myne...
Maar hier sit ek nou en wag om te ry sodat ek die stalletjie kan gaan bou. (Miskien moet ek eerder gaan kyk waar die opvoutafel is wat ek wil inpak.)
Klaradyn laat val slapenstyd gisteraand dat almal wil weet wat sy gaan verkoop en dat sy hulle dan los met die inligting dat sy gekleurde hoenderkuikens as lewende wesens gaan verkoop.
Wat die stomme maatjies hiervan maak, weet ek nie. Klaradyn onthou nie mooi van “lewende hawe” nie, en verander die hawe toe na wesens. Of dalk maak wesens vir haar net meer sin – 'n hawe is op haar ouderdom immers 'n plek vir skepe en by die see.
Die idee van gekleurde kuikens of konyne kom van my af. Daar was dertig of meer jaar gelede die absurde siek mode om gekleurde konyne aan kinders te verkoop. En iewers moes gekleurde kuikens ook die ronde gedoen het, want toe ek die vakansie laat val my kind se eerste entrepreneursdag lêom die draai, kom 'n pappa met baie ervaring, met die aanbeveling dat gekleurde kuikens 'n wegholsukses is. Ek het die suksesnie ernstig opgeneem nie, en die weghol letterlik– daar sien ek toe die ryklik gekleurde kuikens al oor die werf aan die weghol van die drie spanjoele af, dis nou die handjievol dagoud kuikens wat wel, eers dag 1, en toe die koekkleursel, oorleef het.
Toe sê ek Klaradyn voor om aan almal wat nuuskierig is, te vertel sy gaan gekleurde lewende hawe van die hand sit.
Genadiglik het die skool 'n verbod op lewende hawe. Kan jy jou die onaangename verassings voorstel as Sussa met 'n katjie in 'n boks van die skool af kom! Kan jy jou die trane voorstel?
Klaradyn sal met sywurms, katte, konyne, kokketiele én akkedisse (wat iemand as miniatuur komododrake aan haar afgesmeer het) op ons werf aankom.
Dankie tog die skool weet van beter.
Ek wens net hulle het van beter geweet as om Maandag eers te laat weet dat deelname vrywillig en opsioneel is!
En dan moet jy nog R50-00 in die skool se kis pomp voor jy en jou kind 'n lekker tyd kan hê.
Ons sal gelukkig wees as Klaradyn R10-00 wins toon. As ek haar dan moet vertel sy moet haar R10-00 afstaan én sy skuld my R40-00 wat ek haar moes voorskiet sodat sy kan deel neem – is dit oorverdowende snot en trane.
Nóg ek, nóg Annieka, nóg Klaradyn is hier in om geld te maak.
Ek wil 'n lekker tyd met my kind hê – en sedert Saterdag (toe ons voorraad gaan aankoop het) en vandag (met die krat gepak, die plakkate geskryf en alles klaar in gereedheid) het ons nog net een vet jol gehad. So lekker dat ons, wat my betref, nie 'n enkele pennie hoef te maak nie; dit wat ons beleef kan in elk geval nie in rand en sent omgesit word nie. Hoe betaal jy byvoorbeeld vir 'n kind wat met entoesiasme kom vertel van die lewende wesens –dis van onskatbare ware! Hoe sit jy die lekker van as gesin spoeg en plak en planne maak om in rand en sent? Jy kan nie.
Ons het in vyf dae sedert Saterdag nou al soveel koek gehad, dat die kersie vandag maar kan uitreën, dit sal nie die ergste wees nie.
Die drie van ons was twee jaar gelede by die China Mall in Johannesburg, ons het in een uitstappie drie van die Oosterse plekke besoek. En iewers, in 'n winkel wat besiger is as die ark se hoofingang net voor dit begin reën het en Noag almal se paspoorte pas korrek en in plek verklaar het – almal kan maar aan boord stap, iewers in so besige winkel, kom ons af op 'n Afrikaanse Afrikaner gesinnegroepie wat lawwe goed opkoop. By navraag blyk dit toe vir die entrepreneursdag te wees.
Toe kyk ek en Annieka mekaar gelyk in die oog, en sê, in koorspraak vir mekaar: “Ons moet hiervan onthou as Klaradyn eendag haar eerste entrepreneursdag het.”
Wel, dis drie jaar later, en ons is Saterdag deur China Mall toe om juwele te gaan koop. Ringe en oorbelle. Maar iewers moes ons moeg geraak het, perspektief verloor het, of ek was te haastig om by die volgende stalletjie uit te kom – want toe ons by die huis kom, het ons hopeloos te veel ringe, en, steeds hopeloos te veel, maar in verhouding tot ringe, hopeloos te min oorbelle.
Klaradyn sal in graad 10 nog met graad 1 se voorraad kan entrepreneursdag hou.
Ek het nagelaat om te noem waarom Annieka met haar volle gewig in die entrepreneursdag inklim, as dit nie is om geld te maak nie, of, soos in my geval, om vet pret te hê nie.
My vrou is 'n baie edeler mens as ek en nie so op onmiddellike behoeftebevrediging ingestel as ek nie – sy sien dit as 'n wonderlike opvoedingsgeleentheid om Klaradyn te wys 'n mens doen niks half, halfmas en afskeep nie – jy gee jou alles in alles wat jy aanpak.
Ek stem natuurlik 100% met haar saam, maar dis wat my betref net 'n bonus- en verskuilde uitkoms, 'n ietsie ekstra saam met al die lekker.
En oor Klaradyn wat nie hier in is om geld te maak nie, het ek gelieg – sy wil die einde van die jaar konyne koop. Nadat sy duidelik tot die besef gekom het dat nóg ek, nóg Annieka vir hase gaan koop, het sy dit op haarself geneem om die goed te koop.
En ek weet nou al wat gaan gebeur: sy gaan vergeet van insetkoste en ander uitgawes, sy gaan vergeet van die kleingeld wat ek by die bank gaan kry het – as die stalletjie toemaak, gaan sy al die geld in trommeltjie so kyk, en net een ding voor haar sien – KONYNE!
Gelukkig het niemand nog ooit gesê om groot te word is maklik nie.
En daardie lessie sal ons dan nou maar ook moet leer. Hy sal wel aanklop, so ek gaan dit nou vooruit loop nie.
(Ek wonder wat is die Afrikaans vir: We’ll cross that bridge when we get there?)
Wat ek nou moet gaan doen, is op die basaartafel te gaan soek.
Intussen bly hoop ek dat Klaradyn ten minste net eendag, na baie jare se entrepreneursdae, in staat sal wees om die elendige te kan spel. Ek het een eksamen nie minder nie as 27 maniere gekry waarop kinders dit verkeerd gespel het.
As die dag egter net naastenby so lekker afloop as die laaste 5 dae se aanloop, laat hoor ek in hoofstuk 2 weer van my.
No comments:
Post a Comment