Pages

31.10.11

Paptert

Annieka laat voel verlede week op Skoonma se verjaarsdag dat ons deel van die gesin Saterdag vir 'n paptert sal sorg.

Sy het twee of drie weke gelede die pikantste klein paptertjies in blink kolwyntjie-pannetjies geniet, so ek ek weet dadelik waarna sy terughunker.

My dierbare vrou laat val gereeld uit die bloute sulke wilde stellings, welwetende natuurlik dat die hele dis suiwer een mens se verantwoordelikheid gaan wees – en daardie een mens is beslis nie Klaradyn nie, nog minder syself.

Al wat ek moet doen, benewens om die dis op te tower, is om my seëninge te tel – sy kon met dieselfde gemak genoem het dat ons deel van die gesin 'n gestopte speenvarkie met 'n appel in sy bek en glasuur oor sy gat sal voorsien.

Ek is in elk geval nie histeries nie, al het ek in my ganske lewe nog nooit paptert gemaak nie, het ek twintig jaar gelede die lekkerste van lekker papterte by Maryna geëet (ek onthou iets van 'n blik kondensmelk). Verder het ek so sewe jaar gelede 'n boek present gekry waarin 'n mens jou eie resepte moet aanteken.

Ek het die boek onder my vriende sirkuleer en elkeen moes daarin 'n gunstelingresep deel.

Toe ek Saterdagmiddag, voor die ete, by hierdie resepteboek uitkom, toe is dit nie Annelize se heerlike paptert nie, maar Annelize se heerlike stampmieliegereg.

Tyd om stampmielies gereed en verwerk te kry, is daar nie – behalwe as ek afsit Spar toe en die klaar bereide samp gaan koop, maar dit sal vir my soos verneuk en lui huisvrou voel.

Dit neem egter nie veel tyd om nie minder nie as vier verskillende paptertresepte voor my oop te kry nie – en as ek nie so haastig was nie, het ek seker nog twee ander ook opgespoor.

Tot my spyt maak nie een van hulle melding van 'n blik kondensmelk nie. Miskien onthou ek verkeerd, ek weet nie. (Ek sal Maryna pols en straks deel sy haar resep met ons.)

Nadat ek my vier resepte onder oog had, was dit duidelik – daar is slegs twee groot gemene delers:  'n blik suikermielies en gerasperde kaas; wat die res betref, slaan elkeen sy eie rigting in.

En vandat ek in 1989 een keer per ongeluk twee bobotieresepte so langs mekaar in 'n kookboek opgemix het, en dit heerlik uitgekom het, is ek nogal lief daarvoor om dan iets van alles wat ek raaklees by te werk.

Maar eers moet ek die resep volg om pap te maak. Beide my ouers het in die Kaap grootgeword en hul neuse vir pap saam met braaivleis opgetrek. Uit my kinderdae onthou ek van slegs een keer wat my ma pap gemaak het. En dan jok ek, sy het dit nie gemaak nie, die huishulp moes. My ma het die koue pap toe in vingertjies gesny, spekvleis daarom gedraai en dit saam met drankies voorgesit.

Toe ek genoeg pap vir agt mense in die pot aan die gaar kom het, het ek 'n pakkie spekvleis bros gebraai. Nee, ek gebruik nie die snippers nie, dis te dik, ek gebruik gewone spekvleis-repies wat ek, as dit eers lekker bros is, uit die pan haal en met 'n skêr fyner en kleinder snipper.

In die spekvleis se vet wat uitgebak het, het ek toe 'n vet uit, in dun repies gesny, gebraai.

Hierby het 'n pakkie opgesnyde sampioene gekom.

Ek het drie tamaties vel-af gemaak en grof gekap. Dit is saam met fyn repies geel soetrissie in die pan in.

Ook drie knoffelhuisies, vars pietersielie en heelwat blatjang. (Ek het ook met bykans elke botteltjie kruie met sy kenmerkende groen deksel gespeel, en onthou in die besonder 'n knypie tiemie.)

Die een resep het vir die tamaties gevra om die sous 'n sous te maak, die ander het blatjang bygevoeg, en nog 'n ander room.

Ek het nie kans gesien om die halwe kannetjie room wat in die yskas was, by die tamatie en blatjang te voeg nie – toe werk ek my room by die gaar pap in – wat heerlik was. (Ek glo enige iets, van biltong tot wit brood, smaak lekkerder met 'n halwe kannetjie - liefs 'n hele kannetjie - room.)

Saam met die room is ook die blik suikermielies en 'n groot hand gerasperde kaas ingewerk.

Aanvanklik het ek die sous in die pan in drie dele verdeel en beplan om my pap in vier dele te deel. Op soek na 'n geskikte bak, besef ek toe dat ek besig is met 'n mieliepapgereg, nie 'n paptert nie – 'n paptert moet tog in 'n tertbord bedien word en aan 'n tert herinner.

So toe kry ek 'n diep tertbord uit en kry die helfte van die pap onder in die tertbord. Al die souserigheid volg toe.

Die oorblywende helfte van die pap, het ek toe lepelsvol in groterige bolletjies gerol. Hoe het ek nie vir Anna Mofokeng, die vrou wat my help grootmaak het, gemis nie! Die pap wat ek kleintyd ingekry het, was saam met haar, wat ons bolletjies gemaak het en in 'n sousie klam gekry het. (My ma het spottenderwys van pap en tik gepraat oor jy die bolletjie in jou hand so in die sous ge-tik-tik het.)

Hierdie groterige bolletjies het ek toe plat gemaak en die skyfies pap, met redelike groot oorvleueling, bo-op die sous staan gemaak. Die boonste deel van die tert herinner nou aan 'n prehistoriese vis se vel met baie groot skubbe.

Hieroor rasper jy nou, met die fyner kant van die rasper, 'n dun lagie kaas oor die tert. Nee, jy rasper nie kaas en strooi dit bo-oor nie, die kaas klou vas en land in hompe op die tert – jy staan met die rasper oor die tert en rasper.

Waar jy netnou rojaal was met die kaas wat jy in die pap ingewerk het, kan jy nou maar suinigerig wees.

Bak jy nou tert op 160 of 170 grade tot deurwarm, smelt die kaas nie in 'n dik kors bo op die tert (soos met een wat nie weet van lasagne maak nie) nie, maar smelt dit in 'n dun lagie oor die papskywe – plek-plek skyn die ligter kleur van die pap deur die geel, en die boonste knoppies van die skubbe verbruin weer lieflik.

Dit was regtig lekker – Skoonpa het 'n tweede porsie geneem (en enige iets waarvan hy ooit 'n tweede porsie neem, is altyd 'n kompliment.)

Dit was lekker. Ek sal dit weer maak.

Maar kan nie wag om van Maryna en die kondenmsmelk te hoor nie.

No comments: