Hou verby, hierdie het
begin by die soogdiertjies op die vliegveld, dit het my gedagtes op loop gesit,
en dit was eers vier bladsye later dat ek by die soogdiertjies op die plaas
uitgekom het. 90% is nie vertel nie. Maar dit was die lekkerste blog-ervaring
in maande, indien nie jare nie.
Ek kan getuig van buffels en olifante wat van die vliegveld
afgejaag moet word voor die vliegtuig kan land. Vanmiddag op die eertydse JBM
Hertzog is dit egter die rooistertmeerkatte wat al oor die aanloopbaan skarrel
wat my aandag gevange hou.
Ek is lief vir die Vrystaat, ek het die mooiste herinneringe
aan die Vrystaatse Vlakte-meerkatte, en dit is vir my sommer net lekker om hier
te kan sit, en te weet ek is in die Rosestad.
Die feit dat die vlug sopas, op grond van tegniese redes
nogal, met vyf en sewentig minute vertraag is, pla my nie eers nie – eerder
betyds op die lughawe, as te laat.
My ma het my een mooi dag in haar pajamas op Jan Smuts
afgelaai, oor die interkom was daar, in Afrikaans nog, 'n boodskap na passasier
H J Moolman wat vlug-so-en-so van Johannesburg na Bloemfontein vertraag.
Sy het hopeloos verslaap en ek moes Bloem toe, na my
peetouers vir die vakansie. Daar was letterlik nie tyd vir aantrek en bad en
grimeer nie. Sy sou 'n kaftan oor haar klere gegooi het, my gegryp het en aan
die hand, die koffer in die ander, motor toe gesleep het.
Ek weet regtig net van een keer wat my verslaap, laat
geslaap het, en dit was daardie oggend.
Maar ons was betyds, die vliegtuig het amper vir my weggery,
maar darem nie, en Oom Kobus het aan die ander kant vir my gewag en ons sou met
sy nuwe Mercedes Holfontein toe, my peetouers se plaas buitekant Bultfontein,
gery het.
As klein kind, en ook-nie-meer-so-klein-kind-nie, is en was
Oom Kobus en Tannie Erica die beste, wonderlikste, hartlikste, dierbaarste
mense ooit.
Ek het tot so twee of drie jaar gelede op bykans
tweeweeklikse basis van hulle gedroom
Deesdae is dit net so tweemaandeliks want nadat ek Oom Kobus
en twee van sy dogters een mooi dag op pad Kaap toe vir die eerste keer in jare
weer gesien het, is dit of daar 'n rustigheid in my onderbewussyn gekom het.
En dan is dit nie dat ek met nagmerries geteister was nie,
nee, geensins, dit was die heerlikste, lekkerste drome denkbaar.
Ek verbeel my ek het 'n ruk gelede vertel van myself, die
Moolmans en die Van Rensburgs – Oom Kobus-hulle – almal doodgelukkig in die
geel gastebadkamer op die plaas se bad. Ons was soos seekoeie in 'n poel, en al
waarvan ek bewus was, was ons gesigte wat met die breedste van breë glimlagte
bo die skuimborrels uitgesteek het. Dan het daar ook stoom uit die water
opgestyg wat die spieëls toegewasem en die teëls so nat en glad gemaak het.
het.
Ek sal wat wil gee om nog een maal in my lewe in daardie
badkamer op daardie plaas te kan bad. Dit was gas wat die water warm gemaak
het, en vir die tipe seuntjie wat ek was, was daar min dinge wat by die
bekoring van daardie vlammetjie kon kersvashou. Ek sien hom, hier waar ek sit,
weer in my geestesoog dans – 'n dapper ballerina op 'n donker verhogie met 'n
spierwit proscenium.
Die badkamer het nie, soos alle badkamers, teëls gehad nie,
daar was mat. Vandag weet ek dit was geplakte Marley teëls, en niks fancy nie, maar vir my was dit spesiaal
en luuks en ongewoon.
Ek sluit tot vandag nie 'n toilet- of badkamerdeur agter my
nie. My ma het, so, eendag in daardie badkamer vasgesit. Vir wat sy die deur
agter haar gesluit het, sal ek nie weet nie, maar sy het. Dit was seker die
eerste keer in jare dat die sleutel gedraai is, die stomme sleutel moes hom toe
in so 'n toestand in geskrik het, dat hy daarna nie weer oop wou sluit nie.
Regs van die badkamer was die toilet. Ook die toilet het sy
eie bekoring – dit was die enigste toilet wat ek geken het met tydskrifte in,
Reader’s Digests. Daar was platiekpoppies met gehekelde uitskoprokkies oor
toiletrolle getrek, ook. En klein seuntjies soos ek móés die ronde raam van die
toilet o;plig as ons gepie-pie het – anders pie-pie ons die geel hekelwerk om
die ring raak. Maar ons het nie omgegee nie – wintersmaande as dit vreeslik
koud kon word in die Vrystaat, het daardie hekelwerk jou boude lekker warm
gehou.
Naas die Reader’s Digests was daar goed met blokkiesraaisels
ook. Dit was lank voor Die Huisgenoot blokkiesraaisels in had – maar ek was nog
te klein om veel van blokkiesraaisels te kon weet. So of dit Afrikaans of
Engels of wat dit was, sal ek nie weet nie.
Baie jare later, seker op hoërskool al, toe Die Huisgenoot
al bygekom het en weekliks meer as een blokkiesraaisel in had, was dit Oom
Kobus wat my geleer het om nooit, nooit, NOOIT, 'n blokkiesraaisel in pen in te
vul nie – jy het altyd, wanneer dit te laat is, spyt. Ek is 47 en ek sal dit
nie oorweeg om nie 'n blokkiesraaisel in potlood te voltooi nie.
Regs het die gang doodgeloop in Andries se kamer. Hy is
seker so agt of nege of tien jaar ouer as ek, en dis in sy kamer, met die twee
enkelbedjies wat ek geslaap het. Bedlampies met kegelvormige bedlampieskerms
het aan hierdie enkelbedjies se kopstukke vasgeknyp.
Dit was lekker om die hooflig af te sit, een van hierdie
lampies aan te sit en op so 'n wyse na die een muur te projekteer, dat jy
diertjies en vorms met jou hande op die muur kom gooi.
My mooiste herinnering aan hierdie vertrek is egter die
saggebreide rooijakklasvelletjies wat as bedmatjies gedien het. Dit was
wonderliker as die boks met Dinky-toys, of die een met plastieksoldaatjies, wat
ek uit Andries se kinderdae uit een van die kaste kon sleep.
Toe Ou-Oom-Anneries, die bywoner in die rolstoel wat in die
buitekamer gebly en geëet het, eers dood is, is sy kamer vir Andries ingerig. Van
toe af het ek maatjies saamgevra plaas toe, en dan was dit óns
kamer.
Links by die badkamer uit, was die twee meisies – altwee nog
ouer as Andries – se kamer. Maar daarvan onthou ek eintlik net pienk, en
miskien twee pienk donskomberse op elke bed. Seuntjies het daardie jare nie in
dogtertjies se kamers gekom nie. En seuntjies my ouderdom het in elk geval niks
in dogtertjies, hulle ouderdom, se kamers verloor nie.
Maar direk langs die dogters se
kamer was die hoofslaapkamer. Na televisie die land ingekom het, kon ek
wintersaande, terwyl die grootmense op die dorp gekuier of gedans het, dáár
my aande in die bed deurbring.
Ek verbeel my amper dit is die
enigste plek in die huis waar daar 'n televisie was.
Die meubels was embuia of
Rhodesiese kiaat. Dit was die kamer met die mooiste ingeboude hangkaste
denkbaar. Ek verbeel my egter vandag dit moes gewone bal-en-klou losstaande
hangkaste gewees het – 'n hele spul. En toe ingeboude kaste die mode geword
het, het Oom Kobus bloot 'n raam laat bou waarin die ou kaste se deure
vasgeskroef is.
Ek weet as ek dit vandag moet
sien, sal ek terugdeins. Vir my was dit destyds asembenemend mooi.
Iewers sou daar 'n spieëltafel ook
wees, 'n triptiek van spieëls waarvan die buitenste twee kon verstel (Vir die
vrou om haar hare te doen.). En op hierdie spieëltafel sal beslis iewers 'n
glaspotjie met gekleurde ronde wattabolletjies staan.
Dan was daar die kamer(s) waar Ma
en Pa geslaap het. Die een had Tretchikof se orgidee op die trap (blykbaar het
die bruid dit op die kerk se trap laat val); die ander had 'n glas met 'n roos,
in 'n nis, met die see in die agtergrond (ook van Tretchikof).
Hier het ek ook geslaap, móés
ek slaap, of ek nou wou of nie. Maar nie saans nie, smiddaes. Bý
Ma op die bed. Anders maak ek nie 'n oog toe nie. En juis in my gedwonge
aan-die-slaap-gepiets middagslapies lê my allerwonderlikste drie
herinneringe aan die plaas, die mense en daardie jare: die geluid van die
bosduiwe in die peperbome, die geluid van die wind deur die peperbome, die
geluid van die wind as dit klaar deur die peperbome getrek het en by die
windpomp agter die huis uitkom.
Was ek ryk genoeg, en had ek die
lewenstyl, het ek klanktoerusting gehuur om 'n opname van daardie windpomp te
loop maak, nie enige ander windpomp nie, dáárdie een.
Ek is nie een wat sukkel om te
gaan slaap nie, nooit nie, maar ek sal elke aand honderd maal lekkerder en
rustiger aan die slaap raak as dit op die ritmiese, melodiese maat van daardie
ou Climax is.
Annieka wil die reuk van
babahondjies se asems bottel en in haar handsak ronddra; ek wil die plaas se
geluide verpak en immer gereed hê. Drie ander geluide hierdie keer.
Eers die voordeur, regs van die
houtkapstok met die jasse, hoede, pette en kieries. Nie die deur nie, die
sifdeur: die kenmerkende kners van skarniere en dan die toeklap van houtraam op
houtkosyn.
Dan die sydeur, vanaf die huis na
die agterplaas. Dit was 'n glasdeur – nie deurskynglas nie, maar die laat
vyftiger-/vroeg sestigerjare se riffelglas; nie in yster gemonteer nie, in
hout. Ja, daar was die skril kners en kraak van die skarniere, maar die
gerusstellende kenmerkende van hierdie deur was die vibrasie van die twee
glaspanele in hul rame. Dis net buite hierdie deur wat die honde op die
agterstoep gelê en wag het – en as die eerste geluid van die binnekant
opgeklink het, het hulle stertswaaiend opgestaan en die uitgesien na waarheen
hulle ook nou al met ons sou beweeg: die skuur, die kraal, die groente- en
vrugteboord, die veld.
Daar was 'n kombuisdeur, maar die
vrouens, die huis- en die kombuisvrouens, het daar in en uit beweeg; hierdie
glas sydeur was Heathrow-lughawe, Germiston-stasie op hierdie werf waarna ek so
terugverlang. Hierdie deur het, so ver ek onthou, nooit oopgehang soos die
voordeur nie – ek onthou nie 'n sifdeur nie.
Die derde deur wat my met
sonderlinge heimwee vul, had beslis nie 'n sifdeur nie. Hy, ook 'n glasdeur
soos die ander gangdeur, is selde gebruik en ek verbeel my hy was bykans altyd
gesluit. Hy het ook gekraak en gekners, maar vanweë die minder gebruik was die
glaspanele nie so los nie. Hierdie deur is gebruik as jy vanuit die huis,
motorhuis toe is, iets wat bitter selde gebeur het.
So as ek dan nou smiddaes by
ma-hulle moet middagslapie vang, was die ore gespits vir die oop- en toemaak
van die onderskeie deure, om die begin van nuwe opwinding vir die agtermiddag
aan te dui.
Nou eers terug voordeur toe,
kapstok toe, telefoon toe. Van Alberton af was dit 05252, en as hulle dan
anderkant optel (ek hoor my ma en pa dit sê) was dit
TWEE-DRIE-DUBBEL-TWEE-ASSEBLIEF. Op die plaas was dit dan TR-TR-TRR-TRR, twee
kortes en twee langes. En daar was regtig 'n tweede gehoorstukkie vir
saamluister, al kon jy nie saampraat nie.
En as ek van Boeremusiek hou (wat
ek natuurlik doen) is dit oor hierdie deel van die huis dat ek daarvan hou.
Iewers was 'n draadlosie wat al om die uur op die uur nuus gegee het, soggens
die belangrike reënvalverslag, landbouradio... en dan Boeremusiekdeuntjies
wat uitspel en verkondig dat dit goed gaan in die land, die saak is reg, God en
die Afrikaner is in beheer.
Daar is vandag steeds niks wat vir
my so gerusstellend is as die Kalfiewals nie. Op 'n Saterdagoggend. Ek sal in
Pretoria op 'n Saterdagoggend in my motor klim en Builder’s Warehouse toe ry,
net sodat ek Boeremusiektreffers in die CD-speler kan druk, en daaraan herinner
word dat alles goed en wel is, die saak is reg.
Die sitkamer hou net positiewe
herinneringe in: teetyd, elke oggend;
Oom Kobus se vingers saans oor die klavier se klawers in 'n koeterwaals syncopation, die grootmense wat om 'n
klein tafeltjie brug speel terwyl ek die dans van die vlamme in die kaggel
dophou.
Voor die kaggel is winteraande 'n
toeknyp-draairooster hang gemaak. 'n Dik, lang, vet, vars gestopte rol Boerewors
het dan rustig perfeksie gekry.
Uit die sitkamer ook deurgang na
die sonkamer, die sonnigste van sonnige sonkamers. Ek weet nie of daar iets
soos 'n sonkamer is nie, en of dit suiwer deel van 'n Holfontein-idiolek
uitmaak nie, maar aan die hand van hierdie kamer het ek groot geword met begrip
van 'n sonkamer, presies soos mens
praat van 'n slaapkamer of eetkamer.
Ironies genoeg, ook van agter die
groot glasvensters in hierdie vertrek dat ek een winter my eerste kapok ooit
sien neer stuif het grond toe.
Via die sonkamer, naas die
voordeur, ook toegang tot die stoep. Hier is sawens vleis gebraai oor
mieliestronkkole – die plaas se vee, die plaas se mielies. En met twee of drie
trappies, af van die stoep, was die kweek, waar al die kleintjies wie se ouers
die aand oorgery het om te kom kuier, moeg en opgespeel, op die naat van hul rûe
gaan lê
het om na die sterre te kyk. (Holfontein se naghemel is 'n bes bewaarde geheim,
lek dit die dag uit skuif hulle Sutherland se sterrewag lock, stock and barrel soheentoe.)
Die eetkamer, met sy lieflike
uitsig op dit wat ons die soutbos genoem het, is drie maaltye 'n dag, met
lapservette en servetringe. My mooiste herinneringe, naas elke ontbyt wat ek
hier genuttig het, elke middagete en elke aandete, is aan die plaas se eie
groenmielies, die plaas se eie botter (afgerond in die botterbakkie soos in 'n
hotel) en die spesiale kontrepsietjie waarmee die murg uit die plaas se
skaapboud-been geskep is.
Hoe meer ek terugdink en skryf en
nuwe herinneringe oproep, hoe meer is ek daarvan oortuig dat ek nie die
nostalgiese, melancholiese mens wat ek vandag is, sou gewees het, as ek nooit
in my lewe by die lang ry garingbome aan die linkerkant van die pad, by
Holfontein se plaashek ingedraai het nie.
Holfontein definieer vir my nostalgie, melancholie, en alles wat
mooi is van my kinderdae. En dan bedoel ek alles.
'n Tydmasjien hoef my nie terug te
neem karavaanpark langs die see toe nie, ek wil nie weer my
kleuter-kinderverjaarsdagpartytjies beleef nie, hou verby. Ook die Kaap, of ek
op die stoep by die huis met my arms om Boela, my hond, geslaan.
Daardie tydmasjien moet my net
optel en enige, enige plek op daardie plaas neersit.
En daar kan ek dan maar sterf. Op
die een voorwaarde – julle los vir my daar, dat ek een kan word met die plek,
soos die stomme Drummer Hodge wat uit Engeland hier op Suid-Afrikaanseb bodem
kom sterf het.
Maar ek dwaal af, my gedagtes wil
al met my buitentoe, veld toe, kraal en skuur toe, en ek kuier vandag in die
huis, die hartklop van die lewe op die plaas.
Van die eetkamer af, beweeg ons
kombuis toe. Koolstoof en gasstoof. Ons het maar min daar gekom. Jy het nooit
nodig gehad om die warmte van die kombuis te gaan opsoek nie, die kaggel in die
sitkamer, wanneer dit koud was, was altyd aan.
Maar ek sien Oom Kobus weer voor
die stoof staan en eiers (die plaas se eiers) bak in medium diep vet of olie –
hy het die gewoonte gehad om die heeltyd die vet oor die eier met 'n lepel te
gooi, sodat die eier van bo en onder gaar word en nét reg uit sy pan in die bord
beland. Maar eiers bak in die pan, is al wat ek hom ooit in die kombuis sien
doen het, die kombuis was die vrouens se domein.
Tannie Erikas se heiligdom was
egter die spens, wat toegesluit gehou is met 'n sleutel wat sy by haar gehou
het. k was in my ganske lewe miskien drie of vier daar in (miskien was ek nie
eers daar in nie, en het ek net nuuskierig by die poorte van die hemel
ingeloer.
En al wat ek onthou is nette, wat
soos 'n sambreel oop en toe vou, oor die oggend tee se soet dingetjie, of die
middagkoffie se ander soet dingetjie. Daar was ook bottels ingelegde vrugte (en
dan hoef ek nie sê van waar die vrugte gekom het nie).
Dit was van kleins af opvallend
dat Tannie Erica groter gebou vir iemand wat nooit ooit tweede porsie van al
haar lekkernye nuttig nie. Ek het hier op hoërskool tot die gevolgtrekking
gekom dat sy al die tweede porsies wat sy kombuis toe stuur en in die spens
toesluit, alleen geniet het in die middae wat ek op die probeer slaap het, en
my eintlik net verlustig het in die klanke van die duiwe, die wind, die
peperbome en die windpomp.
Op pad kombuis toe, uit die
eetkamer, was daar twee deure wat ook altyd gesluit was. By die een deur was ek
nooit in. (Miskien verbeel ek my selfs net dat daar twee deure was.) Oor die
deur waar ek wel een of twee keer in was se sleutel, het Oom Kobus gewaak soos
Tannie Erica en die spensdeur, en Cerberus en die toegang tot die onderwêreld.
Kartonne sigarette (Renbrandt van
Rhyn – toe ek jare later begin rook het, was dit 'n tyd lank Renbrandt, om net
een rede: dit is wat Oom Kobus gerook
het.), bottels Vaaljapie, die koeëls en gewere vir wanneer ons gaan jag, geld,
die plaas se boekhouding... Hoe sal ek weet wat alles, ek stel my maar voor.
By die kombuisdeur uit, oor die
stoep waar die hond by die huismense se gangdeur gewag het, was 'n vier, of vyf
of ses buitegeboue met 'n wye stoep.
Van Oom Anneries se kamer
het ek reeds vertel, dan was daar die vleiskamer(s), die stoorkamer, die
pakkakmer. Hier waar die ys-en vrieskaste (gas natuurlik) gestaan het. Een van
hulle was ook my skatkamer: die kamer met die rak waarop Tannie Erica en die
dogters se fotoverhale gebêre is. Maar nie net die Saal 13’s en Jong Dokter Brand’s
nie, ook Grensvegter Rocco de Wet, Ruiter in Swart en elke ander fotoverhaal
wat ooit in die geskiedenis van Afrikaanse fotoverhale uitgegee is. Ek het
hulle oor en oor gelees – by die huis kon Ma en Pa my verbied om die goed te
lees, by Oom Kobus-hulle het ek dit eers skelm gedoen, maar later soveel
selfvertroue gehad dat ek nie eers meer 'n front voorgehou het nie.
Dan was daar 'n motorhuis
met staanplek vir 'n rits motors, maar ek kan my nie onthou dat ek ooit binne
in die motorhuis was nie. As ons daar aangekom het, het ons voor die huis
gestop, die tasse is afgedra en iemand anders het die motor in die skuur gaan
parkeer. Ry ons dorp toe, het Oom Kobus die motor voor die tyd uitgetrek.
Maar neffens die motorhuis
was 'n buitegebou met drie of vier deure. Ek het letterlik sestien of sewentien
geword voor ek een dag agter die kap van een van hierdie deure se byl gekom
het: dit was soos die spens – nog een van Tannie Erica se wegsteekplekke. Dit
was 'n voorraadstoorkamer. Ek het die idee gekry dis daar waar die groot sakke
meel en suiker staan, en ook wat ook al op groot maat aangekoop is.
Die nuwe skuur, die kraal,
die ou skuur waar die skaapvelle ingesout is, die soutbos, die populierboom,
die pan, die dieper pan, die motorbegraafplaas of skrootwerf, die skooltjie,
die jag, die koue, die fietsry oor die ganske plaas, is elkeen 'n hoofstuk op
sy eie – en ek dink baie vinniger as wat ek met twee vinger kan tik - my
gedagtes, wat so agteruit beweeg, beweeg voor my vingers uit en gaan kuier op
plekkies van die verlede waar die vingers en die sleutelbord nooit by sal kom
nie.
(Suiwer ter wille van
myself – ek kan nie dink dat enige mens tot hier sal kan lees nie – moet ek
neerskryf, sodat ek nie vergeet nie:
seep kook op agterplaas se binneplein, slagblok, melkkamer,
tennishuisie, tennisbaan, dam cum tuinhuisie, hoenderhok...)
1 comment:
Jy onthou so goed! Die eerste televisie (en een van die eerstes in die land) was in die sitkamer en later een in die slaapkamer ook. Daar was slegs een gastekamer en die kaste in my ouers se kamer was wel ingebou. Lieflike nostalgie, jy't my nou so n oordosis gegee at ek en Henriette nie kon ophou gesels gisteraand nie. Vir ons was dit so n normale lewe, vir jou n ander wereld, jou tweede lewe.
Post a Comment