Tennessee Williams het op sy dag 'n drama geskryf wat begin
met die woorde (iets soos): Hierdie huis is leeg nou, vroeër was lewe hier.
Miskien is dit mense wat
vroeër daar was, en nie lewe nie. Ek is nie meer seker nie, dis
immers ses en twintig jaar gelede dat ek dit laas vir 'n kort ruk op baie
gereelde basis gehoor het. Ek was in my derde jaar op universiteit en Williams
se Vieux Carrè
was ons derdejaars-toneelkundeproduksie.
Ek het gisteraand my kop met hierdie woorde wat daarin
rondmaal, op die kussing neergelê, en vanoggend, toe ek my oë oopmaak, toe is
dit weer die somber gedagtes waarmee ek my dag begin.
Selfs my gedagtes rondom die mag van die gewoonte, én die
ongewoonte, het by hierdie toneelteks hul begin: dit is naamlik in hierdie toneelproduksie dat
ek vir die eerste keer begin rook het, iets wat, met enkele kortstondige
onderbrekings elke vyf of ses jaar, vyf en twintig jaar sou duur – tot ek een
Saterdagoggend verlede jaar in November my laaste sigaret ooit gerook het.
En of dit die mag van die gewoonte, of die mag van verslawing was,
sal ek nie weet nie – maar dat ek eerstehandse ondervinding van hierdie mag
het, is 'n feit.
Egter die mag van die ongewoonte waarin ek sedert Saterdag
vasgevang is:
Ek gaan slaap selfs doelbewus aan Annieka se kant van die
bed, nie net aan haar kant van die bed nie, selfs op haar twee harde kussings!
Is dit wat elf jaar van getroude lewe aan jou doen?
In elf jaar het ek nog nie een nag alleen by my eie huis
geslaap nie – vanaand gaan my derde aand wees.
Vanoggend in die bad toe mis ek die stroopsoet (eintlik sleg
van soet) koffie wat sy oggend na oggend op die rand vir my neersit.
En dat ek so sleg geword het!
Sondagmiddagete iewers na twee-uur was drie snye brood. En
dan praat ek nie van 'n gourmet toebroodjie afgerond met 'n yskoue glas witwyn
nie; ook nie eers van iets met grondboontjiebotter en konfyt op nie – ek praat
van drie snye brood met botter op, dis al.
Nagereg was die kaas wat ek gebring het, maar te sleg was om
op die brood te sit.
En dan hoef ek seker nie te noem dat aandete drie snye brood
was nie. Met botter, wat anders?
Maandag se ontbyt was 'n hamburgerpastei van die vulstasie.
En 'n liter melk.
En onthou, ék maak die kos in die huis – dis nie
'n geval dat Annieka my bederf en kos maak nie, en nou mis ek die kospotte van
my vrou nie, geensins.
Ek het net so sleg geword – ek oorweeg dit nie meer om vir
myself kos te maak nie.
Vanmiddag, toe ek 'n uitnodiging vir ete ontvang, toe
aanvaar ek dit sonder enige grasie en met 'n oorhaastige ywer wat 'n blinde met
'n stok sal kan registreer.
Dan is sy hier weg sonder om te kyk of daar genoeg
toiletpapier is. Ek wil haar Kaap toe bel en vra waar die ekstra toiletpapier
gebêre
word. Nee, ek wil haar bel en vra om vir toiletpapier te bring. (Gelukkig
vertrek ons môreaand Bloemfontein toe, so wat hier is sal hou tot dan.)
Gelukkig, egter om veel meer redes as suiwer die skaarste
aan witgoud, vertrek ons môreaand Bloemfontein toe:
Hierdie huis is leeg nou. Dit voel soos jare wat hier nie
mense in hom was. Ek hoor dakbalke snags kraak. Ek is bewus van vertroostende
geluid van die voëls wat af in die gang, in die kombuis op hul stokkies hul
vere reg skik en skud.
Die mooiste, en mees vertroostende geluid, selfs meer as die
van die budgies, is die geluid van die drie honde wat soggens opstaan en hul
lywe skud dat hul pelse so om hul lywe tol – die oomblik as hulle hoor ek
ontset die alarm in die kamer.
Ek het vergeet hoe die lief die honde vir my is, vergeet dat
'n man se hond sy enigste en beste vriend is.
Die musiek in die kar is tranetrekkers: die
allerweemoedigste kombinasie van kerkorrel en konsertina.
Ek het voor die eerste stopstraat begin tjank op die maat
van Nearer my God to thee. (En dit
terwyl Nearer my God to thee een van
die meer blymoedige snitte op die CD is!)
Miskien het ek gehuil oor die handdoek wat vanoggend, toe ek
klaar in die bad was, nie in die badkamer was nie. En ek kon nie vir Annieka of
Klaradyn roep om vir my een te bring nie.
Ek het selfs, nou dat Annieka nie hier is om daaroor te kla
nie, nie my bondeltjie vuil klere net so op die grond langs die bad in die
badkamer gelos nie – ek het gestap en dit in die wasbalie gegooi.
Ek slaap môreaand in Bloemfontein, Woensdagaand in die Kaap
en Donderdagaand in Durban, maar ek gaan nie nou pak nie. Ek sal dit more doen.
Ek sal 05:00 as die wekker afgaan (of 04:00 of 03:00 as die
balke my wakker kraak en ek 'n halfuur later steeds oopoog na die dak staar)
opstaan, 'n reistas in die garage gaan soek, en begin pak.
Ek sal 'n warmte oor my hart voel spoel as ek hoor die honde
hulleself reg skud om my te begroet.
Ek onderneem selfs om môreoggend vir myself 'n koppie koffie
te maak. Ek vermoed ek sal, ter wille van die gewoonte en in tere herinnering
aan my vrou wat daai tyd nog in die Kaap lê en slaap, twee opgehoopte
teelepels suiker ingooi.
Maar nie nou nie, nie vanaand nie – ek gaan nie eers koffie
maak nie.
Ek gaan nou in die koue onpersoonlike bed klim, en ek gaan
iets doen wat ek nooit doen nie – ek gaan, na ek myself in die fetusposisie opgekrul
het, my kop onder die komberse toetrek.
Ek kan op hierdie oomblik aan niks lekkerders dink om te
doen nie.
Op hierdie oomblik is dit die lekkerste ding om te kan doen.
No comments:
Post a Comment