Pages

1

Uit die argief:
Vrede op aarde en 'n man met welbehae
Hoeveel mense kan daar dan nou wees wat so onnosel is om hul jaarlikse Kersinkopies uit te stel tot die laaste Saterdag voor Kersfees?
Meer as wat ek aanvanklik vermoed het toe ek hier teen ‘n goeie week voor Kersfees besluit het om eerder te wag tot die ergste kruin en spits verby is, en eerder uit te stel tot Saterdag wanneer almal al by die see is.
Moeilik om te glo dat die stygende petrolpryse en knypende rand so ‘n invloed kan hê, maar toe ‘n mens Saterdag twaalfuur in Menlyn se Pick & Pay staan, was dit duidelik — die Kaapse en Natalse strande is dolleeg, Pretoria en omgewing, van so ver as Rustenburg en Brits, is in Menlyn om Kersinkopies te doen.
Ek weet uit dure ondervinding dat ‘n mens nie moet uitstel nie, en ek doen nie.
Die geneuk is net dat ek dan ook nie uitstel met die uitdeel van die geskenke nie.
So het Annieka haar Kerspresent wat ek in Julie gekoop het, iewers in Augustus gekry. Die tweede Kersgeskenk in Oktober, kon ek nie mee wag nie en sy het dit dieselfde dag gekry.
Klaradyn het haar skopfiets die eerste week van die vakansie al gekry. (Ag, die dae is so lekker, en waarom nou wag tot die 25’ste as sy nou al so lekker daarmee kan speel) Haar R400-00 aap het sy in die tweede week van die vakansie gekry.
Dis by een van hierdie winkels waar jy die vel teen R200-00 koop en dan stop jy hom op en sit vir hom ‘n hart teen ‘n verdere bedrag in, en ‘n stem (nog R50-00). En klere teen ‘n verdere R50-00.
En nóg klere want dis tog so kostelik.
Die plek het so twee jaar gelede oopgemaak en ek onthou ek het dit een kyk gegee en gedink “oor my dooie liggaam.” Maar dit was lank voor die tweede week van die pasafgelope Desembervakansie.
En die res van haar Kersgeskenke, wat ons al meer as ‘n maand in die kombuis wegsteek, het sy weens omstandighede buite ons beheer reeds op St Nikolaus-dag gekry. (Lang storie.)
Die gevolg is, Saterdag voor Kersfees sit ek en vrou- en kindlief 8:00 af Menlyn toe om 8:30 te wees.
“Hulle sal spesiale Kersgety-tye hê, maak gou Annieka, ek ry oor drie minute, kam die kind se hare, borsel haar tande en trek haar aan, ek ry oor twee minute, is jy nog steeds nie aangetrek nie, waar’s my beursie.”
Die gedagte, denkend aan verlede jaar se katastrofe, was dat ons Klaradyn by Ouma en Oupa los terwyl ons gou oorhop mall toe vir die shopping, maar hulle het Vrydagaand laat val dat hulle self Saterdag strate toe gaan vir hul Kersinkopies.
Ek wil-wil begin opsien na die oggend. Ek onthou hoe het ons verlede jaar gependel tussen Game (vloer 3 vlak 5 vleuel C) en die hipermark (vloer 1, vlak 2 vleuel D, ses dagreise te perd vêrder) om pryse te vergelyk. Game het gelukkig hul X-mas specials op ‘n pamflet by die deur gehad en dit was gou duidelik waar die specialste special was. Pa moes toe die ses dagreise te perd met die voet deur die malende menigte aanpak terwyl Ma en Klaars elders wag sodat Kindlief nie sien wat Kersvaderlief gaan bring nie.
Nou is dit mos hoe dit met hierdie specials werk: iewers is daar in fynskif only while stock last. En teen die Saterdag voor Kersfees verlede jaar het die stock van daardie betrokke Kersverrassing nie ge-last nie.
Met die dat ek Annieka bel om te hoor waar op deeske aarde hulle is, lui haar selfoon iewers tussen die menige pakkies in my arm…
Maar ek volstaan en brei nie uit nie.
Genoegsaam om te noem dat ek hulle meer as ‘n uur later in Woolworths opgespoor het.
En dis nie dat ek hulle raakgesien of raakgeloop het nie; ek het my kind raakgehóór — raak gehoor skréé, tussen ‘n Babelse verwarring en Jingle Bell Rock Around The Clock oor die luide luidsprekerstelsel.
Maar dis verlede jaar gewees. Vanjaar is vanjaar. Ek en Annieka het fluisterend ‘n strategiese maneuver bedink en selfs seker gemaak die selfone is volstrekte gelaai. Die oggend se navigasie, roetekaart en besoekpunte is gememoriseer en ek kan selfs vir jou sê voor watter rak in Boardmans Annieka haar om 9:30 gaan bevind.
Ons kry vanjaar selfs parkering vlak voor die voordeur — as daar ‘n rooi tapyt was, sou ons aan die end van hierdie stukkie sterbehandeling gewees het, so naby. Ek sien myself teen 10:00 in die swembad met, in die gees van Kersfees, ‘n tjoppie oor die kole ‘n rukkie later.
Nee, hulle het nie spesiale Kersgety-inkopietye nie; dis ons drie en enkele werknemers in die onderskeie winkels uniforms wat bedremmeld voor die toe deure rondhang.
Voor Edgars trek ‘n Kersvader sienderoë vir Klaradyn sy Kersvaderpak en baard aan.
Maar ek laat my nie onderkry nie. Die Moolmans laat hul nie van stryk kry nie. Die eetplekke sál oop wees. En hulle ís. ‘n Kerngesonde ontbyt in Juicy Lucy, net die ding om stamina te bou, is ons voorland.
Die mense sloer so bietjie, al is ons die enigste kliënte. Straks is die kaas nog nie alles gerasper en sukkel hulle met die oonde om warm te word.
Teen 9:30, toe die gange buitekant begin herinner aan tien minute na die wederopstanding van elke mens wat nog ooit die aarde bewandel het, die Kersvader voor Reggies herinner aan ‘n nat gelekte rooi stokkielekker in die stof, die kinders en kleintjies koek soos ‘n kolonie rooimiere om hom, beleef ek ‘n oomblik van ongekende helderte: “Gaan jy solank om tyd te spaar, dan kry jy ons in Exclusive Books. En as ons nie daar is nie, in die CNA. Vandaar sal ons ons weg oopveg na Bargain Books, of wat daai plek daar bo naby die flieks ook al genoem word.”
En van daai oomblik af is dit asof Kersvader en sy elfies die een na die ander Poker-hand, Aces High stel kaarte in my palms deel.
Toe ek ewe stout en speels vir vroulief teen die roltrap af ‘n soentjie stuur, wie sien ek aan die oorkant inbeweeg by House of Coffees? Ouma en Oupa. ‘n Ouma en Oupa wat dit altoos so geniet om hul enigste kleinkind te sien. En by hulle te hê, as pa gou afhop na onder om iets vir Mamma se Kerskous te kry.
Ai mense, en daar loop ek in 60 sekondes iets raak wat ek dadelik weet net reg is en sal herinner aan iets wat lyk asof ek dae en weke daarna loop soek het. (Dis vir Annieka belangrik.)
Maar so maklik kan dit nie wees nie. Ek sê vir die vrou om die ding te bêre, ek kóm hom koop, later vanoggend, gaan net geld trek en ander pakkies eers afhandel. Ek shop heerlik met die oog, maar ‘n driekwart uur later is dit steeds duidelik, die pakkie wat lê en wag, is die pakkie wat dit sal wees.
Ek sluit by Klaradyn en die skoonouers aan net mooi toe die poppie wat hulle bedien het suiglekkertjies saam met die strokie uitdeel.
Vandaar is dit Pappa en Klaars en Exclusives se kinderboekafdeling. Kyk, as dit nie vir gus, dor of bar tannies en geldgierige ooms was, wat heeljaar in winkelsentrums rondloop op soek na klein kindertjies om te steel nie, kan ons Klaradyn, van 3 af al, net in die kinderboekruimte van Exclusives aflaai, gaan fliek en koffie en window shop na die tyd, en haar drie ure later daar oppik en met geweld wegsleep.
In ‘n stadium psst iemand hier van die oorkantse rak vir my. Ek dog eers dis ‘n los gelukkie wat hierdie respektabele pa in die versoeking wil lei, maar nee, dis Annieka, rooi en natgesweet, sy soek die sleutels om pakkies in die kar te sluit, Klaradyn moet haar net nie nou sien nie.
‘n Halfuur later val daar weer ‘n boek hier van bo langs my neer. Weer Annieka, rooier en natter as netnou, loer na my van bo die Teen Fiction. Sy soek geld. Ek gee met ‘n oop en ruim hand.
‘n Ruk later, en hoewel Klaars nog heel gelukkig is, begin Pa al dink aan aanbeweeg na die volgende boekwinkel, verskyn my vrou hygend en voetseer vanuit ‘n ander hoek. Ek raak roekeloos en gee haar my debietkaart. Sy ken die nommer.
12:30 kon sleep sy en Ouma en Oupa ons daar uit vir ‘n vinnige roomys.
Ek stel voor ons mans gaan huis toe in een kar terwyl ma en dogter die laaste afrondingswerk doen. Maar my skoonpa is nie so gelukkig soos ek nie — hy sal maar vir die res van die dag elke keer getrou buite die deure wag terwyl sy vrou binne spoeg en spartel op soek na die laaste Christmas Specials.
Ek, wat my betref, het nog nooit so lekker ge-Christmas shop nie, en sien halsreikend reikhalsend uit na Pappa en Klaars se volgende Kersinkopie-besoek aan Exclusive Books – waarlik ‘n tyd van rus en vrede.