Pages

27.4.16

Lekker is g'n vingerlank nie - dis 'n skeplepel vol


Toe ek op Dinsdagmiddag my kop by die klaskamerdeur uitsteek, en ek kyk die weer wat tegelyk guur én onguur kan wees, en ek herinner my daaraan dis eintlik soos ʼn Vrydagmiddag al is dit more eers Woensdag, toe weet ek – dis sulke tyd. 

Uiteindelik!

En ek wag nou al lank vir so ʼn tyd om aan te breek.

Ek onthou ons het kleintyd ʼn skaap vir R25-00 gekoop.

Ek vermoed daar was in die sestigerjare van die negentiende eeu al ʼn verbod op die slag van lewende hawe in voorstedelike agterplase, want ek verbeel my dat ek ʼn effense lugtigheid, ʼn ligte spanning en selfs ʼn tikkie geheimhouding rondom die skaap wat in ons agterplaas ter slagting gelei is, onthou.

Hoeveel ons betaal het, en óf ons enigsins betaal het, vir die skape wat ons al om die ander keer van oom Kobus-hulle op Holfontein betaal het, sal ek nie weet nie.

Wat ek wel weet, is dat ek vandag die prys van drie R25-00-skape vir een kilogram skaapvleis betaal het.

Toentertyd is so ʼn slagskaap se vleis rofweg in vier verdeel:  hondekos, Anna en Ben (onderskeidelik die vrou wat my grootgemaak het en ons tuinier) se vleis, kerriekos, en dan die res vir Hans en Judy, Jacie en myself, Klein-Hansie.

Nee, nie vir gaste nie. Gaste het daardie jare nie skaap gekry nie – dit was hopeloos te algemeen. Gaste het hoender gekry. Miskien is ʼn skaapboud as tweede of derde, maar hoogstens tweede of derde vleisdis, voorberei.

Maar tye verander – vandag eet ons hoender deur die week, beesvleis oor naweke en skaapvleis op “high days & holidays”. (By ons een-en-twintigste-eeuse Moolmans kry die gaste steeds nie skaapvleis nie – dis hopeloos te duur – ons bêre die skaap vir Pappa-Mamma-en-Klaars-etenstye.)

Wag, ek dwaal af:  terug na die sestigs, nee, die vroeë sewentigs.

Wat presies gebeur het, sal ek nie weet nie (ek was ʼn kind, nog nie eens ʼn tiener nie). Maar min of meer die tyd toe ons in die destydse Transvaal begin het om Valley-wyne (uit sulke 2 l-bottels met oortjies vir handvatsels) te drink, het die honde oorgeskakel na Epol.

Jy het wittes, groenes en hierdie bruines gekry -
Judy had vir jare haar olie en asyn in twee sulkes gehou.

Die honde se afvalvleis en lieslappe is toe na Ben en Anna toe, en hulle vleissnitte het ons kerrievleis geword.

Teen die tyd wat lieslappe ons kerriekos moes word, en die outjies wat by Anna en Ben oorgeneem het op oorskietkos en blikkiekos aangewese was, het ons opgehou om slagskape te kry.

En ook maar beter so, want aan lieslappe sou Hans en Judy Moolman nooit hul lippe sit nie.

Judy het twee woorde met algehele weersin uitgespreek – die een was “kak” (die kruuste woord wat ek haar ooit – miskien drie keer in my lewe – hoor sê het); die ander was “lieslappe”. En “lieslappe” het sy nie ingespan om suiwer na skaaplies te verwys nie – o, nee, “lieslap” is gebruik om na enige vleis op die afkerendste manier moontlik te verwys - of dit nou gaar, of rou, of vol maaiers was, dit maak nie saak nie - dis lieslap.

En as jy is slegte mens is, is jy nie 'n lieslap nie, maar 'n verbuiging daarvan - 'n "lieplapper"!

Haai, en toe ek vanmiddag my neus by die deur uitsit, en ek kyk na die weer, en ek onthou dis eintlik soos Vrydag – toe wéét ek, ek gaan nou slaghuis toe ry om lieslappe te koop.

En dis presies wat ek gedoen het – ek het slaghuis toe gery en 1,562 kg se lieslappe, spesiaal mooi netjies in blokkies gesny, gekoop.

Ek het nie vir een oomblik gedink ek gaan R118-56 vir die lappies betaal nie – dis amper die prys van vyf slagskape wat agterop ʼn bakkie, vasgebind by die pote, op jou erf afgelaai is!

Maar as dit sulke tyd is, dan is dit sulke tyd –en dis sulke tyd.

Ek het verlede week ʼn porsie van die lekkerste skaapbredie wat een die matrieks in Hotelhouding en Spyseniering as praktiese assesseringstaak gekook het, na pouse op my tafel gekry. Sy juffrou het my die resep beloof – ʼn geurige vermenging van lam, kruie, speserye, tamatie, rosyntjies en ʼn hemelse, degerige kluitjierigheid om alles af te rond. Dié resep bring Annieka vandag by my klas aan – Michelle van huishoudkunde stuur vir my.

Maar nee, dis nie súlke tyd nie – daardie resep sal hom ter gelegener tyd kom aanmeld, hy moet net geduld gebruik.

Vandag is dit tyd vir iets heelwat eenvoudiger, amper Spartaans, met skaapvleis en uie, water, ʼn eetlepel of wat blatjang en ʼn eetlepel kerrie.

Ja, ek is by die gewaardeerde en gerespekteerde Kook en Geniet se voortreflike “skaapvleiskerrie” op p.207 van die eksemplaar wat Marc en Joanne, my twee broerskinders, vir my gegee het toe ek 21 geword het.

Dis eintlik nodig om Ma se Kook en Geniet, of – beter nog – Ouma van Wyk se Kook en Geniet nader te trek:  uit respek vir die klassieke tydloosheid van hierdie gereg. Oor 200 jaar van nou, nee, so lank iets soos skaap nog bestaan en daar mensdom oor is om skaap te eet, sal hiérdie gereg hemels wees.

        
  
Ouma s'n                                              Ma s'n                                           Myne

Maar Ma en Ouma se uitgawes praat met my in ponde en onse, en dis woorde wat ek nie verstaan nie.

En hierdie resep is een van daardie resepte wat jy een keer deurlees en dan een van twee dinge mee doen:  jy bêre die boek, skink ʼn glas wyn en volg jou eie kop verder, óf jy kry jou skaal, maatbekers- en –lepels uit en begin so lank wonder hóé groot, presies, sou SJA de Villiers gedink gereken het, is ʼn middelslag ui – want jy het drie sulkes nodig.

Al twee paaie sal jou by ʼn lieflike dis uitbring.

Ek is lus vir die letter van die wet, elke jota en tittel.

Dis die eerste keer dat ek die dis gaan maak.

Die lekkerste wat ek nog hierdie jaar geëet het, was die eerste keer toe dié resep se eindresultaat geëet het. Ek had buikongemak tot die volgende oggend, en dit van ooreet.

Ek het gevrees dit gaan met my wees soos met Annieka se oupa toe jaar pa een naweek vir hom, op sy versoek, skaapafval gekook het – op ʼn gasbottel in die garage wat nóg vroulief, nóg skoonma wou die mans toelaat om afval in die kombuis te maak.

Lang storie kort:  hulle is daardie nag met die oupa hospitaal toe. Die man het homself hopeloos ooreet, en dit op ʼn spysverteringstelsel wat nie meer as tien-vier beskryf kon word nie.

Nou ek het gevrees dis my beurt vir die hospitaal, daardie naweek toe Esther en André hierdie skaapkerriedis op ʼn kamp voorgesit het.

En dis van tóé af, dat ek wag vir die regte geleentheid om dit weer te maak.

Ek wil dit hê presiés soos dit toe was. Ek wil net minder onverantwoordelik wees as dit by die groottes van derde en vierde porsies kom – baie minder onverantwoordelik.

Maar toe het ek die vorige aand die laaste suurlemoensap in die slaai gebruik, omdat ek Sondag die laaste asyn oor die gerasperde boerekomkommer gebruik het . Toe moet die agurkies se piekelsous instaan.

Toe is die blatjang ook op (dit sou in elk geval perskes en nie appelkose nie, in had) en ek het nodig om die laaste van die tuisgemaakte appelkooskonfyt nader te trek.

Ek kry my platboom-swartpot. Die lepel waarmee ek afmeet, is nie ʼn metrieke lepel nie, ek kry een van Ma se eetlepels uit die kas – die eetlepels waarmee ek groot geword.

Vir die koppie water, hou ek toe ook die vlekvyestaal stelletjie wat ons destyds as deel van ʼn troupresent gekry het, verby:  ek gaan dit afmeet, maar dit sal met Ma se koppie wat altyd in haar meel was, die een wat nou al sonder ʼn oor is, wees.

Jy braai drie of vier uie wat jy in skywe opgesny het, bruin en sag in ʼn eetlepel botter (want waar sal jy ook nou vet vandaan kry!)

Jy gooi ʼn eetlepel (of wat) appelkoosblatjang (mev. De Villiers sê dat drie gedroogde appelkose ook goed is) en ʼn koppie water saam met die vleis, by die uie.

Draai die hitte af nes jy alles in die pot (sy praat van ʼn swaarboomkastrol) mooi warm het en sit die deksel op.

Vergeet daarvan vir ʼn uur en ʼn half.

Teen die tyd dat jy weer daarvan moet onthou, lyk dit soos vaalafval, want dit was nou nét vleis, uie, ʼn bietjie blatjang of konfyt en water in die pot; nie eers sout nie.

Dan, na 1½ uur (sy praat selfs van ʼn halfuur voor die vleis reg is) gooi jy ʼn eetlepel kerriepoeier, ʼn eetlepel meel, sout en peper, na smaak by. Stoffelina (ja, die SJA staan vir Stoffelina Johanna Adriana) dikteer nog ʼn eetlepel suiker ook, maar omdat ek appelkooskonfyt in plaas van blatjang gebruik het, en my asyn nie asyn was nie maar effe soet piekelwatersuur was, hou ek verby.

In hierdie laaste halfuur kry jou rys (of – hemels – páp!) in gereedheid.

Beter nog as pap is stampmielies. Dis hoe Esther-hulle dit bedien het. Maar stampmielies vra vooraf, en ek het my kop by die klaskamerdeur uitgesit en geweet dis sulke tyd, dis nóú sulke tyd – daar’s gʼn tyd vir vooraf week en sulke dinge nie.

Buitendien moet ek eers weer ʼn eerste volle 5 kg afskud voor ek my mond vir beloning aan pap of stampmielies kan sit. (Oh, happy day!)

So ek rasper ʼn blomkool. Dit roer ek by so ʼn halwe koppie gesmelte botter in ʼn pot wat goed warm is. Na drie of vier minute se ywerige roer haal ek die pot van die hitte af en sit die deksel op. Die blomkool stoom nou deurwarm tot jy tafel gedek en ʼn nuwe bottel wyn oop het.

Annieka se oupa se hospitaal-toe-jaag-in-die-nag kom vir ʼn oomblik weer by my op:  Ons huis, ons woonbuurt, trouens omliggende woonbuurte tot bo teen die berg, is na ʼn uur se stadig stowe op die stoof in ʼn kragonderbreking gedompel en ek en Klaars is uit motorhuis toe om die gasbottels te gaan haal.

Eintlik is dit net ʼn bonus, ekstra atmosfeer en ons het lieflike gesinstyd by kerse rondom potte op blou Cadac-gasbottels staangemaak – te heerlik!

Amper iets soos “my gasstofie brand, my kersie gee sy lig, ek hoor dan maar hoe loei die reën daarbuite,  hoe ruk die winde aan my ruite; hier binne in ons kombuisie is dit veilig, warm en dig...

"Kom nag, kom weer en wind, kom oseaan - dit is 'n rots waarop op ons huisie staan...

"...en ʼn porsie gesonde boerekos, sonder daai rys, waarop sy weermag marsjeer."

Want kyk! ons hét lekker weggelê. Annieka het haar ete afgesluit met:  “Ek kán nou nie meer nie – ek gaan hierdie bietjie bêre vir more vir ontbyt.”

Wanneer die krag weer aangekom het, weet ons nie – magie vol:  ogies toe.


29.10.15

Onthou jy nog?

Ek is wraggies seker die enigste een wat nog onthou. Pa is al lankal dood. Ma ook al ʼn klompie jare. Miskien onthou Boeta nog hierdie “Onthou jy nog”, maar ek betwyfel  dit. Toe ek daarmee te doen gekry het, was ek ʼn kind, en hy, 16 jaar ouer, al uit die huis uit.

Oorkant die pad van my graad 1-klas by Juffrou Scholtz (wat toevallig ook my standerd 5-klas was; hierdie keer by Meneer Peens omdat Juffrou Scholtz wat al ʼn ou juffrou was toe sy vir Boeta in graad 1 skoolgehou het, intussen afgetree het) was die “Griekse Saal”. (As Ma fancy wou klink, het sy van die “Hellenic Hall”, of sommer net “die Hellenic” gepraat.)

Hier het die Betsie Verwoerd Damesklub (Ma en Tannie Susan was twee stigterslede) maandeliks vergader. Voor die burgersentrum gebou is, is die damesklub se jaarlikse lentebal ook elke jaar hier gehou.

Hierdie klein seuntjie het ook op die linoteëls gegly as Ma een of ander troue se blomme gedoen of help doen het.  Dan onthou ek ook ʼn konsert toe Gert Potgieter kom sing het. En die keer toe die Drakensbergse seunskoor daar opgetree het.


Daar was ook ʼn verskeidenheidskonsert waarin ek aan die slaap geraak het op “waar kry jy daardie hoed meneer, waar kry jy daardie hoed.” Ek het wakker geword toe vrouens oor die verhoog heen vir mekaar soos katte miaau, die een of ander immergewilde, nimlike katteduet van die een of ander aard.

Langsaan was die kerk. Maar dié was verbode terrein – net soos die Roomse Kerk en motorfietsryers  was die Grieks Ortodokse Kerk reguit van die Duiwel af. Ek verbeel my ek het, miskién, één keer, by die deur ingeloer, maar dit was, hoogstens, dit.

Langs die kerk was die parkie-oorkant-die-skool waar ek na skool gewag het vir Ma of Pa om my op te kom tel. (Ek kon eers van standerd 1 af huis en skool toe, wat maar ʼn paar blokke van mekaar is, stap.) In hierdie parkie-oorkant-die-skool – dis nou al ʼn hele paar jare toe onder woonstelle – het  ek eendag van ʼn draaiende ding afgefoeter en in die oomblikke wat gevolg het, meer bloed verloor as was daar voor die ongeluk in my liggaam was.

Maar dis die huis ágter die Griekse Saal (ekskuus – Die Hellenic) wat ek vanaand onthou.



Ek sien Google Maps gee die adres aan as  9 Penzance Street. 

Teen Desember 2014, toe hulle die straataansig karteer, was die huis al plat.

Ek onthou dit egter soos gister. Swart teëldak, wit mure, blou geute. Swart stoep met trappies na die stoep en geboude blombeddings so breed so die trap, links en regs van die trap. Malvas of snyblomme of die beste van die seisoen.

Tannie Hannie en haar man, oom Leslie Greeff, het hier gebly.

Tannie Hannie onthou ek as ʼn sagte engel. Ek hoor nog die sagte ritsel van haar vlerke as sy in Springbok-apteek, waar sy al die jare gewerk het, rondbeweeg. By Tannie Hannie wat ek en Pa een keer elke jaar gekom het om Fenjal of Badedas vir Moedersdag te koop. (Een jaar het ek Pa oorreed dat ons iets ander by Tannie Hannie koop – ʼn borsspeld. Dit was twee slange wat in ʼn roset opgekrul lê, met groen steentjies vir oë. Dis vandag nog die eerste ding wat in my kop opkom as ek die woord “basilisk” hoor. Ek weet ook dat my ma daardie borsspeld nooit gedra het nie. Baie later van tyd het ek een en een bymekaar gesit en gesnap, enkele maande voor die egskeiding, dat my slegs ingestem het om aan my versoek te voldoen omdat hy sy eie boodskap met die twee slange by my ma wou tuisbring.)

Ek dink nie ek het Oom Leslie  een keer in my lewe gesien nie. Ek ken hom net van ʼn swart-en-wit foto in ʼn boek. En miskien verbeel ek my hierdie boek en foto net.

Tog is Oom Leslie groter in my onthou as Tannie Hannie, Springbok Apteek, Immelman se apteek, die-parkie-oorkant-die-skool, selfs die Griekse saal en kerk ook.

Sien Oom Leslie was ʼn baie famous oom – Oom Leslie het  nie sommer net gesing nie, hy het plate gemaak ook. Regte plate. Langspeelplate én seven singles, of soos hulle dit oor die radio genoem het: “solo sewes” (ek het altyd “solussewes” gehoor).

Vra jy my of ek enige plate uit my vroegste kinderdae onthou, dan onthou ek net drie en ʼn vierde se omslag:

Leslie Greeff se “Onthou jy nog”, Gert Potgieter se “Yellow Bird” en Vivaldi se “Four Seasons” wat Jac se Engelse girlfriend (en die laaste 42 jaar of so ook my skoonsuster) een Kersfees by die see vir Pa as Kerspresent gegee het.

Die vierde se omslag had ʼn vrou in ʼn lang rooi rok op. Die rok het ʼn ellelange sleep gehad en die vrou het in haar spore omgedraai en vir die sleep gekyk. Miskien Leonora Veenemans of Virginia Lee.

Ek en Ma is einde standerd 2 uit die huis uit en die eerste omkooppresent waarmee my pa eendag by die woonstel opgedaag het, was ʼn radio-en-platespeler-in-een-kontrepsie. Dis dan ook hoe Gert Potgieter se Yellow Bird by my opgeëindig het – pa het dit saamgegee.

Maar Oom Leslie se plaat het by die huis agtergebly.



Ek moes dit voor standerd 2 se einde laas geluister het, iewers in die vroeë sewentigs. Maar ek het dit oor en oor geluister, so baie dat ek baie daarvan se woorde nog onthou en gereeld nog in my gedagtes sing.

So ʼn klompie jare gelede het ʼn boek oor Afrikaanse musiek op die rak beland. Ek het dadelik geloer of Oom Leslie daarin vermeld word. Inderdaad.

Van tyd tot tyd google ek ook sy naam, soek ek hom op you-tube.

Gisteraand weer.

Definitief vir die eerste keer in meer as ʼn jaar.

Want, jou wrintiewaar, kan jy glo, is dit moontlik:  knap oor ʼn jaar gelede, het iemand inderdaad elke snit op daardie einste “Onthou jy nog”-langspeler, die een wat na al die jare gereeld nog op my kop se draaitafel van onthou draai, opgelaai.

Ek het al hoeveel keer, sonder sukses, gaan loer, en elke keer teleurgesteld en bedroë daarvan afgekom.

Tot gisteraand!

Dis ongelooflik – selfs die liedjies wat in geen jare deur my kop gemaal het, wat ek nie eens meer  geweet het dat dit bestaan nie, het na my terug gekom. Dit was asof ek dit gister laas geluister het! Ek het nie eers nodig gehad om agter die man aan te sing nie – ek het sommer voor hom uit gesing!

Ja, ek het opgehou hoop en dink dat ek ooit eendag weer na die musiek sal kan luister. En daar val dit, kaplaks, in my skoot. Klaradyn sal wil byvoeg “létterlik in Pappa se skoot, want Pappa luister daarna op Pa se skootrekenaar.”

Ek het gaan loer of daar al iets van Anneli van Rooyen se nuutste vrystelling opgelaai is – daar ís – en toe sommer net uit oudergewoonte en niks anders nie, ʼn kans geneem en “Leslie Greef” ingetik.

Ek sou graag elkeen van sy treffersnitte wou deel, en miskien doen ek dit nog. Maar ek weet dit is vandag net ʼn treffersnit as jy die man, soos ek, saam met moedersmelk en aan “vadersknie” ingekry het.

Hoe kies ek ʼn gunsteling?

Kleintyd het ek vir Klaradyn gesing: “Klaradyn, o, Klaradyn, jou het ek lief bo alles. Van al die Klaarsies wat ek ken, nie een so mooi, so soet soos jy. Klaradyn, o, Klaradyn, Pa het jou lief bo alles.” Natuurlik op die wysie van “O boereplaas.” En as ek die liedjie gesing het, was dit nie omdat ek Charles Jacobie of Gert Potgieter in my agterkop had nie, dit was Oom Leslie wat die liedjie daar geplant het.


Die plaatomslag was altyd vir my “Maanlig op die Vaalrivier se walle”. Daarin sing hy “Ons moes gaan trou in somerlente blou, drome het ons laat wag; Maanlig op die Vaalrivier se walle – ek  wonder of jy nog daar wag vir my.” Lief daarvoor om dramas in my kop af te speel, het ek altyd die hartroerendste scenario’s rondom ʼn moontlike oorsprong vir hierdie woorde uitgedink.

Die man en sy tyd is duidelik nader aan die Briels as aan Anneli van Rooyen of Snotkop. Léés dan net dié "O, my pappa" met die Lowrey of Yamaha-orrel as deel van die begeleiding:

O my pappa – vir my was hy so wonderlik, O my pappa – vir my was hy so goed
Niemand soos hy: so teer en tog so liefderyk, O my papa – net hy kon my verstaan
Ek dink nog terug: hy’t my soms op sy skoot geneem, En met sy lag het sorge gou verdwyn.
O my papa – so vriendelik en beminlik – het hy vir my nog altyd hier gebly
O my papa – vir my was hy so wonderlik, hier in my hart verlang ek steeds na hom
Ek dink nog terug: hy’t my soms op sy skoot geneem, en met sy lag het sorge gou verdwyn.

Ek mis sommer my eie pa!

Silwer hare tussen goud, skyn vandag al op my voorhoof – ja, my liefling ekword oud nou.” Eers jare later dat ek teleurgestel moes word deur te hoor dat dit bloot ʼn vertaling van “Silver threads among the gold” is.

Ek dink weer vanaand aan die brug op ons plaas, gebou oor ʼn heldere stroom,want daar het my lelie en ek, vaak helaas, van lief in die maanskyn gedroom.” (Nee, o, aarde, ek weet nie wat die “vaak helaas” daar soek nie, dalk is dit nie eers “vaak helaas” nie maar iets soos “Oom Bertie se sandale” wat toe al die tyd “Op berge en in dale” was. Dis “vaak helaas” wat ek nou hoor; ek onthou iets of iemand soos "Vakie Laas")

Laat ek dan maar volstaan by hierdie enkeles  en afsluit met die moeder-liedjie (hoe kan daar ʼn vader-lied wees en nie een vir moeder ook nie):


Die dierbare moeder van my

Ek was weg van ouerhuis, oral het ek rondgereis:
nêrens is daar een soos sy – die dierbare moeder van my.
Sy was altyd goed vir my, en so sal sy altyd bly.
God was goed – hy’t my gegee, die dierbare moeder van my.

Die laaste sinnetjie van die lokparagrafie op die plaat se agterkant was beslis profeties: 

Leslie Greeff het natuurlik geen voorstelling nodig nie. Hy is een van die Republiek se bekendste en gewildste sangers. Die aanvraag na sy opnames word bewys deur die groot hoeveelheid solo-sewe en langspeelplate wat reeds van hom vrygestel is.

Leslie se bekoorlike stem pas aan by omtrent enige nommertjie maar hy self verkies om aan die sentimentele kant te bly.

Met hierdie opname bied hy 'n verskeidenheid van ou gunsteling liedjies wat deur die jare altyd gewild gebly het. Elkeen wat na die liedjies op hierdie plaat luister sal onwillig vra ONTHOU JY NOG?



Al die snitte is hier gelys.


17.8.15

One small step vir ander miskien, vir my 'n moewiese leap

Ai, my vriende kan bly wees ek het ʼn primitiewe selfoon. Self het ek ʼn broertjie dood aan die eietydse hebbelikheid van so baie om aldag en heeldag hul ontbyt, middag- en aandetes af te neem en op al wat sosiale media-kosblad is, te deel. Maar had ek ʼn manier om sommer-sommer, met die druk van ʼn knoppie, my dis onder al wat leef of beef se neuse te kry, dan het ek dit wraggies vandag gedoen.

Toe ek dit uit die groot bak in drie kleiner bakke skep, toe weet ek, skielik – ek het die borrie vergeet. Judy het hare beslis met borrie 
kleur gegee.

Daar behoort resepte ook te wees wat om borrie vra. Myne, vandag, is helaas dan nou sonder borrie. 

Hartskos en liefdeskos is vir my twee goed.

Hartskos lê jou na aan die hart, dis jou grootwordkos, kindertyd se gesinskos. Sosatie-tjops, bobotie, souskluitjies, Judy se Boudoir-koekstruif (ʼn heerlike huwelik tussen trifle en tiramisu) is my hartskos.

Liefdeskos is daardie kos wat jou nié self so vreeslik na aan die hart lê nie (indien enigsins) maar jy maak dit uit liefde vir jou tafelgenoot – of dit nou eggenoot, ʼn kind, klein- of agterkleinkind is, selfs vir  ʼn jarelange vriend. Jy maak dit ook omdat jy lief is vir die kuns van kosmaak.

Belangrik – jy maak dit nie omdat jy verplig voel nie, omdat iemand daarna gevra het nie. Liefde en niks anders as liefde nie, is jou enigste beweegrede.

Soveel liefde, soms, dat jy selfs uitsit as dit bedien word – omdat jy self dit nie eet nie.

Aan afval (en ek praat nie van lewer nie, ek praat van hart-long-poephol-en-tong) het my ma haar mond nie geslaan nie.

ʼn Middeweg, die enigste dis waar oorlede Pa en oorlede Ma mekaar rondom afvallerige kos kon ontmoet, was Judy se bron.

Ja, dis maar nou die anderdag dat ek sien die “bron” waarmee ek gedink het ek groot word, is toe al die tyd Engelse eintlik “brawn” en ons moes eerder van “sult” gepraat het.

Ek het my ma bron nooit sién maak nie. Dit was die soort liefdeskos waarvoor sy soggens drieuur of vieruur opgestaan het. Teen die tyd dat ek opstaan vir skool, of (later jare) uiteindelik wakker word omdat ek ounag eers ingekom het, is die kombuis lankal opgeruim.

Na die egskeiding, toe ons op ons eie was, het ek Ma-se-kerriebron vir ʼn goeie 14 jaar nie geken nie. Dis ʼn liefdesdis onthou, uit iets anders as liefde maak sy dit nie. En al sy vir my hóé lief, vir my alleen maak sy dit nie. 

Dis eers na sy in 1988 weer met Oom Jack getrou het, dat sy opnuut, van tyd tot tyd vir hom, bron begin gemaak het. Kom ek, toe al lankal uit die huis uit, toevallig daar, dan is daar bron vir my ook ʼn plakkie of skyfie.

Tot knap voor hulle uiteindelik ouetehuis toe is, het sy nog bron gemaak. Daardie jare het sy dit in klein Tupper-bakkies gestol.

Maar dis ook seker al een van die dae nege of tien jaar lank iets van die verlede.

Ek koop nie die bron wat jy saam met die polonies by Pick&Pay en Checkers kan koop nie. Dis vir my lekker, ja, en ek eet dit as ek by ander mense kom, wat daarvan het. Ek is nie neusoptrekkerig nie. Maar self koop ek dit nie, bron is iets wat jy self maak, iets wat proe soos Judy se bron geproe het.

Sowat ʼn maand gelede oorval ʼn gemis aan bron my opnuut en ek skuif agter die rekenaar in. Laat ek bietjie Google en kyk hoe dit werk.

Dis toe dat ek sien “bron” is eintlik “sult” en “brawn” is wat die Britte dit noem. Ek kry resepte mét afval, resepte sónder afval, en ek weet – dis nie meer lank nie, eersdaags maak ek my eie bron.

Drie weke gelede is ek op die Boeremark en by die varkstalletjie waar ek die week se spekvleis en braaiworsies aanskaf. Iemand vra of hulle bron verkoop. Die die boervrou noem dat sy dit selde mark toe bring omdat die stedelinge dit nie juis ken nie.

Ek weet weer: dis amper sulke tyd. Dis selfs nader as wat ek vermoed.

Toe kom die Beeld met: 

“Eet lewer en afval – soos leeus, sê Tim Noakes”

“Mense kan leeus se voorbeeld volg vir ’n gesonde dieet, meen prof. Tim Noakes.

“Wat eet die leeu eerste? Die binnegoed en lewer. Ons behoort dit ook te eet.

“Diere se voedingswaarde is in die binnegoed, nie die vleis nie.”

Saterdagoggend wat nou verby is,  ís dit toe sulke tyd – tyd om my lyf leeu te hou en by die binnegoed te begin.

Ek het in my lewe nie gedink ek sal ooit ʼn skaappens koop en gaarmaak nie.

One small step, ja, maar een moewiese sprong...

En:
  • een spierwitte skaappens, 
  • vyf skapenspootjies, 
  • twee varkkloutjies 
  • en ʼn allemintige stuk skenkel, 
  • ook ʼn dik skyf ”chuck” in blokke gesny, 
  • ʼn paar lourierblare, 
  • kerriepoeier, 
  • knoffel en 
  • twee uie verder, 
groet ek teen sonop die prutpot in die kombuis en begin my dag.

By ʼn resep het ek nie uitgekom nie, dis maar mog het troffe uit wat ek ruk gelede raak ge-Google het.

Ek weet nie eers of die bene genoeg gelatien opgelewer het nie, want by geproe, soos ek nou hier tik, het ek nog lank nie uitgekom nie.

Die stalletjie het lieflike, spierwit gewaste skaapkoppe ook gehad.  “Klaar oopgekap en die snotbeen uitgehaal,” vertel die vrou by die boeremark my.  Dis tóé dat ek myself vertel die kop is mos eintlik iets wat leeus meestal vir die hiënas en ander aasdiere los. Toe bly ek maar by pens en pootjies – dis afval genoeg vir hierdie simba.

Ons sal more eers weet of dit enigsins ʼn noemenswaardige sukses was. Die goed is pas, so sonder borrie, in die drie bakkies geskep.

Wat ek wel weet, is dat dit wat ek vanmiddag van die bene afgehaal en met twee vurke fyn gemaak het, heerlik geruik en geproe het.

Behalwe vir die gebrek aan die kleur wat borrie bring, dink ek trouens, kan dit enige dag Judy se bron wees.

Alles het tot op hede saamgewerk om my goed oor hierdie bron te laat voel.

Die afvalagent by die Boeremark het byvoorbeeld ook ʼn eetlepel of wat appelkooskonfyt genoem. En ek het net verlede week ʼn botteltjie appelkooskonfyt wat ek ʼn goeie twee jaar gelede self gemaak het, opgespoor.

Selfs die kerriepoeier wat ek ingespan het, is handgemaak – uit die bekwame hand van die speseryehandelaar wat Saterdae by die Boeremark handeldryf.  Jy vertel hom wat jy soek, hoe sterk, hoe geurig, met welke botone en hoeveel ondertone. Voor jou klim hy dan met mening onder die hope speserye om hom uitgestal, in. Skeppie, hier, skeppie daar, terug vir nog ʼn skeppie, knippie, knypie en selfs ʼn skeutjie (omdat daar vloeistof ook bykom). Dis soos om ʼn kunstenaar dop te hou. ʼn Kort rukkie later weeg hy jou mengsel af.

Nou hou ek maar duim vas.

“The proof of the pudding is in the eating,” sê die Ingelsman.

Ek het Saterdag wel voorafbereide kerriebron op die boeremark raakgeloop, én gekoop. Ná ek my pens en pootjies gekoop het. Vir ʼn aptytwekker, ʼn poedinkie vooraf, het ek myself vertel. Maar my aptytwekker is na een skyfie, net so onder die honde verdeel:  hopeloos te veel kunsmatige gelatienpoeier, nie sag genoeg gekook nie en taai. En buitendien – ek het dit nie self gemaak nie en ken die mense net van sien.

Daarom wei ek self ook maar vooraf uit en hang ek my skepping voortydig aan die groot klok. Kom more is ek dalk so teleurgestel, ek sluk sommer my eie tong in en sprak geen sprook meer oor die kouevleisie wat ek met soveel liefde, en  liefdevolle herinnering, voorberei het nie.

Naskrif:  Ja, naskrif want ek het toe maar gewag om eers te proe voor ek my woorde pos. Met die eersteprys wegstap by die tuisnywerheidafdeling van die Bloemfonteinse Landbouskou, sal ek nie. Maar presies soos ek dit wou hê, is dit wel. Volgende keer dalk bietjie meer sout, dis al. Miskien kon ek ʼn swaarder hand met die kerrie ook gehad het. Lekker was nog nooit sleg nie.



Net jammer ook ek het nie spoggerige foon dat ek kan afneem en wys nie.

16.8.15

Donderdag se los gedagtes in die motor, effe gestruktureer

Vir die wat nog nie weet nie – ek het Saterdag (gister ʼn week gelede) oupa geword.

Dwars deur die nag ook, tot Sondag toe nog.

En nee, ek praat nie van ʼn liefdeskind iewers na skool, op universiteit of te wyte aan ʼn sewedagpas op Civviestraat tydens my dienspligjare nie. Geen jarelange klein geheimpie wat 29 jaar later self ma of pa geword het nie; ek praat van myself en Klaradyn – ek het haar oupa geword. Sy my kleinkind.

Of Annieka die ouma geword het, weet ek nie. Is dit wel die geval, dan moet my skoonsus, so vier of vyf jaar jonger as Annieka, ons kind wees. En my swaer haar man.

Of dalk het die saalsuster gereken my swaer is my en sy sussie se kind, sy vrou die ma, en Klaradyn die kind.

Bottomline – ek is die oupa!

Dat die vrou rede had om nie te weet wie presies die kind se ma is nie, is te verstane – ek en Annieka én Erik en Johanett het Klaradyn vergesel, beide pare ewe verskrik en duidelik gespanne.

Maar om mý darem die oupa te maak, en my die oupa te hóú, grens aan die belaglike.

Ek het al gedink om my baard swart te kleur, ek het dit trouens al ernstig oorweeg. Vrou-alleen kon Annieka my nie grys hare gee nie, maar toe Klaradyn die linie versterk en die twee vroue onder een dak ʼn verenigde front vorm, toe is dit neusie verby. Deur net deur die laaste 10 jaar se Kersfeesfoto’s te blaai, kan jy die agteruitgang, wat met die woorde “rasse skrede” uitgebrei kan word, duidelik volg.

Ek dink helaas dis nou ook al te laat. Toe hierdie Oupa Sondag in die motor klim en ek bekyk my witte baard in die truspieëltjie, toe sien ek dis nie meer net my gesig wat grys is nie, my kop ook.

En vir soveel haarkleur, hare kleur en haarkleursel sien ek nie kans nie.

Om van die sout-en-peper-baardjie (baie meer sout as peper) ontslae te raak deur hom af te skeer nie, kan ek ook nie – die baard dien al jare net een doel – om die hangende tuine van Babilon (i.e. die ingerygde ry op ry dubbelkenne) te versteek.

Annieka maak Saterdagoggend, toe sy Klaradyn in haar boetie-hulle se hande laat, die grappie dat sy nie ʼn oproep van die Wilgers-hospitaal wil kry nie. Verwysende, nie vir een oomblik na Klaradyn nie, maar na haar broer. Hy was in geen jare op die skaatsbaan nie en Klaradyn en haar oom en tannie gaan skaats. Hulle gaan nie net skaats nie, hulle gaan fliek ook, ten pin bowling inpas en elke Ripley’s-
Believe-
it-or-not-uitstalling wat op die oomblik in Pretoria kuier, deeglik bestudeer.

So toe ek Annieka knap na 11:00 bel om te sê Johanet het my gebel om te laat weet hulle is by Wilgers se ongevalle-afdeling, is haar eerste reaksie:  “Maar is dit nou regtig, of nie.”

Maar twee minute en agtien sekondes later bel sy my terug:  “Dis ernstig, jy moet kom, hulle maak reg vir ʼn noodoperasie.”

Hierdie noodoperasie moes toe uitgestel word tot 16:00 omdat hulle 10:00 ontbyt geëet het en die dokters nie op ʼn vol maag met narkose wil kom nie.

Sussie het wou val, en oom het wou help keer. Tussen die een se “wil val”, en die ander se “help keer”, beland hulle toe al twee plat op die ys – die oudste se regterysskaatslem, na alle waarskynlikheid, in die jongste se regterhand in. Duimpie tot Fielafooi is in takt, maar van arme Piepie-in-die-kooi kan dieselfde nie gesê word nie, trouens nie eens iets soortgelyks nie. Al die pinkie-tendons is morsaf, en onder operasie kom hulle agter die lem is in die een pinkie-vingerbeen ook in.

Baie skrik, baie bloed, baie trane, baie hardloop, baie dra, baie bloed demp later, stap ek ʼn rukkie na Annieka by die oorspronklike drie in ongevalle in. 

Wat ek aantref is baie genade.

Sowat ʼn uur later stap ons al vyf die pediatriese saal in gelid in – die een meer besorg en gespanne as die ander.

Die enigste sin wat die suster hieruit kon maak, is dat dit Ouma en Oupa, Mamma, Pappa en dogter/kleinkind is.

En daar word ek toe oupa.

Sondag-agtermiddag toe is ons tuis. Maandag is Vrouedag en ons in die bed (vir die lekker). Dinsdag kry ons ʼn spalk en Woensdag is sussie skool toe.

Ek en Annieka wil nie dat sy gaan nie– dis nie gips nie, dis net ʼn spalk. Die palm van die hand is gestut, die bokant geniet die beskerming van ʼn stukkie lap. Maar sussie is adamant – dis entrepreneursdag en sy wil niks mis nie (selfs nie eens klasse nie).

Ek waarsku haar om asseblief nie tussen ʼn spul kinders in bondels en toue by enige stalletjies vas te val nie – haar hand kan seerkry.

Die hoof bel my deur die loop van die dag, om te laat weet die kind is klopdisselboom, maar hy laat nie na om te laat val nie:  “Ek het haar pouse iewers tussen kinders in ʼn losgemaal raakgesien. Maar haar hand was veilig bo haar kop.”

En sy moes dit geniet het. Sy het by die huis gekom met ʼn prys wat sy gewen het. Met pea-shooter skiet, nogal! Bid jou dit aan!

Nou’s dit Donderdag, ek sit by die kunsklasse waar sy les het in die motor vir haar en wag.

Ons is steeds dankbaar vir die goeie hande waarin ons kind was:  Erik, Johanett, die mediese span, die verpleegpersoneel en almal wat so ontsettend mooi na ons kind gekyk het.

Dinge kon so anders uitgedraai het. Nie alle ongelukke word so maklik, so deeglik en met soveel liefde en omgee beredder nie.

"'n Ongeluk is nooit 'n aspris nie," het my ma my geleer. Ons leer Klaradyn dieselfde, veral 'n ongeluk soos die. Partykeer las ek by:  "As dit 'n aspris was, het ons dit 'n aspris en nie 'n ongeluk nie, genoem."

More is dit kunswedstryd – poppeteater hand van alle dinge. Maar die hoofkarakter, die wolf, se hand is nou buite aksie én die kwessie. Sy gaan wolf nou met die linkerhand doen en dan gaan ek maar my pokkelkloue in die varkie en die verteller-karaktertjie se lappelyfies inwurm ek kyk wat gebeur.

ʼn Wonderlike, hupse oupa, ek, wat nie skrik vir afgaan grond toe op my kleinkind se verhoog nie!

Status update:  Sondagoggend.  A++ vir poppekas, A++ vir gedramatiseerde poësie (waar ons ook moes improviseer omdat sy nie meer met die houtblokke kon doen wat sy altyd kon nie.)

27.7.15

Liewe Ou Tannie, ons bring rose

“Moenie vir my blomme aandra, die dag as ek dood is nie – bring dit vir my nou terwyl ek nog in die lewe is.”

Ek is seker nie die enigste een wat hierdie gedagte al op die een of ander geleentheid, en manier uitgedruk, raakgeloop het nie.

Dis nou seker al meer as ʼn maand dat ek die behoefte van die hart om vir een wat nog in die lewe is, blomme aan te dra. Juis omdat ek nie, eendag as sy eers dood is, skuldig wil voel omdat ek die blomme nie aan die groot klok gehang het, terwyl sy nog in lewende lywe met ons was nie.

En van die rose, angeliere, papawers, pronk-ertjies, veldblomme en Kaapse fynbos wat ek wil aandra – of dit nou letterlik of figuurlik is – sal die stomme ou vrou niks verstaan of weet nie.

Want die een wat verdien om met blomme toegegooi te word, is Sussa, die een wie se elke entjie pad met roosblare uitgevoer moet word, is Sussa, die patryshondtefie wat ons bietjie meer as 11 jaar gelede by die huis aangebring het.


Ek is nie geveins beskeie as ek sê “I am not worthy” nie, want dit is so:  ʼn mens, ek die meeste van almal, is die lojale band wat Sussa met my gesmee het, nie werd nie.

Dit was destyds ʼn Oedipus- en Antigone-ding:  Annieka het die reuntjie (Patat, wat later Boeta geword het) en ek die tefie (Patroon wat Sussa opgeëindig het) as trop- en hartsmaatjie aangeneem.

Ja, ons het vir albei ewe lief geword, maar Boeta sou aan Annieka se kant van die bed opkrul, Sussa aan my kant. Kyk ons saam TV, sal Sussa by my kom sit, Boeta by haar. (Is dit nét ek of nét sy, sal hulle natuurlik al twee óp ons kom sit!)

Ek los haar elke weeksoggend as ek werk toe gaan, en baie keer oor naweke en vakansies ook, maar wanneer ek by die huis is, los sy my nie ʼn enkele oomblik uit nie. Sy volg my soos ʼn skaduwee.

Dis nou as sy nie slaap nie.

Ons het al verlede jaar agtergekom Sussa is lank nie meer die ligte slaper wat sy was nie, Morpheus vat haar deesdae verder van die wakkerwees-wêreld as dit waaraan ons al die jare gewoond was.

Ons het nou televisie gekyk in die slaapkamer: Klaradyn tussen my en Annieka en óp die bed, Sussa ónder my, op die grond –lynreg onder my, val ek deur die bed, val ek op haar.

Die springbokvelletjies wat links en regs van die bed was, toe hulle destyds hier aangekom het, is lankal nie meer deel van die huishouding nie.

Maar Sussa het nie ʼn velletjie, kussing, bedmatjie of kombers nodig om direk onder my, onder die bed op die koue leiklipvloer te kom lê nie.

Die ander honde het – liefs ʼn kussing. En as daar niks in die kamer is nie, dan gaan slaap hulle elders.

Nie Sussa nie – sy slaap by my, onder my.

Laat val ek my hand van die bed af, kan ek aan haar vat. Lê sy te diep in, krap-krap ek net so teen die houtraamwerk van die dubbelbed, en dan is dit nie lank nie, of ek hoor die klop-klop van Sussa se stert op die vloer.

Partykeer, as ek die bedmatjie wat wel langs my bed is, nie halfpad onder die bed insleep vir Sussa nie, gee sy selfs die bedmatjie ʼn koue skouer, net om op haar ou vertroude plek, onder my, te loop lê.

Daar is wel iets wat haar van haar gewone lêplek by die koppenent van die bed, onder by die voetenent kry. En dis hierdie gewoonte van haar wat my telkens so aan die hart gryp as ek haar daar aan die onderkant van die bed opspoor.

Dis met moeite dat ek my dag se klere aan die einde van die dag nié sommer net op die grond laat lê waar ek dit ook al uittrek nie – in die badkamer, voor die klerekas, neffens die stort, in die gang.

Vyftien jaar se getroude lewe het my nou al afgerig en gekondisioneer om dit onder, oor die voetenent van die bed te hang.

En dit maak nie saak of dit ʼn das, onderbroek, broek of wollige trui is nie – as dit deur die loop van die nag afval, dan gee Sussa haar warm plek op die bedmatjie prys, om op my kledingstuk te gaan lê. Ek lieg nie as ek sê dat sy op my lyfband, in plaas van die bedmat, gaan slaap as dit afval nie.

Gaan dit oor my liggaamsreuk? Ek weet nie. Maar wat daar ook al afval, sy gee haar veel warmder en geriefliker slaapplek prys, om daarop te gaan lê.

As jy my twee jaar terug gevra het of ek dit ooit sal mis om in die middel van die nag toilet toe stap sonder ʼn teefhond tussen en om my bene, sou ek vir jou gesê het dat ek nie kan wag om in rus en vrede die nagtelike- of vroegoggenddraaie te loop nie.

Nou mis ek dit – sy slaap baie keer te vas (of die ouderdom het haar bloot net te doof) om wakker te word as ek opstaan en die bed kraak.

Ek het reeds genoem dat ons nou in die slaapkamer televisie gekyk het: Klaradyn tussen my en Annieka en óp die bed, Sussa ónder my, op die grond.

Toe die girls ʼn volgende episode van die huidige televisiereeks wat ons kyk, begin kyk, toe staan ek op en kom vesitig my op Klaradyn se bed om hierdie geselsie aan te knoop (bossie blommetjies vir Sussa in gereedheid te bring).

Ek was skaars op die bed, toe stoot iemand die kamerdeur van die anderkant oop. Raai wie het ingestap gekom?

Ek het by Sussa iets van onvoorwaardelike liefde en aanvaarding geleer. Onvoorwaardelike liefde en aanvaarding wat ek nie seker is mense in dieselfde hoeveelheid en op dieselfde manier kan teruggee nie.

Sussa het my ook ʼn baie belangrike les geleer. ʼn Les wat ek, omdat ons net een kind, Klaradyn, het, en nie twee nie, ,  nie sommer nodig gaan kry nie.

Dit is om nooit ooit ʼn witbroodjie te hê nie, een van jou kinders uit te sonder nie.

Ek het haar kleintyd voorkeurbehandeling gegee, afsonderlik behandel en eenkant bederf.

Dit het later tot gevolg had dat sy nie noodwendig nader gestaan het as ek snoepgoedjies of klein bederfies uitdeel nie. Sy sal haar nie verwerdig om saam met die res te storm, tou te staan of rond te maal nie. Die ander honde kan hulle maar soos plebs gedra, sy hou haarself eenkant in die hoop (vertroue, wete) dat ek haar ná die tyd geleentheid sal gee.

Ag, siestog, en daardie gesindheid, om dit as vanselfsprekend te aanvaar dat sy afsonderlike voorkeurbehandeling gaan geniet, het haar al op baie lekker in die lewe laat uit mis.

Jy moet ook nie dink Sussa sal in die stormloop om ʼn oondpan te stofsuig, deel nie. O, nee, dis vir die laer klasse, die ander honde. En dan kry sy niks.

Die laaste ding wat ek moet noem, omdat dit so opvallend is, is die feit dat sy nodig jou aandag afdwing nie. ʼn Mens kry mos sulke honde (en skoolkinders in jou klas) wat aldag en heeldag so optree dat jy nie anders kan as om aan hulle aandag te gee nie – hulle trék jou aandag (ruk en pluk daaraan en stoei daarmee) op al die verkeerde maniere.

Nie Sussa nie – sy is nooit ooit opdringerig en in jou gesig nie, altyd eerder die dienende Martha op die agtergrond. (Dis nou met die enkele uitsondering van middernagtelike of vroegoggenddraaitjies wat ʼn mens loop. Maar dit het met opdringerigheid onder die son eintlik niks te doen nie – dis suiwer blydskap, carpe diem en oorgawe aan ʼn nuwe dag met nuwe dinge.)

En dis wat ek wil sê, en al wat ek wil sê.

En dat ek bly is dat ek dit nóú kon sê, en gesê het, en nie genoop is om dit te sê die dag as die dierbare ou vrou (ons noem haar ons “senior citizen”) nie meer met ons is nie.

Ek vermoed ook ek het ʼn nuwe, klein, geheime geheimpie begin. Want toe ek nou in die bed kom klim – die televisieprogram is klaar en Klaradyn klaar weer in haar bed – en ek trek die dag se denimbroek uit, toe hang ek hom doelbewus nie oor die voetenent nie. Dis asof hy vanself uit my hande en op die bedmatjie geval het.

Miskien is dit ʼn ou klein veldblommetjie, ʼn klein geel perdeblommetjie wat Sussa wél sal verstaan.





7.7.15

Spyt kom altyd te laat

As daar een ding is waarvoor Annieka tegelyk én bekend, én beroemd, én berug is, dan is dit haar talle swart nommertjies. Enige swart nommertjie – rokke, rompe, baadjies, broeke, tabberds, noem maar op.

En dan kom die drie b’s (bekend, beroemd en berug) geensins van onbesonne aankope nie, trouens en inteendeel...

Dit hou nou al jare so aan – sy sien iets in ʼn winkel, pas dit selfs aan, maar hang dit dan weet terug. Annieka doen niks op die ingewing van die oomblik nie, allermins nie die aankope van die een of ander swart nommertjie nie. Om die waarheid te sê, iets waaraan sy drie maande plan, sal vir haar, na drie maande, steeds soos op-die-ingewing-van-die-oomblik voel.

Na sy die nommertjie dan teruggehang het, tob sy enige iets van ʼn week tot twee weke.

Nodeloos om te sê dat die nommertjie dan lankal verkoop is. Keer op keer op keer. So onlangs soos verlede week weer.

Ek is anders, meer impulsief.

Suinigheid (of ʼn gebrek aan genoeg geld) sal my partykeer dryf om uit te stel. Maar selde langer as ʼn dag.

ʼn Ruk terug sien ek ʼn boek in Johannesburg – ek kwyl soos een van Pavlov  se honde wat die klokkie hoor lui het, maar vertel myself die boek is te duur. Ek wil die boek hê, ek sal hom vreeslik baie geniet, my lewe sal onvervul en leeg wees, sonder die boek. Maar die boek is te duur – ek het nie soveel geld om my kind se troue uit te gee nie, wat nog te sê ʼn slapbandboek.

Ons kom terug Pretoria nie. Die aand kontak ek Exclucive Books in Menlyn om te hoor of hulle die boek in voorraad het. Hulle het nie. Ek vertel hulle van die een in die Sandton-tak en vra dat hulle dit vir my aanstuur Brooklyn toe. Enkele dae later gaan tel ek die boek op.



Verlede week gaan ek apteek toe. Ek het niks anders as om te doen nie en ek drentel deur die pandjieswinkel neffens die drogis en apotheker  se plek.

Ook lankal nie meer ʼn panjieswinkel soos van ouds nie – selfde kool ja, maar ʼn gans ander sous – hulle noem hulself  ʼn “Cash Converter”.

My hart en siel en wese hunker na die lepeltjies waarmee ons twee meer as veertig jaar gelede by my Ouma van Wyk jellie geëet het.

Ek het hulle nie van haar geërf, in 1987, toe sy oorlede is nie – sy het haar twee skulpielepeltjies vir my gegee, 1982, toe ek klaar met skool en op pad Potchefstroom toe is.

Twintig jaar later, toe is die twee lepels lankal een. Moenie my vra hoe en waar en hoekom of waarom nie – ek weet nie. Toe ons begin soek, toe is dit duidelik, ons het inderdaad nou net een.

Vyf jaar later kuier ek by universiteitsvriendin, Philippa, en bekla my lot. Sy ken die lepels – ons is immers maats van eerste dag op universiteit.

Daar, jare later, glimlag Philippa hemelsbreed en sleep my kombuis toe. Uit haar laai kry sy vir my ʼn lepeltjie. “Dis vir jou, met liefde, ek weet waar om weer een te kry.”

Dis vandag seker ʼn verdere ses jaar later, nie net is my twee lepels weer eens uitgedun tot een nie, maar Philippa is ook al in haar graf.



So ek stap by sulke plekke soos “Cash Converters” in op soek na jellielepeltjies met skulpie spane. Vir my, vir Klaradyn, vir Philippa en vir Ouma van Wyk.

Maar nee, Fortuna glimlag nie vir my nie, anderdag miskien.

En dáár, net toe ek wil uitstap sien ek dit – ʼn stel van drie. Nee, nie teelepeltjies nie, maar drie kasserolle (deesdae lees ek meer en meer dat die mense van ʼn “Dutch Oven” praat). Presies in die styl van die twee gietysterpotte waarmee ek grootgeword het, en steeds weekliks gebruik.




Die eietydse kookware staan as Le Crueset bekend, maar by hulle kos die één kasserol voor my R3 300-00. (Glo my, ek het gaan kyk!)



Hier het ek drie van hulle –een groot, hoë, ovaal kasserol; ʼn platter, maar groter in oppervlak, ovaal kasserol; ʼn groot, ronde, vet pot – net bietjie groter as die grootste een van die twee waarmee ek groot geword het.

Ek het net die vorige dag in die harderwarewinkel gestaan en met begeerte in my oë en hart na die goedkoper Suid-Afrikaanse weergawe van Le Crueset gestaar.

Daar het een kasserol so groot soos die een hier, steeds R1 000-00 gekos. Maar hier kan ek drie kry, en al drie saam kos net R700-00 – dis verniet!

En behalwe dat dit goedkoop is, behalwe dat dit nie snobwaarde-Le Crueset is nie, is dit die outentieke avokadogroen ysterpot van my kinderdae. Dis soos om die boerpot te wen!

Maar ek koop dit nie, twintig jaar, miskien meer, se begeer ten spyt.

Dis te duur, al is dit goedkoop. Dis te duur in die sin dat ek nie soveel geld het om op kombuispotte uit te gee nie. Veral nie ʼn maand na die impulsiewe aankoop van my dure boek nie.

Vanoggend, ʼn week later, haal ek twee beessterte uit die vrieskas uit.

Ek gaan soek inspirasie in my kookboeke, én op die internet.

Ek vind my inspirasie. By Jamie Oliver. Hy noem dit “Insanely good oxtail stew”.

Begeesterd en met ʼn glasige gloed in my oë, stap ek op Annieka af en sê dat ek daardie kasserolle/Dutch ovens nóú gaan koop – ek bad net gou. (Sy weet van die potte, ek het haar in die laaste week op meer as een geleentheid daarvan vertel, onder andere die aand toe ek Oorle’ Judy se pot op die stoof ingespan het.

Toe ons ʼn rukkie later in die winkel instap en ek effe onkant betrap op die assistent afstap, lag hy vir my.

Volgens hom is ek die vyfde een wat inkom en na die drie avokadogroen-kasserolle vra.

Ja, hy onthou dit goed – dit is verkoop, sommer nog dieselfde dag wat dit op die rak beland het.

Ek is ʼn stukkende man.

Ek het my lus vir beesstert verloor en dit terug in die vrieskas gesit.

Miskien sal ek vir Annieka ʼn ietsie in swart gaan koop.



11.4.15

Leesstof en ander stowwerighede

Die dag voor ons weg is, tref my – ek het geen, maar géén, leesstof ingepak nie. Die sleepwa staan al van die naweek af gepak, net reg vir aanhaak en wegsleep. Die res is alles so goed soos gepak – as Annieka dit skielik in haar sou kry dat ons direk as die skool uitkom, in die pad moet val, dan kan ons.

Maar nie sonder iets vir om te lees nie. Hoe kon ek so nalatig wees. Selfs die motor én die sleepwa se lisensieskyfies is hernu. (Vandat dinge in ons land my al hoe meer en meer aan ʼn polisiestaat begin herinner, wil ek nie sonder ʼn enkele lisensieskyf betrap word nie.)

Ek sal ook nie sommer sonder ʼn boek op die strand betrap word nie. Dis nog nie 05:00 nie, maar ek bel ʼn kollega en na haar “sjoe-maar-jy-bel-vroeg,” gevolg deur my, “maar-ek-het-geweet-jy-gaan-al-wakker-wees,” kan ek haar vra om asseblief vir my ʼn boek wat saam te bring skool toe, sodat ek die vakansie iets kan hê om te lees.

Drie lieflike boeke – elkeen so reg in my kraal. Ek gaan maak ook ʼn draai in die skool se mediasentrum, daar is ʼn wonderlike kas met grootmensboeke in die juffrou se kantoor. Dis vir personeel en sekere uitgelese, en baie belese, skoolleerders. Ons is ʼn lesende personeelkorps en die meeste van die boeke is skenkings en donasies.

Tussen my vroegoggend telefoonoproep en blitsbesoek aan die biblioteek moet ek plek maak vir nie minder nie as nege lekkerlees-leesboeke. Net om seker te maak ek word nie droëbek gevang nie, versteek ek op nommer honderd nege en negentig my luukse, ryklik geïllustreerde, hardebanduitgawe van Bill Bryson se The Illustrated At Home onder die bestuurdersitplek weg. 



Ek het die boek al twee keer gelees, en elke keer weggegee vir iemand wat ek reken die boek sal geniet. Toe ek die boek ʼn tweede keer lees, weet ek, die volgende keer wat ek dit doen, doen ek dit met die internet langs my aangeskakel – ek wil elke stukkie ding en plekkie waarvan die man skryf, op die skerm langs my kan sién. Ek het selfs die internet deurkruis in ʼn soektog na ʼn webwerf of blog wat nie reeds gedoen het wat ek sal wil begin nie – ʼn blog toegewei aan elke streek, plek, gebou, dorpie, mens, museum, waarneembare feit, op elke bladsy van Bill Bryson se boek wat in breë trekke  handel oor die geskiedenis van die mensdom en sy huis. 

En daar, net toe ek gereed is om weer ʼn keer deur At Home te kan beweeg, toe is daar hierdie baie ryklik geïllustreerde uitgawe op die boekwinkelrak beskikbaar. Die buiteband is beskadig, ek gaan vra hoeveel afslag hulle bereid is om te gee ʼn boek wat só vreeslik verrinneweer is dat hulle gelukkig sal wees as hul ooit iemand kry wat so laf sal wees om dit te wil koop.

En daar kry ek toe my Vadersdagpresent al vroeg in Januarie. En ek lees die boek soos ʼn mens ʼn baie lekker suiglekker geniet – baie stadig, ek drink elke oomblik met oorgawe in. 

So dié boek, moet saam – net vir ingeval. 

Ek is die eerste dag, heel plegtig en met begerige vingers en oë, strand toe met die eerste van my agt boeke – een wat ek al in Pretoria, terwyl ek, na die skool 11:00 uitgekom het, iewers in die kar vir Annieka gewag het, begin lees het.

Skielik het die branders, na die volgende paar paragrawe, vir my baie aanlokliker gelyk. Ook toe ek ʼn paar paragrawe later moes kies tussen die volgende hoofstuk en ʼn sandkasteel saam met Klaradyn, toe wen die sandkasteel.

Dag twee, strand toe, is ons toe (benewens drie stoele, een sonsambreel, een piekniekmandjie, drie sonhoede en strandhanddoeke) af met twéé rugsakke, die een vir die ander nodigheidjies soos snorkels, sonbrandroom en duikbrille, die ander vir Pa se grote, dikke, vette Illustrated At Home.

Steek ons die oggend ons neuse by die tent uit en dit reën al die heelnag, of lyk na reën, dan is ons nie een ontsteld nie. Dan is dit ʼn tentspeeldag (en ons het meer speletjies en handvlytgoed aangery as storieboeke vir Pappa en Mamma sáám), óf ons kruie met die kar teen die suidkus af en gaan doen second-hand-bookshop-crawling of book-exchange-hopping tot kort voor TO-strand en MacBanana voor ons omdraai en terugkeer tent toe.

My lekkerste kleintydherinneringe aan die suidkus, oor jare heen, hou verband met die wonders opgesluit in die skatkamers van ʼn propperse suid-kus-book-exchange.

Waar ek groot geword het, was daar nie dinge soos book-exchanges nie. Daar was ʼn biblioteek, en as ʼn week twee Saterdae in had, dan sou ek twee keer ʼn week biblioteek gestap het. Maar toe is daar nou net een en moes ek elke week sewe dae wag voor ek weer ʼn draai tussen die boeke kon gaan maak.

En toe, iewers laag af op laerskool (ek was nog op Enid Blyton), met vakansie op Margate of Ramsgate, ontdek ek ʼn ding wat die Engelse ʼn Book Exchange noem. Dit ruik heerlik muf aan duisende grys en geel “paper back” of “soft cover” leesboeke wat ry op ry ingeryg staan, soos by ʼn biblioteek. 

Jy kan vir jou koop soveel soos jy wil (of jou sakgeld toelaat) en as jy klaar gelees het, koop hulle dit weer by jou terug (of ruil jy dit in op nog ander). En as jy baie van die boek hou, kan jy hom hou. Die naam van die book-exchange is iewers in pers ink, in die boek gestempel, of daar is  ʼn plakkertjie met die naam van die stukkie hemel op aarde waar jy die boek gekoop het, in – maar dis al! 

Die suid-kus-book-exchange-mark het my by Blyton verby na die Hardy Boys begelei, my teen standerd vyf deur die ganse Afrikaanse skat van Heinz G Konsalik geneem. En toe, op hoërskool, die poorte vir my oopgegooi.

ʼn Tweedehandse boekwinkel in die binneland en op die Hoëveld trek my, maar nie naastenby so baie soos aan die kus nie – van Natal tot in die Kaap (waar ek ook al wonderlike kopies raakgeloop en verslind het).

Die woorde “second hand bookshop” lok my ook nie die helfte so veel soos “book exchange” nie – die inhoud, die reuk, die aard en toestand van die boeke, selfs die plakkers of stempels, verskil net te veel.

Dis met leedwese dat ek moet aankondig dat die suid-kus twee van sy book-exchanges, die een bo by Scottburgh, die ander laer af kort duskant Port Shepstone, verloor het. Die een het oor vyf verskillende winkels gestrek – jy sou my daar teen toemaaktyd kon toesluit en ek sou dit nie eers agtergekom het as ek teen die volgende oggend kasregister toe gestap het om uiteindelik vir my seleksie te gaan betaal nie.

En daar vat ek die vrouens deur Margate se hoofstraat. Die plekkie waar ek een jaar op my eie vir my ʼn swembroek gekoop het, is nou ʼn kostuumjuwelierplekkie. Die apteek waar ek vir Judy ʼn botteltjie A Rose is a Rose-reukwater vir Kersfees aangeskaf het, bemark nou erwe en huise. Die hotel waar ek een standerd-drie-vakansie pampoentjies gekry het, herken ek net aan naam en adres.

Tussen die wonderlike herinneringe en onthou van winkeltjies wat jare nie meer bestaan nie, vang die hoek van my oog, in die hoofstraat, die woorde: BOOK EXCHANGE. Dis nuut! 

Drie straatblokke verder is daar uiteindelik parkering. Die meisies dink ek is nie ernstig nie, maar ek is! Ons gaan terugstap, al die pad. Dis Margate! Dis “Book Exchange” en nie “Secondhand Bookshop”. Al wat teen dit tel, is die feit dat dit die hoofstraat is – stowwerige boekwinkeltjies van die regte soort hang nie in hoofstrate uit nie, maar skuil in systraatjies om niksvermoedende reisigers onverhoeds met hul sjarme te oorval.

Iets van die plek se naam, en die manier waarop dit daar staan, het my egter oortuig dat hierdie die outentieke Real Makhaya kon wees.

O, en was dit nie! Die eerste wat my oortuig het, was my neus – die regte seelug-drukkersink-en-grys-papier-muf, soos dit hoort.

Agter die toonbank – ʼn krom Engelse tannie met pers/grys/persgrys hare. Wat meer wil jy hê!

Die laaste toets vir egtheid lê opgesluit in die manier waarop die verskillende afdelings (War/Western/Romance/Barbara Cartland/Mills&Boon) aangedui is. Dit móét met koki-pen op maskeerband of die een of ander sticky tape geskryf staan en dan plek-plek op die rakke se sykante vasgeplak wees.

Hierdie boekwinkel, was ek besig met gradering, sou bykans volpunte gekry het! (Dis net die kwessie van sy ligging – die hoofstraat van alle plekke, bid jou dit aan!)

Dis knap voor toemaaktyd – sy het klaar die geld opgemaak en afgesluit vir die dag. My kontanttransaksie wat tot op die sent uitgetel word en geen kleingeld noop nie, word in potlood op papier aangeteken om moreoggend deurgesit te word.

Na my At Home einde se kant toe staan, het ek oral begin vra en uitkyk vir een van sy ander boeke wat ek al by herhaling uitgeleen het sonder om dit ooit terug te verwag:  A short history of allmost everything (of so iets).

 

Ek het net nodig gehad om te vra:  “Does the name Bill Bryson ring a bell.” Toe helder die tannie se hele gesig op en sy sit met af in een van die baie gangetjies.

Die versoeking was groot om enkeles te koop, net omdat ek nie weet of ek dit weer gaan raakloop nie!

Ek is daar uit met my geskiedenis van bykans alles onder die son en Neither here nor there.



Ek het Neither here nor there aangeskaf omdat ek dit nog nie gelees het nie. Maar noudat hy ook einde se kant toe staan, begin ek my verbeel dat ek dit al kon gelees het, maar dan kan ek grepe verwar met een van die baie ander plekke wat die man al besoek en waarvan hy al geskryf het.

Nodeloos om te sê – ek gaan huis toe met nege boeke wat ek verniet aangery het. 

Jy foeter nie suid-kus toe met ʼn spul boeke nie – jy soek die eerste book exchange op sodat jou vakansie uiteindelik kan begin.


20.2.15

Irritable bowel syndrome

So kies onse kleine Jasper my toe mos met volle oorgawe iewers verlede jaar as sy nuwe eienaar en baas.

En ons was nog nie één, vir een oomblik spyt nie – die bedorwe brokkie is net ʼn plesier. Hy het ʼn hart soos ʼn hotel – daar is plek vir baie:  Pappa, Mamma, Klaars, Oupa, Ouma, ons ander twee honde, Ouma-hulle se drie honde, Oom Erik en Tannie Johanette, en hulle hond.

Te dierbaar.

Hy was in sy peuterstadium net ʼn roes op onderklere, enige onderklere, en enige iemand sʼn. Met die dat my bêreplek vir bykans alles die vertroude vloer is – nog nooit het ʼn vloer my in die gesig gevat of teleurgestel nie – het ek natuurlik heelwat meer skade gelei as die twee dames.

Ons het trouens in ʼn stadium ʼn noodsituasie moet uitroep – nuwe kouse én onderbroeke moes gekoop word.

Dis nou glad nie meer so erg nie, dis net as ek kouse aantrek wat ek lanklaas aanhad, dat ek soms agterkom Jasper het dit bygekom en Martha het dit so stukkend opgerol en in my kas gepak.

Peter, van Heidi en Peter, het kousgate mos “ertappels” genoem – die ertappelkleur wat uitsteek waar die voet of hak uitloer. Nou party van my kouse was meer aartappel as wat dit nie aartappel was nie.

Ook ʼn keer of wat dat ek met ʼn klokkespel van die tydlose treffer “Swinging Safari” skool toe is.

Spoor ek die goed op, dan knoop ek dit oor en oor in ʼn spul stywe dubbelknope en gooi die kous en sy maatjie, of die gaterige onderbroek, vir Jasper om mee te speel.

Hy speel daai speelding van hom dat daar net toiings en rafels van oor is. Te lekker.

Ek het hierdie week weer ʼn stel kouse nek om gedraai en tot hondespeelding ge-“demote”.

Ag siestog, en toe is Jassie hier nie ʼn maand nie, toe sterf lief en dierbare vertroueling en vriend, Boeta, een van die twee oudstes.

Ek voel onmiddellik minder skuldig oor die impulsiewe, onbesonne aankoop van Jasper: Wat is dan nou aakliger as om ʼn nuwe hond aan te koop na ʼn oue se afsterwe? ʼn Oue kan ook mos nie sommer, soos ʼn kar, met ʼn jonger, ander, nuwe model vervang word nie!

Maar, o, wee, daar gaan Sussa, Boeta se spanjoesussie toe oornag met soveel rasse skrede agteruit. Die ogies word dof en vaal, sy hoor ons nie kom nie, sy word nie wakker as ons haar streel nie, sy gaan speel nie in die reën nie, sy swem nie elke keer as ons in die swembad is nie, sy blaf nie meer snags al om die huis nie.

Sy en Boeta was twee goeie waghonde op hul dag, maar dis duidelik dat ons nie meer van Sussa dieselfde diens kan verwag as die wat sy soveel jare so getrou gelewer het nie.

Ek sê vir Annieka:  “Dis tyd dat ons weer waghonde kry op hierdie erf.”

Annieka wil al jare niks anders as ʼn worshond hê nie, maar sy stem saam, ons het ietsie met meer om die lyf nodig.

Ons bel ʼn tannie wat rifrugbabas te koop het. Ons ry op die ingewing van die oomblik deur. Die skole gaan begin, so ons moet gou speel.

“Ons ry deur” is toe al die tyd amper Rustenburg toe. Daar aangekom, vertel ek myself daar is nie ʼn manier dat ons onverrigtersake terugry nie.

Toe die plotbewoners (want “telers” kan ek hulle nie noem nie, en noem ek hulle “puppy-mill-bestuurders” voel hulle dalk so gestamp dat ons Moolmans se lewens in die gevaar is) hoor ons soek twee, kom hulle sommer dadelik af in prys.

Afslag was dit nie regtig nie – ek het meer aan petrolgeld uitgery soheentoe en terug as wat die afslag kwansuis was.

En, buietendien – goedkoop is duurkoop. Ek het al meer aan veeartskoste betaal as wat ek sou betaal het as ek, nie net twee nie, maar die hele werpsel, by hulle opgekoop het. En glo my, ʼn mens wil dit doen – net om die honde te verlos van die omstandighede waarin hulle aan die lewe gehou word.

Ek sukkel nou twee maande met die twee se spysverteringstelsel. Nes jy dink dis reg, dan begin dit weer. Dit sal my nie verbaas as die veearts (wat kwoteer en konsulteer teen pryse wat hom eerder as ʼn “spesialis” bekend moet laat staan) ʼn spoggerige naam daarvoor het nie. Iets soos “canine irritable bowel syndrome”.

Honde met die een of ander ingewandskondisie in van nature nogal aangetrokke tot Hans en Annieka. In die besonder reuns, as ek wegdeinsend terugdink aan wat oorle’ Boeta ons nie in sy lewenstyd op aarde gekos het nie.

As daar een mens is wat spyt is dat die hond afgevrek het, dan is dit die veearts – hy kan voortaan nou nie meer drié keer ʼn jaar met sy hele gesin oorsee gaan nie!

So het ons al twee ons jongste telge, Shiva én Shavu, so ʼn week gelede, darem al vir meer as tien dae lank, in só ʼn kondisie dat ons nie meer skrik vir hul stoelgange nie.

Maar toe begin die een weer sy ou streke uithaal. Veearts toe – en my veearts se konsultasie alleen is duurder as my huisarts sʼn, dan praat ek nog nie van die behandeling, pille, poeiers, stropies, roompies, en loer deur ʼn mikroskoop opsoek na goggos en slegte goeterstes in die hond se maag nie.

Ai, en die laaste van die nuwe breë spektrum behandeling se ryke oes pille is nét op, hoogstens twee dae op, toe loop ons weer die weersinswekkende landmyne op die werf raak, word ek snags wakker van ʼn siek hondjie se konvulsies.

Ek is vanoggend by die huis uit met die wete dat ek vanmiddag nog verder oortrokke gaan raak na ek eers weer my gereelde besoek aan die veearts gebring het.

Ek glo in “samples”. So toe ek en Klaradyn vanmiddag by die huis kom, is die eerste wat ek doen, om met ʼn eierspaan onder die diarree in te klim en in ʼn polistireen-bakkie met ʼn deksel te deponeer – vir Omie Dokter, natuurlik.

Die volgende oomblik laat weet Klaradyn dat die hond gespoeg het. (Vir my skoonouers is “spoeg” ʼn eufemisme vir katte skiet of kots.)

Mense, en toe ek sien wat ek sien, toe laat ril die aard en omvang, kleur, vorm en struktuur van die dier se deposito my.

Sowat ʼn halfuur later het ek genoeg moed bymekaar geskraap om dié vreemdsoortige stoelgang of vomering van nader, en noukeuriger, te bestudeer.

En as ek sê “vreemdsoortig”, bedoel ek só vreeslik vreemd dat ek twyfel of enige dier in ganse diereryk al ooit so vreemde iets uitgeskei het.

Dis ek en my eierspaan.

Van nadere ondersoek blyk dit toe, en dit was ook die einde van my planne om veearts toe te gaan, niks anders as een van geknoopte paar kouse of opgekoude onderbroek te wees nie. Watter een van die twee dit is, is ek nie seker van nie, maar die oorsprong daarvan is duidelik die onderafklereafdeling van iets soos Woolworths.

Dan is daar nog iets by, Klaradyn noem dit ʼn panty, ek noem dit dele van die tennisbal wat ek ʼn ruk gelede opgekou in die huis raakgeloop het.

Ons sal nou maar kyk hoe gaan dit oor die naweek.

Ek sal tien teen Sondag, buite gewone werksure, wees dat ek noodveeartspryse noodveearts toe moet jaag.

Sien, Annieka se bril is nou al van verlede week net weg (herinner Annieka en Klaradyn my gisteraand toe hulle bad).

En die plastiek dingetjie wat jy nodig het om ʼn toiletrol op en in sy plek teen die toiletmuur te hou (besef ek vanoggend toe ek daar die gebruiklike draai maak).