Pages

17.8.15

One small step vir ander miskien, vir my 'n moewiese leap

Ai, my vriende kan bly wees ek het ʼn primitiewe selfoon. Self het ek ʼn broertjie dood aan die eietydse hebbelikheid van so baie om aldag en heeldag hul ontbyt, middag- en aandetes af te neem en op al wat sosiale media-kosblad is, te deel. Maar had ek ʼn manier om sommer-sommer, met die druk van ʼn knoppie, my dis onder al wat leef of beef se neuse te kry, dan het ek dit wraggies vandag gedoen.

Toe ek dit uit die groot bak in drie kleiner bakke skep, toe weet ek, skielik – ek het die borrie vergeet. Judy het hare beslis met borrie 
kleur gegee.

Daar behoort resepte ook te wees wat om borrie vra. Myne, vandag, is helaas dan nou sonder borrie. 

Hartskos en liefdeskos is vir my twee goed.

Hartskos lê jou na aan die hart, dis jou grootwordkos, kindertyd se gesinskos. Sosatie-tjops, bobotie, souskluitjies, Judy se Boudoir-koekstruif (ʼn heerlike huwelik tussen trifle en tiramisu) is my hartskos.

Liefdeskos is daardie kos wat jou nié self so vreeslik na aan die hart lê nie (indien enigsins) maar jy maak dit uit liefde vir jou tafelgenoot – of dit nou eggenoot, ʼn kind, klein- of agterkleinkind is, selfs vir  ʼn jarelange vriend. Jy maak dit ook omdat jy lief is vir die kuns van kosmaak.

Belangrik – jy maak dit nie omdat jy verplig voel nie, omdat iemand daarna gevra het nie. Liefde en niks anders as liefde nie, is jou enigste beweegrede.

Soveel liefde, soms, dat jy selfs uitsit as dit bedien word – omdat jy self dit nie eet nie.

Aan afval (en ek praat nie van lewer nie, ek praat van hart-long-poephol-en-tong) het my ma haar mond nie geslaan nie.

ʼn Middeweg, die enigste dis waar oorlede Pa en oorlede Ma mekaar rondom afvallerige kos kon ontmoet, was Judy se bron.

Ja, dis maar nou die anderdag dat ek sien die “bron” waarmee ek gedink het ek groot word, is toe al die tyd Engelse eintlik “brawn” en ons moes eerder van “sult” gepraat het.

Ek het my ma bron nooit sién maak nie. Dit was die soort liefdeskos waarvoor sy soggens drieuur of vieruur opgestaan het. Teen die tyd dat ek opstaan vir skool, of (later jare) uiteindelik wakker word omdat ek ounag eers ingekom het, is die kombuis lankal opgeruim.

Na die egskeiding, toe ons op ons eie was, het ek Ma-se-kerriebron vir ʼn goeie 14 jaar nie geken nie. Dis ʼn liefdesdis onthou, uit iets anders as liefde maak sy dit nie. En al sy vir my hóé lief, vir my alleen maak sy dit nie. 

Dis eers na sy in 1988 weer met Oom Jack getrou het, dat sy opnuut, van tyd tot tyd vir hom, bron begin gemaak het. Kom ek, toe al lankal uit die huis uit, toevallig daar, dan is daar bron vir my ook ʼn plakkie of skyfie.

Tot knap voor hulle uiteindelik ouetehuis toe is, het sy nog bron gemaak. Daardie jare het sy dit in klein Tupper-bakkies gestol.

Maar dis ook seker al een van die dae nege of tien jaar lank iets van die verlede.

Ek koop nie die bron wat jy saam met die polonies by Pick&Pay en Checkers kan koop nie. Dis vir my lekker, ja, en ek eet dit as ek by ander mense kom, wat daarvan het. Ek is nie neusoptrekkerig nie. Maar self koop ek dit nie, bron is iets wat jy self maak, iets wat proe soos Judy se bron geproe het.

Sowat ʼn maand gelede oorval ʼn gemis aan bron my opnuut en ek skuif agter die rekenaar in. Laat ek bietjie Google en kyk hoe dit werk.

Dis toe dat ek sien “bron” is eintlik “sult” en “brawn” is wat die Britte dit noem. Ek kry resepte mét afval, resepte sónder afval, en ek weet – dis nie meer lank nie, eersdaags maak ek my eie bron.

Drie weke gelede is ek op die Boeremark en by die varkstalletjie waar ek die week se spekvleis en braaiworsies aanskaf. Iemand vra of hulle bron verkoop. Die die boervrou noem dat sy dit selde mark toe bring omdat die stedelinge dit nie juis ken nie.

Ek weet weer: dis amper sulke tyd. Dis selfs nader as wat ek vermoed.

Toe kom die Beeld met: 

“Eet lewer en afval – soos leeus, sê Tim Noakes”

“Mense kan leeus se voorbeeld volg vir ’n gesonde dieet, meen prof. Tim Noakes.

“Wat eet die leeu eerste? Die binnegoed en lewer. Ons behoort dit ook te eet.

“Diere se voedingswaarde is in die binnegoed, nie die vleis nie.”

Saterdagoggend wat nou verby is,  ís dit toe sulke tyd – tyd om my lyf leeu te hou en by die binnegoed te begin.

Ek het in my lewe nie gedink ek sal ooit ʼn skaappens koop en gaarmaak nie.

One small step, ja, maar een moewiese sprong...

En:
  • een spierwitte skaappens, 
  • vyf skapenspootjies, 
  • twee varkkloutjies 
  • en ʼn allemintige stuk skenkel, 
  • ook ʼn dik skyf ”chuck” in blokke gesny, 
  • ʼn paar lourierblare, 
  • kerriepoeier, 
  • knoffel en 
  • twee uie verder, 
groet ek teen sonop die prutpot in die kombuis en begin my dag.

By ʼn resep het ek nie uitgekom nie, dis maar mog het troffe uit wat ek ruk gelede raak ge-Google het.

Ek weet nie eers of die bene genoeg gelatien opgelewer het nie, want by geproe, soos ek nou hier tik, het ek nog lank nie uitgekom nie.

Die stalletjie het lieflike, spierwit gewaste skaapkoppe ook gehad.  “Klaar oopgekap en die snotbeen uitgehaal,” vertel die vrou by die boeremark my.  Dis tóé dat ek myself vertel die kop is mos eintlik iets wat leeus meestal vir die hiënas en ander aasdiere los. Toe bly ek maar by pens en pootjies – dis afval genoeg vir hierdie simba.

Ons sal more eers weet of dit enigsins ʼn noemenswaardige sukses was. Die goed is pas, so sonder borrie, in die drie bakkies geskep.

Wat ek wel weet, is dat dit wat ek vanmiddag van die bene afgehaal en met twee vurke fyn gemaak het, heerlik geruik en geproe het.

Behalwe vir die gebrek aan die kleur wat borrie bring, dink ek trouens, kan dit enige dag Judy se bron wees.

Alles het tot op hede saamgewerk om my goed oor hierdie bron te laat voel.

Die afvalagent by die Boeremark het byvoorbeeld ook ʼn eetlepel of wat appelkooskonfyt genoem. En ek het net verlede week ʼn botteltjie appelkooskonfyt wat ek ʼn goeie twee jaar gelede self gemaak het, opgespoor.

Selfs die kerriepoeier wat ek ingespan het, is handgemaak – uit die bekwame hand van die speseryehandelaar wat Saterdae by die Boeremark handeldryf.  Jy vertel hom wat jy soek, hoe sterk, hoe geurig, met welke botone en hoeveel ondertone. Voor jou klim hy dan met mening onder die hope speserye om hom uitgestal, in. Skeppie, hier, skeppie daar, terug vir nog ʼn skeppie, knippie, knypie en selfs ʼn skeutjie (omdat daar vloeistof ook bykom). Dis soos om ʼn kunstenaar dop te hou. ʼn Kort rukkie later weeg hy jou mengsel af.

Nou hou ek maar duim vas.

“The proof of the pudding is in the eating,” sê die Ingelsman.

Ek het Saterdag wel voorafbereide kerriebron op die boeremark raakgeloop, én gekoop. Ná ek my pens en pootjies gekoop het. Vir ʼn aptytwekker, ʼn poedinkie vooraf, het ek myself vertel. Maar my aptytwekker is na een skyfie, net so onder die honde verdeel:  hopeloos te veel kunsmatige gelatienpoeier, nie sag genoeg gekook nie en taai. En buitendien – ek het dit nie self gemaak nie en ken die mense net van sien.

Daarom wei ek self ook maar vooraf uit en hang ek my skepping voortydig aan die groot klok. Kom more is ek dalk so teleurgestel, ek sluk sommer my eie tong in en sprak geen sprook meer oor die kouevleisie wat ek met soveel liefde, en  liefdevolle herinnering, voorberei het nie.

Naskrif:  Ja, naskrif want ek het toe maar gewag om eers te proe voor ek my woorde pos. Met die eersteprys wegstap by die tuisnywerheidafdeling van die Bloemfonteinse Landbouskou, sal ek nie. Maar presies soos ek dit wou hê, is dit wel. Volgende keer dalk bietjie meer sout, dis al. Miskien kon ek ʼn swaarder hand met die kerrie ook gehad het. Lekker was nog nooit sleg nie.



Net jammer ook ek het nie spoggerige foon dat ek kan afneem en wys nie.

No comments: