Pages

8

Uit die argief:
Nege jaar later
Hier kom eintlik ‘n resep, nee, ‘n treffermaaltyd wat jy in ‘n halfuur maak. Maar hang net eers so ‘n bietjie aan. want vir Hans en Annieka se negende huweliksherdenking het hulle die linne, wat volgens die tradisie die aangewese geskenk is, maar verby gehou (daar was, mind you, darem ‘n skoon ou stel lakens op die bed gisteraand) en die volgende dag Riana Scheepers se Nuwe Kinderverseboek vir Klaradyn gekoop.
Daar staan nou:
                                                                              7 April 2009
Vir Klaradyn
Van Mamma en Pappa
(op hulle negende huweliksherdenking )
XXX
Die ontbyt- en kuierafspraak wat hulle die laaste dag van skool “vir die tweede Dinsdag van die vakansie” met twee kollegas gemaak het, val toe ook “die tweede Dinsdag van die vakansie” mooitjies op hulle huweliksherdenking.
Maar Mamma kon nie saam gaan nie, die dokter kon haar slegs om 10:30 op hierdie tweede Dinsdag van die vakansie inpas. (Maar ons het haar darem na die ontbyt gaan optel vir vêrder kuier.)
Ook die afspraak rondom skoolwerk wat Pappa vroeër die week vir 14:30 gemaak het, is gemaak in ‘n toestand salig onbewus van watter dag dit nou eintlik gaan wees.
Trouens, eers toe Pappa 6 April op sy selfoon lees, het hy hom begin verbeel hy hoor iewers vaagweg en ver weg ‘n voëltjie fluit. 6 April?
6 April 1652, lui ‘n klokkie. Van Riebeeck-dag, Stigtingsdag.
Ook die dag waarop hy 15 jaar gelede vir vier maande met ‘n rugsak oorsee vertrek het, ‘n tweede klokkie, net so helder.
Maar steeds die hees geroggel van voëltjie, êrens in die vêrte.
Op pad Builder’s Warehouse toe (Annieka verjaar knap na ons troue en ek maak, met die oog daarop, ‘n iets uit hout vir haar om in die tuin op te lê) tref dit my — 6 April?
6 April! so intens dat ek glads skoon ‘n angsaanval en angina-pyn onder my bors ontwikkel - wanneer is dit ons troudag!?
Daar was hoeka gisteraand ‘n skewe opmerking wat ek nie kon peil nie, was dit nie dalk al gister nie?
En waar vind ek nou uit?
My ma kan ek nie bel nie, sy weet aldag nie eens meer wie Annieka is nie.
Annieka kan ek nie bel nie?
Skoonma dan, sy sal my beskerm (ek hoop).
“Gelukkig eers more, Hans, op neef Willem se verjaarsdag.”
Maar more is die “die tweede Dinsdag van die vakansie”, môremiddag kom Jeanette, môreaand moet ek saag en boor en plak en lym en skaaf en afwerk vir Woensdag se vernis! More moet Annieka agtermiddag skool toe!
Sal maar iets spesiaal maak vir aandete. Maar wanneer?
Terug by die huis laat val ek doelbewus, berekend, toevallig, sommerso in die verbygaan:  “En wat het jy in die pyplyn vir ons huweliksherdenking, more?”
En haar gesig gee alles weg, selfs nog voor haar woorde dit bevestig:  “Haai, tussen alles deur het ek nou heeltemal daarvan vergeet.”
Uitgevang!
Dankie skoonma, dankie! Dankie Jan van Riebeeck, dankie!
Dinsdagoggend kry ék koffie in die bed, van daai ready-mix goeters wat jy opklits tot ‘n skuimerasie cappuccino en ek weet presies wat Annieka vir my sê.
Ek sê met ‘n soentjie dankie vir die koffie, en ek weet Annieka hoor wat ek sê.
Ongelukkig, soos altyd, hoor Klaradyn ook en sy wriemel haar dogtertjie-lyfie tussen ons in vir ‘n familie-soen, familie-drukkie en -omhelsing (en daar word die ongelukkig wat die kind se aanhoor van ons nou net was, summier ‘n gelukkig!)
Saam met die skoolmaters, na ons Annieka na die ontbyt opgetel het, koop ek drie tongvisse, spinasie, sampioene en ‘n kannetjie room.
Ons is 14:00 tuis, 14:30 kom Jeanette. Annieka moet 16:30 skool toe vir ‘n afspraak van haar. 17:00 moet ek by Oupa wees wat die regte tools vir my houtwerkprojek het.
Maar in die twintig minute voor ons na Oupa is, en die twintig minute na ons van Oupa terug is, slaan ek ‘n herdenkingsete saam wat skrik vir niks.
Klaradyn dek tafel. Blomme uit die tuin.
Ma, hinkepinkende al op een voet – vandaar die oggend se doktersafspraak – sorg vir kristalglase, kandelaar en kerse.
Dis slap dash ek weet, gourmet sjefs sal ril, maar donder, partykeer mag jy maar iets móét saamslaan in die bietjie tyd tot jou beskikking:  Sole-alla-Meneer (Tongvis a la meunière) met geroomde spinasie en geroomde sampioene
Ja, ek weet jy bedien nie geroomde sampioene saam met geroomde spinasie nie. Maar jy weet nie hoe lekker meng jy die twee se oorskiet die volgende dag saam vir ‘n bykosie saam met iets anders nie.
Spinasie
Spoel die spinasie af en sny die dik wit stingels uit (of koop by Woolies, hulle spinasie is geneties gemanipuleer om nie dik wit stingels te hê nie, of jy betaal hulle om dit vir jou uit te sny)
Moenie die water afskud nie, maar kry die spinasie in ‘n pot met die nat nog aan hul lyf en aan die kook. Bietjie sout. Binne minute is daar niks van die spinasie oor nie en wat onder in die pot lê is reg.
Kry die water uit en los eenkant.
(Dit klink vir baie laf om ‘n resep te wil gee oor hoe om spinasie te kook, maar net soos daar regtig mense is wat nie weet hoeveel tel ‘n drie in rugby nie, is daar mense wat regtig nie weet hoe om spinasie te kook nie, en dis so eenvoudig, soos rugby.)
Sampioene
Vryf die sampioene skoon (Of koop by Woolies. Maar ek reken sampioene word in higiëniese gesteriliseerde perdemis gekweek, so ek is nie te veel gepla om dit skoon te kry nie.)
Doen maar met die sampioene wat jy gewoonlik doen en kry dit op ‘n lagie botter in skyfies in die pot en gaarderig. Met sout en peper.
Kry ‘n deksel op, as dit die soort sampioene is wat water maak as dit gaar kom, wil jy nie die geur van die water verloor nie.
Roomsous
Daar was nie tyd vir botter in ‘n pot smelt en meel byroer en daai dinge nie. Kry die room in ‘n beker en roer ‘n eetlepel of wat se meel daarby in.
Gooi nou die helfte van jou sous by die sampioene en roer tot dik. ‘n Stewige skeut sjerrie of port of een of ander rooierige soetigeitjie is ‘n moet.
Gooi die ander helfte van die romerasie by die spinasie. En roer tot dik. Die rede hoekom jy nie sout bygegooi het nie, word nou duidelik:  sny ‘n wieletjie (of wat) fetakaas (wat baie sout is) in klein blokkies en laat dit rus op die spinasie. Sit die deksel op dat dit sagkens kan smelt sonder om een te word met die sous.
Tongvis
Jou vissies het jy skoongemaak en die velle en reste gevries vir later se stock. (Of jy het by Woolies gekoop en die enigste viesterige gril wat jy het, is vir die plastiekverpakking se reuk, die volgende oggend in jou asblik)
Jy het dit liefderyk gesout en gepeper en toe met meel gestrooi (ek skep sommer meel met die teesiffie en skud-skud die meel oor die pisces) en in die yskas gesit om te rus terwyl jy die groente gemaak het.
Nou braai jy dit in baie warme, vlakkerige diep-olie, so drie na vyf minute aan ‘n kant. Jy kan kookolie of olyfolie gebruik as jy wil. Bly weg van botter, jou pan moet baie warm wees en botter gaan brand en rook lank voordat die meel ‘n bruin skilletjie kan vorm.
‘n Handvol gekapte pietersielie vir fancy en genoeg suurlemoenskyfies uit die tuin. Ook botter, net voor jy eet (anders maak die botter jou meelskilletjie soggy, en dis nie lekker nie.)
Bly asseblief weg van knoffel en Tabasco en enige ander soortgelyke geurmiddels wat kettingrestourante saamgee om hul vis na iets te laat proe, hierdie is koningskos, en eenvoudig soos hier, op sy geurigste.
A la meunière, beteken immers soos die meulenaar se vrou dit maak. (En met ‘n van soos Moolman, wat sy wortels in 'n molen/meule het, is dit hoogstens jammer dat dit die Meuleman homself, en nie sy vrou is, wat die vissie a la meunière nie.)
As jy tyd het, wat ek nie gehad het nie, kry jy eerder jou oond op baie hoog aan. Jy skroei die vissies letterlik net vir enkele oomblikke in ‘n baie warm pan met klein bietjie olie in, en dan stuur jy dit oond toe. So kan jy vyf of ses of agt op ‘n slag gelyk gaar kry, en dit voel meer gesond.
Tafel toe met alles, oop met die wyn en aan met die kerse.
Bykans alle tongvis wat die gemiddelde outjie in die binneland raakloop, ek wil my verstout om te sê, bykans alle tongvis wat die gemiddelde outjie raakloop, was gevries en is in die winkel ontdooi en gemaak lê, met hul vel aan, op die ysies. Dis o.k. Moet net nie iets koop wat verlede week ontdooi en afgeslag is nie, daai vis is pap. En ‘n pap vis gaan pap bord toe.
As jy jou mes of wat ook al in die lyfie druk en die vleisies vlok mooi, dan is jou vis gaar. Jou vis gaan nie gaarder word, hoe langer jy hom aan hitte blootstel nie; hy gaan bloot droog word.
Aan bg. basiese kan jy toor na jou behoefte. Die geraamte — tongvis, sampioene en spinasie — is egter ‘n treffer, elke keer as ek dit maak, klein en intiem en slap dash soos gisteraand, of, groot, formeel en fancy vir tannies en ooms wat weet van kosmaak, ook.