Pages

6.2.14

Watter lang en ver paaie loop die gedagtes nie


In die ou dae, voor ʼn rekenaar ʼn kind aan die einde van die jaar geslaag of gedruip het, is die hele skool se promosiepunte op velle papier wat elkeen groter as ʼn oopgevoude Sondagkoerant is, aangeteken. Hierdie promosiestate was ʼn skool se eer en trots – die kinders mog maar soos vlieë pluk, solank daar net nie 'n konfytkolletjie op, of 'n lastige varkoor-voutjie iewers in ʼn hoek sit nie.

Gevolglik het jy versigtigheidshalwe twee-twee gewerk – die een lees; die ander skryf.

Daar was darem al iets soos rekenaars, die vak Rekenaarwetenskap, het trouens pas sy kop uitgesteek gehad. Maar, o, wee, onderwysers in hierdie nuwe vak, was so skaars soos hoendertande. En nes jy een het, dan rokkel die vrye mark hom sommer gou weer af. Dit het destyds immers nie veel gevat om ʼn onderwysersalaris te troef nie en die rekenaarwetenskaplikes was op hul beurt maar al te gretig om groener weivelde op te soek.

So verloor ons diep in die middel van die jaar se tweede helfte ons hoeveelste rekenaarwetenskapmeneer. Die kinders is ʼn maand of wat haweloos, maar toe sluit Meneer van Heerden by ons aan – nie ʼn nat-agter-die-ore bogsnuiter nie, eerder iemand wat, teen die tyd dat rekenaars ʼn algemene ding begin word het, al lank in die arbeidsmark moes gestaan het.

Einde van die jaar lees hy die een klas se ritse en ritse getalletjies vir die prim en proper graadvoog; sy skryf dit baie netjies op die promosiestate neer.

So 16 jaar voor hierdie betrokke jaarafsluiting, was ook mooi die tyd toe Johannah en Johannes, Magdalena en Marthinus, ook Catherina en Karolus in die volksmond se onguns verval het. ʼn Hele geslag dubbeldoor-name het skielik die lig begin sien. Dominees is doopvont toe met ʼn glas drinkwater vir die droë kele: Jeanne-Marié-Louise, Jeanne-Pierre, Pierre-Henri, noem maar op.

Die outjies wat familiename wou behou, maar lank ook nie meer kans gesien het vir het Eeufesia en Stoffelina nie, het op hul beurt weer allerhande nuutskeppings uit die grootouers, grootjies en oorgrootjies se verskillende name saamgeflans. Spore van Suzanna, Amanda, Hendrikus, Markus en ander herken ons vandag nog in name soos Zandi, Karmi, Rikenette, Henko en Amelda.

Na ons rekenaargeletterde nuweling en die graadvoog reeds oor en weer opmerkings oor die kinders se name gemaak het, kom hulle af op ʼn Auret. “Ja, jy het reg gehoor – Auret! Bid jou dit aan. En dan is dit nogal ʼn meisiekind van alle dinge. Wie op aarde noem nou sy kind Auret,” trek die graadvoog los.

Miskien moes sy net na die van gekyk het, Van Heerden, want Roelf, die rekenaarwetenskaponnie oorkant haar, antwoord heel afgehaal: “Ek en my vrou het destyds weer gedink dis ʼn lieflike naam.”

 

So twee jaar voor dit, was ek self beginneronderwyser. Ek het ʼn hoogsindividualistiese dogter in die klas. Party sou sê sy het ʼn klap van die windmeul agter die blad, maar dis geensins die geval nie; sy pas net hoegenaamd nie in die boksie wat die hele Suid-Afrikaanse kultuur en samelewing in die tagtigerjare vir die Afrikaner volksmoeders van die nabye toekoms saamgeslaan het nie.

Ek gaan vis by die kunsonderwyseres (natuurlik had die hoogs kreatiewe dogter kuns as vak). Die juffrou praat vaag en tussen die lyne, maar ek het die oor van ʼn oorywerige beginneronderwyser – ek sit een en een bymekaar... en kry, getrou aan my aard, drie.

 ʼn Aaklige drie waarby allerlei onsmaaklikhede van binne die gesin nie uitgesluit is nie.

Maar toe breek die eerste April-vakansie van my loopbaan as onderwyser aan en ek sit saam met drie kollegas en hul gades met ʼn bus vol kinders af Oos-Transvaal toe vir ʼn eerste van baie staptoere saam met die skool se sterk en uitgebreide Natuur-en-Stapklub.

So maak ek in die bus vriende met mense wat ek eintlik in die baie kort, besige en vinnige eerste kwartaal van my heel eerste skooljaar glad nog nie leer ken het nie.

Aand een om die kampvuur waar die onderwysers kuier, gaan slaan ek en my nuwe pel na ʼn rukkie se kuier water af. En toe ons terugkom is die enigma in my Standerd 9-klas die middelpunt van bespreking. Ek is dadelik die ene ore. En insette. Ingeligte insette want ek het met die kunsjuffrou gesels.

My nuwe pel wil dadelik weer gaan piepie, maar ek het nie nou tyd vir enige verdere male bonding onder ʼn doringboom in die donker nie, hierdie is ernstige sake, ek wil weet van die kind.

Maar vriend Daan, Beesblaas, soos hy almal genoem het, en almal op hul beurt hóm weer genoem het, vat nie nee vir ʼn antwoord nie. Ek kan die dringendheid in die gebare waarmee hy my van agter die geselskap saamwink om te gaan water afslaan, nie ignoreer nie; ek verskoon my maar toe uit die kampvuur se geselskap en is agter ʼn muur in met hom.

Hy wil toe weet of ek weet (en nee ek het nie geweet nie – hoe de donder moet ek weet) dat ek besig is om met die meisiekind se ouers oor haar te gesels.

Genadiglik het hy my uit die lig van die vuur gekry voordat ek oor die slotsom waarby my gesprek met die kunsjuffrou my uitgebring het, kon begin uitbrei.

Hierdie insident uit 1989, en die ander, ʼn jaar of wat later, het hierdie week, 2014 weer voor in my gedagtes kom staan en maal.

Ons kry toe mos verlede jaar, na 29 jaar, ʼn nuwe hoof.

En begin van hierdie jaar, 16 nuwe onderwysers en assistente.

Een van die assistente is die nuwe man aan stuur van sake se dogter.

Maar nie almal weet nie. Trouens, bitter min mense weet dit.

Dis mos nou nie iets wat jy dadelik aan die groot klok gaan hang nie – jy is die nuwe chief cook and bottle washer en hier stel jy bloed van jou bloed aan om vir jou te kom werk – etnou word jy van nepotisme of so iets beskuldig.

Dan weet ons ook hoe dit is – personeel is altyd vreeslik begerig om nuwelinge tuis te laat voel en met die grootste gemoedelikheid in te burger. Ook min dinge wat so gou ʼn gevoel van kameraderie skep as juis ʼn vertroulike stuk geskinder.

Dieselfde gebeur toe met die baas se dogter – daar is talle wat die mensie nooi om pouses by hulle te kom sit, dan gesels hulle sommer lekker dik stukke.

Net jammer party weet nie dis die baas se dogter nie. Veral nie as hulle met kleur en geur van die nuwe hoof wat na 29 jaar by ons aangesluit het, vertel nie. In besonder nie, as die kleure en geure wat jy inspan om die man aan die nuweling voor te hou, nie die gunstigste en rooskleurigste kleure en geure is nie.

Soos twee van my kollegas sou kon getuig, hád hulle net geweet die jong juffroutjie by die tafel daar oorkant, die een met wie hulle so lekker gesels het, is niemand anders nie as die hoof se jongste dogter.