Pages

27.7.15

Liewe Ou Tannie, ons bring rose

“Moenie vir my blomme aandra, die dag as ek dood is nie – bring dit vir my nou terwyl ek nog in die lewe is.”

Ek is seker nie die enigste een wat hierdie gedagte al op die een of ander geleentheid, en manier uitgedruk, raakgeloop het nie.

Dis nou seker al meer as ʼn maand dat ek die behoefte van die hart om vir een wat nog in die lewe is, blomme aan te dra. Juis omdat ek nie, eendag as sy eers dood is, skuldig wil voel omdat ek die blomme nie aan die groot klok gehang het, terwyl sy nog in lewende lywe met ons was nie.

En van die rose, angeliere, papawers, pronk-ertjies, veldblomme en Kaapse fynbos wat ek wil aandra – of dit nou letterlik of figuurlik is – sal die stomme ou vrou niks verstaan of weet nie.

Want die een wat verdien om met blomme toegegooi te word, is Sussa, die een wie se elke entjie pad met roosblare uitgevoer moet word, is Sussa, die patryshondtefie wat ons bietjie meer as 11 jaar gelede by die huis aangebring het.


Ek is nie geveins beskeie as ek sê “I am not worthy” nie, want dit is so:  ʼn mens, ek die meeste van almal, is die lojale band wat Sussa met my gesmee het, nie werd nie.

Dit was destyds ʼn Oedipus- en Antigone-ding:  Annieka het die reuntjie (Patat, wat later Boeta geword het) en ek die tefie (Patroon wat Sussa opgeëindig het) as trop- en hartsmaatjie aangeneem.

Ja, ons het vir albei ewe lief geword, maar Boeta sou aan Annieka se kant van die bed opkrul, Sussa aan my kant. Kyk ons saam TV, sal Sussa by my kom sit, Boeta by haar. (Is dit nét ek of nét sy, sal hulle natuurlik al twee óp ons kom sit!)

Ek los haar elke weeksoggend as ek werk toe gaan, en baie keer oor naweke en vakansies ook, maar wanneer ek by die huis is, los sy my nie ʼn enkele oomblik uit nie. Sy volg my soos ʼn skaduwee.

Dis nou as sy nie slaap nie.

Ons het al verlede jaar agtergekom Sussa is lank nie meer die ligte slaper wat sy was nie, Morpheus vat haar deesdae verder van die wakkerwees-wêreld as dit waaraan ons al die jare gewoond was.

Ons het nou televisie gekyk in die slaapkamer: Klaradyn tussen my en Annieka en óp die bed, Sussa ónder my, op die grond –lynreg onder my, val ek deur die bed, val ek op haar.

Die springbokvelletjies wat links en regs van die bed was, toe hulle destyds hier aangekom het, is lankal nie meer deel van die huishouding nie.

Maar Sussa het nie ʼn velletjie, kussing, bedmatjie of kombers nodig om direk onder my, onder die bed op die koue leiklipvloer te kom lê nie.

Die ander honde het – liefs ʼn kussing. En as daar niks in die kamer is nie, dan gaan slaap hulle elders.

Nie Sussa nie – sy slaap by my, onder my.

Laat val ek my hand van die bed af, kan ek aan haar vat. Lê sy te diep in, krap-krap ek net so teen die houtraamwerk van die dubbelbed, en dan is dit nie lank nie, of ek hoor die klop-klop van Sussa se stert op die vloer.

Partykeer, as ek die bedmatjie wat wel langs my bed is, nie halfpad onder die bed insleep vir Sussa nie, gee sy selfs die bedmatjie ʼn koue skouer, net om op haar ou vertroude plek, onder my, te loop lê.

Daar is wel iets wat haar van haar gewone lêplek by die koppenent van die bed, onder by die voetenent kry. En dis hierdie gewoonte van haar wat my telkens so aan die hart gryp as ek haar daar aan die onderkant van die bed opspoor.

Dis met moeite dat ek my dag se klere aan die einde van die dag nié sommer net op die grond laat lê waar ek dit ook al uittrek nie – in die badkamer, voor die klerekas, neffens die stort, in die gang.

Vyftien jaar se getroude lewe het my nou al afgerig en gekondisioneer om dit onder, oor die voetenent van die bed te hang.

En dit maak nie saak of dit ʼn das, onderbroek, broek of wollige trui is nie – as dit deur die loop van die nag afval, dan gee Sussa haar warm plek op die bedmatjie prys, om op my kledingstuk te gaan lê. Ek lieg nie as ek sê dat sy op my lyfband, in plaas van die bedmat, gaan slaap as dit afval nie.

Gaan dit oor my liggaamsreuk? Ek weet nie. Maar wat daar ook al afval, sy gee haar veel warmder en geriefliker slaapplek prys, om daarop te gaan lê.

As jy my twee jaar terug gevra het of ek dit ooit sal mis om in die middel van die nag toilet toe stap sonder ʼn teefhond tussen en om my bene, sou ek vir jou gesê het dat ek nie kan wag om in rus en vrede die nagtelike- of vroegoggenddraaie te loop nie.

Nou mis ek dit – sy slaap baie keer te vas (of die ouderdom het haar bloot net te doof) om wakker te word as ek opstaan en die bed kraak.

Ek het reeds genoem dat ons nou in die slaapkamer televisie gekyk het: Klaradyn tussen my en Annieka en óp die bed, Sussa ónder my, op die grond.

Toe die girls ʼn volgende episode van die huidige televisiereeks wat ons kyk, begin kyk, toe staan ek op en kom vesitig my op Klaradyn se bed om hierdie geselsie aan te knoop (bossie blommetjies vir Sussa in gereedheid te bring).

Ek was skaars op die bed, toe stoot iemand die kamerdeur van die anderkant oop. Raai wie het ingestap gekom?

Ek het by Sussa iets van onvoorwaardelike liefde en aanvaarding geleer. Onvoorwaardelike liefde en aanvaarding wat ek nie seker is mense in dieselfde hoeveelheid en op dieselfde manier kan teruggee nie.

Sussa het my ook ʼn baie belangrike les geleer. ʼn Les wat ek, omdat ons net een kind, Klaradyn, het, en nie twee nie, ,  nie sommer nodig gaan kry nie.

Dit is om nooit ooit ʼn witbroodjie te hê nie, een van jou kinders uit te sonder nie.

Ek het haar kleintyd voorkeurbehandeling gegee, afsonderlik behandel en eenkant bederf.

Dit het later tot gevolg had dat sy nie noodwendig nader gestaan het as ek snoepgoedjies of klein bederfies uitdeel nie. Sy sal haar nie verwerdig om saam met die res te storm, tou te staan of rond te maal nie. Die ander honde kan hulle maar soos plebs gedra, sy hou haarself eenkant in die hoop (vertroue, wete) dat ek haar ná die tyd geleentheid sal gee.

Ag, siestog, en daardie gesindheid, om dit as vanselfsprekend te aanvaar dat sy afsonderlike voorkeurbehandeling gaan geniet, het haar al op baie lekker in die lewe laat uit mis.

Jy moet ook nie dink Sussa sal in die stormloop om ʼn oondpan te stofsuig, deel nie. O, nee, dis vir die laer klasse, die ander honde. En dan kry sy niks.

Die laaste ding wat ek moet noem, omdat dit so opvallend is, is die feit dat sy nodig jou aandag afdwing nie. ʼn Mens kry mos sulke honde (en skoolkinders in jou klas) wat aldag en heeldag so optree dat jy nie anders kan as om aan hulle aandag te gee nie – hulle trék jou aandag (ruk en pluk daaraan en stoei daarmee) op al die verkeerde maniere.

Nie Sussa nie – sy is nooit ooit opdringerig en in jou gesig nie, altyd eerder die dienende Martha op die agtergrond. (Dis nou met die enkele uitsondering van middernagtelike of vroegoggenddraaitjies wat ʼn mens loop. Maar dit het met opdringerigheid onder die son eintlik niks te doen nie – dis suiwer blydskap, carpe diem en oorgawe aan ʼn nuwe dag met nuwe dinge.)

En dis wat ek wil sê, en al wat ek wil sê.

En dat ek bly is dat ek dit nóú kon sê, en gesê het, en nie genoop is om dit te sê die dag as die dierbare ou vrou (ons noem haar ons “senior citizen”) nie meer met ons is nie.

Ek vermoed ook ek het ʼn nuwe, klein, geheime geheimpie begin. Want toe ek nou in die bed kom klim – die televisieprogram is klaar en Klaradyn klaar weer in haar bed – en ek trek die dag se denimbroek uit, toe hang ek hom doelbewus nie oor die voetenent nie. Dis asof hy vanself uit my hande en op die bedmatjie geval het.

Miskien is dit ʼn ou klein veldblommetjie, ʼn klein geel perdeblommetjie wat Sussa wél sal verstaan.





7.7.15

Spyt kom altyd te laat

As daar een ding is waarvoor Annieka tegelyk én bekend, én beroemd, én berug is, dan is dit haar talle swart nommertjies. Enige swart nommertjie – rokke, rompe, baadjies, broeke, tabberds, noem maar op.

En dan kom die drie b’s (bekend, beroemd en berug) geensins van onbesonne aankope nie, trouens en inteendeel...

Dit hou nou al jare so aan – sy sien iets in ʼn winkel, pas dit selfs aan, maar hang dit dan weet terug. Annieka doen niks op die ingewing van die oomblik nie, allermins nie die aankope van die een of ander swart nommertjie nie. Om die waarheid te sê, iets waaraan sy drie maande plan, sal vir haar, na drie maande, steeds soos op-die-ingewing-van-die-oomblik voel.

Na sy die nommertjie dan teruggehang het, tob sy enige iets van ʼn week tot twee weke.

Nodeloos om te sê dat die nommertjie dan lankal verkoop is. Keer op keer op keer. So onlangs soos verlede week weer.

Ek is anders, meer impulsief.

Suinigheid (of ʼn gebrek aan genoeg geld) sal my partykeer dryf om uit te stel. Maar selde langer as ʼn dag.

ʼn Ruk terug sien ek ʼn boek in Johannesburg – ek kwyl soos een van Pavlov  se honde wat die klokkie hoor lui het, maar vertel myself die boek is te duur. Ek wil die boek hê, ek sal hom vreeslik baie geniet, my lewe sal onvervul en leeg wees, sonder die boek. Maar die boek is te duur – ek het nie soveel geld om my kind se troue uit te gee nie, wat nog te sê ʼn slapbandboek.

Ons kom terug Pretoria nie. Die aand kontak ek Exclucive Books in Menlyn om te hoor of hulle die boek in voorraad het. Hulle het nie. Ek vertel hulle van die een in die Sandton-tak en vra dat hulle dit vir my aanstuur Brooklyn toe. Enkele dae later gaan tel ek die boek op.



Verlede week gaan ek apteek toe. Ek het niks anders as om te doen nie en ek drentel deur die pandjieswinkel neffens die drogis en apotheker  se plek.

Ook lankal nie meer ʼn panjieswinkel soos van ouds nie – selfde kool ja, maar ʼn gans ander sous – hulle noem hulself  ʼn “Cash Converter”.

My hart en siel en wese hunker na die lepeltjies waarmee ons twee meer as veertig jaar gelede by my Ouma van Wyk jellie geëet het.

Ek het hulle nie van haar geërf, in 1987, toe sy oorlede is nie – sy het haar twee skulpielepeltjies vir my gegee, 1982, toe ek klaar met skool en op pad Potchefstroom toe is.

Twintig jaar later, toe is die twee lepels lankal een. Moenie my vra hoe en waar en hoekom of waarom nie – ek weet nie. Toe ons begin soek, toe is dit duidelik, ons het inderdaad nou net een.

Vyf jaar later kuier ek by universiteitsvriendin, Philippa, en bekla my lot. Sy ken die lepels – ons is immers maats van eerste dag op universiteit.

Daar, jare later, glimlag Philippa hemelsbreed en sleep my kombuis toe. Uit haar laai kry sy vir my ʼn lepeltjie. “Dis vir jou, met liefde, ek weet waar om weer een te kry.”

Dis vandag seker ʼn verdere ses jaar later, nie net is my twee lepels weer eens uitgedun tot een nie, maar Philippa is ook al in haar graf.



So ek stap by sulke plekke soos “Cash Converters” in op soek na jellielepeltjies met skulpie spane. Vir my, vir Klaradyn, vir Philippa en vir Ouma van Wyk.

Maar nee, Fortuna glimlag nie vir my nie, anderdag miskien.

En dáár, net toe ek wil uitstap sien ek dit – ʼn stel van drie. Nee, nie teelepeltjies nie, maar drie kasserolle (deesdae lees ek meer en meer dat die mense van ʼn “Dutch Oven” praat). Presies in die styl van die twee gietysterpotte waarmee ek grootgeword het, en steeds weekliks gebruik.




Die eietydse kookware staan as Le Crueset bekend, maar by hulle kos die één kasserol voor my R3 300-00. (Glo my, ek het gaan kyk!)



Hier het ek drie van hulle –een groot, hoë, ovaal kasserol; ʼn platter, maar groter in oppervlak, ovaal kasserol; ʼn groot, ronde, vet pot – net bietjie groter as die grootste een van die twee waarmee ek groot geword het.

Ek het net die vorige dag in die harderwarewinkel gestaan en met begeerte in my oë en hart na die goedkoper Suid-Afrikaanse weergawe van Le Crueset gestaar.

Daar het een kasserol so groot soos die een hier, steeds R1 000-00 gekos. Maar hier kan ek drie kry, en al drie saam kos net R700-00 – dis verniet!

En behalwe dat dit goedkoop is, behalwe dat dit nie snobwaarde-Le Crueset is nie, is dit die outentieke avokadogroen ysterpot van my kinderdae. Dis soos om die boerpot te wen!

Maar ek koop dit nie, twintig jaar, miskien meer, se begeer ten spyt.

Dis te duur, al is dit goedkoop. Dis te duur in die sin dat ek nie soveel geld het om op kombuispotte uit te gee nie. Veral nie ʼn maand na die impulsiewe aankoop van my dure boek nie.

Vanoggend, ʼn week later, haal ek twee beessterte uit die vrieskas uit.

Ek gaan soek inspirasie in my kookboeke, én op die internet.

Ek vind my inspirasie. By Jamie Oliver. Hy noem dit “Insanely good oxtail stew”.

Begeesterd en met ʼn glasige gloed in my oë, stap ek op Annieka af en sê dat ek daardie kasserolle/Dutch ovens nóú gaan koop – ek bad net gou. (Sy weet van die potte, ek het haar in die laaste week op meer as een geleentheid daarvan vertel, onder andere die aand toe ek Oorle’ Judy se pot op die stoof ingespan het.

Toe ons ʼn rukkie later in die winkel instap en ek effe onkant betrap op die assistent afstap, lag hy vir my.

Volgens hom is ek die vyfde een wat inkom en na die drie avokadogroen-kasserolle vra.

Ja, hy onthou dit goed – dit is verkoop, sommer nog dieselfde dag wat dit op die rak beland het.

Ek is ʼn stukkende man.

Ek het my lus vir beesstert verloor en dit terug in die vrieskas gesit.

Miskien sal ek vir Annieka ʼn ietsie in swart gaan koop.