Pages

27.7.15

Liewe Ou Tannie, ons bring rose

“Moenie vir my blomme aandra, die dag as ek dood is nie – bring dit vir my nou terwyl ek nog in die lewe is.”

Ek is seker nie die enigste een wat hierdie gedagte al op die een of ander geleentheid, en manier uitgedruk, raakgeloop het nie.

Dis nou seker al meer as ʼn maand dat ek die behoefte van die hart om vir een wat nog in die lewe is, blomme aan te dra. Juis omdat ek nie, eendag as sy eers dood is, skuldig wil voel omdat ek die blomme nie aan die groot klok gehang het, terwyl sy nog in lewende lywe met ons was nie.

En van die rose, angeliere, papawers, pronk-ertjies, veldblomme en Kaapse fynbos wat ek wil aandra – of dit nou letterlik of figuurlik is – sal die stomme ou vrou niks verstaan of weet nie.

Want die een wat verdien om met blomme toegegooi te word, is Sussa, die een wie se elke entjie pad met roosblare uitgevoer moet word, is Sussa, die patryshondtefie wat ons bietjie meer as 11 jaar gelede by die huis aangebring het.


Ek is nie geveins beskeie as ek sê “I am not worthy” nie, want dit is so:  ʼn mens, ek die meeste van almal, is die lojale band wat Sussa met my gesmee het, nie werd nie.

Dit was destyds ʼn Oedipus- en Antigone-ding:  Annieka het die reuntjie (Patat, wat later Boeta geword het) en ek die tefie (Patroon wat Sussa opgeëindig het) as trop- en hartsmaatjie aangeneem.

Ja, ons het vir albei ewe lief geword, maar Boeta sou aan Annieka se kant van die bed opkrul, Sussa aan my kant. Kyk ons saam TV, sal Sussa by my kom sit, Boeta by haar. (Is dit nét ek of nét sy, sal hulle natuurlik al twee óp ons kom sit!)

Ek los haar elke weeksoggend as ek werk toe gaan, en baie keer oor naweke en vakansies ook, maar wanneer ek by die huis is, los sy my nie ʼn enkele oomblik uit nie. Sy volg my soos ʼn skaduwee.

Dis nou as sy nie slaap nie.

Ons het al verlede jaar agtergekom Sussa is lank nie meer die ligte slaper wat sy was nie, Morpheus vat haar deesdae verder van die wakkerwees-wêreld as dit waaraan ons al die jare gewoond was.

Ons het nou televisie gekyk in die slaapkamer: Klaradyn tussen my en Annieka en óp die bed, Sussa ónder my, op die grond –lynreg onder my, val ek deur die bed, val ek op haar.

Die springbokvelletjies wat links en regs van die bed was, toe hulle destyds hier aangekom het, is lankal nie meer deel van die huishouding nie.

Maar Sussa het nie ʼn velletjie, kussing, bedmatjie of kombers nodig om direk onder my, onder die bed op die koue leiklipvloer te kom lê nie.

Die ander honde het – liefs ʼn kussing. En as daar niks in die kamer is nie, dan gaan slaap hulle elders.

Nie Sussa nie – sy slaap by my, onder my.

Laat val ek my hand van die bed af, kan ek aan haar vat. Lê sy te diep in, krap-krap ek net so teen die houtraamwerk van die dubbelbed, en dan is dit nie lank nie, of ek hoor die klop-klop van Sussa se stert op die vloer.

Partykeer, as ek die bedmatjie wat wel langs my bed is, nie halfpad onder die bed insleep vir Sussa nie, gee sy selfs die bedmatjie ʼn koue skouer, net om op haar ou vertroude plek, onder my, te loop lê.

Daar is wel iets wat haar van haar gewone lêplek by die koppenent van die bed, onder by die voetenent kry. En dis hierdie gewoonte van haar wat my telkens so aan die hart gryp as ek haar daar aan die onderkant van die bed opspoor.

Dis met moeite dat ek my dag se klere aan die einde van die dag nié sommer net op die grond laat lê waar ek dit ook al uittrek nie – in die badkamer, voor die klerekas, neffens die stort, in die gang.

Vyftien jaar se getroude lewe het my nou al afgerig en gekondisioneer om dit onder, oor die voetenent van die bed te hang.

En dit maak nie saak of dit ʼn das, onderbroek, broek of wollige trui is nie – as dit deur die loop van die nag afval, dan gee Sussa haar warm plek op die bedmatjie prys, om op my kledingstuk te gaan lê. Ek lieg nie as ek sê dat sy op my lyfband, in plaas van die bedmat, gaan slaap as dit afval nie.

Gaan dit oor my liggaamsreuk? Ek weet nie. Maar wat daar ook al afval, sy gee haar veel warmder en geriefliker slaapplek prys, om daarop te gaan lê.

As jy my twee jaar terug gevra het of ek dit ooit sal mis om in die middel van die nag toilet toe stap sonder ʼn teefhond tussen en om my bene, sou ek vir jou gesê het dat ek nie kan wag om in rus en vrede die nagtelike- of vroegoggenddraaie te loop nie.

Nou mis ek dit – sy slaap baie keer te vas (of die ouderdom het haar bloot net te doof) om wakker te word as ek opstaan en die bed kraak.

Ek het reeds genoem dat ons nou in die slaapkamer televisie gekyk het: Klaradyn tussen my en Annieka en óp die bed, Sussa ónder my, op die grond.

Toe die girls ʼn volgende episode van die huidige televisiereeks wat ons kyk, begin kyk, toe staan ek op en kom vesitig my op Klaradyn se bed om hierdie geselsie aan te knoop (bossie blommetjies vir Sussa in gereedheid te bring).

Ek was skaars op die bed, toe stoot iemand die kamerdeur van die anderkant oop. Raai wie het ingestap gekom?

Ek het by Sussa iets van onvoorwaardelike liefde en aanvaarding geleer. Onvoorwaardelike liefde en aanvaarding wat ek nie seker is mense in dieselfde hoeveelheid en op dieselfde manier kan teruggee nie.

Sussa het my ook ʼn baie belangrike les geleer. ʼn Les wat ek, omdat ons net een kind, Klaradyn, het, en nie twee nie, ,  nie sommer nodig gaan kry nie.

Dit is om nooit ooit ʼn witbroodjie te hê nie, een van jou kinders uit te sonder nie.

Ek het haar kleintyd voorkeurbehandeling gegee, afsonderlik behandel en eenkant bederf.

Dit het later tot gevolg had dat sy nie noodwendig nader gestaan het as ek snoepgoedjies of klein bederfies uitdeel nie. Sy sal haar nie verwerdig om saam met die res te storm, tou te staan of rond te maal nie. Die ander honde kan hulle maar soos plebs gedra, sy hou haarself eenkant in die hoop (vertroue, wete) dat ek haar ná die tyd geleentheid sal gee.

Ag, siestog, en daardie gesindheid, om dit as vanselfsprekend te aanvaar dat sy afsonderlike voorkeurbehandeling gaan geniet, het haar al op baie lekker in die lewe laat uit mis.

Jy moet ook nie dink Sussa sal in die stormloop om ʼn oondpan te stofsuig, deel nie. O, nee, dis vir die laer klasse, die ander honde. En dan kry sy niks.

Die laaste ding wat ek moet noem, omdat dit so opvallend is, is die feit dat sy nodig jou aandag afdwing nie. ʼn Mens kry mos sulke honde (en skoolkinders in jou klas) wat aldag en heeldag so optree dat jy nie anders kan as om aan hulle aandag te gee nie – hulle trék jou aandag (ruk en pluk daaraan en stoei daarmee) op al die verkeerde maniere.

Nie Sussa nie – sy is nooit ooit opdringerig en in jou gesig nie, altyd eerder die dienende Martha op die agtergrond. (Dis nou met die enkele uitsondering van middernagtelike of vroegoggenddraaitjies wat ʼn mens loop. Maar dit het met opdringerigheid onder die son eintlik niks te doen nie – dis suiwer blydskap, carpe diem en oorgawe aan ʼn nuwe dag met nuwe dinge.)

En dis wat ek wil sê, en al wat ek wil sê.

En dat ek bly is dat ek dit nóú kon sê, en gesê het, en nie genoop is om dit te sê die dag as die dierbare ou vrou (ons noem haar ons “senior citizen”) nie meer met ons is nie.

Ek vermoed ook ek het ʼn nuwe, klein, geheime geheimpie begin. Want toe ek nou in die bed kom klim – die televisieprogram is klaar en Klaradyn klaar weer in haar bed – en ek trek die dag se denimbroek uit, toe hang ek hom doelbewus nie oor die voetenent nie. Dis asof hy vanself uit my hande en op die bedmatjie geval het.

Miskien is dit ʼn ou klein veldblommetjie, ʼn klein geel perdeblommetjie wat Sussa wél sal verstaan.





No comments: