Pages

23.4.14

Pappa-en-dogtertjie oomblikke

William Rowland het ʼn gedig, geskryf “Pappa en seuntjie stap”. Dit was jare lank ʼn voorgeskrewe gedig vir matrieks. Doen ek en Klaradyn dinge saam, dan spring dié gedig se titel gereeld in my bewussyn rond. Soos die afgelope Paasnaweek weer.

Ons Pappa-en-dogter bonding, Donderdagmiddag, het eintlik Donderdagoggend al begin.

Die wortels daarvan lê egter in ʼn kragonderbreking van die vorige oggend, Woensdag, met die tandarts wat laat weet dit help nie ek kom, soos afgespreek, om 15:00 daar aan nie – hulle krag is al die hele voordag af en die terugvoer wat húlle kry, is dat dit tot agtermiddag laat nog gaan duur.

Ek jubel. Dis ʼn baie uitdagende fotodag 1 by die skool en ek moet soos altyd pa staan daarvoor.

Dis seker die vierde jaar in ʼn ry dat iemand doelbewus kies om eerder deel van die probleem as deel van die oplossing te wees deur klastoetse vir die betrokke dag te skeduleer. Dit laat my, weer eens, met twee wagtende fotograwe wat, nie eens soos Barry Roux en Gerrie Nel per dág nie, maar per uur, eintlik per minuut, betaal word. Hulle sit met dolleë koorbankies voor hulle en staar na die portrette van die skool se Springbokke en Proteas wat in ry al om die saal se binnemure gehang is.

Want buite die saal staan ons met sowat 300 kinders in ʼn graad, elkeen in een van tien registerklasrye aangetree (van kortste voor tot langste agter, klasleiers voor na lank agter) en nie ʼn enkele een van die klasse kan inbeweeg vir hul foto nie.

“Ons is nog nie almal hier nie, Meneer!”

“Nou vir wat nie, ek het al tien minute gelede afgekondig dat julle moet kom aantree?”

“Die kinders skryf nog toets in Juffrou (So-en-so) se klas, Meneer.”

Dan had ons self ook al ʼn kragonderbreking wat verdere druk op onse fotodag geplaas het.

So ek jubel en klim met seer keel en nog seerder voete knap voor 15:00 in die kar. ʼn Middag wat ek in die tandarts se stoel sou deurbring, lê nou oop voor my.

En dis Woensdag.

Woensdag is Annieka se middag met Klaradyn.

En op ʼn Woensdag het Klaradyn kunsklas van drie tot vier.

Ek bel in die ry:  “Wat doen jy?”

“Ek laai Klaradyn by die kuns af. Maar ek is bly jy bel. Ek het my rekenaar se koord in die kantoor gelos, kan jy dit vir my bring as ...”

“Ek is al myle van die skool af. Laai vir Klaars af en dan ontmoet jy my by Pure.”

Dis by hoogste uitsondering dat ons ingewikkelde middagskedules so klandestiene iets toelaat. Maar ek vroegoggend al, op een van my 342 keer se hardloop tussen die saal en die kantoor om kinders oor die interkom te gaan roep, verby die personeelkamer se kombuis gehol, toe die lekkerste geur van KFC my tref.

Van toe af, en dis teen die tyd dat ek huis toe ry ook al meer as vyf ure later, is ek belustig vir iets lekkers. En Pure is lieflike, trendy, pretensieuse, totally over priced eetplekkie, en selfs al sou Annieka nie by my kon aansluit nie, is ek na my helse skooldag bereid om manalleen met my sawwe, moeë lyf, seer keel en voete daar te gaan sit om liggaamlik en emosioneel vertroos te word.

Annieka had self ʼn dol dag en sewe minute later trek sy skreeuende bande en stof wat dóér trek voor die eetplek in.

Ek bestel ʼn drie-dubbel-van-iets sny koek. Drie soorte neute, of drie soorte sjokolade – ek kan nie onthou nie. En dit maak nie saak nie. Wat saak maak, is dat die lekkerste stuk koek is wat ek in my ganse lewe nog geëet het. As ek my sin kon kry (en ʼn banklening daarby) was ek die laaste drie dae al sewe keer terug om plek vir nog ʼn snytjie in my deursnit-Wit-Afrikaanse-Afrikaner-man-boepens in te ruim.

Die ander ding wat saak maak, is dat die eerste happie wat ek vat ʼn donderse (en dis kláár sagkens gestel) harde stukkie neut in het. So hard, trouens, dat ek dit geensins kan stukkend byt nie. Só hard, dat dit sommer sulke vreemde harde krap- en kraak- en knakgeluide in my mond maak en ek bloot maar oë moet toeknyp en afsluk.

Om ʼn lang storie kort te maak, teen die tyd dat ek via telefoonbankdiens klaar aansoek gedoen het vir ʼn oortrokke fasiliteit om my rekening te kan vereffen, weet ek en Annieka albei dat die eerste happie se stukkie neut nie ʼn stukkie neut was nie, maar die kiestand se tydelike kroondoppie wat ek sou vervang het vir die regte een, ás dit nie vir die kragonderbreking en die daaropvolgende stukkie koek was nie.

Twee ure later het ek die volgende oggend 07:25 ʼn noodafspraak by my tandarts.

Dit beteken ek moet Donderdagoggend ʼn volle uur later eers by die huis uit.

Die wekker gaan normale tyd af – vrou en kind moet gewone tyd in ma se motor spring. Maar Klaradyn se toebroodjies klaar gemaak en die voëls se kos klaar gegee, ook klaar geskeer en gesjampoe, klim ek suutjies by Klaradyn in die bed.

Dit kan mos nét lekker wees om, op ʼn gewone skóóloggend, in die arms van jou vader te kan ontwaak, in plaas daarvan om van die gang af wakker geroep te moet word.

Daar begín ons pappa-en-dogtertjie oomblik.

Tien minute later word dit voortgesit toe haar japon nêrens te vinde is nie, en Pappa sý japon vir haar aantrek om in te verdrink op pad na ouma toe. Hoe lekker dit vir haar in Paps se japon is, staan sommer oor haar hele gesig geskryf, toe sy tatta soen en in die motor klim.

Ja, die kind gaan soggens in haar pajamas by die huis uit. Ek én Annieka klok O7:00 in by die werk en daar is nie ʼn manier dat ons ons kind 06:20 by ʼn skool aflaai om betyds by ons eie te wees nie; ons laai haar daardie tyd by Ouma-hulle af waar sy was, aantrek en ontbyt. (Oumas en oupas is wonderlike goed!)

Donderdag is amptelik die eerste dag, nie van herfs nie, sommer van winter – dis die ganse skooldag properlies en góéd koud.

Toe ek Klaradyn na drie weer by Ouma-hulle optel (Donderdag is my middag met haar, Annieka bly aan om tot laat in stilte en vrede te werk) sien ek die merrieperd het mooitjies na skool nie haar gewone klere aangetrek nie, maar terug geklim in haar winterslapies en pappa se oorgroot japon.

En vir wat nie! Dis lekker koud én die begin van ʼn langnaweek – daar is geen huiswerkroetine nie. Sy en ouma sit snoesig onder ʼn kombers ingenestel en kyk iets op televisie.

Toe ons oomblikke later by Ouma wegry – Klaradyn steeds knus in haar element in Pappa se japon – weet ek daar is nie ʼn manier dat ek sy nou, in hiérdie koue, in die tuin gaan speel nie, ons gaan een van net drie dinge doen – ons gaan in die sitkamer voor die televisie onder ʼn duvet inspring en ʼn video kyk, ons gaan in die sitkamer voor die televisie onder ʼn duvet inspring en ʼn video kyk, of ons gaan in die sitkamer voor die televisie onder ʼn duvet inspring en ʼn video kyk.

Wat ons toe ook doen.

Ek het Desember-vakansie al ʼn Richard Gere-video gekoop waarby ons nie uitgekom het nie. Ook nie in die April-vakansie nie, die ding roep nou al vyf maande uit die kas om asseblief tog net vertoon te word.

En ek weet nie of dit met alle kinders so is nie, en of dit net met Klaradyn so is nie – sy kan nie lángs ʼn mens sit en televisie kyk nie, sy móét tegelyk ónder jou vlerk en so te sê óp jou skoot, vóór jou gesigsveld inwurm om televisie te kyk. Of dit nou so warm is, jy gril al om net aan jouself te moet raak; en of dit nou, soos Donderdagmiddag, lekker koud, selfs onder ʼn duvet, is.

En dis hoekom hierdie stuk, gedagtig aan destyds se “Pappa en seuntjie stap” nie “Pappa en dogtertjie stap” gaan wees nie, maar “Pappa en dogtertjie huil.”

Klaradyn het, alles mooi bymekaar getel, in haar eerste lewensjaar heelwat minder en korter gehuil en geskree as wat sy Donderdagmiddag gehuil het. Ek het laas amper so gehuil toe my ma dood is, maar nie naastenby so verskriklik vreeslik erg, en intens, en hard, en aanhoudend nie. Onbeheersd. Onbevange. Ongekontroleerd. Onge-alles.

Dis ʼn dierefliek. En kinders soos ek en Klaradyn huil in alle diereflieks. Dis omdat daar altyd iets met die diere gebeur – hulle gaan dood en dis hartseer.

Maar in hierdie fliek huil jy nie omdat dit hartseer nie, jy huil omdat dit so vreeslik hartroerend en aangrypend móói is.

Om die waarheid te sê, die kyker is eintlik bly en verlig as die blêddie hond 40 minute (verteltyd) en 9 jaar (vertelde tyd) later uiteindelik sterf, want dán eers, kan jy dit begin oorweeg om op te hou huil.

Ek en Klaradyn het beide 20 minute ná die fliek al lankal verby, en die televisie ook al afgesit, was, nog steeds gehuil toe ons die storie vir Mamma vertel het. Om die waarheid te sê, Mamma, wat glad nie die fliek gekyk het nie, het ook begin huil. Of dit nou is oor die storie, of net om na ons te kyk wat so aansteeklik tjank, sal ek nie weet nie.

My oë was ure later nog heel week en eintlik sommer lekker rou, asof iemand nie komkommerskyfies, soos by ʼn spa, op hulle gesit het nie, maar deurgesnyde uie in hulle gevryf het.

Ek is dankbaar dat ek die fliek in die privaatheid van my eie binnekamer gesien het, het ons dit op die grootskerm gekyk, sou ons mos uitstap. Want as ons nie self uitgestap het nie, sou die ander ons uitgejaag het.

Op ʼn tranetrekker-skaal van 0 – 10, ken ek ʼn 10 toe. En ek plaas “The Champ” (onthou julle nog die fliek – die vrouens is met ekstra sneesdoekies in hul handsakke teaters toe!) en “Dirkie” op ʼn skamele 2.75. Dan haal “Terms of Endearment”, “Lelik is my offer”, selfs “Titanic” (waarin ek hardop geruk het soos ek tjank) nie eers die skaal nie.

Die fliek wil geensins ʼn historiese weergawe van die werklikheid wees nie, maar is geïnspireer deur werklike gebeure jare gelede. Ek gaan nie oorvertel nie, ek haal uit Wikipedia aan:

In 1924, Hidesaburō Ueno, a professor in the agriculture department at the University of Tokyo, took in Hachikō, a golden brown Akita, as a pet. During his owner's life, Hachikō greeted him at the end of each day at the nearby Shibuya Station. The pair continued their daily routine until May 1925, when Professor Ueno did not return. The professor had suffered a cerebral hemorrhage and died, never returning to the train station where Hachikō was waiting. Each day for the next nine years Hachikō awaited Ueno's return, appearing precisely when the train was due at the station.

Hachikō attracted the attention of other commuters. Many of the people who frequented the Shibuya train station had seen Hachikō and Professor Ueno together each day. Initial reactions from the people, especially from those working at the station, were not necessarily friendly. However, after the first appearance of the article about him on October 4, 1932 in Asahi Shimbun, people started to bring Hachikō treats and food to nourish him during his wait.

In 1932 one of Ueno's students (who developed expertise on the Akita breed) saw the dog at the station and followed him to the Kobayashi home (the home of the former gardener of Professor Ueno—Kikuzaboro Kobayashi[5]) where he learned the history of Hachikō's life. Shortly after this meeting, the former student published a documented census of Akitas in Japan. His research found only 30 purebred Akitas remaining, including Hachikō from Shibuya Station.

He returned frequently to visit Hachikō and over the years published several articles about the dog's remarkable loyalty. In 1932 one of these articles, published in the Tokyo Asahi Shimbun, placed the dog in the national spotlight. Hachikō became a national sensation. His faithfulness to his master's memory impressed the people of Japan as a spirit of family loyalty all should strive to achieve. Teachers and parents used Hachikō's vigil as an example for children to follow. A well-known Japanese artist rendered a sculpture of the dog, and throughout the country a new awareness of the Akita breed grew.

Eventually, Hachikō's legendary faithfulness became a national symbol of loyalty, particularly to the person and institution of the Emperor

Ek en Annieka was ʼn ruk gelede bekommerd toe Klaradyn die enigste een van ons drie was wat nie getjank het toe ons as gesin Spielberg se ET gekyk het nie. Ons was bang sy word emosioneel afgestomp deur die goed wat sy kyk. Nadese kan ons ontspan: Klaradyn klim beslis nog met hart én siel in ʼn fliek in en kan dit onbevange met volle oorgawe geniet.

Wat haar pa betref – hy is duidelik steeds dieselfde pissie en verleentheid wat hy nog al die jare was.



5.4.14

Judy se "Rooi Hoender" deur Hans

Ek het minute gelede ʼn dis in die oond gesit wat ek nog nooit vantevore self voorberei het nie. 

Dit terwyl ons die bure oor het vir ete. 

Dit terwyl my ma ons groot gemaak het om nooit iets vir die eerste keer te probeer as jy onthaal nie. 

Ek het ook nie ʼn resep wat ek kan volg nie, al het ek seker dertig resepte geraadpleeg.

Gelukkig het ek die dis al baie keer geëet. Maar dit was voor 1975 laas.

Dis my en my broer se gunsteling dis, in ons huis het ons dit “Rooi Hoender” genoem.

Ek het “rooi hoender” ge-google en 375 trefslae gekry. Toe google ek “red chicken recipe” en kry sowat 115 000 adresse.

Ek het moedig probeer, maar het helaas niks gevind wat my aan my en my broer se geliefde “Rooi Hoender” van onse mamma herinner nie.

Ek het selfs mense gekry wat vermoedelik na dieselfde resep as ek op soek is. 


ʼn Naamlose iemand het op Yahoo-answers.com gevra:  What's the recipe for campells soup red chicken?”

 

Drie jaar gelede het ‘n sekere Blue Hills Granny geantwoord:

 

“Maybe this is the one you are looking for 1/2 stick butter 4 chicken breasts salt and pepper Season chicken and brown on both sides in butter Mix together 1 can tomato soup 1/2 can water 1 Tablespoon vinegar 1 Tablespoon brown sugar pour over cover and simmer on low about 40 minutes until chicken is tender serve over hot cooked rice .You can also ad some garlic powder if you like and you can flour the breasts before you brown them.”

 

Maar in dié betrokke resep is al wat reg is die hoender en die “1 can tomato soup”.

 

Die res is spekulasie. En dan ontbreek daar baie.

 

Ek weet nie of ‘n mens ooit Campbell’s sop in die ou RSA gekry het nie. 


Cambell’s se sop lui vir my maar net klokkie omdat Andy Warholl dit in so baie mense se onderbewuste verewig het met sy reeks kunswerke.



 

Ek (en my skoonsus, so ver ek weet) onthou dat dit OXO-tomato soup was. Half and half, het ons daarvan gepraat, want jy moes een blikkie sop met een blikkie water verdun. (Ek vermoed my ma sou melk gebruik het as sy die sop gemaak het.) 


OXO is egter al die jare sinoniem met blokkies en pakkies en nie met blikkies roomsop nie.



 

Ek weet nie watter soort sop dit was nie, ek was te klein, dis te lank terug. Maar hoekom my ma-hulle, en my skoonsus, opgehou het om die dis te maak, is eenvoudig: die betrokke blikkie sop is oornag van die mark af, en die dis het net nooit so lekker uitgekom met die ander blikkies tamatiesop wat daar daardie jare op die mark was nie.

 

So dis nou meer as dertig jaar dat ek lus het vir “rooi hoender”.

 

Ek so twintig jaar gelede een Sondag aan huis van Carel en Hetta Potgieter ‘n baie lekker rooi hoender geëet. Dit was nie my ma se resep nie, maar het sterk daaraan herinner.

 

Sien, ek onthou dat daar rooi soetrissies in was, dalk selfs groenes.

 

ʼn Mens het daardie jare sulke groot vierkantige can fruit bottels gekry – out size as jy my vra. In Paljas en Die storie van Klara Viljee het die agtergrondinkleding-, dekor- en rekwisiete-mense presies sulke glasflesse met deksels op die stel gebring. Elke keer as ek die flieks kyk, dan vang die bottels my oog en raak ek so lus vir my ma se “Rooi Hoender”.



 

In hierdie bottels het my ma-hulle by Makro ingelegde green en red peppers gekoop. En as dit opgebruik is, is die etiket afgewas en die bottel spensrak toe gevat.

 

Ons het in my tyd in ‘n ouerhuis vier keer getrek. En elke keer is hierdie stel bottels saam. Na een trek moes ek al die deksels vir Mamma oranje spuitverf. Met die volgende trek het ek hulle weer groen moes spuitverf.

 

Ek het daardie bottels gehaat.

 

Vandag sal ek wat wil gee om net een van daardie bottels in my huis te kan hê. Ek sal selfs die deksels spuitverf.

 

Maar ek dwaal af. Ín hierdie bottels was die lekkerste soetrissies en ek onthou so duidelik soos daglig dat Judy se hoender van tyd tot tyd van hierdie soetrissies ingekry het.

 

Dis natuurlik die geneuk nè – daar is nie ʼn resep gewees nie, sy het kos gemaak soos die gees haar gelei het. Dis nie te sê daar was áltyd ingelede soetrissies by nie.

 

Toe neem die gees van my besit met die laaste tuisgemaakte tamatiesop wat ek vroeër die week gemaak het. Die sop waarvan daar, skat ek dit met die oog, so twee blikkiesvol oorgebly het. Annieka vra of sy die oorskiet sop vir Martha kan weggee huis toe. Ek sê kortaf, “nee”.

 

Selfs die beste blikkiesop moes daardie jare mos tweedebeste gewees het om rooi hoender te maak. Hierdie tamatiesop van ons móét mos lekker rooi hoender kan maak, al is dit nie Judy se “Rooi Hoender” nie. En ek begin my soektog na dié rooihoenderresep van alle rooihoenderresepte. Maar een met soetrissies.

 

Ek spoor inderdaad ʼn rooihoenderresep met soetrissies en ʼn blikkie Campbell’s sop op Campbell’s se webwerf op, maar die foto gee alles weg – dis beslis nie na aan my oorle’ mammie se dis nie.



 

En toe sit ek ʼn paar dae later, netnou, net voor ek hier kom sit het, my eie rooihoender in die oond.

 

Ek het 18 hoenderdye verbruin (omdat ek gelees het dat baie van die resepte daarmee wegspring)

 

Vooraf het ek 6 rooirissies vel-af gemaak (deur dit onder die oondrooster swart te skroei en in ʼn sak te laat stoom – daarna trek jy die skil af soos dié van ʼn tamatie wat in kookwater gelê het.)

 

Toe die laaste hoenderdy mooi bruin is, het ek drie uie (want dis al wat ek had) in die bietjie olie gebraai.

 

Toe dit reg is, het ek drie gerasperde wortels bygegooi (en vergeet van die knoffel – doelbewus vergeet omdat ek bietjie lui was om knoffel te skil.)

 

My ma het beslis nie wortels ingegooi nie, maar synde ek nie weet wát sy gedoen het nie, kan ek nou doen wat ék wil.

 

Dit het by die oorskiet tamatiesop ingeroer. Saam met die soetrissies wat ek in dik repe gesny het.

 

ʼn Lourierblaar of twee, drie, vier...vyf. En lekker baie regte, egte, Hongaarse paprika. Sout en peper.

 

Oor die gebruinde dye en vir ʼn uur oond toe op 180.

 

Ek het my neus al so teen die oonddeur gehou – dit ruik heerlik.

 



Gedagtig aan Judy en my broer en die 70’s en heimwee en terugverlang huis toe, sal dit Kook en Geniet se sponskluitjies (nie die souskluitjies nie – sponskluitjies) vir nagereg wees.

 

Retrospeksie:

 

Ál wat fout was, is dat die sous te waterig was. Daardie sop was destyds ingedamp, condenced soos die Engelse sê, (half en half, soos ek onthou). Die groente en hoedersappe het my sop te veel verdun.

 

Ek moes na die tyd afkook tot dit lekker dik was, en ek het nie, ek het kortpad gevat met mielieblom.  En toe verloor die mielieblom sy fut terwyl ons hopeloos te lekker om die kombuistafel kuier en die kinders iewers buite in die tuin speel.

 

Of ek dit weer sal maak? Ja, en ja en nogmaals, ja.


4.4.14

ons gaan JAG (Johannesburg Art Gallery)



Dat ‘n Peruviaanse beskawing sowat 3000 jaar gelede, selfs nog voor die vestiging van die Inka-kultuur, suksesvolle mediese prosedures wat ons breinoperasies sou kon noem, uitgevoer het, het ek in 1981 te wete gekom. Ek het selfs menslike skedels wat as bewys kon dien dat die operasies uitgevoer is, en met sukses, omdat die mense duidelik bly leef en die wonde herstel het, gesien.

Daar was ʼn gasuitstalling van die privaat museum, Museo oor del Oeru, in Lima by die Johannesburgse Kunsgalery. Ek was in standerd 9 en moes op ʼn manier daarvan te wete gekom het want ek het my ma so ver gekry om ons Joubert park toe te neem om dit te gaan besigtig.

En het ons dit geniet! Daar was ʼn katalogus beskikbaar, Oro del Peru – Peru se goue rykdom/Peru’s golden treasures, en Judy het een vir ons aangeskaf. Waarom en hoe ek van die ding ontslae geraak het, weet ek nie – dit was sowat 15 jaar gelede nog in die boekrak, maar het beslis nou voete gekry.

In 2001 het die museum se aansien ʼn lelike knou gekry. Daar is bevind dat so veel as 85%, ander bronne sê selfs 96% van die museum se metallurgiese items (hoofsaaklik goud en bietjie silwer) vervalsings of replikas was.

Ag siestog, dis nie wat ek vanoggend wou lees toe ek ʼn internetsoekenjin met die trefwoorde “Oro del Peru” belas het nie.

Maar, nou ja, ons is daardie jare maklik ʼn rat voor die oë gedraai.

Ek was gefassineer en het ʼn tweede keer gegaan.

Dit was algemeen om van Alberton met die bus deur te skiet Johannesburg toe. Die bus het jou in Pritchard straat oorkant die Hooggeregshof afgelaai.




Ek is gereeld van daar kunsgalery toe. Jy het afgestap in die rigting van End straat en links gedraai in Von Wieligh straat. Dit het ʼn paar strate verder Klein straat geword en dan was dit nog ʼn blok of wat en jy was by die kunsgalery.

Van daar is jy langs Joubert park op in die rigting van Hillbrow. Het jy die naweek reg gekies, dan was daar “Art in the Park” – ʼn maandelikse opelug kunsuitstalling soortgelyk aan die een by die Johannesburg Dieretuinmeer. Nou is jy ʼn katspoegie van Bok straat af, daar was ʼn winkel wat spesialiseer het in kunsbenodigdhede. Dís waar jy daardie jare jou verf, linomessies en dinge gekoop het.

Die kunsgalery self was al die jare in een opsig een groot siestog – hulle het hom agterstevoor om gebou. Wat vorentoe moes kyk, in Joubert park se rigting in, kyk toe agtertoe – in die treinspoor vas. En die gebou se gatkant het uitsig op Joubert park.

Sir Edward Lutyens, in sy tyd en later na verwys as "the greatest British architect", het die galery in Londen ontwerp. Of dit dáár of hiér was, weet ek nou nie meer nie, maar iewers was daar ʼn misverstand, ʼn groot misverstand, en die gebou is amper ʼn honderd jaar gelede (99 om presies te wees) agterstevoorom op die grens van Joubert park neergesit.




Dis maar eers in 1986 dat ʼn poging aangewend is om ʼn voorkant aan die agterkant te kry. En dit was ʼn goeie poging. (Die argitekte wat betrokke was, se oorsig is hier, maak ook seker jy kyk na die foto’s.)




Ek was toe op universiteit en het nie meer so gereeld daar gekom nie, trouens glad nie. Ons is gister, Annieka en Klaradyn vir die eerste keer, en ek, vir die eerste keer in amper 20 jaar, deur Johannesburg kunsgalery toe.

Ek wou Klaradyn al Desember neem, maar die dag wat ons deurgeskiet het Johannesburg toe, was net te vol ander opwindende museumbesoeke, die kunsgalery moes wag tot gister.

Die graad 4's is voor die vakansie Pretoria kunsmuseum toe. Klaradyn het effe teleurgesteld terug gekom.

Deels omdat hulle in rye moes beweeg, en nie eers saaam met hulle maatjies nie. (Ek is 'n onderwyser - dit maak vir my perfekte sin.)

Grotendeels egter oor die oom se reaksie toe sy, nogal in Engels, vir hom vra waar hulle Da Vinci- skilderye hang. Hy het hulle glo net ses skilderye gewys, elkeen in 'n ander saal, en dit was, soos sy dit stel, "only South-African artists."

So ons is deur om die groot en bekende name te sien. Ek het darem onthou van die El Greco wat 'n ruk gelede daar uitgedra is.

Die Picasso, wat destyds so 'n oproer veroorsaak het toe Johannesburg dit teen so 'n buitensporige bedrag aangekoop het, sou eerste wees. Dit het daardie jare agter so groen blinder gehang. En as jy wou kyk het ʼn oom die blinder gelig.




Ons blaai ook gereeld deur my Dali-boeke. Ek wou haar Johannesburg se regte egte Dali wys.




Ek wou haar Rodin se Lady Fairfax wys. Ek wou stout wees – ek wou haar voor die beeld staan maak en haar aanspoor om liggies met haar hand oor die vrou se sagte melkwit gelaatstrekke te streel. Nie dat ek dit regtig sou doen nie. Dis net dat die vrou se ewigdurende jong gelaat ʼn mens (of is dit net ek?) altyd aanspoor om presies dit te wil doen.




O, liewe hemel! Watter mors van kosbare vakansietyd! Watter teleurstelling!


Art in the Park - gister en vandag

Vergeet die verval van Johannesburg se sentrale sakekern – ek het vooraf geweet ek plaas my gesin se veiligheid op die spel om enigsins daar te wil in met hulle. Maar ek was bereid om ʼn martelaar vir die skone kunste te wees en die risiko te loop.

Ag, liewe hemel, die galery self het net so agteruit gegaan soos sy omgewing.

Hele vertrekke was leeg – en nee, dit was nie ʼn wisseling van uitstalling of die een of ander vreemde installasie waar jy na wit mure moet kyk nie, daar was bloot net niks.

En dan verwys ek ook nie na die huidige Stephen Hobbs-installasie in ʼn deel van die museum wat jy op eie risiko betree omdat dit ernstige renovasie moet ondergaan nie. Dit was trouens baie interessant en ʼn belewenis.

Ek verwys na sale en vertrekke in die res van die galery.

Daar waar Oro del Peru se uitstalling was, is ʼn installasie van ʼn paar jaar gelede wat verval. Ek weet nie of dit strakkies  ʼn verlengstuk van Hobbs se “End of Exhibition”-installasie is nie, en of die deur net toevallig oop was nie en ek ingestap het waar ek nie moes instap nie.

Dit was net geensins moontlik om entoesiasties te wees oor ʼn enkele iets nie. Ek dink nie eers as ʼn helikopter ons daar afgelaai het en ons nie aan Johannesburg se verval uitgelewer was nie, sou ons die besoek kon geniet nie.

Ons het nie parkeer waar besoekers moet parkeer nie, ons het liefs aan die ou agterkant waar drie museumwerkers se motors parkeer is, stilgehou.

En toe moes ons omstap na die nuwe hoofingang. Vuil, vieslik, verval, smetterig, vullis, rommel, dood.

Van alles wat ek wou sien, wat ek met Klaradyn wou deel, die  Auguste Rodin, Dante Gabriel Rossetti, Pablo Picasso, Camille Pissarro, Claude Monet, Edgar Degas and Henry Moore, Gerard Sekoto, Walter Battiss, Alexis Preller, Maud Sumner, Sydney Kumalo, Ezrom Legae en Pierneef, is net die Rodin, Sekoto en Kumalo tans te besigtig.

En ja, Klaradyn het lank na Lay Fairfax gestaar, maar, nee, ek het haar nie laat streel nie. Nie dat daar ʼn enkele oom was, wat ons sou gekeer het nie. Behalwe vir Pappa, Mamma en Klaars het ons net twee ander mense gesien – die man by die ingang wat gesê het dat die toegangshek stukkend is, ons moet óm stap, en die vrou in die galery se winkel.

Ek wou nog by die winkel vra of daar steeds eksemplare van Oro del Peru – Peru se goue rykdom/Peru’s golden treasures beskikbaar is. Maar daar het ons nie eers ingeloer nie.

Laat ek dan nou maar die pale white male wees wat nie vrede kan maak met die veranderinge in die land nie. Ek gee nie om nie.

Die besoek was nou maar net een maal só ʼn teleurstelling, ek verander sommer die onderwerp van Joubert park na Oppenheimer park.

Wie onthou nog die Impalas in dié park?



Dit was destyds nie lank nie of daar het niks van oorgebly nie – die munisipaliteit het darem ʼn bankie gesit waar die beeld eers was.




Ek sien daar is weer bokkies in die park.




Al betwyfel ek dit ten sterkste of ek en enige iemand van my gesit ooit weer die Johannesburg kunsgalery sal besoek, is alles is nié verlore nie.

1.4.14

Soos oestyd vir ʼn landbouer, lamtyd vir ʼn veeboer

Waaroor ek in 1982 my matriekmondeling gedoen het, kan ek wraggies nie onthou nie. Ek onthou nie eers of ons elkeen na skool, soos nou al baie jare die geval is, gehad het nie.

Ek onthou my rekordeksamen–opstel in Afrikaans. Dit was een van Roald Dahl se kortverhale wat ek, in die hoop dat my onnie dit nog nie gelees het nie, geparafraseer en in Afrikaans aangebied het.

Sy het nie, en ek het met ʼn onderskeiding weggestap.

In die eindeksamen het ek weer so gemaak, hierdie keer ʼn ander storie.

Die een was Hans Moolman se verwerking van “Lamb to slaughter”. Iemand maai iemand anders met ʼn bevrore skaapboud af en prop dan die boud in die oond. Later, as hulle om die tafel aan die boud smul, maak iemand die opmerking dat hy daarvan oortuig is dat die moordwapen reg onder hul neuse is en die moordenaar knik instemmend saam.

Die ander hou verband met die man wat ʼn bootreis moet vertraag om ʼn groot som geld te wen. Hy sorg dat hy duidelik hoor- en sigbaar is vir ʼn vrou wat alleen op die dek staan en oor die water uit tuur. Dan “val” hy met luide geskree, sy arms en bene soos die wuiwende palms van Egipte, “per ongeluk” oorboord. Net jammer die eensaam figuur op die dek is nie net blind nie, maar doof toe ook daarby.

Lyk my dis ook net Bart Nel en Gelofteland wat daardie jare se Afrikaans-onderwysers gelees het. Roald Dahl het by hulle verby gegaan.

As ek nie nou iets te vertelle had oor mondelinge stelwerk nie, het ek nou boekrak toe gestap en my Collected Short Stories van Roald Dahl gaan uithaal.

First things first:

Die tandarts by wie verlede week was, was sy betrokke middag die laaste aan die beurt. Hy het ʼn volkswagen tot onder die klasvenster gebring en my soheentoe gelei vir sy praatjie rondom die motor waaraan hy die hele jaar gewerk het. Hy kon gelieg het, ek weet nie, maar dat die man ʼn ding met wiele het, is ʼn feit. Ek dink hy was ʼn jaar in ʼn praktyk, toe ry hy al ʼn motor wat meer as my huis kos. Ek praat onder korreksie, maar ek dink nie ek was een keer by sy spreekkamers (en ek is een of twee keer ʼn jaar daar) dat daar nie ʼn nuwe motor onder sy afdak staan nie. So nee, ek dink nie hy het gejok oor die volla nie. Ek wonder of hy kan onthou wat ek hom gevra het vir die onvoorbereide deel van sy eksamen. Ek kan.

ʼn Tydgenoot van hom, vandag ʼn geskiedenis- of aardrykskunde-onnie, het oor Nelson Mandela en die ANC kom uitwei – in 1991 was dit radikaal vir ʼn jong Afrikaner.

Dié se ander skoolmaat het weer oor die sewe wonders van die antieke wêreld kom praat.

Ek het een middag, ook een van die gewilde laaste sessies van die dag, ʼn “blow job” én ʼn “woman’s revenge” gekry. Die meisie se ou was al klaar met skool en het in ʼn kroeg naby die skool gewerk. Ek moes die middag nog twee ander alkoholiese mengsels in klein glasies wegslaan wat hy daar aangebring het.

Dit hét meer seksueel van aard ook geword. Een dogter het aangemeld met elke denkbare vorm van voorbehoedmiddel onder die son. Daar was goed vir mans en goed vir vrouens en dinge wat ek daarna nog nooit weer in my ganse lewe gesien of selfs van gehoor het nie.

Iemand se pa of boetie was in die polisie – die kind het met dagga daar aangekom.

ʼn Ander met ʼn menslike fetus in ʼn bottel.

Ek verbeeld my dit was die jaar wat ek ook ʼn tuisgemaakte pizza gekry het. Wéér ʼn laaste sessie. Die kind het die ding, warm uit die huishoudkundesentrum se oond daar aangebring.

Dis nou al jare dat die kinders in groepe van vier of ses by jou aansluit. Vroeër jare was dit nie die geval nie. Ek onthou ʼn Willie wat ook sy naam doelbewus laaste op die lys geplaas het, laaste want dit is dan al donker. Hy het wit gegrimeer, in ʼn swart rokgedoente met ʼn kers in sy hand daar opgedaag. Sy onderwerp was spoke. Hy het voorgelees uit een van Leipoldt se spookstories.

Iemand het een jaar ʼn hoender kom hipnotiseer. Daar sit ons toe in die klas wat voor my oë in ʼn katatoniese stilstand gegaan het.

Een van drie boeties het met een van sy wedvlugduiwe daar aangekom, en die hokkies waarby hulle moet inklok.

Ek spoor die leerders altyd aan om van hulpmiddels gebruik te maak. Hulpmiddels trek die spreker se aandag van my wat sit en punte gee af – dit maak die situasie net meer draaglik.

Ek onthou ʼn motorfietsenjin in die klas. As ek my dit nie mis het nie, was dit die wedvlugduifseun se boetie.

Dan was daar die seun, ek het hom na skool al een keer raakgeloop, wat my kom vertel het van die bordeel wat hy na skool gaan oopmaak. Sy hulpmiddel was ʼn gedetailleerde vloerplan van die plek. En hy het nie van ʼn bordeel gepraat nie, hy het weggeval met die hoerhuis wat hy gaan inrig. Toe ek hom so vyf of ses jaar gelede in die Spar raakloop, wou ek hom dadelik vra of hy toe sy droom verwesenlik het, maar ek was te ongemaklik.

Vir ʼn goeie sewe of agt jaar het elke seun wat rekenaarwetenskap had, my kom vertel hoe ʼn rekenaar werk. En vir sewe of agt jaar, met gemiddeld so vyf seuns elke jaar, moes ek elke keer reageer of dit my eerste keer was. Dit was hel. Veral omdat ek vandag nog nie weet hoe dit werk nie. Ek onthou woorde soos binêr en dat alles in terme van ʼn “1” of ʼn “0” kodeer word.

Guilhermina Da Conceicao da Trinidade, ʼn swart Angolese dogter, had my in vervoering oor die vreemde begrafnisrituele van die verskillende swart bevolingsgroepe in Angola. Toe ek haar ʼn paar jaar later op ʼn reünie daaraan herinner, bars sy uit van die lag – dit was alles blote versinsel, sy het geweet ek sal mal wees oor die een of ander antropologiese storie.

ʼn Meisie het een keer haar vriendin se hare in die klas kom sny. Verdomp of ek kan onthou of dit die girl is wat mý hare in die klas gesny het. (Dit was egter nie vir ʼn mondeling nie, dit was suiwer vir ʼn haarsny, een pouse in die klas.

Ek sal die belly-dancer nooit vergeet nie. Ek het haar naam al lankal vergeet. Dis omdat daar so baie ander dinge is om te onthou; haar naam sal die laaste wees om plek in my geheue voor in te ruim.

Een seun het vir drie jaar in ʼn ry met ál sy hengelgerei klas toe gekom. Twee keer ʼn jaar. Ek het hom van graad 10 af gehad. Of ons nou geleentheidstoesprake, pleidooie of redenaarstoesprake gehou het, hy het met pap en aas en wurms en katrolle en stokke daar opgedaag. Ek het egter vroeg reeds geweet dat dit al is hoe ek hom ooit aan die praat sou kry, ook nooit in klastyd nie, maar na skool, op sy eie.

Die wit en swart verskyning met die kers (die seun hou ook nou skool) had my nie bang nie, maar ja, ek was al bang ook, vrekbang. En dit deur my eie toedoen en siek verbeelding. Dié betrokke seun had ʼn paar lense oor sy oë wat dikker was as die vergrootglas waarmee my oorlede ouma uit haar Bybel gelees het. En wat sy bril met die twee pupille agter die lens gedoen het was monsteragtig en reguit uit ʼn wetenskapsfiksierolprent – honderd maal erger as wat Ouma se vergrootglas met die lettertjies van haar Bybel gedoen het.

Die seun, nie daartoe gebore in staat om emosie van enige aard te toon nie, kom ons sê dit maar – soos ʼn zombie, het oor rekenaars kom praat. ʼn Slim seun, ʼn nerd, maar nie tingerig en in grys nie, groot en gespierd. En soos ʼn zombie. Ek luister nie ʼn enkele woord nie – van rekenaars kon jy my nie ʼn woord vertel nie, ek het elke toespraak al amper uit die kop kon opsê (almal het dieselfde hoofstuk in dieselfde handboek as vertrekpunt gebruik). Ek hou net die monsterspel van die pupille agter die glas dop. En jaag allerhande voorspooksels op van hoe ek hier vermoor word, en word ek nie vermoor nie, neem die gedaante my na sy moederskip vir waarneming en navorsing op ʼn veraf planeet.

Die mondeling is elke jaar die bevredigendtse deel van elke skooljaar met matrieks. Behalwe om ʼn leerder in buitemuurse hoedanigheid op die verhoog of sportveld te leer ken, is daar nêrens ʼn beter geleentheid om jou leerders te leer ken as juis met die mondeling nie.

Daar ís in inderdaad kinders wat in ses maande voor jou in die klas nie ʼn enkele iets van hulself verklap nie, súiwer omdat hulle nie in groot groepe funksioneer nie, maar maak jy die slag oog tot oog kontak, net die twee van hulle, dan ontpop daar die interessantste kind met die aangenaamste persoonlikheid denkbaar.

Ek sien die seun voor my, presies waar hy in my klas gesit het, maar kan sy naam nie onthou nie, dit was immers 1990. Hy het, kort en klein en stil en stadig en lui en sleg soos hy was, kom vertel van die leeu wat hy geskiet het – met foto’s om dit te bewys.

Van die stilste en teruggetrokste seuns én dogters word soos verlepte tulpe wat skielik water kry en trek die sluier voor hul binneste vir ʼn oomblik vir jou oop.

En ja, ek het al gehuil ook. Dis nou al jare en ek het dit nog nie vergeet nie, een van die stilste seuns in die graadgroep het as kleinseun by sy oupa se graf kom staan en sy huldeblyk met my gedeel. Dit was ʼn kleinseun van Antjie Krog se pa, maar ʼn susterskind, nie haar eie nie. En toe huil ons saam.

Ek het verlede week net so lekker gehuil.

Daar was vier dogters in die klas. Eers het die een ʼn maatjie in trane. Die kinders lewer geleentheidstoesprake en die spreker wens haar maatjie geluk met haar 21ste versjaarsdag, sy dit só eerlik, opreg en openhartig, dat selfs ʼn baksteen ʼn traan sou pik.  

Laaste spreker is die dogter wat as ʼn enigste kind oor haar pa kom gesels, ek het aanvanklik gedink dis by ʼn verjaarsdag of iets. En daar sê hierdie kind die mooiste goed oor haar pa. Nou kan ʼn pa self nie anders nie as om sy eie kind, Klaradyn, in die geestesoog op te roep en te hoop en bid dat sy ook eendag sulke mooi goed oor haar haar eie pa te sê sal hê. En halfpad deur die praatjie sit ek twee en twee bymekaar: ek luister nie na ʼn gelukwensing nie, maar na ʼn huldeblyk, hierdie pa, hoor ek, is vroeër die jaar in ʼn motorongeluk oorlede.

Dit was weer eens die laaste sessie van ʼn lang dag, ek was ook al moeg, dit was ook nie net die laaste sessie van die dag nie, maar die laaste van twee weke se mondeling. En daar word ek ʼn verleentheid vir myself en dogters en tjank te lekker saam.

Maar ek sal dit weer en weer en oor en oor doen. Om die voorreg te hê om kinders se opstelle kan merk, is nie naastenby so lekker (trouens en inteendeel...) soos om na hul toesprake te luister nie. Dis soos oestyd vir ʼn landbouer, lamtyd vir ʼn veeboer, nagmaal vir ʼn dominee en Kersfees vir ʼn kok.

Nou gaan ek eers lees, ek en oorle meneer Dahl het ʼn afspraak om na te kom.