Pages

1.4.14

Soos oestyd vir ʼn landbouer, lamtyd vir ʼn veeboer

Waaroor ek in 1982 my matriekmondeling gedoen het, kan ek wraggies nie onthou nie. Ek onthou nie eers of ons elkeen na skool, soos nou al baie jare die geval is, gehad het nie.

Ek onthou my rekordeksamen–opstel in Afrikaans. Dit was een van Roald Dahl se kortverhale wat ek, in die hoop dat my onnie dit nog nie gelees het nie, geparafraseer en in Afrikaans aangebied het.

Sy het nie, en ek het met ʼn onderskeiding weggestap.

In die eindeksamen het ek weer so gemaak, hierdie keer ʼn ander storie.

Die een was Hans Moolman se verwerking van “Lamb to slaughter”. Iemand maai iemand anders met ʼn bevrore skaapboud af en prop dan die boud in die oond. Later, as hulle om die tafel aan die boud smul, maak iemand die opmerking dat hy daarvan oortuig is dat die moordwapen reg onder hul neuse is en die moordenaar knik instemmend saam.

Die ander hou verband met die man wat ʼn bootreis moet vertraag om ʼn groot som geld te wen. Hy sorg dat hy duidelik hoor- en sigbaar is vir ʼn vrou wat alleen op die dek staan en oor die water uit tuur. Dan “val” hy met luide geskree, sy arms en bene soos die wuiwende palms van Egipte, “per ongeluk” oorboord. Net jammer die eensaam figuur op die dek is nie net blind nie, maar doof toe ook daarby.

Lyk my dis ook net Bart Nel en Gelofteland wat daardie jare se Afrikaans-onderwysers gelees het. Roald Dahl het by hulle verby gegaan.

As ek nie nou iets te vertelle had oor mondelinge stelwerk nie, het ek nou boekrak toe gestap en my Collected Short Stories van Roald Dahl gaan uithaal.

First things first:

Die tandarts by wie verlede week was, was sy betrokke middag die laaste aan die beurt. Hy het ʼn volkswagen tot onder die klasvenster gebring en my soheentoe gelei vir sy praatjie rondom die motor waaraan hy die hele jaar gewerk het. Hy kon gelieg het, ek weet nie, maar dat die man ʼn ding met wiele het, is ʼn feit. Ek dink hy was ʼn jaar in ʼn praktyk, toe ry hy al ʼn motor wat meer as my huis kos. Ek praat onder korreksie, maar ek dink nie ek was een keer by sy spreekkamers (en ek is een of twee keer ʼn jaar daar) dat daar nie ʼn nuwe motor onder sy afdak staan nie. So nee, ek dink nie hy het gejok oor die volla nie. Ek wonder of hy kan onthou wat ek hom gevra het vir die onvoorbereide deel van sy eksamen. Ek kan.

ʼn Tydgenoot van hom, vandag ʼn geskiedenis- of aardrykskunde-onnie, het oor Nelson Mandela en die ANC kom uitwei – in 1991 was dit radikaal vir ʼn jong Afrikaner.

Dié se ander skoolmaat het weer oor die sewe wonders van die antieke wêreld kom praat.

Ek het een middag, ook een van die gewilde laaste sessies van die dag, ʼn “blow job” én ʼn “woman’s revenge” gekry. Die meisie se ou was al klaar met skool en het in ʼn kroeg naby die skool gewerk. Ek moes die middag nog twee ander alkoholiese mengsels in klein glasies wegslaan wat hy daar aangebring het.

Dit hét meer seksueel van aard ook geword. Een dogter het aangemeld met elke denkbare vorm van voorbehoedmiddel onder die son. Daar was goed vir mans en goed vir vrouens en dinge wat ek daarna nog nooit weer in my ganse lewe gesien of selfs van gehoor het nie.

Iemand se pa of boetie was in die polisie – die kind het met dagga daar aangekom.

ʼn Ander met ʼn menslike fetus in ʼn bottel.

Ek verbeeld my dit was die jaar wat ek ook ʼn tuisgemaakte pizza gekry het. Wéér ʼn laaste sessie. Die kind het die ding, warm uit die huishoudkundesentrum se oond daar aangebring.

Dis nou al jare dat die kinders in groepe van vier of ses by jou aansluit. Vroeër jare was dit nie die geval nie. Ek onthou ʼn Willie wat ook sy naam doelbewus laaste op die lys geplaas het, laaste want dit is dan al donker. Hy het wit gegrimeer, in ʼn swart rokgedoente met ʼn kers in sy hand daar opgedaag. Sy onderwerp was spoke. Hy het voorgelees uit een van Leipoldt se spookstories.

Iemand het een jaar ʼn hoender kom hipnotiseer. Daar sit ons toe in die klas wat voor my oë in ʼn katatoniese stilstand gegaan het.

Een van drie boeties het met een van sy wedvlugduiwe daar aangekom, en die hokkies waarby hulle moet inklok.

Ek spoor die leerders altyd aan om van hulpmiddels gebruik te maak. Hulpmiddels trek die spreker se aandag van my wat sit en punte gee af – dit maak die situasie net meer draaglik.

Ek onthou ʼn motorfietsenjin in die klas. As ek my dit nie mis het nie, was dit die wedvlugduifseun se boetie.

Dan was daar die seun, ek het hom na skool al een keer raakgeloop, wat my kom vertel het van die bordeel wat hy na skool gaan oopmaak. Sy hulpmiddel was ʼn gedetailleerde vloerplan van die plek. En hy het nie van ʼn bordeel gepraat nie, hy het weggeval met die hoerhuis wat hy gaan inrig. Toe ek hom so vyf of ses jaar gelede in die Spar raakloop, wou ek hom dadelik vra of hy toe sy droom verwesenlik het, maar ek was te ongemaklik.

Vir ʼn goeie sewe of agt jaar het elke seun wat rekenaarwetenskap had, my kom vertel hoe ʼn rekenaar werk. En vir sewe of agt jaar, met gemiddeld so vyf seuns elke jaar, moes ek elke keer reageer of dit my eerste keer was. Dit was hel. Veral omdat ek vandag nog nie weet hoe dit werk nie. Ek onthou woorde soos binêr en dat alles in terme van ʼn “1” of ʼn “0” kodeer word.

Guilhermina Da Conceicao da Trinidade, ʼn swart Angolese dogter, had my in vervoering oor die vreemde begrafnisrituele van die verskillende swart bevolingsgroepe in Angola. Toe ek haar ʼn paar jaar later op ʼn reünie daaraan herinner, bars sy uit van die lag – dit was alles blote versinsel, sy het geweet ek sal mal wees oor die een of ander antropologiese storie.

ʼn Meisie het een keer haar vriendin se hare in die klas kom sny. Verdomp of ek kan onthou of dit die girl is wat mý hare in die klas gesny het. (Dit was egter nie vir ʼn mondeling nie, dit was suiwer vir ʼn haarsny, een pouse in die klas.

Ek sal die belly-dancer nooit vergeet nie. Ek het haar naam al lankal vergeet. Dis omdat daar so baie ander dinge is om te onthou; haar naam sal die laaste wees om plek in my geheue voor in te ruim.

Een seun het vir drie jaar in ʼn ry met ál sy hengelgerei klas toe gekom. Twee keer ʼn jaar. Ek het hom van graad 10 af gehad. Of ons nou geleentheidstoesprake, pleidooie of redenaarstoesprake gehou het, hy het met pap en aas en wurms en katrolle en stokke daar opgedaag. Ek het egter vroeg reeds geweet dat dit al is hoe ek hom ooit aan die praat sou kry, ook nooit in klastyd nie, maar na skool, op sy eie.

Die wit en swart verskyning met die kers (die seun hou ook nou skool) had my nie bang nie, maar ja, ek was al bang ook, vrekbang. En dit deur my eie toedoen en siek verbeelding. Dié betrokke seun had ʼn paar lense oor sy oë wat dikker was as die vergrootglas waarmee my oorlede ouma uit haar Bybel gelees het. En wat sy bril met die twee pupille agter die lens gedoen het was monsteragtig en reguit uit ʼn wetenskapsfiksierolprent – honderd maal erger as wat Ouma se vergrootglas met die lettertjies van haar Bybel gedoen het.

Die seun, nie daartoe gebore in staat om emosie van enige aard te toon nie, kom ons sê dit maar – soos ʼn zombie, het oor rekenaars kom praat. ʼn Slim seun, ʼn nerd, maar nie tingerig en in grys nie, groot en gespierd. En soos ʼn zombie. Ek luister nie ʼn enkele woord nie – van rekenaars kon jy my nie ʼn woord vertel nie, ek het elke toespraak al amper uit die kop kon opsê (almal het dieselfde hoofstuk in dieselfde handboek as vertrekpunt gebruik). Ek hou net die monsterspel van die pupille agter die glas dop. En jaag allerhande voorspooksels op van hoe ek hier vermoor word, en word ek nie vermoor nie, neem die gedaante my na sy moederskip vir waarneming en navorsing op ʼn veraf planeet.

Die mondeling is elke jaar die bevredigendtse deel van elke skooljaar met matrieks. Behalwe om ʼn leerder in buitemuurse hoedanigheid op die verhoog of sportveld te leer ken, is daar nêrens ʼn beter geleentheid om jou leerders te leer ken as juis met die mondeling nie.

Daar ís in inderdaad kinders wat in ses maande voor jou in die klas nie ʼn enkele iets van hulself verklap nie, súiwer omdat hulle nie in groot groepe funksioneer nie, maar maak jy die slag oog tot oog kontak, net die twee van hulle, dan ontpop daar die interessantste kind met die aangenaamste persoonlikheid denkbaar.

Ek sien die seun voor my, presies waar hy in my klas gesit het, maar kan sy naam nie onthou nie, dit was immers 1990. Hy het, kort en klein en stil en stadig en lui en sleg soos hy was, kom vertel van die leeu wat hy geskiet het – met foto’s om dit te bewys.

Van die stilste en teruggetrokste seuns én dogters word soos verlepte tulpe wat skielik water kry en trek die sluier voor hul binneste vir ʼn oomblik vir jou oop.

En ja, ek het al gehuil ook. Dis nou al jare en ek het dit nog nie vergeet nie, een van die stilste seuns in die graadgroep het as kleinseun by sy oupa se graf kom staan en sy huldeblyk met my gedeel. Dit was ʼn kleinseun van Antjie Krog se pa, maar ʼn susterskind, nie haar eie nie. En toe huil ons saam.

Ek het verlede week net so lekker gehuil.

Daar was vier dogters in die klas. Eers het die een ʼn maatjie in trane. Die kinders lewer geleentheidstoesprake en die spreker wens haar maatjie geluk met haar 21ste versjaarsdag, sy dit só eerlik, opreg en openhartig, dat selfs ʼn baksteen ʼn traan sou pik.  

Laaste spreker is die dogter wat as ʼn enigste kind oor haar pa kom gesels, ek het aanvanklik gedink dis by ʼn verjaarsdag of iets. En daar sê hierdie kind die mooiste goed oor haar pa. Nou kan ʼn pa self nie anders nie as om sy eie kind, Klaradyn, in die geestesoog op te roep en te hoop en bid dat sy ook eendag sulke mooi goed oor haar haar eie pa te sê sal hê. En halfpad deur die praatjie sit ek twee en twee bymekaar: ek luister nie na ʼn gelukwensing nie, maar na ʼn huldeblyk, hierdie pa, hoor ek, is vroeër die jaar in ʼn motorongeluk oorlede.

Dit was weer eens die laaste sessie van ʼn lang dag, ek was ook al moeg, dit was ook nie net die laaste sessie van die dag nie, maar die laaste van twee weke se mondeling. En daar word ek ʼn verleentheid vir myself en dogters en tjank te lekker saam.

Maar ek sal dit weer en weer en oor en oor doen. Om die voorreg te hê om kinders se opstelle kan merk, is nie naastenby so lekker (trouens en inteendeel...) soos om na hul toesprake te luister nie. Dis soos oestyd vir ʼn landbouer, lamtyd vir ʼn veeboer, nagmaal vir ʼn dominee en Kersfees vir ʼn kok.

Nou gaan ek eers lees, ek en oorle meneer Dahl het ʼn afspraak om na te kom.

No comments: