Pages

29.10.14

Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd, met ʼn goeie dosis somerreën

Ons het ons eerste somerreën gehad. Vir jare vermaan ons Pretorianers mekaar om nie opgewonde te wil raak of van reën as reën te praat as die eerste katspoegie stoffies opjaag nie – dit reën immers nie in Pretoria voor Paul Kruger nie verjaar nie.

Vanjaar was daar voor die oubaas se geboortedag nie eens ʼn enkele belowende wolkie in die lug nie, wat nog te sê ʼn lekseltjie genade.

Ons het ook al vergeet dat 10 Oktober lankal gekom en weer gegaan het, en steeds geen reën wat as reën kan deurgaan nie, nie óp sy gedenkdag nie, nie daarna nie – selfs nie eens ʼn enkelte druppeltjie wat nié as reën kan deurgaan nie.

Die ander volgsgeloof rondom Oom Paul en reën op sy dorp wat darem vanjaar die bygeloof gestand gehou het, is die een rondom die rigting waaruit die wolke wat reën bring, kom. “As dit nie agter Oom Paul se gat aan- en toepak nie, kom dit nie reën nie.” (En dan, het ek 25 jaar gelede toe ek in Moot aangekom het, uitgevind, verwys hulle na sy standbeeld op Kerkplein.)

Hier wás die laaste twee weke inderdaad, die tiende van vandeesmaand óók, allerhande donker wolkies, maar elke keer, gooi jy jou oë in die rigting van die plein, dan is dit duidelik: ons kan maar vergeet van reën, Paul Kruger se gat is helder oop, dié wolkies kom nie uit sy rigting nie, hulle dra straks reën, maar reën vir ons is dit nie.

Gister toe Annieka vroegmiddag weer begin praat van reën, toe praat ek haar nie teë nie – Oom Paul Kruger se standbeeld op die plein en waar die wolke begin uithang het, het my vertel om my bek maar te hou.

Toe dit gisteraand begin sous, toe gooi die drie van ons, ons arms om mekaar en vertel die een die ander die oog- en oorlopende – dit reën.

“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”/ En haar krale skud, / en haar koperringe blink…”

Skielik, oornag, ís Oktober weer die mooiste-mooiste maand en nie sommer meer net “droogtemaand” nie. Beslis nie wat die gemoed betref nie. En ons erf nie.

Elders, soos die weerman altyd te sê had, bly dit oor groot dele van die land nog “mooi weer en warm” – en in baie opsigte kom dit neer op droogte en boere wat saai in die geloof dat dit gaan kom reën.

Ek het jare gelede ʼn praatjie met iemand, wat meer van die dinge weet as ek, oor die radio gehoor. Die persoon had te vertelle dat allerhande dinge soos padwoede en selfdood nóú, ná die eerste werklike reën en al die ontlading wat daarmee saamval, dadelik drasties beginne afplat.

Nie net die boere wat wag vir die reën nie, ook die hospitale en polisie, sielkundiges en psigiaters.

Dit klink dalk bietjie dik vir ʼn daalder, tog maak dit vir my genoeg sin dat ek dit na baie jare steeds nog nie vergeet het nie.

ʼn Vriend se vol hart maak sy mond vanoggend vroeg al op Facebook oorloop met: 40 mills in die nag gereën (...) En dit val steeds en steeds, saggies...’Then sings my sole.....!!’"

Dit was douvoordag en straks het hy “soul” bedoel. Maar nie noodwendig nie – jeuk ons almal se voetsole nie, sing hulle nie en roep hulle nie uit nie!

“Want die werf is wyd en die bruilof groot... O, die dans van ons Suster!”

Myne doen. En dis nie net van die reën nie. Klaradyn het ʼn klein kinder-Kook-en-Geniet present gekry en vaar nou al om die ander dag die kombuis in. Vlakoekies, skons, heuningtert, improvisasies (met wisselende sukses) en dring saans daarop aan om te roerbraai (wanneer ons roerbraai eet).

En dan moes die skool van my versugting/dreigement te hore gekom het. Toe die nuutste Kuns-en-Kultuur-taak hier aankom, is dit genadiglik nie nóg ʼn musiekinstrument nie. In vyf jaar skool, tel jy graad O by, het ons nou al ses musiekinstrumente gemaak, en kom my kind in haar hele skoolloopbaan nog met een enkele musiekinstrumenttaak by die huis aan, gaan ek afblaas soos geen ouer in die ganse geskiedenis van uitkomsgebaseerde onderwys (hier én oorsee) nog ooit afgeblaas het nie.

Hierdie keer moet ons gelukkig ʼn droomvanger maak.

Ek is nie vreeslik lus om hart en siel in te klim nie en stel voor ons gesin moet geloofsbeswaardes wees wat nie bereid is om hierdie heidense implement van Satan en sy trawante te maak nie.

Daar sál sulke ouers wees, ek hou op hoërskool vir hul kinders skool. So waarom moet hulle alleen wees. Ons Moolmans kan ʼn verenigde front met hulle vorm.

Maar toe ek eers op die internet oor die goed gelees het, toe wil ek Klaradyn nie meer bystaan met die maak van hare nie, nee, toe wil ek my eie óók maak.

En dis presies wat ons toe doen: ons sorg dat ons genoeg van alles het om twee droomvangers te maak.

Het jy geweet:  Droomvangers het hul oorsprong by die Ojibwe, ʼn inheemse Amerikaanse Rooihuidstam. Aanvanklik is ʼn ragfyn spinnerak oor ʼn sirkel wat uit takkies gevleg is. gespan. Dit is by jou bed gehang. Hierdie net of web sou dan slegte drome vang en net die goeies deurlaat om die slaper te besoek. Vere is aan seninglinte geheg en aan die onderkant van die sirkel geheg. Hierdie vere het vir die mooi drome se sagte landing gesorg.

Natuurlik is daar ander weergawes ook: die slegte drome wat deur die slapende vrygelaat word, ontsnap deur die web, terwyl die goeies agterbly om in die toekoms bewaarheid te word.

Kraletjies en kleine tierlantyntjies en polfyntjies word ook glo ingewerk.

Toegerus met al hierdie mumbo jumbo het ek en Klaradyn toe ʼn lieflike oggend terwyl ek eintlik Daddy Day Care speel met Mamma by die skool vir werk.

Die eerste vakansie van ons getroude lewe saam, is ek en Annieka Kalahari Gemsbok Park toe. Iewers langs die pad koop ons toe ʼn bewertjie wat na bewering deur ʼn rasegte lid van die San-gemeenskap gemaak is.

Ons outentieke San-artefak herinner seker baie aan die brokkies van die muur wat Duitsland geskei het en vandag nog oral in die land te koop aangebied word. En dít herinner op hul beurt weer aan die splinters van Jesus se kruis wat in die vroeë Middeleeue die ronde gedoen het...

Maar dit het ons tóé, toe ons dit gekoop het, nie gepla nie. Wat ons gepla het, toe ons by die huis kom, is dat die ding baie effentjies en eintlik so lelik soos die nag is.

Maar dit weggooi, kon ek nie. Selfs met die tannie wat dit gemaak het se naam nog op die etiket, is dit veertien jaar later in aktiwiteitskas vol kunsvlytgoeterstes.

Toe snipper ek die bewertjie op en hang aan my droomvanger sewe verskillende glyplankies met veertjies onderaan vir daai veersagte landing – een vir elke nag van die week se soete drome.

Sodra ek my kamera opspoor, spog ek met meer as ʼn selfoonfoto. Met myne, én met Klaradyn sʼn (wat sy toe 100% op haar eie moes maak omdat haar pa so hart en siel betrokke was in die maak van sy eie.)

Pappa s'n

Die vere in die sirkel self is aan 'n kraletjie vas. Die kraletjies is van 'n -P, -M en -K (vir Pappa, Mamma en Klaars.) Heel simbolies uitgedink deur die merrieperd.

Klaars s'n

In die middel van die spinnerak is daar 'n ietsie - dit "simboliseer" die spinnekop wat die web gespin het. (Die rooihuidstam het een woord wat tegelyk na 'n spinnekop en so 'n droomvanger verwys, maar die detail ontgaan my nou.)

Somerreën en droomvangers en aandete en Kinder Kook en Geniet hoort seker nie in een inskrywing nie, maar wat die hart van vol is...

En toe kom sonsak en daar is ons al drie in die kombuis – elkeen besig met sy eie dis. Klaradyn maak ʼn yskastert, Annieka maak haar eie ander een, en ek maak aandete. Volslae chaos in ʼn kombuis waar een mens moet uitstap as hy ruimte soek om net van plan te verander.

Ons kan nie een verby die ander stap nie, ons moet dwars draai en verby mekaar skuur. En die berg skottelgoed word net al hoe hoër.

Dan is my eie oorlede mammie ook nog in die kombuis – ons maak op ʼn Saterdagaand die oondgeroosterde broodjies wat sy tradisioneel op Sondae gemaak het.

En tussen die klitser en menger en rooster en kookboeke deur, luister ons musiek. En ruik die honde die reën – hulle is al onder, en oor, en deur ons voete en bene.

Dis tóé dat ek besef, op 50 en twee maande: ek kan tegelyk tipeer word as stapelgek en disfunksioneel. Want op daardie oomblik wéét ek een ding:  Ek is op my heel gelukkigste op aande soos hierdie, omring deur my gesin.

Annieka noem dit Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd.

Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd, met ʼn goeie dosis eerste somerreënt dan.










5.10.14

Genade onbeskryflik groot

Die opskrif van hierdie gesels moet eintlik iets anders wees, maar netnou skrik dit ʼn moontlike leser af.

Die opskrif van hierdie gesels is eintlik Liedjies wat my laat huil, om presies te wees:  Liedjies wat my laat huil (1).

Daar is so baie liedjies wat my laat huil dat ons maklik van (1) – (12) sou kon gaan, en dit terwyl  ek teen 12  steeds nog nie uitgehuil sal wees nie.

My ma het altyd, en dan was sy nie vleiend nie, van my ouma gesê dat dié ou vrou maklik haar traankraantjies kon oop- en toedraai soos dit haar pas. En miskien was sy reg – Ouma het darem baie maklik, baie lekker aan die snik gegaan.

Ek het dit nooit gesê nie, maar ek het dit baie gedink, later, toe my ma ouer en my ouma dood was, dat daai vrou wat so maklik kon huil se dogter darem net so maklik ʼn traan of wat kan stort. En so maklik soos Ouma die kraan kon toedraai, so maklik doen Ma haar dit na. Maar dis goed wat ʼn mens kan dink, net nie sê nie.

En nou is ek daar, met Klaradyn wat sagkens oor my rug streel as ek die sluise oopgooi.

So lekker soos dit vir my is om lekker te lag, net so lekker is dit vir my om dan en wan lekker te kan tjank.

In byvoorbeeld ʼn erediens waar dit onvanpas is om uitbundig te lag, kan ek die lag maklik keer. Net so kan ek die trane bedwing waar dit nie gepas is vir ʼn man om te huil nie.

Dis net dat daar so min plekke, geleenthede en omstandighede is waarin ek reken mans nie mag huil nie. Daarom huil ek graag. Dis bevrydend en salwend.

Liedjies vertel seker nie vir alle mense stories nie, maar vir my vertel elke bekende liedjie die een of ander storie, dikwels sommer meer as een storie. Boekdele party kere, kronieke en epogs ander kere.

Om uit dankbaarheid van God se onbeskryflike groot genade te sing, is seker nie iets om hartseer  oor te raak nie, maar elke keer as ek “Amazing Grace” hoor, en ek sing saam, gaan ek al te lekker aan die tjank.

Toegegee, die pragtige melodie is tranetrekkerig verby. En as jy jou in die stem wat in die gedig aan die woord is, se skoene indink (wat seker die gedagte agter dit alles is – jy sing dit immers in die eerstepersoon) tree selfverwyt en diepe berou oor jou ganske lewe ook in. Kortvoorlank is vergeet jy van die dank en huil jy op die maat van Nana Moskouri, Celine Dion, Sarah Brightman of Katherine Jenkins.

Maar eintlik huil ek nie saam met hierdie vrouens  nie, ek huil saam met Tannie Flossie en omdat hulle my aan haar herinner.

Ook nie Tannie Flossie, maar Ant’ Flossy. Ook nie mý tante nie, maar ʼn tante van my ma en my tannie aan my ouma se kant. (Hoeka die een wat so maklik aan het snik kon gaan.)

Ek is nie eers heeltemal seker of hierdie Flossie in ons familie my ouma se suster of skoonsuster was nie. Haar man, Oom Hendry /Uncle Henry was dan Ouma se broer of swaer. Maar hy was al jare dood teen die tyd dat ek gebore is. Ek het van hom net gehoor.

Ek het hierdie Ant’ Flossie hoogstens vier keer in my lewe gesien. Die laaste keer iewers in die middel sewentigs. Of sy toe dood is, en of sy net bloot te oud geword het om al die pad van die Kaap af met die trein vir my ouma te kom kuier, weet ek nie. Ouma het in elk geval te word vir die treinrit Kaap toe, na Flossie en haar oudste suster, Tant Miem, toe. (Tant Miem is soos oom Henry – ek het hulle nooit gesien nie, maar net van hulle gehoor.)

Die kere wat Ant Flossie Rand toe gekom het, het sy natuurlik by haar susterskinders gebly – Ouma was eers in ʼn bacehelor’s flat en toe in ʼn eenvertrek-ouetehuiswoonstelletjie met ʼn kombuisie in die een hoek by die toilet. Ant’ Flos sou regop op die toilet moes sit en slaap as sy by haar sus/skoonsus wou slaap.

En elke keer as Ant’ Flossie kom kuier het, het sy iewers ten tye van haar besoek, op versoek van haar suster, of my ma, of Tannie Anne, vir ons haar unieke weergawe en interpretasie van “Amazing Grace” gesing.

Ouma had selfs 'n foto in haar Bybel van Flos' waar sy die lied staan en sing. Gaan krap ek in Ouma se goed in garage (en sy het al in '86 gegroet) spoor ek dit vir ons op. Die gryse tante se koppie kyk so regs, en op.

So het sy een keer reg langs my bed gestaan en sing, en nie sommer enige bed nie, maar ʼn ernstige siekbed. En ook nie sommer net griep of verkoue nie, die een of ander kindersiekte wat deesdae een van die baie is wat kinders nie sommer meer kry nie.

(Soos ʼn amperse Engel des Doods, verbeel ek my nou veertig jaar later, moes sy daar langs Klein Hansie se koorsige lyfie gestaan en sing het.)

En Ant’ Flossie het “Amazing Grace” gesing soos alle ou tannie met pers gekleurde grys hare daardie jare gesing het: met ʼn trekkerige bewing in haar hoë stem. Nee, dit het geensins herinner aan ʼn Afro-American Negro Spiritual nie, glad nie, suiwer bewerig, trekkerig in ʼn hoge, gekrypte amperse fasetto. “Gesing”, in retrospeksie, is miskien die verkeerde werkwoord, Ant’ Flos het haar unieke interpretasie van “Amazing Grace” gepleeg.

O, maar vir my ontvanklike jong gemoed was dit so mooi. Teen die einde sou én Ouma van Wyk én Ant‘ Flossie ʼn lapsakdoekie van iewers aan hul lyf te voorskyn bring. Hulle sou snik van al die mooi, en die hartseer, en oor Oorle’ Henry en sommer al die dooies en almal en alles wat ʼn traan of wat verdien.

Ek onthou nie dat Ma of Tannie Anne ʼn traan gepik het nie.

Maar deesdae, hoor ek “Amazing Grace”, soos gister toe ek luister hoe Nana Moskouri dit sing – hoe sentimenteel van my nie, gaan ek aan die huil. Oor Ant’ Flossie, oorle’ Ouma van Wyk, oorle’ Tannie Anne, oorle’ Ma, selfs sommer oorle’ Uncle Henry wat ek nooit gesien het of vandag nog selfs op ʼn foto sal herken nie.

Die lied, lees ek op die internet, het ʼn outobiografiese oorsprong. Die skrywer het vroeg in sy lewe van God en Sy gebod vervreem geraak. In plaas van tronk toe, is hy weermag toe gestuur. Maar daar het hy gedros en is hy deur ʼn slaweskip ingeneem. Toe het hy in die destydse slawehandel betrokke geraak. ʼn Paar maal het hy by die dood omgedraai. Een nag, toe die skip onder hom amper vergaan het, het hy kragtig tot bekering gekom en sy lied geskryf.

Hoe kragtig hierdie kragtige bekering was, sal ek ook nie weet nie, want hy het nog ʼn jaar of wat met die slawe deurmekaar gebly, voordat hy hom op die teologie van die laat 1700’s toegespits  het.

Maar dit en Ant’ Flossie daar gelaat:  ek huil op die wysie van “Amazing Grace” oor oorle’/wyle Hans Moolman, my pa, ook,

Net gister sê ek tussen die snik en die snot vir Klaradyn: “Ons het daardie liedjie op my pa se begrafnis gesing. Hulle het nie geweet wat om te sing nie, toe vra hulle my, toe sê ek hulle moet “Amazing Grace” sing.”

Dis natuurlik loutere kale snert.

Ja, hulle hét my pa se enigste seun gevra wat ons moet sing, en ek hét gesê, maar dit was nie “Amazing Grace” nie. Onthou ek was pas maar pas klaar met laerskool en enkele weke op hoërskool, so dit was nóg droewiger as die lied oor die ongelooflike genade, dit was niks anders nie as “Nearer my God to thee”. En Psalm 116, die ou Voortrekker-beryming (verbeel ek my).

Iewers in my brein, en wie is ek om met my brein te stry, het  “Amazing Grace” en “Nearer my God to thee” een en dieselfde geword. Miskien is dit bloot omdat dit die twee Engelse geestelike liedere is waarop almal, altyd huil.

Ek onthou hoe lekker ek by die krematorium se kapelletjie gehuil het, toe ons sing – my oë het so geswem en ek kon nie mooi deur al die water sien nie. My vingers na my oë bring en skoonvee kon ek nie, nie ʼn standerd 6-seun nie. Nie ek, tóé nie.

Miskien is dit omdat my brein ʼn lyn trek tussen Psalm 116 se verlore-en-gevind-motief en “Amazing Grace se lost-and-found-gedagte dat ek vandag daar heilig oortuig van is dat ons “Amazing Grace” gesing het. Ons het nie, ek het op die pers Avbob-begrafnisbriefie loop kyk.

En wat maak dit, after all, ook nou saak as ek amper veertig jaar later onthou hoe lekker ek as standerd sessie op Pa se begrafnis gehuil het op die wysie en woorde van “Amazing Grace” terwyl dit eintlik die woorde en wysie van die Engelse “Nader my God aan U” was.

Ek huil immers ʼn slag weer lekker. Oor alles wat was, die bietjie wat is en sommer alles wat nog moet kom. Want huil is goed en reg – dis manna vir die binneste en detoks  (ontgif?) die gemoed.



Amazing Grace

Amazing grace! (how sweet the sound)
That sav'd a wretch like me!
I once was lost, but now am found,
Was blind, but now I see.

'Twas grace that taught my heart to fear,
And grace my fears reliev'd;
How precious did that grace appear
The hour I first believ'd!

Thro' many dangers, toils, and snares,
I have already come;
'Tis grace hath brought me safe thus far,
And grace will lead me home.

The Lord has promis'd good to me,
His word my hope secures;
He will my shield and portion be
As long as life endures.

Yes, when this flesh and heart shall fail,
And mortal life shall cease;
I shall possess, within the veil,
A life of joy and peace.

The earth shall soon dissolve like snow,
The sun forbear to shine;
But God, who call'd me here below,
Will be forever mine.

Psalm 116

(Ons het die dag tydens die roudiens natuurlik nie verder as vers drie gekom nie, maar die hele berymde Psalm was aan my bekend.)

God het ek lief, want dié getroue HEER                                   
hoor na my stem uit vrye welbehae;                              
ek roep Hom aan in al my lewensdae,                          
Hy skenk my hulp, Hy red my, keer op keer.                

Om my was band‟ en strikke van die dood;                  
en angste van die hel het my laat bewe;                      
ek was benoud, vol droefheid was my lewe;               
maar „k het die HEER gesmeek in al my nood:                      

 “Ag, red my, HEER, na u beloftenis!”                           
Toe „t God gehoor; Hy is my lofsang waardig;             
Hy is die HEER wat goed is en regvaardig,                 
en vir sy volk groot van ontferming is.                           

Eenvoudiges wil God steeds gadeslaan.                     
„k Was uitgeteerd, maar Hy is vol ontferming.             
Soek dan, my siel, jou rus in sy beskerming,               
Hy „t jou verlos en aan jou welgedaan.                        

U het my siel weer van die dood bevry;                        
in droefenis droog U, o HEER, my trane;                     
U lei my voet langs nuwe lewensbane,                                   
om in u lig te wandel, lewensbly.                                              

Ek het geglo toe ek, in smart gedaal,                            
dit uit moes spreek: “Ek is terneergeboë,”
en uit moes roep, deur sware smart bewoë:
“Die mens se woord is enkel leuentaal.”

Wat kan „k die HEER vir al sy guns vergeld?
Wat kan „k Hom bring uit dank vir sy genade?
Ek sal Hom prys vir sy verlossingsdade
en by die kelk van heil sy Naam vermeld.

Al my geloftes, uitgespreek in nood,
sal ek betaal as ek voor U mag nader
en met u gunsvolk in u huis vergader.
Hoe kost‟lik, HEER, is in u oog hul dood!

Ag, HEER, ek is, o ja, ek is u kneg,
seun van u diensmaagd, in u diens gebore:
my band‟ is los; vir hoër diens verkore,
bring ek die offers, aan U toegeseg.

Ek sal u Naam met dankerkent‟nis prys
te midde van die feestelike skare.
Jerusalem, ek hoor om jou altare
die lofgeluid wat tot Gods eer verrys.