Pages

29.10.14

Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd, met ʼn goeie dosis somerreën

Ons het ons eerste somerreën gehad. Vir jare vermaan ons Pretorianers mekaar om nie opgewonde te wil raak of van reën as reën te praat as die eerste katspoegie stoffies opjaag nie – dit reën immers nie in Pretoria voor Paul Kruger nie verjaar nie.

Vanjaar was daar voor die oubaas se geboortedag nie eens ʼn enkele belowende wolkie in die lug nie, wat nog te sê ʼn lekseltjie genade.

Ons het ook al vergeet dat 10 Oktober lankal gekom en weer gegaan het, en steeds geen reën wat as reën kan deurgaan nie, nie óp sy gedenkdag nie, nie daarna nie – selfs nie eens ʼn enkelte druppeltjie wat nié as reën kan deurgaan nie.

Die ander volgsgeloof rondom Oom Paul en reën op sy dorp wat darem vanjaar die bygeloof gestand gehou het, is die een rondom die rigting waaruit die wolke wat reën bring, kom. “As dit nie agter Oom Paul se gat aan- en toepak nie, kom dit nie reën nie.” (En dan, het ek 25 jaar gelede toe ek in Moot aangekom het, uitgevind, verwys hulle na sy standbeeld op Kerkplein.)

Hier wás die laaste twee weke inderdaad, die tiende van vandeesmaand óók, allerhande donker wolkies, maar elke keer, gooi jy jou oë in die rigting van die plein, dan is dit duidelik: ons kan maar vergeet van reën, Paul Kruger se gat is helder oop, dié wolkies kom nie uit sy rigting nie, hulle dra straks reën, maar reën vir ons is dit nie.

Gister toe Annieka vroegmiddag weer begin praat van reën, toe praat ek haar nie teë nie – Oom Paul Kruger se standbeeld op die plein en waar die wolke begin uithang het, het my vertel om my bek maar te hou.

Toe dit gisteraand begin sous, toe gooi die drie van ons, ons arms om mekaar en vertel die een die ander die oog- en oorlopende – dit reën.

“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”/ En haar krale skud, / en haar koperringe blink…”

Skielik, oornag, ís Oktober weer die mooiste-mooiste maand en nie sommer meer net “droogtemaand” nie. Beslis nie wat die gemoed betref nie. En ons erf nie.

Elders, soos die weerman altyd te sê had, bly dit oor groot dele van die land nog “mooi weer en warm” – en in baie opsigte kom dit neer op droogte en boere wat saai in die geloof dat dit gaan kom reën.

Ek het jare gelede ʼn praatjie met iemand, wat meer van die dinge weet as ek, oor die radio gehoor. Die persoon had te vertelle dat allerhande dinge soos padwoede en selfdood nóú, ná die eerste werklike reën en al die ontlading wat daarmee saamval, dadelik drasties beginne afplat.

Nie net die boere wat wag vir die reën nie, ook die hospitale en polisie, sielkundiges en psigiaters.

Dit klink dalk bietjie dik vir ʼn daalder, tog maak dit vir my genoeg sin dat ek dit na baie jare steeds nog nie vergeet het nie.

ʼn Vriend se vol hart maak sy mond vanoggend vroeg al op Facebook oorloop met: 40 mills in die nag gereën (...) En dit val steeds en steeds, saggies...’Then sings my sole.....!!’"

Dit was douvoordag en straks het hy “soul” bedoel. Maar nie noodwendig nie – jeuk ons almal se voetsole nie, sing hulle nie en roep hulle nie uit nie!

“Want die werf is wyd en die bruilof groot... O, die dans van ons Suster!”

Myne doen. En dis nie net van die reën nie. Klaradyn het ʼn klein kinder-Kook-en-Geniet present gekry en vaar nou al om die ander dag die kombuis in. Vlakoekies, skons, heuningtert, improvisasies (met wisselende sukses) en dring saans daarop aan om te roerbraai (wanneer ons roerbraai eet).

En dan moes die skool van my versugting/dreigement te hore gekom het. Toe die nuutste Kuns-en-Kultuur-taak hier aankom, is dit genadiglik nie nóg ʼn musiekinstrument nie. In vyf jaar skool, tel jy graad O by, het ons nou al ses musiekinstrumente gemaak, en kom my kind in haar hele skoolloopbaan nog met een enkele musiekinstrumenttaak by die huis aan, gaan ek afblaas soos geen ouer in die ganse geskiedenis van uitkomsgebaseerde onderwys (hier én oorsee) nog ooit afgeblaas het nie.

Hierdie keer moet ons gelukkig ʼn droomvanger maak.

Ek is nie vreeslik lus om hart en siel in te klim nie en stel voor ons gesin moet geloofsbeswaardes wees wat nie bereid is om hierdie heidense implement van Satan en sy trawante te maak nie.

Daar sál sulke ouers wees, ek hou op hoërskool vir hul kinders skool. So waarom moet hulle alleen wees. Ons Moolmans kan ʼn verenigde front met hulle vorm.

Maar toe ek eers op die internet oor die goed gelees het, toe wil ek Klaradyn nie meer bystaan met die maak van hare nie, nee, toe wil ek my eie óók maak.

En dis presies wat ons toe doen: ons sorg dat ons genoeg van alles het om twee droomvangers te maak.

Het jy geweet:  Droomvangers het hul oorsprong by die Ojibwe, ʼn inheemse Amerikaanse Rooihuidstam. Aanvanklik is ʼn ragfyn spinnerak oor ʼn sirkel wat uit takkies gevleg is. gespan. Dit is by jou bed gehang. Hierdie net of web sou dan slegte drome vang en net die goeies deurlaat om die slaper te besoek. Vere is aan seninglinte geheg en aan die onderkant van die sirkel geheg. Hierdie vere het vir die mooi drome se sagte landing gesorg.

Natuurlik is daar ander weergawes ook: die slegte drome wat deur die slapende vrygelaat word, ontsnap deur die web, terwyl die goeies agterbly om in die toekoms bewaarheid te word.

Kraletjies en kleine tierlantyntjies en polfyntjies word ook glo ingewerk.

Toegerus met al hierdie mumbo jumbo het ek en Klaradyn toe ʼn lieflike oggend terwyl ek eintlik Daddy Day Care speel met Mamma by die skool vir werk.

Die eerste vakansie van ons getroude lewe saam, is ek en Annieka Kalahari Gemsbok Park toe. Iewers langs die pad koop ons toe ʼn bewertjie wat na bewering deur ʼn rasegte lid van die San-gemeenskap gemaak is.

Ons outentieke San-artefak herinner seker baie aan die brokkies van die muur wat Duitsland geskei het en vandag nog oral in die land te koop aangebied word. En dít herinner op hul beurt weer aan die splinters van Jesus se kruis wat in die vroeë Middeleeue die ronde gedoen het...

Maar dit het ons tóé, toe ons dit gekoop het, nie gepla nie. Wat ons gepla het, toe ons by die huis kom, is dat die ding baie effentjies en eintlik so lelik soos die nag is.

Maar dit weggooi, kon ek nie. Selfs met die tannie wat dit gemaak het se naam nog op die etiket, is dit veertien jaar later in aktiwiteitskas vol kunsvlytgoeterstes.

Toe snipper ek die bewertjie op en hang aan my droomvanger sewe verskillende glyplankies met veertjies onderaan vir daai veersagte landing – een vir elke nag van die week se soete drome.

Sodra ek my kamera opspoor, spog ek met meer as ʼn selfoonfoto. Met myne, én met Klaradyn sʼn (wat sy toe 100% op haar eie moes maak omdat haar pa so hart en siel betrokke was in die maak van sy eie.)

Pappa s'n

Die vere in die sirkel self is aan 'n kraletjie vas. Die kraletjies is van 'n -P, -M en -K (vir Pappa, Mamma en Klaars.) Heel simbolies uitgedink deur die merrieperd.

Klaars s'n

In die middel van die spinnerak is daar 'n ietsie - dit "simboliseer" die spinnekop wat die web gespin het. (Die rooihuidstam het een woord wat tegelyk na 'n spinnekop en so 'n droomvanger verwys, maar die detail ontgaan my nou.)

Somerreën en droomvangers en aandete en Kinder Kook en Geniet hoort seker nie in een inskrywing nie, maar wat die hart van vol is...

En toe kom sonsak en daar is ons al drie in die kombuis – elkeen besig met sy eie dis. Klaradyn maak ʼn yskastert, Annieka maak haar eie ander een, en ek maak aandete. Volslae chaos in ʼn kombuis waar een mens moet uitstap as hy ruimte soek om net van plan te verander.

Ons kan nie een verby die ander stap nie, ons moet dwars draai en verby mekaar skuur. En die berg skottelgoed word net al hoe hoër.

Dan is my eie oorlede mammie ook nog in die kombuis – ons maak op ʼn Saterdagaand die oondgeroosterde broodjies wat sy tradisioneel op Sondae gemaak het.

En tussen die klitser en menger en rooster en kookboeke deur, luister ons musiek. En ruik die honde die reën – hulle is al onder, en oor, en deur ons voete en bene.

Dis tóé dat ek besef, op 50 en twee maande: ek kan tegelyk tipeer word as stapelgek en disfunksioneel. Want op daardie oomblik wéét ek een ding:  Ek is op my heel gelukkigste op aande soos hierdie, omring deur my gesin.

Annieka noem dit Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd.

Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd, met ʼn goeie dosis eerste somerreënt dan.










No comments: