Pages

18.12.14

'n Bietjie hond en 'n bietjie Ma met 'n knertsie Annieka en Klaradyn

Sussa word nou oud. Haar oë lyk glasig. My ouma het van “pêreloë” of iemand wat “pêrels op die oog het” gepraat.

As ek Sussa in die oog kyk, en dit gebeur elke dag ʼn paar keer – die eerste keer as ek vroegdag besoek aan die badskamer bring (nie om te gaan bad nie) – dan dink ek aan my ouma en wonder of dít is wat sy destyds bedoel het.

Ek kyk haar die laaste ruk, wanneer sy haarself soggens teen my kom aanvly en vra om getroetel te word, anders in die oog as voorheen. Dis of ons al twee weet die uurglas van die tyd loop uit. Sy kom dwing haar nie teen my af nie, sy kom dring haar nie stertswaaiend teen my op nie, sy kom “vra” eerder, dankbaar en beskeie.

Vir jare weet ek dat die honde ons motorgeluide herken, selfs nog voordat, eers die elektriese motorhek, en dan die motorhuisdeur ons aankoms verklap. Teen die tyd dat ons die kleinhekkie in die voortuin oopmaak, reageer die honde asof daar ʼn stuk wors in ʼn hondehok gegooi is.

Sonder Boeta, wat ons hierdie jaar verlaat het, is dit rustiger, maar Sussa is darem nog altyd daar om ons te verwelkom.

(Iemand noem hoeka nou die anderdag dat honde, die meeste van die tyd as ons weg van die huis en by die werk is, niks veel anders doen as om vir ons te sit en wag nie.

En toe, Maandag, is dit anders.

My motor, met die uitlaatpyp waarna ek moet laat kyk omdat dit iewers ‘n gat in het en begin raas, kom aan. Die bure se hond hoor my en begin sy gebruiklike blaf- en opspringritueel teen die heining.

Die motorhek ratel oop, so hard en duidelik dat selfs die bure oorkant die straat ons kom en gaan kan monitor.

Die motorhuisdeur se masjien skop in, weliswaar nie so hard en duidelik soos ʼn kragopwekker op die plaas nie, maar die hout en staal skuif en stamp en skuur hard genoeg om duidelik van oral op die erf hoorbaar te wees en aan te kondig as ek of Annieka tuis kom.

Meesal is Sussa se neus eerste om onder die sware dubbeldeure uit te loer en ons, nog in aanloop motorhuis toe, te kom groet.  Maar die waskamer se deur is toe en Sussa kan nie in die motorhuis inkom nie. Dis dán wanneer ʼn mens gewoonlik haar naels teen die staaldeur kan hoor krap en jy by voorbaat die pakkies in jou hande vervat en hoër lig – vir ingeval die ouvrou dit uit jou hande spring die oomblik wat julle mekaar aan die anderkant van die deur ontmoet.

Maar hierdie dag loop nóg ek, nóg Annieka deur die waskamer – ons beide gaan voor om, sy om te sien of haar plantjies opkom; ek om pos uit te haal.

Die hekkie skarnier skrilskurend oop.

Dis toe dat Annieka my saggies nader roep.

Maar saggies hoef sy nie te gewees het nie – sy kon maar geroep het, dít het gou duidelik geword.

Annieka wink en beduie my om die draai, in die binnehof in.

Ag siestog, te lekker, dáár lê Sussa in  haar binnehofmandjie in die son en slaap. Sy snork eintlik soos sy slaap.

So iets het nog nooit gebeur nie – by die geringste geluid is die honde op en wakker en aan die blaf of hol om ons te ontmoet.

Nou nie meer nie. Miskien het Sussa nou pêrels in haar ore ook en kan sy nie meer so goed hoor nie.

Ek het plat op my gat langs haar gaan sit en haar vir lank gestreel en gevryf voor sy stadig uit haar dowe diep slaap wakker begin word het. Sy het so verward wakker geword, haar oë so geknip-knip om goed wakker te word en te mooi te besef  wat besig is om te gebeur. En toe staan sy verleë op en begin haar stert in blye herkenning te swaai.

Sy volg my soos ʼn skadu. Staan ek 02:00, of 03:00, of 04:00, of 05:00 op om in die familiekuierplek agter die rekenar te gaan werk, dan is sy by my voete.

Ek noem nou die anderdag aan Annieka dat ek niemand in die lewe het wat so erg oor my is, soos my ou teefhond nie. Ek dink nie eers my ma was so konstant en knaend behoedsaam en bedag op my elke doen en late nie, om van Annieka en Klaradyn nie eers te praat nie.

Sussa is goed vir my en ek probeer om goed vir haar te wees. Maar sy raak nou oud. Ons al twee weet dit. Dis ʼn spesiale tyd wat ons nou ingaan.

Dis soos ek en Judy destyds.

Ek weet nie hoeveel jaar dit nou is dat my ma oorlede is nie – iewers is dit by my ingeprent dat ʼn mens nie boek van die kwaad moet hou nie. En of jy nou boekhou of tydhou, dis een en dieselfde.

Dis vir my onmoontlik om elke jaar rondom haar afsterwe nie aan haar te dink nie. Dis tussen my en Klaradyn se verjaarsdae, en ek verjaar ses dae na Klaradyn.

Maar watter dag presies, en watter jaar, weet ek nie.

En of dit nou nader aan drie, en of dit nou nader aan vier is, weet ek nie.

Maar gister, vir die eerste keer, het ek my ma gemis, soos ek haar na haar dood nog nooit gemis het nie.

Nie die ma bedlêend in die ouetehuis nie. Nie die verswakte bejaarde, haar brein weggekalwe deur Alzheimers soos gesonde landbougrond deur water op elke foto van gronderosie in bykans elke Aardrykskunde handboek van my hele skoolloopbaan nie. Nie dáárdie ma nie, die ma van die laaste vyf jaar nie, ek het die ma van tien jaar voor haar dood gemis.

Ek weet daar is meer mense soos ek. Maar almal is nie so nie. Ek is wel rondom gebed ook só – ek gaan makliker oor in ʼn dankgebed as in smeekbeding.

Ek vra nie sommer nie, maar sê graag dankie.

Miskien is dit ʼn ê-tôti-ding:  ons mans pak die swaarkry en sukkel onsselwers aan, ons soek nie hulp nie. Maar loop ons beker die dag oor van wyn en olie en alles wat goed en reg is, dan wil ons dit nie ons beskeie eie hou nie. So asof ons bereid is om pa te staan vir die gemors in ons lewens en dit aan te pak soos dit kom, maar gaan dit goed, dan wil ons deel.

Klaradyn het by die huis gekom met ‘n rapport wat getuig van die harde werk wat sy deur die jaar ingesit het. En dis op daardie punt dat my gedagtes al na Judy gespring het. Sy het my groot gemaak met die wete dat sy met niks anders en niks minder as my beste tevrede is nie. Of ek nou bo die gemiddeld, op die gemiddeld of onder die gemiddeld presteer het, dit maak nie saak nie, solank my prestasie net die produk van my beste was.

En dan gaan dit nie net om akademiese vordering en prestasie nie, maar enige bereiking op enige gebied. “As jy jou bes gedoen het, Oubaas, is Mamma tevrede.”

Nie dat sy die volgende nie ook gesê het nie: “As dit jou beste is, is jou beste nie goed genoeg nie, doen oor.” Maar dit nou daar gelaat.

Ek het as ouer nie ʼn rapport van die skool nodig gehad om te weet my kind het haar bes gelewer nie. Die rapport was maar net bewys van die harde werk wat ek weet my kind ingesit het.

Tog was daar ʼn skielike uitval van meer as 20% in een vak.

En ek het geweet Klaradyn het haar beste gelewer. Dit was dan nou duidelik dat haar beste nie goed genoeg is nie.

Maar toe kry ons gister nuus dat haar punt eintlik 24% hoër moet wees, daar was ʼn inleesfout.

Ag, en ek is só bly, ék is so bly, én ek is bly námens my kind. Én ek is sáám met Annieka bly! Ek loop oor van die bly. En die bly wil nie uitwoed nie.

Maar ek kan  nie na Annieka hardloop en haar vertel nie, want sy weet reeds, ons is saam bly.

Dis tóé dat ek dit met my wil deel, veral ook toe Annieka op die foon klim en haar ma bel, dat ek my ou moedertjie so mis. Ek sit met die opregte, diepe, behoefte  van die hart om net vir haar te kan sê dat ons so trots op haar kleinkind is wat só mooi presteer het in haar baie besige, anderste, moeilike, graad 4-jaar met sy eerste toetse en eksamens saam. Dít terwyl sy volstoom met al haar buitemuurse aktiwiteite aangegaan het.

Maar my ou moedertjie is nie daar dat ek my hart soos ʼn wyn- of oliekruik kan skeefhou dat ʼn bietjie van my geluk, ons geluk, ook in haar ou hartjie kan oorloop, en dit ons álmal se geluk kan word nie.

Toe loop bel ek maar my skoonsus in die Kaap en deel dit met haar. Tien jaar terug sou dit tweedebeste gewees het, maar onder huidige omstandighede is dit beste, en al wat ek oorhet.

Presies hoe Sussa en die gemis aan my ma saamhoort weet ek nie – die enigste gemene deler is seker maar die dood, die een sʼn was reeds, die ander sʼn wag nog.

Ek maak daar geen geheim van dat ek geen behae in die mense en dinge om my se afsterwe en dood het nie. Behalwe dat ek nie my eie lewe voortydig kortgeknip wil hê nie, het ek vrede met die gedagte aan my eie dood.

Dis egter die óm my, met wie se dood ek seker tot die dag van my éie dood in ernstige geding sal bly staan.

Dít is op sy beurt seker weer iets positief: dis ʼn beter wedersydse getuigskrif om deur iets of iemand se dood geraak te word, as wat dit is om daardeur koud gelaat te word.

Lief jou Mamma, lief jou Sussa.

Lief jou Annieka, lief jou Klaradyn.



                                                                                                                                                                



No comments: