Ek sê dit baie: elke
kraai dink sy eier is die witste.
Maar dan is daar kraaie, soos hierdie pappa-kraai en
Klaradyn se mamma-kraai, wat dit nie dínk nie – hulle wéét
dit.
En toe ek gister na die entrepreneursdag by die laerskool in
die motor klim, toe weet ek dit weer, toe weet ek dit opnuut, toe weet ek dit
van vooraf aan: in my oë
is my kind spierskitterleliesneeuwit.
Ek was só trots op Klaradyn wat heeltyd in die
son gestaan en werk het, kleingeld uitgetel, kopers nader gelok en klante
bedien het.
Die velletjie papier wat Maandag toe hier aangekom het, het
genoem van 08:30 die stalletjies bou.
Teen 07:45 had ek die basaartafel egter al gesoek en
opgespoor en was, én ek, én my motor, soos twee spreekwoordelike
resiesperde in 'n wegspringhok.
O8:00 besluit ek toe maar om die lang ent pad (drie blokke)
skool toe aan te durf – dis spitsverkeer in die voorstad en netnou kry ek 'n
pap wiel langs die pad. Ek wil ook seker maak ek kry staanplek vir die motor iewers
naby die hek, want teen daardie tyd het ek dit al oorweeg gehad om die sleepwa
te haak, ek sal nie vier keer moet loop nie, ek sal vyf of ses keer moet loop.
En toe ek 08:04 daar stop, toe is ek bly ek het nie 'n
terugslag langs die pad gehad nie – die pappas en mammas en oumas en oupas
skrop al nes onder die bietjie skadukolle wat daar is. En dan is dit nie
groentjies soos ek nie – jy kan sommer op 'n afstand sien dis ou gesoute
entrepreneursdag-ouers en –grootouers hierdie; hulle wéét van.
Maar ek is gelukkig, ek is betyds vir 'n skadukol aan die
oorkant van die veld. Na ek 'n derde keer aangekom het, met die tweede
tafeltjie en twee uithangborde wat aan twee straatnaampale herinner – dit help
as Mamma toegang tot haar opedaggoeterstes het – skuif ek toe maar ek
skadukolletjie uit, die stalletjie raak nou 'n bietjie breed vir die kleim wat
ek vir myself afgesteek het.
Ons leuse is nie verniet gaan
groot of gaan huis toe, gaan groot of gaan dood nie; en vandag gaan ons
bloot nie so groot nie, maar so breed – veral met hierdie twee bloedrooi
advertensieborde wat soos die oop vlerke van 'n engel links en regs van die
tafel gesprei staan.
Net om seker te maak die mense verwar dit nie regtig met
engelvlerke nie, het ek bo oor elke paal se dwarsarm, daar waar die plakkaat
aan hang, 'n parmantige vere boa gehang. Hierdie vererasie is afgerond met 'n
parmantige rooi hoed – en dit lyk eerder of ons uit die Moulin Rouge as die
engele se opleidingskwartiere ontsnap het.
Klaradyn se beste seunsmaatjie se pappa het intussen ook
opgedaag en nou kan die twee maatjies én die twee pappas langs mekaar staan
en kuier. (En ek het iemand wat kan help aandra aan die laaste goed uit die
motor – 'n geseënde man is hierdie pappa.)
Toe raak dit tyd om die piece
de resistance in die gereedheidshouding te kry – 'n batteryaangedrewe
skuimborrelblaser. Pleks ek het twee van die goed gekoop, een vir elke vlerk se
punt – dan het ons nou skuimparty ook gehou op die koop toe.
Toe moet ons maar werk met net die een. Die ding lyk soos 'n
plastiek spaarbussie in die vorm van 'n tier of 'n beer. Hy hou 'n mandjie
(waarin jy die seep/skuim gooi) vas, sy mond blaas wind en in die mandjie tol
'n windmeulerige ding met vier sirkeltjies aan elke punt rond – en soos een van
die sirkeltjies (wat nou net uit die skuim gelig is) verby die mond met die
lang en sterk asem beweeg, stuur die kontrepsie 'n string seepborrels die lug
in wat geen mens hom sal kan nadoen nie.
Dis nou alles baie oulik, maar behalwe dat die ding sy eie
borrels blaas, maak hy sy eie musiek ook. Seker mooi musiek vir 'n Oosterse oor
wat ook van die vreemde lawwe klanke wat hulle in Sjinese restourante speel,
hou; maar op enige Westerse oor val daardie klanke soos iets uit die hel en
herinner dit aan die gekerm van gepynigde siele of katte wat iewers gemartel
word.
Die onvriendelike buurman links van ons, laat val toe ook 'n
opmerking hard genoeg vir my om te hoor, nee ek jok, hard genoeg sódat
ek kan hoor. Maar dis verbasend hoe doof ek kan wees as ek die dag nie wil hoor
nie. En toe ek in 'n stadium iets soek om te eet, is dit doelbewus nie by mý
buurman nie, maar by sý buurman links van hom waar ek my geld uitgee.
Ek en my gawe buurman (die oudleerling- en
Klaradyn-se-beste-maatjie-een) moes hierdie kontrepsie nooit op die proef
gestel het nie, want die volgende oomblik toe het ons al kinders al om ons
stalletjie wat wil kom koop – dit terwyl die ander mense nog opstel en myle
tussen die motor en die skoolhek moet pendel.
Ek dog toe eers dit gaan werk soos 'n kerkbasaar op die
platteland – jy verkoop niks voor die Dominee nie gebid en die verrigte met 'n
gepaste teks uit die Bybel geopen het nie, maar toe dit lyk of niemand kyk nie,
toe begin ons maar handel dryf.
Klaradyn en haar maatjie het intussen met groot gejuig by
ons aangesluit en nou gaan dit klopdisselboom.
Elke skool het gelukkig 'n klankversterkingstelsel, en toe
dié
eers inskop met lekker musiek, toe pla die tier met die skuim bek se
uitgestrekte doodsnikke ook glad nie meer so vreeslik nie. Dankie tog ek het
ekstra bottels borrelseep gekoop gehad, want die ding gaan toe deur borrelseep
soos 'n weermag deur witgoud – ek kan nie voorbly om die ding vol te maak nie.
Toe die verrigtinge 'n uur en 'n half later tot 'n einde loop, toe het ek van
die drie bottels ook nie meer 'n enkele druppel oor nie.
Ek het iewers op skool, ook al meer as derig jaar gelde,
gehoor van “klein winsgrens, groot omset,” En dit het toe nou die uitgangspunt
van ons stalletjie geword – ek het ook in hoofstuk 1 al gesê
ons is nie daarop uit om geld te maak nie, maar 'n lekker tyd te hê.
Goed wat ons toe, met Boereverneukery, vir R5-00 en R10-00 kon verkoop, sit ons
toe alles uit die hand vir R2-00 stuk.
Met elke klok wat iewers lui, beweeg 'n nuwe stroom kinders
verby, van graad 0 tot graad 7.
Ons het op die ingewing van die oomblik sulke Blou-Bul
tatoeëer –plakkers, wat jy met 'n nat spons op jou lyf staan maak, aangekoop.
Die gedagte was om dit teen 50c stuk van die hand te sit. Maar toe raak die
goed soek in die huis. En toe ek dit, enkele oomblikke voor ek in die lang pad
moes val, opspoor, toe is daar nie tyd vir stukkend knip nie.
Klaradyn het dit toe op haar geneem om elkeen van hierdie
velletjies (wat 'n hele spul van die tatoo’s op had) persoonlik van die hand te
sit. As die seuntjies nog dink om verby te beweeg oor dit meisietjie ringe en
dinge is wat ons verkoop, dan roep sy hulle nader met 'n velletjie Blou-Bul in
die hand. Te lekker.
Kleingeld vir R10-00 het Klaradyn al die pad uitgetel, en
ons sou seker 'n opvoedkundige geleentheid kon maak van die R20- en R50-note
wat ingekom het, maar daarvoor was daar net te veel van 'n toestroming by die
stalletjie (klein winsgrens; groot omset).
Ek het iewers, terwyl ons nog suiwer onder die tafel deur,
en nog nie amptelik nie, handel gedryf het, vir buurman gevra om ogie te hou –
ek wil gou die ander stalletjies uitkyk. Elke iedere stalletjie was oulik. Daar
was eetgoed en speelgoed, en goed wat hulle self gemaak het, en goed wat ander
gemaak het.
Ek het selfs vir my tol gekoop. Nou moet ek net weer oefen
om die ding te gooi. Dan wys ek vir Klaradyn. Die prognose is egter nie baie
goed nie. Ek vermoed die fout lê by die tol.
Ek het so twee of drie (seker vier) handjies gehad wat R1-00
aangesien het vir R2-00. Dan weet ek nie of dit aspris is of nie, maar dan sien
ek dit ook maar in die stilligheid vir 'n R2-00 aan. Nie Klaradyn nie, moenie
glo nie, dan praat ek haar maar stil of kry haar aandag op 'n ander klant
gevestig.
En die volgende oomblik staan daar hierdie dogtertjie met
hierdie diep stem, donker vel, donker hare, en diep donker oë,
tussen die kinders en staar na die ringetjies. Sy kyk my in die oë
en sê
met 'n lispel dat sy nie geld het nie. My hart vermurwe op die plek en ek ruk
my beursie uit en prop die kind R8-00 se munte in die hand.
Maar die klein swernoot, sy het nie gelieg nie, maar ook nie die
volle waarheid gepraat nie. Sy het gesê dat sy nie geld het nie, wat waar was,
maar wat sy moes gesê het, is dat sy nie meer geld oorgehad het om uit tye geen
nie. Want nadat sy toe R4-00 se goed by ons gekoop het, buk sy af om die goed
by haar voete op te tel – en daar kom ek toe agter die kap van die byl – sy het
seker goed R50-00 se goeterstes reeds aangekoop gehad. Die hartseer in haar
lyftaal, stem en oë, was nie omdat sy nie geld gehad het nie, maar omdat sy dit
alles so vinnig en onoordeelkundig uitgegee het.
As die doel was om 'n lekker tyd ('n jolige jol te same met vet
pret) saam met jou kind te hê, dan het die entrepreneursdag in sy doel geslaag;
as die doel, soos vir Annieka, was om die kind te leer 'n mens gooi jou volle
gewig in, dan het ons beslis geslaag.
Hoeveel geld ons gemaak het? Nee, ek weet nie. Die goed is nog nie
eers uit die motor gepak nie. Ek is haastig skool toe, na skool was dit
jaarblad tot laat. En dit was blykbaar ook nie Klaradyn se hoofdoelwit om groot
geld te maak nie – ons het gistermiddag laat nadat ek hier aangekom het, en
gisteraand, soveel ander lekker dinge gehad om te doen, dat sy ook nie eers
gevra het om geld te tel en wins te bereken nie.
Volgende jaar maak ons weer so. Wat ons dan gaan doen weet ek nie.
Juwele sal dit nie wees nie – daar was hopeloos te veel mense wat gesien het
hoe gewild so iets kan wees. Selfs onder die seuns. Die kleintjies het vir
mammas en sussies gekoop, die groteres het ons toegestroom vir geskenkies vir
hul meisies.
Miskien doen ons volgende jaar dieselfde. Dan verkoop ons net dit
wat die ander vir R5-00 en R10-00 verkoop, steeds vir R2-00.
No comments:
Post a Comment