Pages

2.10.11

'n Hart loop oor


Daar is toe nou vandeesmaand meer trane as verlede maand hierdie tyd en is dit amper soos met dood in die familie, net bietjie erger.
Die eerste aand in ons getroude lewe wat ek en Annieka nie onder dieselfde dak, in dieselfde kamer en dieselfde bed ons koppe op die kussings neergelê het nie, was die nag voor Klaradyn se geboorte.
En is dit nie ironies nie? Om ons kind, die kroon van ons verhouding, in die lewe te bring, moet ons die verhouding in 'n sekere sin skaad deur vir die eerste keer in hoeveel jaar nie myle uit mekaar te gaan slaap.
Ek sal dit in my lewe nooit vergeet nie – hier moet ek my vrou die aand 19:00 by 'n hospitaal inboek sodat hulle haar in gereedheid kan bring vir die geboorte. Dit terwyl ek die volgende drie nagte wel by haar en Klaradyn in die hospitaal deurgebring het – ek het vir ons 'n gesinsuite bespreek. Hierdie betrokke nag was egter 'n perd (kamer) van 'n ander kleur.
In retrospeksie was die klein opoffering in ruil vir klein Klaradyn wel die moeite werd en het ons baie meer gewen as wat ons verloor het, maar tot hierdie insig kan slegs gekom word wanneer jy ses of sewe jaar later terugkyk.
En dan is dit ook seker een groot vet lieg; dis eerder ses of sewe weke, en nie maande of jare, indien nie ses of sewe ure nie, later.
So, dat ons gesinnetjie redelik geheg aan mekaar is, is 'n feit, iets wat afgeskop het met 'n bemoeisieke pappa in 'n hospitaalkamer.
Vier of vyf jaar sou verby gaan voor die tweede en derde geleenthede hulself voorgedoen het wat my en die girls in verskillende provinsies in die bed had – my werk het my twee keer in Bloemfontein, Durban en die Kaap gehad. Een keer ook elders in die res van die land vir 'n nag of wat.
Daarna het ek selfs die stoute skoene aangetrek om op twee geleenthede vir 'n nag op die manspersoneel se mannekampe of –naweke te gaan.

En al slaap ek partykeer deesdae gereeld op die matjie langs die bed, of as dit baie sleg gaan, saam met die honde op die matjie voor die voordeur, is dit darem ten minste nog in die onmiddellike omgewing van my lief en dierbare vrou en kind.
Maar toe word ek gister graswewenaar vir een, twee, drie, vier, vyf, sés nagte.
Ons is nou halfpad met die eerste een, en hier sit ek en tik terwyl die res van die land slaap.
Annieka sien vir weke nou uit na die eerste ordentlike reënbui van die seisoen, en toe hy uiteindelik rondom 02:00 op ons uitsak, het hy my dadelik só wakker dat ek sonder 'n lyf in die bed om teen aan te lé, beslis nie weer sal slaap nie.

En daar mis sy hom nou, want sy sit in die Kaap.
Enige iets na 02:00, met die donderweer beslis, sou Klaradyn ook by ons aangesluit het – ek dink ek kan die nagte waarsonder ons soggens met Klaradyn, wat iewers deur die loop van die nag by ons aangesluit het, wakker word, op een of twee hande tel.
En die oomblik wat hierdie gebruik van my kind my begin pla, dan hoor ek weer ons vriendin vertel hoe sy wat sal wil gee as haar jongste seun tog net nog een maal so in die nag by haar en haar man kan aansluit, hoe sy nooit spyt sal wees dat hulle dit toegelaat het nie, dan sien ek weer haar wit hande, krampagtig uit lang swart moue, om 'n kinderkissie vou, met haar man nog in die hospitaal – en dan skuif ek op, lig die komberse, en maak plek vir Klaradyn tussen my en Annieka.
Toe kom die nuus, iewers vroeër in die jaar, dat Pappa die Oktober-vakansie weg van die huis gaan wees met werk.
En dit wat Mei-maand soos 'n week geklink en gevoel het, word toe op die ou einde, streng gesproke, net drie nagte weg van die huis af.
Maar teen daardie tyd het ons lankal begin uitsien na die week waarin Mamma en Klaars saam met Oums en Oups afvlieg Kaap toe om vir Ouma-Kapie, ook al in die negentigs, te gaan kuier.
Toe D-dag toe nou uiteindelik gister aanbreek, was die –d van daardie dag darem toe nou vir jou 'n vreeslike groot en dik vet swart hoofletter gewees.
Vir ons almal het die gedagte aan ses nagte van bed en tafel geskei, skielik vreeslik lank begin voel.
Saam met Klaradyn het ek skelm vir Mamma 'n liefdesgeskenkpakkie ingesluit, en saam met Mamma het ek vir Klaradyn, weliswaar nie 'n presentepakkie vir elke dag nie, maar darem 'n persoonlike liefdesbriefie vir elke dag.
As kinders se leesvaardigheid,. iewers deur die loop van graad 1, eers met mening inskop, het ons agtergekom, is daar vir hulle niks lekkerder as om te lees nie. Die laaste ruk kry Klaradyn elke dag 'n persoonlike liegfdesboodskappie van Mamma en Pappa wat ek in haar kosblik sit, om te lees.
Gister verander ek dit met die oog op die maandelange weeklange vakansie na briefies, nie van Pappa én Mamma nie, maar bloot van Pappa:
Pappas se dogters is soos blomme – dit maak die hele wêreld mooi lyk en lekker ruik en goed voel.
Soos 'n roos tussen 'n land vol baie dorings, so is my dogter vir my.
Sonder 'n dogter soos Klaradyn, was my lewe leeg.
Hierdie pappa se grootste skat is sy dogter, Klaradyn.
Die grootste geskenk wat liewe Mamma my ooit gegee het, was klein Klaradyn.
Klaradyn kan dalk eendag te groot word vir my skoot, maar sy sal nooit te groot wees vir my hart nie.
Hiervan weet of vermoed die kind hopelik niks.
Maar sy weet van Mamma se pakkie in haar tas. (Het sy nie ses keer vir Mamma gesê dat daar nie meer plek vir 'n enkele ding in haar tas – veral nie heel onder in haar tas – is nie? Het sy nie ses keer genoem dat Mamma regtig nie nodig het om haar tas nog een enkele keer oop te maak nie?)
So iewers in die laaste uur voordat Ouma en Oupa hier gestop het om hulle op te tel, het Klaradyn in 'n onbewaakte minuut of wat, die hartjie hier bo vir haar pappa gemaak.
En daar stuur sy vir my en haar ma totaal oor die rand toe sy dit onder die vrugtebak uithaal, my om die bene gryp en die kaartjie vir my gee.
Ek het op 'n vorige geleentheid agtergekom dat die woorde marry me please vir haar die hoogste en suiwerste uitdrukking van die hoogste en suiwerste vorm van liefde is. En toe kry ek dit gister weer.
Daarom dat ek die waarheid praat, elke woord bedoel en nie 'n enkele een lieg nie as ek sê:  Pappas se dogters is soos blomme – dit maak die hele wêreld mooi lyk en lekker ruik en goed voel. Soos 'n roos tussen 'n land vol baie dorings, so is my dogter vir my. Sonder 'n dogter soos Klaradyn, was my lewe leeg. Hierdie pappa se grootste skat is sy dogter, Klaradyn. Die grootste geskenk wat liewe Mamma my gegee het, was klein Klaradyn. Klaradyn kan dalk eendag te groot word vir my skoot, maar sy sal nooit te groot wees vir my hart nie.
Met 'n Annieka wat van tyd tot nog steeds ons stoele in gevaar sit om haar op my skoot tuis te kom maak, weet ek in elk geval nie of my skoot ooit te klein gaan word vir én my vrou én my kind nie, wat nog te sê my hart.

No comments: