Pages

30.9.11

Quarta horribilis / met 'n bossie pers bergblomme van lap en plastiek


In die jaar wat my baas ‘n hele klompie jare gelede ‘n ouer aan die dood afgestaan het, het hy, die dag toe ons die einde van die jaar, en toe ook al maande na die afsterwe, van mekaar afskeid neem, met emosie erken dat dié betrokke jaar vir hom ‘n annus horribilis was.

Met hierdie kwartaal wat vandag sy gat gesien het, het quarta horribilis gisteraand deur my gedagtes geflits toe ek in die SPAR in die tou val om te betaal.

Ons SPAR het so drie maande gelede homself begin verbeel hy is ‘n Woolworths – jy staan nie meer in 9 toue by die 9 kasregisters nie, nee, jy staan a‘la Woolies in een moewiese lang tou om aan die hand van ‘n lig en luidspreker, een vir een na die eerste oop en beskikbare kasregister opgekommandeer te word.

Om al die mak skape by die kasregisters uit te kry, moet ons nou soos vee in ‘n lang smal drukgang af. En getrou aan die geldwolf en geldmag se gewoonte is hierdie drukgang van links en regs gelaai met sjokolade.

En toe word die tou vir my bietjie lank, want dit was altyd so lekker om hier Judy se sjokolade-aankope te doen – aan die begin van die gang was dit die kommin goed (vir die verpleegpersoneel) en regs voor (amper by die eindpunt) staan die Lindt waarvoor sy so lief was.

Toe flits quarta horribilis momenteel deur my kop.

Dat die ou vrou dood is, het ek geen maar geen probleem mee nie – die mediese wetenskap het haar lewe in 1998 al met 17 jaar verleng. Die dokters het destyds gesê die operasie sal haar hart so 7, maksimum 10, ekstra lewensjare gee.

Dit het toe 17 geword.

Ons gesin het niks anders as stof tot dankbaarheid nie.

Rondom haar dood, is daar egter steeds 'n paar dingetjies waarmee ek moet vrede maak:

Toe haar dokter Vrydag ontbied word, word aangeteken dat hy laat weet hy is te besig om te kom.

Toe ek Sondag 12:00 by haar kom toe was haar dokter, of enige ander dokter wat dan nie te besig is om te kom, nog nie by haar nie.

Tussen Vrydagoggend wat ek my ma slapend aangetref het, en Sondag, toe ons gesin daar opdaag om saam met haar Klaradyn se verjaarsdag, my verjaarsdag en Lentedag te vier, kon die ouetehuis, wat my al hoeveel keer gebel het,  my nie in die hande kry om te sê my ma is nou al drie dae siek nie.

Wanneer haar dokter haar die eerste keer gesien het, weet ek nie – ek vermoed Woensdagoggend voor haar dood, toe hy laat weet het hulle moet ons laat kom sy is sterwend.

Tot op daardie punt, as ek uitvra na die dokter, moet ek hoor verslae en toetsuitslae is heen en weer gefaks en gestuur.

En dan die dierbare Dominee:  Ék doen hóm die guns om enigsins 'n begrafnisdiens te kan hou, dan dring hy aan op 'n diens in die kerk, in plaas van in die tuin onder die bome waar ek (én my ma) bymekaar sou wou kom.

Dit kon ek nog sluk, maar toe hy my begrafnisbrief aanpas om Job in te sluit wat volgens die ’83-vertaling sou gesê het dat die Here gegee en dat die Here toe weer geneem het, het ek lus en gooi hom teen met die blompot aan die voet van sy kansel.

As ek gereken het dit was die Here se wil dat my ma gesterf het soos wat sy gesterf het sou ek sinnetjies soos die volgende ingesit het:

Dit het die Hemelse Vader behaag om van ons weg te neem ons geliefde en beminde...

Onder die Wil en toelating van ons Hemelse Vader is deur die dood van ons weggeneem...

Deur ons Hemelse Vader se besluit is haar gees terug na God, die Gewer daarvan, en haar liggaam terug na die aarde soos dit moet wees.

Haar stem het stil geraak toe God geroep en Sy Wil bekend gemaak het.

Dieselfde hand wat jou aan die slaap gesus het sal jou wakker maak met die opstandingsmôre. Ons Hemelse Vader het dit so beplan om ons geliefde...

Maar oor dit louter kale snert is, doen ek dit doelbewus nie.

En dan het dit niks met ongeloof te doen nie – selfs die Pous, of iemand soortgelyk, soos die Moderator van NG-kerk, sal, ken hy die omstandighede van my ma se dood, moeilik daaraan sluk dat dit 'n God van Liede enigsins kan behaag om 'n geliefde pasiënt, ma en ouma op so 'n wyse en onder sulke omstandighede op te roep vir die een of ander hemelse diens.

Maar ek vergeef hom 100%. Hy herinner my bloot aan die fabel waar die skerpioen die padda, wat hom na veiligheid swem, in die middel van die rivier doodsteek met die woorde:  “Ek kan nie anders nie, dis in my aard!”

Maar toe ek vanoggend wakker word met die pers blom voor my oog en in my gedagtes, en ek lag, toe weet ek daar is 'n tweede ding wat ek vergewe het, 'n tweede iets waarmee ek vrede gemaak het: die bossie pers bergblomme van lap en plastiek.

Toe die dokter haar toe nou die Woensdag te siene kry en besef dis nie deur sy toedoen nie, maar alleenlik deur die genade dat sy nog asemhaal, verlig hy summier die laaste vier dae se alle hel op aarde deur haar met morfien te verdoof (ek is hom dit ewig dankbaar - en ewig spyt dat hy dit so laat eers gedoen het) en laat hy die familie toe ook bel om gou te kom afskeid neem.

Toe ek toe nou, twee ure nadat ek die oggend daar weg is, weer daar aankom, toe is die ou vrou in so toestand dat sy gelukkig nie eers weet sy sterf nie. Of dat een van baie geliefdes, as verteenwoordiger van hulle almal, darem daar is om afskeid te neem nie.

En dit was ook nie lank nie, toe verdrink haar longe in die water wat die versaakte hart en liggaam nie kon wegwerk nie.

Die stomme vrou het geheel en al teen haar aard en natuur in gesterf: luid en met 'n moerse geroggel. Ek glimlag nog so by myself en dink dat as daardie my ma se laaste asem was, dan was dit darem vreeslik teatraal van haar gewees. So asof ek vir haar wil sê:  “Ma, jy kan maar rustig heengaan, jy hoef nie so 'n scene daarvan te maak nie.”

En toe was dit, genadiglik, met 'n glimlag ('n glimlag wat sy sou beantwoord het, was sy by haar volle positiewe) haar laaste asem.

Ek kon toe nou lekker van die ou vrou afskeid neem, my groete groet en geselsies gesels.

Ons gesin doen nie oop kiste en sulke dinge in die kerk nie. Ek vind dit trouens makaber (wat dit natuurlik nie is nie).

Ek wil nie later, of in die gedagtes afskeid neem nie, ek wil daar op die toneel groet en klaar groet.

En dit is my toe gelukkig gegun.

Ja, ek weet dis absurd, jy tree in gesprek met 'n dooie homp menslike afval en oorskot, jy streel en groet en troetel niks anders nie as menslike reste. Maar vanuit die perspektief van die naasbestaande is dit op daardie oomblik (en vandag steeds) die mees rasionele ding onder die son.

So ons kuier toe oulaas en ek kyk gou of hulle goed na my ma gekyk het, en of hulle haar met bedsere aan die lewe laat vasbyt het.

Maar dan kom vra die suster of sy nie my ma kan kom versorg nie. Dan wil ek vir haar sê:  “My donder, Suster, my ma is dood, daar is niks wat jy nou vir haar kan doen nie – los ons uit, ons kuier oulaas.”

Dan dra hulle tee aan. En vra 'n tweede keer beleef of hulle nie maar na my ma kan omsien nie.

Dan wil ek my vererg, want dis mos nou duidelik dat ek nog heerlik kuier en nie nodig het om gepla te word nie. "Bring eerder daar vir my nog 'n koppie tee."

Dis eers die vierde keer dat dit tot my deurskemer – hierdie suster, wat baie meer ondervinding as ek van lyke het, weet meer van rigor mortis af as ek – hulle wil haar uitlê, voor dit ongemaklik raak.

Maar op daardie punt was die Dominee (en op hom kan altyd gereken word) al daar en hy skeur my toe weg om AVBOB te gaan bel.

En toe ons terugkom, toe het die Suster die verpleegpersoneel ingestuur gehad om die lyk “gemaklik te maak”. (Miskien is dit hulle wat die Ds. opkommandeer het:  “Dominee, jy moet kom help! Daardie vrou gaan styf skop en ons kry nie haar seun daar weg nie, ons kan nie ons werk doen nie!”)

Want daar lê die dierbare ou stukkie lyf in die poeierblou pajamas toe nie meer soos ek haar gelos het nie, maar plat op die naat van haar rug soos 'n telefoonpaal, met 'n opgerolde handdoek onder haar ken (seker om te keer dat die mondjie oopgaap)

En teen haar oor: 'n PERS BLOM VAN LAP EN PLASTIEK, dramaties, effekberekend geposisioneer.

Ek het die oggend vroeg, toe ek hoor sy gaan nog vyf dae daar lê om haar kursus antibiotika klaar te maak, na haar kamer gegaan en die imitation potplant wat in haar kamer was, gaan haal om vir 'n bietjie kunsmatige lewe in die hospitaalkamer te sorg.

En dis toe nou 'n tak van hierdie pers viooltjies wat die lykbesorger/lykversorger uitpluk en teen my ma se slaap lê-maak.

Die persoon kan regtig bly wees my ma se verstand was by haar dood so weggekalwe dat sy nie summier in die bed omgedraai het nie. Het hulle haar 10 jaar terug met so plastiek-en-lapblom verfraai, het sy sweerlik van onsteltenis net daar op die plek 'n tweede asem gekry.

Ek het, toe ek klaar geroet het, die handdoek en blom weer op hul oorspronklike plekke gesit.

En as ek my ma weer sien, dan is sy in 'n lieflike houtkissie.

En as jy dink dis mal en laf om met 'n dooie lyk in gesprek te wil tree – het jy 'n idee hoe lekker mens met so kissie kan gesels?

Vra my, ek weet. My ma het seker vir ses of sewe jaar met haar oorlede suster se kissie in die snoepkas gesit – so tussen die chocolates, Kersfeeskoek en beskuit.

Ek mis my ma se geselskap en kan nie wag dat sy weer by ons aansluit nie.

Dit was haar wens dat haar as in die see gegooi word.

Ek reken sy is nou dood en kan nie weet wat ons met haar aanvang nie.

Dit sal nie veel van my vat om haar op die kaggelrak staan te maak tot in lengte van dae nie.

Gelukkig het ons nie eers 'n kaggel nie...

...en heg ek geen waarde aan dit wat na 'n verassing van die liggaam oor is nie, dis materie wat van die begin reeds daar was, en, soverre ons huidige gebrekkige kennis strek, altyd daar sal wees – dit het op enige ander plek, as op die kaggelrak of in die motorhuis (of in 'n gedenkmuur gemessel) 'n veel groter en belangriker doel en funksie.

Vanoggend word ek toe egter wakker, en dis waarby ek wou uitkom, met 'n prentjie van daardie pers blom, so reguit en dood en styf soos 'n lyk, langs my ma gesig.

En ek deins nie terug soos 'n maand gelede nie (wanneer is my ma oorlede, ek weet nie eers nie) – ek kry 'n glimlag.

En ek maak vrede met wie ook al die vulgêre banale handeling gepleeg het, want ek weet die persoon het net goed bedoel, en vanuit haar/sy perspektief was dit die beste, slimste, oulikste ding om te doen.

Ek het die plastiekplant in sy wit pot terug gevat na my ma se kamer toe, en al haar ander very upperclass and stylish artificial plantjies in 'n slapende ou tannie se kamer gelos toe ek die dag oulaas met al haar goedjies daar uit is – miskien bring dit bietjie vreugde in 'n ander se hart.

(Hoekom ek toe nou 'n blinde ou tannie se kamer moes kies om dit in te sit, sal ek nie weet nie, maar saam met die verpleegsuster het ons toe darem 'n beter keuse kon uitoefen.)

Ek sê ook nou ek het vrede gemaak met twee van die vier dinge wat krap. Ek lieg, dis drie van die vier.

Ek het vrede gemaak met die ouetehuis wat my nie gebel het om te laat weet van die siekte nie. Ek weet hulle het probeer, na die beste van hul gebrekkige vermoë. Hulle het my by twee nommers wat verkeerdelik deur administrasie aan hulle deurgegee is(of hulle verkeerderlik neergeskryf het) probeer bel – iets soos 083-739-6886 en 083-739-6686 in plaas van 083-739-6889.

Dis tyd dat ek by die dokter uitkom en gesels.

Gelukkig is ek iemand wat vreeslik maklik 'n rat voor die oë gedraai kan word.

NS:  En soos die noodlot dit bestem, spoor ons Tannie Anne toe vanoggend op. Ons soek reistasse, en daar, in die eerste een wat ons oorweeg, is Tannie Anne se houtkassie. Weliswaar sonder haar as - haar seun het die as by Judy gekry, gestrooi, en die kissie terugbesorg.

No comments: