Toe ek begin verlede week iets rondom Klaradyn se
verjaarsdag soek om op my Ougoed-blog te pos, toe keer die volgende drie
paragrawe uit verlede jaar se vertelling my, juis omdat ek myself nie wou
herinner aan hoe gat dit ‘n jaar gelede vir my was om vir ‘n
gesinsverjaarsdagete aan te sit, en dit met Judy nie soos altyd by ons nie,
maar net om die draai in die ouetehuis nie:
“En toe
tjank ek Sondag heerlik onder die tafelgebed wat ek Annieka gevra het sy my
swaer moet vra om te doen: dit was die
eerste verjaarsdagete sonder Ouma Nooi.
Ek was
Sondag daar om haar op te tel, maar ek het geweet dit sal ‘n onreg teenoor
myself, teenoor my ma, en die ander gaste wees. Dit was Sondag twee dae dat ek
gevoel het ek gaan kuier by ‘n vegetable. Miskien was dit twee af dae, ek sal
vanmiddag sien; miskien gaan sy net baie vinnig, baie drasties agteruit.
Maar Ouma
was daar, in die poeding (een van haar resepte) wat Annieka gemaak het, en toe
ek die kouevleis in die bord pak en ek donder en plak dit nie sommer net op die
bord nie, toe weet ek dis ook hoe my ma dit sou gedoen het.”
Nogal ironies, want twee dae later toe is die vrou
nie eens meer in die ouetehuis nie.
Maar nee, ek sal lieg as ek sê dat my verjaarsdag in die skadu
van Judy se dood gestaan het.
Ek regresseer na daardie kinderdae waarvan ek vroeë vertel het: ek verbeel my ons afgestorwe geliefdes hou ons
van iewers op 'n wolkie dop.
En dit sal beslis nie ons dierbare ou vrou se
goedkeuring wegdra as ek toelaat om ons gesinnetjie se feesdag op te foeter met
trane en dweep nie.
So ons het 'n heerlike dag gehad – wat afgeskop
het met my gunsteling ontbytkos, en dit nogal in die bed: Griekse Joghurt met heuning en kasjoeneute.
Wat dit lekkerder as enige vorige keer wat ek dit
nog ooit geëet het, gemaak het, is die feit dat Klaradyn dit vir my voorberei
het – alles, self.
Annieka is regtig die fynste van fynste fyn
waarnemers as dit by die keuse van verjaarsdaggeskenke kom. Ek kan nie voorgee
om iets te wil hê
wat ek nie regtig wil hê nie, sy kom dit agter. Maar van oor 'n afstand
van etlike rakke moes sy my lyftaal sowat 'n maand gelede fyn dopgehou het –
want toe ek haar pakkie oopmaak, toe is dit die einste boeke waarin ek my
verdiep het. (Die enigste rede waarom ek daardie dag nie roekeloos geraak en
die goed gekoop het nie, was omdat dit Klaradyn se verjaarsdagmaand was en ek
geweet het daar lê
nog baie uitgawes voor.)
Van Klaradyn, iets van Russell Hobbs, vir die
kombuis, waarsonder ek nie kan klaarkom nie.
Klaradyn het, sonder dat sy eintlik regtig weet
wat dit is, voorgestel dat Annieka vir my 'n GPS aanskaf.
Annieka het versigtig navraag gedoen, maar eintlik
het sy geweet wat my reaksie sou wees:
wat op deeske aarde moet ek met 'n GPS doen, daarsonder doen ek bloot
net wat ek die laaste 40 doen.
Gelukkig het die kind se voorkeur getaan die
oomblik toe hulle vir Oom Russell Hobbs in die winkels raakloop.
Toe skiet ons deur Hartbeespoortdam toe om daar by
die Kaasplaas, op die walle van een van die Wilgerivier se sytakke 'n piekniek
te geniet.
Aanvanklik sou ons die hele naweek veld toe gaan –
Pilanesberg toe – dis soorts van tradisie oor my verjaarsdagnaweek, maar
daarvan het toe nou niks gekom nie
Ja, dis opvallend hoeveel makliker die gedagtes na
Judy spring, sonder om alleroorheersend te wees. Ons sal wegry by die
Kaasplaas, en ek sal onthou dat ons hier regs is saam met Judy die keer toe ons
na die plaas is waar ek my donskomberse laat herstop het.
Dis nou nogal 'n lang en hartseer storie, vir 'n sentimentalis
soos ek. Ek sit met twee donskomberse van Oorle’ Ouma van Wyk (en dan praat ek
al van my oorle’ ma, en vir jare al van my oorle’ ouma, juis omdat Ouma van Wyk
so van oorle’ hierdie een en oorle’ daardie een gepraat het). Van oorle’ Ouma
Moolman het ek ook vier gansdonskussings.
Ek wil Ouma se twee donskomberse saamvoeg in 'n duvet
vir Klaradyn en dan kan ek sommer ander ouma se kussings bywerk.
By die skou loop ek toe die donkombersmense raak –
ja hulle sal my help.
Ek en Annieka, Klaradyn, Ouma Nooi (my ma) en Ouma
Wiesie (skoonma) skiet toe deur; ons maak dit 'n lieflike uitstappie met 'n besoek
aan die Hartbeespoortdam-hoogtepunte.
Ai, en toe ek 'n maand later my donsduvet terug
kry, toe het hulle van nege tiendes van my dons ontslae geraak en hulle nuwe
dons bygesit – oor my dons glo platgeval en uitgewerk en te oud was.
O, ek was die hel in. Dit het vir my geensins oor
die veerkrag van die dons gegaan nie, dit was die herinnering, die sentiment,
die verlede wat ek vir Klaradyn wou bewaar. Hoeveel mense sal eendag kan sê dat hierdie duvet van haar
oorspronklik haar twee ouma grootjies se donsbeddgoed was?
Maar so is daardie droom van my toe nou die drein
af.
Meer nog toe ons vir Klaradyn eerder skaapwol in
haar duvet moes kry – die kind het 'n allergiese reaksie op dons en word
soggens siek wakker as sy aan te veel dons blootgestel is.
Ewentwel, was Judy nog in die lewe, sou ons besoek
aan die gansboerdery nie deur my gedagtes geflits het nie, maar Sondag toe
skiet dit deur my gedagtes toe ek opkyk Skeerpoort se rigting toe.
Die musiek in die motor neem my in 'n stadium
terug universiteit toe. Toe onthou ek, wat ek andersins nooit sou onthou het
nie, Marianne Faithfull se plaat uit my universiteitsdae en ek dink aan Ballad
of Lucy Jordan. In daardie jare het die liedjie my al met deernis aan my ma
herinner. Toe nou Sondag in die motor weer.
Veral na ek in aanloop tot die begrafenis by
herhaling gedink het hoeveel beter sy verdien het as wat sy gekry het, hoeveel
onvervulde drome, waarvan ek niks weet nie, daar miskien nie in haar is nie:
The morning sun touched lightly on the eyes of Lucy Jordan
In a white suburban bedroom in a white suburban town
As she lay there 'neath the covers dreaming of a thousand lovers
Till the world turned to orange and the room went spinning round.
At the age of thirty-seven she realised she'd never
Ride through Paris in a sports car with the warm wind in her hair.
So she let the phone keep ringing and she sat there softly singing
Little nursery rhymes she'd memorised in her daddy's easy chair.
Her husband, he's off to work and the kids are off to school,
And there are, oh, so many ways for her to spend the day.
She could clean the house for hours or rearrange the flowers
Or run naked through the shady street screaming all the way.
At the age of thirty-seven she realised she'd never
Ride through Paris in a sports car with the warm wind in her hair
So she let the phone keep ringing as she sat there softly singing
Pretty nursery rhymes she'd memorised in her daddy's easy chair.
The evening sun touched gently on the eyes of Lucy Jordan
On the roof top where she climbed when all the laughter grew too loud
And she bowed and curtsied to the man who reached and offered her his hand,
And he led her down to the long white car that waited past the crowd.
At the age of thirty-seven she knew she'd found forever
As she rode along through Paris with the warm wind in her hair ...
As ek gelukkig is, hoor ek hierdie liedjie nooit
weer in my lewe nie.
Om van Lara’s
Theme en Blue Spanish Eyes nie
te praat nie.
Ek sal tien teen een aan die drink gaan as Lara se
tema weer deur my kop moet gaan.
En die blou Spaanse ogies waarvoor sy so lief was
het my tot twee jaar voor haar dood fassineer:
Haar peetkind se oudste trou. Ek en Annieka en
Ouma Nooi en Klaradyn sit af berge toe vir die troue. Jac en Bev vlieg van die
Kaap af vir die geselligheid. Die twee oues is Judy en haar oorle’ broer se
vrou. Van Judy se brein is min oor, baie min. Voor ek haar vroegaand kamer toe
neem om te gaan slaap, sit ons om die troue se kuiertafel en die orkes speel
Blue Spanish Eyes.
My ma het die hele aand, op 81, nie een keer op
die musiek reageer nie. Die oomblik toe haar gunsteling speel, lig sy die kop
en deel met almal aan die tafel: “Hoor
net daar, is dit nie mooi nie!”
Dis wonderlik om wonderlike herinneringe te kan hê.
En aan die drink sal ek tog nou nooit eendag by die aanhoor daarvan gaan nie; aan die tjank wel.
Maar dit sal lieflike tjank wees.
En dis 'n voorreg. So baie mense het nie noodwendig
wonderlike herinneringe waarvan die hart kan oorloop nie.
My skryf daarvan en gesels daaroor is niks anders
as die koestering van hierdie mooi en goed nie.
No comments:
Post a Comment