Ek is baie lief vir skoolhou en die kinders vir wie ek
skool hou. Partykeer kry ek die kinders egter meer jammer as wat ek vir hulle
lief is, juis oor hulle met iemand soos ek opgeskeep moet sit.
Die kwartaal staan einde se kant toe en ek kyk terug
op 'n wonderlike kwartaal van poësie, 'n kwartaal waarin ek die leerders
uitgedaag het om talle grense te versit.
Maar ek kry hulle steeds jammer: net gister is ek by
'n handboekuitstalling oor die handboeke vir die nuwe interpretasie van die
sillabus wat volgende jaar in aanvang neem. Ek maak 'n punt daarvan om te kyk
na die gedigte wat in die boeke aangespreek word en kort-kort, gister, val dit
my op dat die handboeke van my verwag om gedigte met die graad 10’s te doen
waaraan ons die leerders in graad 8 al bloot- en bekendgestel het.
Maar terug na hierdie kwartaal en die leerders se
gedigte – ons het die hele kwartaal in die Karoo gekuier, sommer vir drie
gedigte op dieselfde dorp.
Ons het weggeval met twee Beaufort-Wes gedigte, so 40
na 50 jaar uit mekaar geskep. Die eerste was
NPVWL se Karoo-dorp: someraand.
Karoo-dorp: Someraand
Die laat-middag het room geword
en treine wat ver fluit
en ’n wit-bont klaas-skáwagter
wat wag-hou op ’n kluit
en treine wat ver fluit
en ’n wit-bont klaas-skáwagter
wat wag-hou op ’n kluit
en rook uit die lokasie rook
en by die dorpsdam sing
en mense in tennisbroekies loop
die koper skemer in
en mense in tennisbroekies loop
die koper skemer in
dóér op die nasionale pad
loop motortjies onhoorbaar, hoog;
Oum-Appie-Slagkraal se ou fiets
kom staan, vanself, moeg, voor die oog.
loop motortjies onhoorbaar, hoog;
Oum-Appie-Slagkraal se ou fiets
kom staan, vanself, moeg, voor die oog.
Tant’-Tolie-met-die-kanker kom
sit op die bordienghuis se stoep:
vanaand gaan hoor ons nog hoe sy
Die Here en die uile roep.
sit op die bordienghuis se stoep:
vanaand gaan hoor ons nog hoe sy
Die Here en die uile roep.
Daarna
loer ons in by Gert Vlok Nel se herinneringe wat op dieselfde dorp afspeel – en
ek maak seker die kinders luister na Gert wat sy eie liedjie sing, en nie na
ander weergawes wat die kinders beter ken nie. Ook wil ek die leerders bekend
stel aan een van die meer vryer vrye verse wat ons in Afrikaans kry.
Beautiful in Beaufort-Wes
En jy was beautiful in Beaufort-Wes en ek was so
verskrik en verskriklik lief vir jou en jy het op grafte en op treine en op
Ford Fairlane se agterseats gevry en nou is jy en jou man both computer
analysts en laas winter you tried to clip above your wrists en nou skryf jy vir
my jy kan nie meer slaap nie, nie meer lag nie, nie meer iets vir jouself doen
nie, nooit ooit weer vir my soen nie
En mooi mooi mooi was jou woorde ook terwyl jy menthol
sigarette rook en daai sweet sweet dinge vir my se terwyl jy sweet sweet in my
arms le en die presiese woorde het ek presies vergeet ek onthou net die rook en
die sweet in Beaufort-Wes en jou kaal liggaam onder 'n cool summer cotton dress
nie meer slaap nie, nie meer lag nie nie meer iets vir mekaar doen nie nooit
ooit weer vir jou soen nie
En dis miskien soos 'n storie uit die Huisgenoot, maar
jy't een aand skielik vir my weggestoot en in die rear view mirror jou gesig
gekyk en gese 'miskien moet ek gelukkiger lyk' daardie aand kon ek nie aan die
slaap raak nie en het gevoel hoe my hart losruk uit my lyf en soos 'n roeiboot
in die rivier afdryf ek kon nie meer slaap nie, nie meer lag nie, nie meer iets
ooit reg doen nie, nooit ooit weer vir jou soen nie
En die laaste herinnering waaroor ek sing is die nag
toe ek en jy die melktrein aan en aan in die nag in ry tot anderkant die ding
dong gong van die breakfast waiter in die gang verby en dit was my wake-up call
my lief jy't gese wees asseblief lief vir my maar ek het gedroom ons het in
Beaufort-Wes gaan woon en ek kon nie meer slaap nie, nie meer lag nie, nie meer
so iets doen nie,
nooit ooit weer vir jou soen nie
nooit ooit weer vir jou soen nie
Toe word die kinders aan intertekstualiteit bekendgestel. Pieter Hugo tree in een van sy
gedigte lieflik in gesprek met beide hierdie gedigte, en toe ontmoet die
leerders hierdie man, wat ook in 'n stadium op Beaufort-Wes gewoon het, en sy
gedigte:
My Beaufort-Wes – Pieter Hugo
I Vir NPvWL
ek bly daar waar
die laatmiddag nog room word
maar treine wat ver fluit
ongehoord in ou gedigte hoort
ek bly daar waar
die nasionale pad dag en nag dreun
en Gert Vlok Nel se ou fiets
soms verbyknerp vanself moeg voor my oog
ek bly daar waar prossies
sit op die bordienghuis se stoep
vanaand gaan hoor ons nog hoe
die lorriedrywers vir hul toet
II Vir Gert
my Beaufort-Wes is net
‘n verstopping op die N1
dis nie i beautiful plek waar treine
eensydig
verbyswiesj na i liedjie vir koos nie
nee nee nee nie dit nie glad nie dit nie
gert
my Beaufort-Wes is ‘n on-onderbroke
lorriestoet wat
stop en ry en draai en toet en
exhaust brake en tjips en
diesel en meisies koop en
nagdeur op en af grom sodat
ek nie eers meer so half
wakker half iewers innie nag
ou moeë windpompe
hoenders of donkies gots is
daar nog iets wat so uit
dieptes gans verlore klink nee nie meer
kan hoor nie
nie eers
meer i treinerige trein kan hoor nie gert
ons Beaufort-Wes is net
‘n verstopping op die N1
Sommige verwysings in hierdie gedig verwag egter van
die leser 'n wyer kennisname van Gert Vlok Nel se gedigte. Toe staan ons stil
by die volgende gedig van hierdie man wat op sy beurt ook weer met NPVWL se
oorspronklike gedig in gesprek tree:
die dag toe hulle vir Donkie Viviers
jou ma
is dood.
by die skool.
het hy sy tas.
sy kop.
gespoeg.
& geskreeu.
& afgehol oor die groen velde van
die rugby.
die totempale.
die busstoor, die hut van die vermoorde
opsigter.
die xhosa-grassnyer, briljant & kru,
dormant.
(sy vrou bo in die linnekamer, dom &
sku, verreken.)
die wagtende ouers in motorige motors,
latent.
die intriges op baisiekels, berekend.
verby bomerige bome.
toe verby my (& toe verby jou).
verby die gedig.
deur die na buite toe oop hek.
verby elsa wat haar eerste maandstonde
in die biologieklas.
af in die lig straat.
verby die regop grafte.
daai een wat oos kyk.
die wat wes.
bo-oor huise strate poskantoor kerk.
die laaste stasie op die planeet,
beaufort-wes.
inner inner in die skemer in.
tot in sy peperboomste peperboom.
in sy agteryardste agteryard.
& die laatmiddag het chroom geword.
& trein wat ysig fluit.
'n Mens kan egter nie jou kinders op
intertekstualiteit wil wys, as jy nie jou kinders by die volgende
Oudtshoorn/KKNK-gedig van Lou-Ann Stone uitgebring het nie:
Karoo-dorp: herfsaand -
Lou-Ann
Stone
na ‘n gedig van N.P. van Wyk Louw
Die laatmiddag het dronk geword
en uit tente gil dit luid
en ‘n wit-bruin rassevoorval
word uit die kroeg gesmyt
en rook uit braaivleisvure rook,
en by die dorpstadion sing
en mense in rugbybroekies loop
die rumoerende skemer in.
Dóér op die geraasplaas
loop die gemoedere hoog,
Ou-Appie-Vuiste is wéér in die koerant:
“Bekende swaai appels by die oog.”
Tant’-Tollie-met-die-kunsstreep
koop skilderye op die stoep,
vanaand praat die uile by die
Boekeparadys,
Terwyl ‘n backtrack oor die koppies
roep.
En omdat ons toe nou al so lank op die platteland en
in die Karoo kuier, besluit ek toe om daar te bly met die volgende twee
gedigte:
‘n blik op ‘n dorp - Pieter Hugo
die dorpie se vaal hoofstraat
sug stowwerig toe ‘n warm wind roer
en ‘n koeldrankblikkie so luierig
tinketing in die straat af begin rol
blikkeblinkabling verby die kraamsuster
se afgeleefde ou karretjie
tingelingkelingting
verby die skool waar die verveelde
kinders
amper aandagtig grinnik vir die
tinkeblinkerinkink
verby kantore winkels kerk hotel al
vinniger
tingtingtingtingketing die wind nou met
rukke nukkerig
rakelings tingbliksing verby die
regteragterwiel
van die lykswa wat statig-stadig in trurat
straatin draai
gatoorkopoorkopoorkop
tenketankatenketankateng
in die stofstorm bultaf dorpuit die
ewige bliksemse vlakte in
En:
hoe om ’n dorp te verf
begin
by die posbusse –
massiewe gholfballe, skoene, pampoene
geskakeer met fyn skadu’s van roes
verf dan die skoolbusse
skeur die banke en skryf op die dak
woorde wat rym met“oes” en “ak”
(onthou om spelfoute te maak)
skets die skoolmure na aan mekaar
om drome in te perk en daar te bewaar
teken dan ’n tandlose vrou by die
drankwinkel-till
’n skoolrok by die kliniek in ’n ry
vir die pil
’n beroofde bejaarde wat op ’n
sypaadjie bewe
’n horlosie op ’n kerktoring sonder
’n sewe
’n kind wat rook agter ’n stegie se
muur
en bergies wat baklei langs ’n
uitgebrande vuur
laat alles dan verbleik en verweer
spoeg op die sypaadjies
boor gate in die teer
en herhaal
’n paar honderd maal
Herhaal
Annie Klopper
Naas Gert Vlok Nel en NPVWL se gedigte, kom al die
ander gedigte uit 'n bundel wat verlede jaar verskyn het, Nuwe Stemme 4. Lees gerus meer oor hierdie bundel by, Tafelberg, die uitgewers van die boek.
Dit was vir my heerlik, dit het my ontsettend baie
vreugde verskaf, om my leerders aan sommige van nuutste stemme en jongste
gedigte in Afrikaans bloot te kon stel.
En dit alles te danke aan 'n verjaarsdagpresent (die
digbundel) wat ek verlede jaar by die departementshoof van Engels en goeie
vriendin van my, Annieka en Klaradyn, as geskenk gekry het.
So as die kinders vir my vies is oor die gedigte wat
ons doen – min weet hulle dis nie op my nie, maar die Engelse juffrou, wat
hulle hul gramstrorigheid moet uithaal!
Die enigste troos wat 'n onderwyser het, bly egter: iewers het dit aan
iemand, al is dit net een kind, 'n verskil gemaak. En as dit het, is dit
genoeg.
No comments:
Post a Comment