Ek wil afstap van die dood – nie dat 'n mens, vermoed ek ten
sterkste, ooit van 'n afgestorwe ouer soos Judy kan af- of wegstap nie – so nog
net hierdie gesels, en een volgende enetjie wat wag om uitgeskryf te word.
Ek glo nie ek verbeel my nie, ek hét my ouma se geslag by
herhaling hoor praat van 'n “mooie
begrafenis.”
Nou wat “'n mooie begrafenis” vir daardie geslag, dertig of
veertig jaar gelede was, sal ek nie weet nie.
Maar vir my, Hans Moolman was Judy (en om te dink dat
as ek jonger was, hulle my nou in weeshuis sou moes laat opneem) se begrafenis
gister, 'n mooie begrafenis gewees.
En indien nie mooi nie
dan goed en reg en (hopelik) soos sy dit
sou wou gehad het.
Begrafnis, in dertig of veertig jaar gelede se stoere Boere
siening van 'n begrafenis, was dit dan nou ongelukkig ook nie gewees nie.
Dit was lewenslank die vrou se wens om veras te word – sy
het in jonger dae hopeloos te veel sirkusse
vir begrafenisse bygewoon, te veel akelige herinneringe rondom oop grafte
opgebou, selfs een beleef waar wenende naasbestaandes letterlik in die graf
geval het.
So van ek my verstand het, het sy dit duidelik gemaak – sy
sal hier op aarde met die grootste vrymoedigheid deur die vuur gaan, dan hoef
sy dit nie daar anderkant te doen nie.
Daarom nie begrafnis nie, nie verassingsdiens in ‘n kapel by
'n krematorium soos met my pa nie, maar, in die woord van die dominee wat die
diens waargeneem het, 'n dankdiens.
My ma, weet ek, sou nie daarvan gehou het dat ons uit die
groot, koue, onpersoonlike, leë kerkgebou van haar afskeid neem nie.
Nee, ek druk myself verkeerd uit – dis nie dat sy nie daarvan sou gehou het
nie, sy sou dit bloot nie verkies het nie.
Ek het van Dinsdag, pas weg van die sterfbed, by AVBOB in
die kantoor, gereken op hoogstens 30 mense by die afskeid, en ek was reg, op die
kop, 30 het oulaas kom afskeid neem.
Dit was my opregte wens om van onder in die lieflike
lentetuin wat nou van nuuts af aan weer mooi word, van haar afskeid te neem.
Hoe baie het ons nie daar saam met haar gaan stap of eet nie. En elke keer,
danksy die dementia, was dit opnuut, asof met 'n eerste kennismaking, vir haar
pragtig.
Ek weet met my hele hart my ma sou dit verkies het, daar’s
genoeg bome en koelte en stoele, en was sy self daar, en hoogstens 7 jaar
jonger, sou sy verkies het om op haar alie op die groen gras te sit. (Sy was
baie lief vir die grond, en as ek aan my ma in ons sitkamer van my skooldae
dink, dan is dit nie op 'n stoel wat ek haar sien sit nie, maar op die grond.)
So nie, dan kleiner en intiemer in vanuit die sitkamer waar
die ou mensies dag na dag sitgemaak is.
Maar dit was dan nou nie moontlik nie. Ek vermoed die arme dominee
word gereeld met sulke versoek oorval, want hy was dadelik gereed met 'n baie
flou rede wat hy net so sterk as wat die verskoning flou was, oorgedra het.
En ek was nie lus vir stroomop swem nie, nie lus vir
konflik, koppestamp of baklei nie.
So toe neuk ons maar kerkgebou toe.
Daar het sagte orrelmusiek gespeel.
Ek sou, in herinnering aan my ma en ons laaste bykans 365
weeksoggende saam, eerder haar gunsteling musiek met diegene wat kom afskeid
neem het, wou deel. (En darem nie In the
Mood, wat by, was dit Spike Miligan,
se begrafnis gespeel het nie.)
Sy sou dit verkies het, maar toe luister ons maar orrel.
MAAR, en dis 'n groot MAAR, wat die res betref, glo en
vermoed ek ten sterkste, sou Judy van alles gehou het.
Elke keer, my lewe lank, as iemand van die Kaap af kom, dan
moes hulle vir haar 'n bos “Cape Select” bring – of daar so iets bestaan, weet
ek nie, maar vir haar was dit 'n mengsel (selection)
van Kaapse proteas, heide en wat daar ook al nog op die hange groei.
Toe Jac-hulle 'n hele klompie jare gelede af trek Kaap toe,
toe was dit vir haar 'n heerlikte – as hy nie op die parade kan stop nie, dan
sommer op die lughawe, maar vars bos Kaapse blomme was daar keer op keer in
haar huis.
O, hel, en Judy kon blomme versorg. Sy het dit vir drie
maande in die lewe gehou, en nes dit finaal verdroog is, was dit al weer tyd
vir Jac om op te kom Rand toe, dan het sy weer blomme vir die volgende twee
maande.
So dit was maklik:
“Boeta, jy moet voor jy kom vir ons net een ding doen, kry tog vir Ma 'n
groot bos van daai blomme waarvan sy so baie gehou het, dan sit ons dit vir
haar in die kerk.”
Judy het blomme vir troues gedoen, haar oudste seun s'n, en
toe sy 72 was, op my troue ook.
So nee, sy sal ons nooit vergewe het, as ons blomme deur 'n
bloemis laat doen het nie.
Ek het iewers in die baie vroeë tagtigerjare van die vorige eeu
vir haar twee lieflike potte van David Schlapobersky
en Felicity Potter se ateljee present gegee, so ons het die
blomme toe na die beste van ons gebrekkige vermoë daarin staangemaak.
Tussen die huis en die kerk gooi ons toe die water uit. En
by die kerk gekom, weet ek dat hierdie Kaapse bergblomme lag-lag tot more nog
sonder enige water kan staan, sonder om iets oor te kom.
Maar toe stap ek maar 8 keer heen en weer met 'n klein
gietertjie, eerder 'n keteltjie, want ek weet die ou vrou draai nie net in haar
graf om nie, sy klim daar waar sy lê uit die yskas uit – as sy moet weet
ek gee die blomme nie water nie.
Ek het seker drie jaar gelede al opgehou om vir haar
potplante in die outehuiskamer aan te hou – met die dat sy nie kon onthou nie,
het sy die stomme plante letterlik versuip deur die vyf of ses keer op 'n dag
water te gee. Ek is daar oortuig van dat Judy selfs daarin sou kon slaag om 'n
waterlelie te versuip van al die water en sorg.
So die blomme was, tot in die fynste besonderheid, soos Judy
daarvan sou gehou het: Kaaps, in haar
blou en goud lieflingspotte, met water tot een vingerlit van bo af.
Na die begrafnisreëlings Donderdag klaar was, het ek gaan
sit en sowat 60 kiekies uit haar foto-albums inskandeer. Dit het ek gevoeg by
sowat 60 skyfies wat ek 'n ruk gelede vir my broer op rekenaar gekry het, sodat
die mense kan sit en kýk ook, en nie net hoef te sit en luister nie.
My ma had 'n broertjie dood aan hierdie pers
begrafnisbriefies van AVBOB, sulke hartseer pers blommetjies, waarmee die mense
jare gelede huis toe gestuur is. Selfs toe my pa, drie jaar na hul egskeiding,
na sy graf toe is, was sy ontsteld dat hulle daardie pers blommetjies by sy
verassingsdiens gebruik het.
So dit was seker goed 25 jaar nou al, dat my ma geweet het
watter foto eendag op haar begrafnisbrief gaan wees. Ons het dit jare lank vir
mekaar gesê,
en dit was nie drie maande gelede nie, toe spoor ek die foto weer op – en toe
het ek hom gereed.
Die foto is einde 1986 geneem. By die see. Die see waar sy
altyd gesê
het ons eendag haar as moet gaan strooi. Sy het aan, dit wat sy vir jare haar
lekkerste en mooiste uitrusting genoem het – 'n skel seventies kaftan, en sy sit op haar alie, kaalvoet op 'n rots.
As mede-eienares (saam met haar suster) van 'n rokkewinkel,
moes sy ses dae van die week opdress
werk toe. As sy saans oormoeg na 'n harde dag se werk by die huis kom, het sy
dan een van haar kaftans aangetrek en begin kos maak. Later jare het sy dit oor
haar baaikostuum gedra, en dis hoe ons haar in 1986 daarin op kamera vasgevang
het.
So selfs die AVBOB-blaadjie, in plaas van die pers forget-me-nots, sou Judy se silent nod of aproval gekry het.
Had ons gewag tot Maandag, het ons definitief op 'n groter
begrafenis kon reken.
Vir die berekeninge in my kop wou ek dit egter so gou as
moontlik afgehandel kry en toe dit duidelik blyk dat die Kaap-familie op so
kort kennisgewing daar kan wees, toe bespreek ons die diens vir Vrydag. So
gebeur dit toe dat nie 'n enkele mens wat daar moet wees, nie daar kan wees
nie, en het ons, presies soos Judy sou wou, 'n klein en intieme byeenkoms. Al
drie neefs en enkele niggie, is toe vir die eerste keer sedert my broer se
troue, in die middel sewentigs, weer gelyk by mekaar en op een foto!
Vir 'n louerige, blouerige eier-mayonnaise-broodjie op 'n
verlepte kropslaai-blaartjie, met komplimente van die diensbare susters in die
gemeente, sou Judy nie raaksien nie. Vir 'n koeksister ook nie, selfs nie oor
haar dooie liggaam nie.
Toe poets ek een van haar gunsteling groot koperskinkborde,
kry 'n tweede soortgelyke een in die gereedheidshouding en trakteer Judy se
gaste op 'n ordentlike versnapering. Die vrou wat daarvoor pa gestaan het, dink
miskien sy het twee skinkborde (op die ou einde vier) met 'n verskeidenheid
soet en sout gepak, maar dit is geensins die geval nie – sy het voldoen aan dit
wat my ma se heel laaste wens rondom haar eie begrafenis sou kon wees:
stylvolle eetgoedjies, stylvol voortgesit.
Die dienende Marthas het my verseker hulle het glasbekers
vir die suiwer appelsap wat ons voorgesit het, en toe sien ek hulle skink net
so uit die bottels. Ek vergeef hulle, en hoop maar Judy het hulle nie
raakgesien nie.
Ja, dis jammer dat die beeld wat ek as kind gehad het – die
afgestorwenes wat vanuit die hemel almal se handel en wandel hier op aarde
dophou, bestaan nie meer nie. Ek sou graag so daaraan wou dink, met 'n
glimlaggende Judy wat alles met goedkeuring gadeslaan.
Ek kan my nie voorstel dat enige predikant veel
beroepsbevrediging aan die hand van begrafnisdienste beleef nie, gewone preke,
huwelike en selfs doopdienste, ja, maar nie sommer begrafenisse nie.
Maar ek
mag verkeerd wees.
Die laaste drie ander begrafnisdienste, vanuit drie
verskillende denominasies, wat ek bygewoon het, het nie een eens probeer om 'n
element van troos ingebou te hê nie, eerder 'n oproep tot bekering en
om nie van die kerk afvallig te raak nie.
Ek het trouens die idee begin kry dat die dominees baie
bekommerd oor lidmaatgetalle en salarisse begin raak – die dat hulle die mense
wat agterbly wil wakker skud met preke van bekering in plaas van troos.
En asof spesiaal bestel het die dominee, wat die boodskap betref, ons nie
voluit in hierdie slagyster ingestuur nie.
Die mooiste en grootste trooswoorde het egter vanuit 'n gans
ander oord gekom.
Laat ek egter eers noem wat ek agter op die AVBOB-blaadjie
aangebring het:
Dit sou 'n jammerte
wees as soveel liefde tot niet moes gaan – 'n leeftyd van liefde leef egter, in
die voorbeeld wat sy gestel het, voort in haar kinders, die seuns sowel as die
skoondogters. En deur hulle, op hul beurt, weer verder voort in hul kinders,
Marc, Joanne en Klaradyn. En eendag ook dié
se kinders. So kan Judy en haar oorvloed liefde dan ook nie anders as om nog
geslagte met ons te wees nie – sy gaan ook nie anders kan as om nog 'n vormende
invloed te hê op agter-agterkleinkinders
wat sy nooit geken het nie, wat haar
bestaan nooit eers sal vermoed nie.
En wat wag by die hek, later die dag toe ons twee broers vir
die eerste keer uitry om moederloos saam te gaan uiteet: die mooiste moewiese bos laggende bont
lenteblomme in 'n pot staangemaak, so mals van kleur en geur en lewe dat jy
teen sonsak steeds nodig het om jou donkerbril op te sit.
Annieka herken dadelik die handskrif, Klaradyn se graad
1-juffrou, ek sê dit kan onmoontlik nie wees nie. Maar by die lieflike ruiker, hierdie
woorde, wat volgens my natuurlik toe nou duidelik getuig van presies dit wat ek
wou tuisbring met die gedagte rondom 'n Judy wat dood is, maar voortleef in
haar kinders:
Alhoewel ek nie jul
spesiale mamma en ouma geken het nie, weet ek iemand wat só 'n spesiale pappa vir Klarie, en man
vir Annieka grootgemaak het, moes 'n formidabele mamma gewees het.
En so vind ek toe meer troos in hierdie vrou se woorde as
wat enige dominee ooit in enige preek sou kon oordra.
En net soos wat sy my ma, en nie vir my besing nie, het ook
my broer van haar gepraat toe hy in die kerk genoem het:
Thank you Hansie for
visiting our mother every day. Having a chocolate with her, putting perfume on
her, changing the pictures in her room, chatting to her. To make the last days
of her life more enjoyable and worth living for. Hansie, I am sure she will
miss you.
So vergeef my as ek dit 'n mooie begrafenis noem, maar vir
my was dit een van die mooiste van mooie begrafenisse ooit.
***
En daar, met die bysleep van die juffrou se bos blomme, het
ek toe nou die laaste gesels wat ek nog oor die dood wou aanknoop ook
uitgeskryf. So ek is nader aan klaar met die dood as wat ek vermoed het.
Miskien maak ek my skrywe aan die ouetehuisbestuur hier openbaar, ek weet nie.
Dankie aan elkeen wat tot hier vasgebyt het.
Oor Judy sal ek nog baie skryf – ek het haar lank hier
weggehou, dis immers Pappa-Mamma-en-Klaars, maar miskien, noudat ek nie meer
nodig het om te kla en hartseer te wees nie, kan ek weer, soos in die verlede, meer oor
haar gesels.
No comments:
Post a Comment