Ek bedryf
nou 'n sywurmboerdery vanuit my motor.
Klaradyn het drie van die goedjies present gekry. Haar eie
boks met eiers het onder misterieuse omstandighede van die rak in die motorhuis,
waar ek en sy dit self gesit en amper 'n jaar lank opgepas het, verdwyn. Laat
ek dit eerder stel: onder misterieuse omstandighede en veelseggende trekke om die mond van
Annieka se kant af.
Die drie sywurms het my herinner aan die kennisgewing in 'n vol
gepakte winkel, miskien het ek al daarna verwys: unattended children will be given espresso and a baby rabbit to take
home.
Sonder 'n boom, stop ek nou elke oggend af in die straat en
pluk 'n paar blare, maar oor ek die goed dan moet voer, is dit beter ek hou die
wurms in die motor. Ek los selfs die venster op 'n gleufie oop en sorg dat ek
nie parkeer as dit nie in die koelte is nie.
Toe laat val Jonathan Jansen gister (ook al meer as 'n week gelede, maar ek kom nou eers weer by hierdie,
een van baie onvoltooide inskrywings op my rekenaar se hardeskyf, uit) op
sy bladsy die volgende: “
Ek lê toe ook 'n eier maar practise
toe mooitjies in die proses presies die teenoorgestelde van dit wat ek my
leerders altyd preach. (Don’t do as I do, do as I tell you to do.)
Werk ons rondom 'n brief aan die pers, waarsku ek hulle altyd daarteen om tog
nie presies dieselfde kwyt te raak wat reeds in die berig/brief waarop hulle
reageer, kwyt geraak is nie. Waarom sal die redakteur immers koerantspasie
afstaan aan 'n skrywe wat onder die son niks nuut kwytraak nie.
Maar in die sosiale media is daar nie 'n redakteur wat
redigeer en kortknip nie en my eiertjie sal tot wie weet wanneer daar bly: “Hoe vreeslik waar is dit nie.”
Op daardie oomblik, toe ek sy opmerking lees, het ek net so
sterk daarmee identifiseer, dat ek nie anders kon as om op die een manier te
beaam nie. En my kommentaar was die beste waarmee ek op in daardie stadium en
met die tyd tot my beskikking vorendag kon kom. Siestog.
Dit was natuurlik nie die eerste keer dat hierdie woorde my
ore bereik het nie. Ek het dit al vantevore, by herhaling aangehoor, in ander
woorde miskien, maar steeds dieselfde boodskap.
Hoe selfsugtig, selfgesentreerd, egosentries en egoïsties ek
en Annieka voor Klaradyn alles, en dan bedoel ek ALLES, deurmekaar kom krap
het, sal ek nie weet nie.
Maar dis 'n feit dat nóg ek, nóg Annieka ons vorige
wederhelftes geskei het, voor ons met mekaar getrou het. En hoewel daar nie
sprake van veelmannery en –wywery sprake kan wees nie, is ons al twee met derde
partye in ons huwelik in.
Voor ons huwelik sou Annieka kon deurgaan as Mej. Annieka
Hoërskool Staatspresident CR Swart en ek as Mnr. Hans Jurgens Moolman
Menlopark. Na ons huwelik het sy bloot Mev. Annieka Moolman Menlopark geword,
en ek het onveranderd gebly – 'n man verander mos nie van van nie.
Die huweliksbootjie waarin ek en sy beide met ons werk was,
was wonderlike bootjies – die roete wat ons gevolg het, was ook sonder enige
gevaar: nêrens was daar rotse waarop die
huwelik kon loop nie. En soos die Titanic kon die bootjie nie sink nie.
Anders as die Titanic, hét hy ook nie gesink nie.
Dis nou tot Merrieperd Klaradyn Moolman op 30 Augustus 2004
by ons aangesluit het.
Niks was daarna ooit weer dieselfde nie – die meeste daarvan
natuurlik positief.
Behalwe dan nou enkele klein veranderinkies wat by die
werksplek ingetree het.
Kyk, ek is mos vir jare een van daardie onderwysers gewees
wat, as die skool in die eksamen vir drie weke 12:00 uitkom, ek vir drie weke
by die skool sal bly tot 14:00 – dit terwyl die meeste personeel wat na 10:30
nie meer toesig het nie, teen 10:31 al kilometers in die straat af of in die
koffiewinkels en malls was.
Ek verbeel my ek het in die eerste 18 jaar van onderwys
MISKIEN een keer in skooltyd in my motor geklim en skelm afgery kafee toe om
sigarette te koop. En ek het dit daarna nooit weer gedoen nie. Want ek was 'n
wrak, natuurlik! Wat anders?
Sê nou hulle vang my uit! Sê nou ek kom iets oor en ek was
nie by die skool nie. Sê nou die Engel van die Here kom om my te haal en hy kan
nie by die hemelpoorte van my getuig dat hy my in die tuig aan die werk by my
werk gekry het nie!
Dit kan mos nie.
En daar klim ek vanmiddag 13:20, enkele nanosekondes na die
klok vir die aanvang van die laaste periode gelui het. in die motor en verlaat
die skoolterrerin sonder om iewers toestemming te vra of kennis te gee van my
voorneme om die skool voor die einde van die skooldag te verlaat.
Kolegas wat my goed ken, weet dit is geensins in my aard om so
iets aan te vang nie, nie Hans nie, enige iemand anders.
En daar is net een rede voor: Klaradyn.
Die hoof het na 18 maande, spottendergewys – and many a true word spoken in jest –
genoem dat ek nie eers 'n skadu meer is van die arbeider wat ek was voor ek Pa
geword het nie.
Maar Klaradyn het vir swemles gegaan en ek wou die juffrou
uitkyk om self agter te kom of sy so oulik is soos wat almal sê.
Ek het toevallig die laaste periode nie klas gehad nie en
besef dat ek by die les sal kan insit as ek my ry gou genoeg kry en daar val
niks voor nie.
Ongelooflik hoe vinnig nie net ons vooropgestelde idees
rondom ons werk nie, maar selfs ek en Annieka self, gekrimp het tot bykans niks
na die geboorte van die merrieperd nie.
Dat so klein bondeltjie lewensvreugde so veel ruimte kan
inneem. Daar is soveel toegewings wat 'n mens langs die pad maak (die groot
badhanddoek, die laaste slukkie melk, die laaste R200-00, die eerste Japonica,
noem maar op, die lys sal oor bladsye strek) dat 'n mens, onder aansporing van
Jonathan Jansen, nie anders kan nie as om te dink: “Liewe maggies, maar ek was 'n selfsugtige
wese, ek en my dierbare vrou was van die selfsugtigste wesens denkbaar, voor
die koms van ons kleinding.”
Ons kind is waarlik vir ons 'n seën.
En as die Engel van die dood my kom haal, laat hy nie meer eendag nodig het om te rappotrteer dat hy my aan die werk by my werk gekry het nie; mog hy eerder kan laat val dat hy my in bemoeienis met en gedagtig aan my geliefdes opgespoor het.
Nog een wat ek soos
gisteraand s'n af moes jaag, maar hy lê
nou al so lank dat ek een van die dae nie eers meer die hooftrekke van dit wat
ek in gedagte had, sal kan aanvoel en onthou nie. Die hoofgedagtes, verbeel ek my, skemer steeds deur. En ek moet buitendien nou ry – as alles
goed gaan het die goed begin spin; so nie, moet ek nog stop vir padkos langs
die pad ook.
No comments:
Post a Comment