Pages

4.9.11

23 Junie 2009

(Die ander goedjies sal ek op Ougoed pos, in loving memory of, maar hierdie het net so 100% gepas by my vertel van die begrafenisblomme, gister.)

Ons stop by die huis. Ek neem die asblik vanuit die straat agtertoe (Dinsdag is asblikdag) en laat val die drie plantjies tot heel onder in die drom. Dit eggo in die swart holte. In my gemoed. My gewete.

Nie ek of Annieka is goed met die versorging van huisplante nie. En plant ons dit in die tuin, krap die honde dit uit.

Vrydag bel my ma my, sy het vir ons vier waatlemoene wat ek moet kom optel. Sy laat ook twee boodskappe, waarin sy eerder met die antwoordmasjien in gesprek gaan as om ‘n boodskap te laat.

Ek vermoed ek ken die oorsprong van die derde ongedefinieerde boodskap.

Saterdag bel sy my en die waatlemoene het vier van die mooiste perskes geword wat sy nog ooit haar oë op gelê het.

Soos elke keer as sy bel en ek “Halo Judy,” wil sy weet hoe weet ek dis sy wat bel. Soos elke keer sê ek haar naam verskyn op die foon, en, soos elke keer, verstaan sy nie.

Sondag stop ons daar en tel vier lemoene op, netjies toegedraai in ‘n apteeksakkie.

Voor dit moet ons by herhaling binne die eerste vier minute hoor:  “Ag, en nou het ek niks om julle te gee nie!”

Met die sakkie in my hand soengroet ek en sy verwyt haarself:  “Nou moet ek julle leë hande hier wegstuur.”

Gister vertel ek haar hoe lekker die lemoene was en wonder, soos nou weer, vir ‘n oomblik waar dit is.

Terwyl sy en die girls aanstap hysbak toe laat val Oom Jack sy het die vorige aand haar nagklere aangetrek, maar toe weer uitgetrek en met ‘n wit broekpak in die bed geklim.

Vanmiddag wil ek haar en Klaradyn uitvat vir ‘n wafel, maar ek besef dis te koud om uit te gaan.

Dit is nie te koud om uit te gaan nie, maar sit jy heeldag in ‘n verhitte ouetehuis-versorgingseenheidkamer, en trek jy daarom somerspakkies aan, is dit.

Ek koop op pad drie nuwe potplante.

Die drie in die bak voor die venster is opgeblom, uitgeblom. (Eintlik uit gegroei en op, uit, klaar en gedaan, oppela  finish, verby, gegroei.)

Het sy hulle nie van die more tot die aand water gegee nie, was daar dalk hoop, maar die goed versuip letterlik.

Sy herinner my twee keer aan haar dankbaarheid dat ek die ou potplante vir my neem om in die tuin te loop plant. Sy onthou!

Sy vra twee keer, direk daarna, waar sy dan nou aan die nuwe plante kom. Van die weggee en uitdeel onthou sy, dis die ontváng en krý waarmee sy sukkel, wat haar ontgaan.

Sy vra dan ook besorg, en met ‘n hart wat oorloop, of ek dit het om so vir haar te kan gee. Ek sê nie vir haar nee Ma ek het nie, ek het dit met Ma se eie geld vir Ma gekoop nie. Sy verstaan lankal nie meer van kitsbanke en debietkaarte nie.

Die vrou by die kwekery verseker my hierdie nuwes is baie lief vir water. Ek hoop die vrou is reg.

Ma se liefde vir water gee, vir gee, vermoed ek, is groter as die plante se liefde om water te kry.

En plante gaan dood van te veel liefde.

Kinders, gelukkig nie.

No comments: