Hoeveel jaar is dit nie nou al dat ek iewers in Angola, of
Mosambiek dan as dit moet, op 'n sendingstasie wil gaan skool hou nie?
So lank dat die droom vervaag, so lank dat ek later my
Portugees-sprekende vriende verruil vir ander in Botswana, Zaïre of by gebrek
aan 'n geskikte Katolieke of Protestante sendingstasie, selfs die Noord-Kaap.
Hierdie droom het die afgelope weer 'n hernude oplewing
beleef.
Maar ek is bevrees onbaatsugtige liefdesdiens en
onderwysgeroepenheid het hierdie keer onder die son niks daarmee te maak nie –
bloot die feit dat die afsondering in wil vlug, met my vrou en my kind... om my
kind die uitlewering aan die een-en-twintigste eeu te spaar!
Ek soek nie selfoonopvangs nie, geen kort- en mediumgolwe
wat boodskappe via radio of beeldradio by ons huis kan uitbring nie.
Hulle sê hierdie hoogsbeweeglike duime aan ons hande, die duime
waarmee ons en die ander primate gebore word, in die geval van die mens selfs
nog verder aan die beweeg en wikkel en ontwikkel is – alles glo te danke aan
die selfoon en die vaardighede wat dit in die duime ontwikkel.
Te danke aan? Se voet! Te wyte aan.
Ek is allermins 'n doemprofeet wat van soggens tot saans
loop en sanik oor die gevare wat die nuutste tegnologie vir die mensdom inhou,
maar dat hierdie tegnologie vir 'n generasie sorg waarvan ek bly is ek nie 'n
deel is nie, is 'n feit.
Elke opdraande het 'n afdraande, elke positief word
uitbalanseer deur 'n negatief, maar in hierdie geval wonder ek of die
vaardighede wat taan en afgestomp word, nie by verre meer is as die enkele
vaardighede wat ontwikkel en opgeskerp word nie.
Lankal dat mense geluide maak van die kinders se
interpersoonlike kommunikasievaardighede wat daaronder lei, sosiale IK’s wat
afneem.
Rondom my ma se afsterwe laai Annieka, vir die eerste keer
in 'n maande – indien nie die eerste keer hierdie jaar nie – die graad 10-seun
wat soggens saam met my skool toe ry, op.
Nie: “Haai, waar is Meneer vanmore nie.”
Die volgende rybeurt, toe ek weer terug in die tuig is, ook
nie: “So jammer om te hoor van Meneer van se ma nie.”
Net die altyd goed-gemanierde “goeie more” en toe stilte vir
die volgende 15 km skool toe, want Boeta “gesels” in gebrekkige Afrikaans met
'n power spelvermoë oor die een-of-ander-bessie met sy vriende. Maar of dit
nou 'n black- of blueberry is, en wat die verskil is, sal ek nie weet nie.
En dis geensins 'n aanklag teen, of aanval van, die seun nie
– hierdie is een van die oulikste seuns in sy graad, die slimste seuns in sy
graad, die presterendste, skranderste kêrels, nie net in sy klas nie, maar in
al tien graad 10-klasse.
Hy verteenwoordig bloot 'n hele generasie.
Terwyl ons nou deesdae so in stilte ry en ek aan talle
voorstelle kan dink oor maniere waarop ons van die stukkie tegnologie in sy
hand ontslae kan raak, hou ek die oggendverkeer om my dop, in besonder die twee
robotte voor die skool.
Wat sien ek? Waarmee word ek omring?
Kinders wat afgesonder, afgetrokke in hul eie klein sellulêre
wêreldjies
sit en mxit, of wat dit ook al is wat
hulle deesdae doen. Ma of Pa sit en bestuur, luister musiek, probeer nie eers
'n geselskap aanknoop nie, want elke skoolkind wat ek by die verkeerslig in die
motor neffens ons s'n raakloop (en miskien is dit toevallig gewees, ek weet
nie) is aan het “klets” met die manipulering van sy of haar duime en ander
vingerpunte.
Onder die mooiste volmaan in maande, word Klaradyn
Vrydagaand ingewei as Voortrekker.
Na ek vir jare gemaak is om op aandag te staan vir my land
en sy walgenswekkende politieke bestel, staan ek vir geen niks en niemand meer
op aandag nie, nie as die Springbokke speel en die Nasionale Lied speel nie,
nie as die skool sy skoollied na die een of ander oorwinning sing nie, nie as
my pa se kis met volle militêre eerbewys in sy graf afsak nie.
Maar ek respekteer elke landsburger en individu se reg en
behoefte van sy hart om op aandag te wil staan, ek sal nie disrespekvol sit en
gesels nie, ek staan regop, en stil, tot die oomblik wat gewy word oor en verby
is.
En die Voortrekkers staan mos uit die aard van hul saak,
graag op aandag.
So toe die segsman agter die mikrofoon, voor die afneem van
die penkoppe en drawwertjies se belofte van getrouheid, vra dat ons op aandag
sal staan vir die duur van die kort seremonie, toe is ek amper eerste op.
En daar begin Annieka met my praat, ek kan dit nie glo nie,
maar leun tog so effe na haar kant toe, om te hoor wat sy sê: “Hou daai kinders agter die klankman dop.”
My oog beweeg na daar waar 'n jong seun agter 'n klankselsel
ingeskuif sit. En ek sien twee dogters, duidelik nie Voortrekkers nie – want
hulle is in gewone klere en nie in spandrag saam met hul maats by die res van
die outjies nie, sit.
Sit, sonder om op te staan, soos elke ander mens (met
uitsondering van die klankman) by die saamtrek doen. Want hulle registreer nie
een wat om hulle aangaan nie – hulle is elkeen in vinger-gesprek met hul maats.
Ons het daarna nog drie keer gestaan, twee keer vir die
afneem van 'n volgende groepe se belofte, en een keer vir 'n gebed – maar
daardie twee was aan het gesels. Nie met mekaar nie, nie met die tong nie maar
met die duim.
(En vir al wat ek weet, was hulle straks met mekaar in
gesprek – daar word lankal gespot dat vandag se generasie tieners vanuit die
selfde saal via satelliet al geselsende vir mekaar sal boodskappe stuur.)
Ek is oortuig daarvan dat hulle elkeen lewendig in vuurkolom
weggeraap kon word Hemel toe, en voor die Poorte sit gemaak gewees het, hulle
sou dit nie registreer nie.
En dan merk ek gister 'n gat in die klas voor my op. Ek vra
waar die seun is wat gewoonlik daar sit en die antwoord kom dat hy afwesig is,
vir die eerste keer hierdie jaar. Ek vra wat dit is wat hom makeer.
Maar hulle kan my nie sê nie.
Hoe keer 'n ouer dat sy kind wat tegnologiese vaardighede
betref, so opgeskerp word, dat die kind totaal en al, geheel en al, afgestomp
word?
Hoe hou jy haar in die wêreld, maar nie van die wêreld
nie?
En is dit moontlik?
Ek weet nie.
Maar 'n sendingstasie iewers in die bos, daar waar ons nie
te wyd kan gaan loop nie want die omgewing is steeds vervuil van die landmyne
wat gedurende die oorlog geplant is, het hierdie week, om ander redes en
motiewe as gewoonlik, uitnodigend voorop in die gedagtes gespring.
No comments:
Post a Comment