Ek het respek vir ouderdom.
Ou mense kan moeilik wees, maar formidabel ook. (Klaradyn,
graad 1, wou iewers verlede maand van haar juffrou weet hoe om formidabel te spel – hulle was besig om
hul eie sinne te skep.)
My Leonard Cohen CD is ‘n The Best Of wat in 1975 op swart viniel vrygestel is.
Ek luister dit baie min.
Dis 'n algemene feit dat die man, met die uitsonderling van
die laaste klompie jare, aan depressie gelei het; ek val, as ek na sy musiek
luister, dan 100% by hom en sy gemoedstoestand in. So die spreekwoordelike
skeermeslemmetjies word eers gebêre alvorens ek my CD in die speler
sit.
Ja, en dan was daar so drie of vier geleenthede in 1989 op
1990 dat ek die ligte in die woonstel afgesit het, vir myself 'n whisky geskink
het en dan plat op die grond na sy musiek gaan luister het.
Ah, les bon vieux temps ou nous etions
si malheureux. (O, die
goeie ou dae toe ons so ongelukkig was.)
So eintlik bly
ek van die man en sy musiek weg.
Hoor ek dit
terloops, geniet ek elke oomblik.
En sit ek dit
die dag op, dan is dit met nostalgie na my beginjare as onderwyser toe ek so op
die grond na die man gaan sit en luister het.
Annieka ken weet
ook wat ek bedoel as ek sê:
“Ek luister hierdie man net alleen, in die donker en met 'n whisky in my
hand.”
Die goeie nuus,
natuurlik – ek het seker in 15 jaar nie whisky in my huis gehad nie.
Ook 20 jaar dat
ek die man nie in die donker geluister het nie.
Maar beweeg die
man se musiek by my ore in, is dit eerste my bloed wat daarop ag slaan en begin
tintel, vibreer en ritteltit my hele wese binne oomblikke in reaksie op die
klanke.
En toe, so vier
maande gelede, nooi 'n vriendin my een middag na skool in haar klas in: “Ek wil hê jy moet kyk na hierdie konsert van
Leonard Cohen wat opgeneem is toe hy pas 75 geword het.”
Dit was asof
daar een van daardie wonderlike Oktober-donderstorms deur my kop gegaan het. Ek
weet dit maak nie sin nie, maar ek weet nie hom sinne te heg aan dit wat ek
daardie middag beleef het nie. Ek onthou hoendervleis, ongeloof en nuwe agting
vir ouderdom.
Om die man met
kaas of wyn wat beleë geword het te wil vergelyk, is banaal.
Nee, ek moet
liewer nie eers probeer nie.
Laat ek dit so
stel: niks van die euforie wat ek die
middag beleef het nie kom naby die teleurstelling toe ek 10 minute later my CD
(die 1975-opname) in die motor se CD-speler druk nie.
Ek is na 29
jaar steeds nie seker wat studentikoosvermakerig beteken nie, maar na ek die CD
ingesit het, was die eerste woord wat deur my brein gegaan het (na die
donderstorm/eerste somerreënbui van vaneffe) studentikoosvermakerig. En luister ek die man so, so soos hy in
1975 geklink het, dink ek dat ek uiteindelik weet wat studentikoosvermakerig beteken.
Dis ongelooflik
hoe studentikoosvermakerig die
hippies van die laat sestigs nie was nie.
Op hierdie DVD
van my vriendin – Leonard Cohen Live in
London – sing hy natuurlik bykans elkeen van daardie The Best Of’s van 1975, maar om die twee en 'n half uur wat die DVD
lank is vol te maak, ook nog bykans elke treffer wat daarna gevolg het.
En vir die
eerste keer spreek die man en sy musiek tot my, vir die eerste keer sing
hierdie man mooi – ek het myself vir amper 30 jaar net verbeel die man sing
mooi, myself net wysgemaak die man se musiek pluk aan my wese se snare. Ek het
die pot mis gesit, myself 'n rat voor die oë gedraai.
Dis soos 'n mens
wat sy ganske lewe nog geen vorm van suiker in sy dieet gehad het nie, wat
skielik sy eerste happie heuning geniet.
Dis 'n nuwe ervaring, 'n nuwe eerste.
Toegegee die bariton van die sestigs en sewentigs het
intussen met die registers afgeklim tot 'n lieflike bas.
Maar dit gaan nie oor 'n stem wat in veertig jaar verander
het nie, dit gaan oor liedjies wat met veertig jaar meer ervaring gesing en interpreteer
en vertolk word. Elke gedagte wat die man agter elke sin insit is gelaai met
veertig jaar meer se rypheid.
O, die ouderdom is 'n wonderlike ding.
Ek het onlangs gesien/gehoor/beleef wat 20 jaar aan Laurika
Rauch se vertolking Brel gedoen het.
Dis ongelooflik wat 40 jaar se rypwording aan Leonard Cohen
se oordrag van sy eie lirieke gedoen het.
Na bykans twee en 'n half uur van die DVD voel jy, veertig
jaar later, geensins depressie naderkruip nie. Die man skryf sy veranderde
lewensuitkyk toe aan die Zen wat hy die afgelope klompie jare beoefen.
Ja, hy is steeds 'n toegeweide Jood, wat selfs op toer die
Sabbat heilig; die vorm van Zen wat hy aanhang verwag egter geen vorm van aanbidding
of toewyding aan enige vorm van 'n godheid nie, daarom dat dit geensins inbraak
maak op sy Joodse godsdiensbeoefening nie.
So ja, die man sin veertig jaar later dieselfde liedjie op 'n
ou deuntjie, maar ook die selfde deuntjie met 'n nuwe liedjie (of is dit
dieselfde liedjie op 'n ander deuntjie?)
Ek kan ongelukkig aan baie vriende dink wat hulself eerder
sal straf met 'n kompilasie van Worsie Visser se liedjies as om na Leonard
Cohen te luister; dis ongelukkig tot hul eie nadeel.
Maar enige iemand wat nog ooit, selfs al is dit net een
keer, op Leonard Cohen reageer het met 'n sjoe,
dit was nou mooi, moet hom- of haarself die guns doen en probeer om die
CD/DVD net een keer te beleef. Daarsonder sal jy ongelukkig eendag 'n armer
mens sterf.
Youtube kan nie reg laat geskied aan die DVD nie, maar hier
is enkele lusmakers:
Anthem
No comments:
Post a Comment