Pages

2.9.11

DIE DANK- EN ENKELE ANDER WOORDE

Die groot Afrikaanse digter, NP van Wyk Louw, het op sy dag – miskien in 'n ander konteks as by die afsterwe van 'n geliefde moeder en mens – van die liefde gesê:

ons weet nie, ons weet nie, ons weet nie – ons weet nie hoe diep die liefde lê nie, die wat sê, die weet nie; die wat weet, die sê nie.

En hy was reg:  die wat sê, weet nie; en die wat, soos ek en Jac en elkeen van Judy se naasbestaandes, geliefdes, vriende en vriendinne, wéét – wat weet hoe diep 'n vrou se liefde kan lê, wat weet hoe diep 'n moeder se liefde kan lê vir haar twee seuns en die ander kinders wat hulle tot haar lewe toevoeg, sê nie, het nie nodig om te sê nie, want, soos in Judy se geval, was haar hele lewe, haar hele siel en wese, vir hoeveel jaar nie nou al nie, 'n lewende getuie daarvan gewees.

Daarom hoef nóg ek, nóg Jac, nóg enige ander een hier, vandag op te staan om iets meer oor Judy, haar lewe en haar dood te sê:  dit wat oor Judy gesê hóéf te word, wat oor haar gesê móét word, is aan een en elkeen hier teenwoordig, deeglik en goed en helder en duidelik bekend. Daar is nie 'n enkele goeie eienskap van die lief en dierbare ou vrou en moeder, wie lewe – en dood - ons vandag vier, waaraan enige een vandag hier, herinner hoef te word nie.

Ses jaar terug, toe ons laas gekyk het, was meer as 40% van Judy se breinvolume nie meer met haar nie – dit het afgesterf, weggeval, en dit wat oor was het aan 'n rosyntjie in 'n ekstra groot okkerneutdop herinner. En ten spyte daarvan het ek die laaste week by herhaling agtergekom, hoe die personeel wat nou maar eers 'n jaar met haar werk, kan getuig van een en elkeen van daardie wonderlike eienskappe van my ma waaraan nie een van ons vandag hier herinner hoef te word nie.

So vergeef haar twee seuns as hulle nie vandag opstaan om hierdie vrou wat hulle ontval het se lof te besing nie – hulle hele lewe lank, solank as wat elkeen van hulle kan onthou, het Judy se ganske bestaan van die lof wat haar toekom, getuig. Die voorbeeld wat haar liefde en lewe was, kan nie en gaan nie in Afrikaans of enige ander taal raakgevat, vasgevat of opgesom kan word nie.

En dan is dit oor ons wéét, oor ons dít weet, oor elkeen van ons só góéd wéét, dat ons nie nodig het om te sê nie.

Hansie en Jacie (Hans en Jac?) is beide goeie sprekers – Hans het die toespraak wat hy 13 jaar gelede afgesteek het toe Judy 70 geword het tussen Judy se goed gaan uitkrap, dit was 11 getikte folio’s. Maar waarom kom met groot omhaal van woorde? Dis nie nodig nie. Elkeen van ons weet. En die wat nie weet nie, het nie nodig om te weet nie.

(Boonop het Jac nog nooit daarvan gehou om met sy emosie op sy mou te koop te loop nie, en sal Hans homself tien teen een te veel tjank om 'n sin uit te spreek, so die begrafnisgangers moet maar net verlief neem met hierdie brief.)

As ek dit reg kon kry om 'n foto-oorsig van 120 oomblikke in Judy se lewe vertoon te kry, roep ek dit as getuie. Hoe het die Engelsman ons dit nie geleer nie:  een prentjie vertel meer as wat 'n duisend woorde kan.

***

Vir hoeveel jare nie, as Judy ons verwag vir ete, het sy nie douvoordag opgestaan, die kamer- en kombuisdeur agter haar toegetrek en begin voorberei nie.

So miskien is dit geneties – wat sy nie aan die hand van die voorbeeld wat sy voorgeleef het aan haar kinders kon oordra nie, het die gene op hulle oorgeplant.

Waarom anders dan 03:00 in die oggend, op die oggend van Judy se dankdiens, agter die rekenaar inskuif en aan die gesels gaan?

Maar ook oor ek nie anders kán nie.

Waar elke oomblik van Judy se lewe, elke klein en onbenullige herinnering, haar liefdevolle lewe huldig en ter ere sing, het ek en Jac net hierdie oomblik om ons dank te betuig teenoor elkeen teenwoordig. Elkeen wat hier is, met die uitsondering van die gesin oor wie se lewenspad hierdie stopstraat en belangrike kruising gekom het, het uit hul pad moes gaan om hier te wees, of hier 'n rol te speel.

En daarvoor sê ons dankie. Dit beteken vir ons, en vir die herinnering rondom Judy waaraan ons steeds bou, baie.

En juis ook oor elkeen uit sy of haar pad moes gaan (al is dit seker maklik om die roete net vir so 'n kort oomblik vir Judy aan te pas) dat ons nie kan uitsonder en by die naam kan noem nie. Elkeen verdien dit om uitgesonder te word, om in die besonder uitgesonder te word.

Egter met trane van dankbaarheid in my oë dat ek, nie 'n mens of mense nie, maar 'n spesifieke dank, in die besonder, wil uitsonder:  vir net meer as 'n jaar nou het my hart elke keer oopgebars as ek bewus geword het daarvan dat iemand die moeite gedoen het om my ma te kom besoek.

Dit het vir my baie beteken. Maar vir haar nog meer. Veel meer as wat die besoekers ooit kan vermoed. My opregte wens is dat elkeen van julle by die hand geneem, en reguit opgeneem word hemel toe. Want julle verdien dit.

Judy het maklik uit haar pad gegaan vir 'n ander, ek dink partykeer sy het bykans haar hele lewe op 'n ander pad geplaas as wat sy noodwendig sou wou, juis in belang van haar twee kinders – om die beste vir hulle moontlik te maak, en nie 'n las vir hulle te wees nie. Sy het haarself geoffer, geheel en al.

Ek het agter op AVBOB se briefie iets probeer oordra van waarom dit vir haar kinders so maklik is om vir haar lief te wees: sy het aan ons die voorbeeld gestel, en daardie voorbeeld leef voort in ons.

Haar eie ma, Ouma van Wyk, is 1986 oorlede. Vir goed twee of drie jaar voor hierdie ou vrou se afsterwe het my ma elke dag, óf voor sy die winkel oopgesluit het, óf na sy die winkel toegesluit het, elke dag van haar werksweek van 6 dae, by haar ma ingeloer.

Dan vind die mense dit vreemd as ek soggens knap na 06:00 by Judy instap. Dan is dit vir ons Moolmans glad nie vreemd nie. Ons is niks anders gewoond nie, dis die voorbeeld wat lewenslank vir ons voorgeleef is.

Daarom ook dat ek praat van voortleef. In ons en deur ons.

Vir baie van ons het die verhouding met Judy nou tot 'n einde gekom. Vir ander, wat gelukkig genoeg is, duur die verhouding voort, en het daar bloot net 'n nuwe fase aangebreek.

Elkeen van die 6 goed wat in die familiebrief genoem is, verdien om oor bladsye heen uitgebrei te word:

1.    As daar net een ding oor haar gesê kan word, dan is dit dat sy haar lewe veil had vir haar dierbares.

2.    Sy is van liefde vir haar twee seuns aanmekaargesit gewees – tot op die einde en letterlik solank sy by haar positiewe was, daarvan kan ons getuig.

3.    Haar waarde wás, en ís, en blý, vér bo die van korale (of enige ander vrou wat uit die slothoofstuk van die Spreukeskrywer se boek stap.)

4.    Sy was enduit 'n dame, in elke sin van die woord.

5.    Dit was lewenslank, en tot ons elkeen eendag ons koppe neerlê, niks anders nie as 'n ongelooflike voorreg en, tot oorlopens toe, strome van onverdiende seën gewees.

6.    En as ons net ‘n duisend woorde rondom haar oor het, sal ons dit alles gebruik om haar onbaatsugtige en offervaardige liefde te besing, tot elkeen van daardie woorde op is.

Maar weer eens waarom uitbrei en aan 'n nog groter klok probeer hang as die een waaraan Judy se hele lewe en wandel dit reeds sonder vertoon en veel omhaal van woorde gehang het?

Die wat sê weet nie, die wat weet sê nie, hoef nie te sê nie.

Elke oud-Albertonner met wie ek die afgelope twee dae gepraat het, getuig egter, sonder dat hulle van mekaar weet, van presies dieselfde, en net een ding:  Judy se ongelooflike en onbeskryflike liefde vir haar kinders.

Daarom dat ek slegs op punt 2 kortliks wil uitbrei, daar was nie plek voor op die AVBOB-brief nie:

Woensdag toe sy dood is, was sy, gelukkig vir ons altwee, verdoof en aan die slaap – daarsonder sou dit 'n vreeslike sterfbed vir ons beide gewees het; ek is die mediese wetenskap dank verskuldig.

Dinsdagaand het ek egter 'n nog wonderliker voorreg gehad om vir twee ure vir oulaas in haar baie angstige en onsamehangende geselskap deur te bring. Dit was vir haar hel en sy was baie gefrustreerd, juis omdat die taalsentrum van haar brein so gedegenereer was dat sy geensins suksesvol kon kommunikeer dit wat sy wou kommunikeer nie.

Ek sê toe vir haar om woorde te los, en haar liefde met 'n glimlag te kommunikeer. Ek sal haar reaksie, haar poging tot 'n glimlag, tot ek die dag my kop neerlê, nooit kan vergeet nie.

In my poging om haar rustig te probeer kry, maak ek toe maar of ek slaap, daar in die stoel. En dis toe dat daardie arteritis-handjie tussen die tralies van die bed deurkom en uitreik om my te streel. En vir goed 'n uur lank, is dit wat sy gedoen het, oor my been, my hand, later selfs my gesig, my baard en my hare. Sy het selfs die trane uit my oë probeer afvee en wegvee.

Verstaan daarom waarom ek getuig dat sy van liefde aanmekaargesit was en van 'n moederhart se moederliefde, letterlik tot op die einde en solank sy by haar positiewe was.

Maar dis hoe ons haar leer ken het, en hoe ons haar sal onthou. Dis vir ons geensins vreemd nie.

Ons harte is stukkend geruk en aan flarde, ons harte loop oor van emosie – maar dis vir ons 'n voorreg en seën om te kan huil oor die afsterwe van ons geliefde moeder.

Sy het immers haar hele lewe so geleef dat die wat agterbly nie anders sal kan as om haar te mis nie.

Ons is haar dit ewig dankbaar en sou dit nie anders wou gehad het nie.

Ons dank háár daarvoor.

En ons is bly dat ons hierdie dank kon deel met elkeen wat vandag hier is.



Liefdegroete

No comments: