Pages

19.9.11

Roetine, roetine, roetine


Ek is afhanklik van roetine, ek moet wees, want daarsonder sal iemand met my persoonlikheid sommer net uitmekaar val, breek en soos Hompie Kedompie bly lê, sonder dat enige iemand iets aan my kan doen om my te help.

Ek is egter nie noodwendig goed met roetine nie, trouens en inteendeel...

Was dit 'n sterk punt van my gewees, was my sleutels nie elke liewe oggend van lewe soek gewees nie; dan het my sleutels, soos Annieka s'n, aan die rakkie neffens die kombuisdeur gehang.

En wat sou ek nie dan ook alles rondom my beursie, my ID-dokument, my salarisstrokies, my inkomstebelastingvorms, my penne, my potlode, my selfoon, my sakrekenaar kon kwytraak nie!

Maar soos ek sê, ten spyte van my afhanklikheid van roetine, is ek geensins 'n meester op die gebied nie.

Tog is my roetine nou twee weke deurmekaar gekrap, dit sal nooit uitgestryk of weer kan word wat dit was nie – en dis vir my louter hel.

En so sal dit bly tot ek 'n nuwe roetine gevestig het.

Louter hel omdat ek nou in tien werksoggende al een keer laat vir skool was, al twee keer onder die spreekwoordelike (maar ook letterlike) derde gelui daar aangekom het, en twee ander kere baie byna, amper laat was.

En dit alles oor daar 'n halfuur in my dag los gekom het, weggeval het, 'n los halfuur wat ek nou op 'n nuwe, geroetineerde manier moet vul.

Ek ry steeds 06:30 skool toe, soos hoe lank nou nie al nie; maar deesdae is dit om 06:30 van die huis af, en nie om 06:30 van Ouma Nooi se ouetehuiskamer nie. En dit maak die wêreld se verskil.

In die verlede, as ek 06:30 by my ma weggery het, het een of dikwels meer van die volgende hulself reeds om 06:00 by die huis afgespeel:

·         Ek soek enige iets tussen 2 en 7 minute lank my sleutels

·         Ek soek enige iets tussen 2 en 7 minute lank my beursie

·         Ek soek enige iets tussen 2 en 7 minute lank my skoene (moenie vra nie, dit gebeur)

·         Ek kom by die eerste of tweede robot agter ek het nie 'n das aan nie, en moet terugdraai.

·         Ek kom by die eerste of tweede robot agter ek het nie my beursie nie, en moet terugdraai.

·         Ek kom by die eerste of tweede robot agter die geel petrolliggie brand en onthou hy het gister al gebrand – ek moet petrol (sodra ek net eers my beursie gekry het) ingegooi.

·         Ek ry terug huis toe om te kyk of ek die motorhuisdeur toegemaak het.

·         My gedagtes is elders as ek verby die huis ry om die motorhuisdeur toe te verklaar en maak vir 'n tweede keer 'n drie-punt-draai om te bevestig die deur is laat sak.

·         Omdat ek te skaam is om vir 'n derde keer 'n drie-punt-draai te maak, ry ek maar om die blok en kyk dan vas in die toe motorhuisdseur.

In die ou roetine het dit bloot beteken ek kom laat by Juds aan, ons kuier 'n knertsie korter maar oorlog is erger en more kuier ons weer gewone tyd.

Maar vir twee weke nou speel bogenoemde rituele nie om 06:00 af nie, maar om 06:30 sodra ek die huis agter my gesluit het.

En dán maak dit my laat.

Dan kom ek nat gesweet en met hartkloppings by die skool aan.

Ek het al gewonder of daar nie 'n ou oom of tannie in die ouetehuis is wat kan doen met 'n oggendbesoekie van my kant af nie – straks is die kinders almal in die buiteland.

Maar ek het myself voorgeneem om nooit weer my voete in daardie plek te sit waar my ma die laaste ses jaar van haar lewe geslyt het nie.

Eintlik is al wat ek moet kry 'n japon, 'n house coat.

Want nou is ek steeds om 06:00 gedress en gepress, dan sien ek die girls af, maar in plaas daarvan om Judy toe te ry, gaan totter ek dan in die huis.

Tot 06:30, wat dan sonder veel moete 06:40 of 06:45 word voor ek uiteindelik kan sê dat ek weg is.

Maar nou hou ek nie van 'n japon nie, het ek eintlik 'n broertjie dood aan een.

Sommer simpel, ek weet, maar om met 'n japon in die huis rond te loop is iets wat ek my verbeel Liberace sou doen.

En hoewel ek nie omgee om krale te string, met Annieka se handsak in die winkel rond te loop, te huil oor my ma, blomme te rangskik, te tjank in flieks en boeke, en nie te weet wat dit beteken as die rugyskeidsregter sy hande soos die wuiwende palms van Egipte rondwaai nie, loop ek nie soos Liberace met 'n japon in die huis rond nie.

Almal kan doen. Pierre Spies ook.

En Steve. En Joost.

Net nie ek nie.

Ek gebruik ook nie naskeermiddel nie.

My manlike ego en selfbeeld akkommodeer baie, maar nie 'n japon en naskeer nie.

Ek is simpel, ek weet. Ek mag wees.

Maar as ek nou uit die bad of stort in 'n japon klim kan ek heerlik in die huis besig wees met toebroodjies en koffie en die girls weg sien.

Dan, as ek hulle afgesien het, trek ek gou aan, en sorg dat ek 06:20, op die laatste in die pad val.

Maar nou kom ek 06:00 in van die motorhuis en gaan sit agter die rekenaar. Ek doen skoolwerk, vertaal 'n fabel, krap in die e-pos-posbus.

06:20 weet ek ek moet ry, maar dan is ek so verdiep, of op 'n punt dat ek net nog 'n rukkie moet werk.

Op die kop 06:30 het ek egter die selfdissipline om toe te maak, op te pak en te ry.

En eintlik val ek vroeër in die pad as toe ek 06:30 by Judy weg is. Daar was die dienshysbak wat stadiger as 'n melktrein was, en meer gestop het.

By die ouetehuis eers onder gekom, moes ek dikwels weer op – omdat ek nie kon onthou of ek die tralies van haar bed opgeslaan het nie – en dan neuk sy af op die grond as sy wil opstaan en loop.

Dit hét meer as een keer gebeur dat hulle haar soggens op die grond aangetref het – hulle moes laterhand ekstra tralies aanbring want sy had 'n wil van haar eie en kon nie onthou sy kon nie meer loop nie.

Maar ten spyte van selfs 'n tweede retoerrit in die melktrein was ek nooit laat vir skool nie, het ek nooit nat gesweet by die skoolhek ingedraai nie.

Ek sal nog tot die einde van die kwartaal eksperimenteer met verskillende oggenroetines, maar teen daardie tyd moet iets gereed wees om in plek te kom.

Ek, ék van alle mense, het nou al selfs 'n oefenfiets, trapmeul, en die trampolien oorweeg.

Ek voorsien ek gaan more oggend met die fiets deur die strate ry – dit kan my net goed doen.

En in die proses word my hartspier straks net sterk genoeg om die spanning van soggens se bykans-laat-vir-skool te hanteer.

As dit nie was dat ek al verlede jaar ophou rook het nie, kon ek in plaas van 'n house coat of japon, vir my 'n smoking jacket, soos die een daar bo wat ek op Wikimedia Commons raakgeloop het, gekoop het.

'n Bloue. Niks paisley of syerig en blink nie.

Tot dan is dit dan maar ek en die handdoek om my lyf.

Dit het Vrydag-oggend heel goed gewerk – ek is selfs met die motorhuis toe om die meisies af te sien.

En kom winter, en ek het steeds nie 'n japon nie, dan gooi ek maar die Basoetoe-kombers wat uit die Maluti’s kom om my skouers en gaan groet die twee vrouens wat ek in my lewe oor het.



Naskrif:  Dit was die naweek se klets wat ek Sondagaand uiteindelik kon afsluit, maar toe nie Maandagoggend gepos het nie – het aan 'n gedig voorberei.

Dis egter snaaks hoe 'n mens se kop werk want daar is ek toe 04:00 op – ek het nie broer se wyse raad gevolg nie:  don’t look on the watch and don’t switch on the light.

Ek het al twee ignoreer. Op die selfoon sien ek dis 03:30 toe ek wakker word van die laaste twee koppies koffie en nog nie die paradysvinkies kan hoor nie. Ek maak my reg om verder te slaap, maar die laataand-koffie laat van hul oor. En daar sit ek toe die lig ook aan.

04:00 staan ek toe maar op.

Uit vrees dat ek Annieka gaan wakker skarrel, krap ek in die kas na iets warm om aan te trek, onthou ek toe Sondagaand se getjommel oor die Baoetoe-kombers. En wat kry ek toe uit die spaarkamerkas om my warm te hou agter die rekenaar?  'n Groot dubbelbed- bruin kombers.

Ek kry dit, na die girls weg is, reg om 06:20 op te pak van die gedig wat ek aan die voorberei was.

Dis toe nie die beursie, das, skoene of vergete toebroodjies wat my laat uit die huis het nie, maar die skootrekenaar se swart toerits-sak.

Ek is later hier uit met die rekenaar kaal in my hand.

By die kombuisdeur val my oog toe op die rooi plastiekskotteltjie met die 3 sywurms wat Klaradyn Vrydag by 'n maatjie gekry het.

Ek en Sussie het gisteraand gestap om te gaan blare kry, maar verniet of ek die blare in die yskas kan opspoor.

So daar is ek toe met die sywurms motor toe.

Ek trek toe maar langs die pad af by ons naaste moerbeiboom en pluk vir die wurms kos.

Ek was betyds, net-net.

Die sywurms wat ons present gekry het, het my laat dink aan die kennisgewing wat ek vroeër die naweek in 'n winkel gelees het: Unattended children wil be given espresso to drink and two baby bunnies to take home.


Blou is beslis my kleur




No comments: