Pages

15.9.11

Klaradyn kry bril


As my kind vanmiddag na vyf haar voet in hierdie huis sit, is dit met 'n bril oor haar oë; volgens wat Mamma te vertelle het, 'n aanvallige pienke (hoe dan anders met 'n dogter soos Klaradyn en dit op 7).

Voor Donderdag verlede week, het ek in my lewe nog nooit van astigmatisme gehoor nie; vandag onthou en spel ek hom selfs reg en moes ek gisteraand op meer as een webwerf lees dat hierdie verskynsel die mees algemene rede vir 'n besoek aan die oogarts is, meer algemeen selfs as ver- of bysiendheid.

Uit ons drie se eie, voorsien ek nie, sou ons daarvan bewus geword voor oor twee of drie jaar nie.

Vandag weet ek nie eers hoe dit gekom het dat 'n besoek aan die oogarts op die tafel gekom het nie.

Oor ek nog nooit daarvan gehoor het, dog ek eers dis 'n modeverskynsel soos draadjies in 'n mens se tande – die geslag voor my het met hoogste uitsondering daarmee in hul monde beland, my geslag kon amper nie groot kom daarsonder nie.

En toe ek eers hoor dat dit nege-en-negentig-komma-nege-nege-keer oorgeërf is, toe vermoed ek eers onraad: ek en Annieka, as ons dit het, het dan niks daarvan oorgehou nie; dit het ons geen skade aangedoen nie.

Dit lyk my egter vandag dat ek verniet hond se gedagte gehad het – dis net toeval dat ek nog nooit met die woord kennis gemaak het nie. Straks is die woord 'n getroue vertroueling van my – in my laerskooldae, toe ek bril gekry het, het hulle bloot net brille uitgedeel, nie woorde en name vir oogtoestande nie.

Annieka herken ook nie die woord uit haar besoeke aan die oogarts en die rede vir haar bril nie; die woorde en manier waarop die toestand beskryf word, wel.

Die grootte van die letters waarmee ons dogtertjie in graad 1 uitgedaag word, maak dat sy vir lank nie sal sukkel nie; dis eers volgende jaar en later, wanneer die verskynsels al 'n negatiewe invloed op haar skoolbelewing kon gehad het, dat sy ongemak met lees en fokus sou ervaar. En dan het ons straks die oorsaak vir maande op 'n ander plek gaan soek, terwyl dit al die tyd nie reg onder haar neus nie, maar vlak bo haar neus lê.

En hoewel ons haar lense maklik sou kon aanspreek met 'n bril, sou die skade aan haar akademiese selfbeeld klaar gedoen wees.

So ja, ek is bly ons het dit so vroeg, sonder trauma en enige skade, opgespoor en kan dit aanspreek – hoeveel miljoene mense is daar nie wat lewenslank daarmee sit sonder dat hulle daarvan bewus is, dit 'n naam kan gee, en iets daaraan kan doen nie.

So stof tot dankbaarheid, het ons baie van.

Ek dink ek het verlede week dadelik reg reageer – my hele wese het summier nie vir 'n enkele oomblik skok of teleurstelling uitgestraal nie, ek het vanuit die staanspoor positief oorgekom.

Synde ek selfs sedert vroeg op laerskool met lense sit wat my eie lense moet aanspoor en ondersteun, is dit nie vir my vreemd, of iets om teleurgesteld of geskok oor te wees nie.

Dit bly egter beslis nie iets wat jy jou kind toewens nie – my eerste reaksie was, en sal bly, dat dit 'n jammerte is, dat ek my kind nie so vroeg met 'n bril opgesaal sou wou sien nie. Maar ek het daarin kons slaag om dit nie aan Klaradyn te kommunikeer nie.

Die gevolg is dat, die gevolg daarvan maar van nog baie ander dinge ook, is dit Klaradyn huidig geen negatiewe belewing van die bril het nie. Ons hoop maar dit bly so.

As sy hom natuurlikwegfoeter of breek, is ek daarvan verseker en heilig oortuig, gaan daar ontsettend baie negatiewe vibes en ervarings en woorde en handelinge en golwe en auras en strale en uitstraling rondom die bril wees.

Maar daardie perd saal ons eers op as dit nodig is, en as alles goed gaan, is dit nooit nie.

Ek is optimisties versigtig vir vanmiddag – Annieka het glo gevra of dit so moet wees dat al die brille so buitengewoon groot op die kinders se gesigte moet vertoon; die dokter het laat val dat dit inderdaad so is, juis omdat die kinders se gesiggies nog so klein is.

Hulle kon Klaradyn ook nie afgesien kry van haar aanvanklike pienk hartskeuse nie – gelukkig darem nie dat dit nodig was om haar daarvan te laat probeer afsien nie. Ek noem dit eerder net as bevestiging dat Klaradyn tot vanoggend nog redelik sterk positief oor die ding voel.

Ons praat later weer.


Die foto van die bril is deur Frank Muller vir gebruik beskikbaar gestel.

No comments: