Pages

26.9.11

Kos is nie sommer net kos nie


Vir my sal kos nooit in der ewigheid sommer net kos wees nie. Met die beste wil op aarde sal dit nie sommer net kos kán wees nie – nie vir my nie, ook nie vir my broer nie.

Hoe lank my pa met my ma getroud was voor kos ook vir hom 'n ander gedaante aangeneem en nuwe betekenis gekry het, sal ek nie weet nie, maar dit hét.

En dan gaan dit nie daaroor dat Judy van die mans in haar lewe lekkerbekkige smulpape gemaak het nie, nee, geensins – Judy kon jou 'n appel in 'n bordjie met 'n messie en jammerlappie aangebied het, en dit was asof jy pas 'n geskenk van die gode ontvang het.

Jy kon weet sy het minstens drie of vier appels ondersoek en opgeweeg om die een wat na haar oordeel die geskikte een vir jou sal wees. Die gekose een is dan nie net gewas en gedroog nie, dit is blink gepoets op so 'n wyse dat jy dit reeds met jou oë kon begin geniet, selfs nog voor jou hand 'n mes, of jou mond 'n tand daaraan geslaan het.

Dan ook die regte messie.

En om alles af te rond, dan die nat jammerlappie.

Dan praat ek nie van 'n muwwerige smetterige vadoek vol van drie weke se vuil skottelgoed en skottelgoedwater nie – ek praat van 'n kraakvars jammerlappie.

Ek mis dit seker al ses of sewe jaar, ek lieg, seker amper agt jaar. Maar ek mis dit die afgelope 3 weke meer.

Kosmaak was nie sommer kosmaak (moer in 'n pot en sit 'n deksel op nie) nie; kosmaak was liefdesdiens en offervaardigheid by uitnemendheid.

Sy sou geen, maar geen, moeite ontsien nie.

Sy sou geen, maar geen, kortpaaie neem nie.

Met haar kos, hoe nederig en beskeie, hoe rojaal en overdadig ook al, het sy kommunikeer:  ek is lief vir jou, jy is vir my spesiaal, dit is vir my een groot voorreg en vreugde om hierdie vir jou voor te sit en met jou te kan deel.

Sy sou twee dae na mekaar om 03:00 opstaan om in die kombuis doenig te wees – hoe ouer sy geword het, hoe langer kon dit neem.

Na 75 kon sy haarself siek en doodmoeg kosmaak. Dan kom ons op 'n Sondag daaraan en dan is Judy nie 'n skaduwee van wat sy kan wees nie – dan weet ons sy het twee of drie dae aanmekaar gekook.

In die laaste jaar voor hulle ouetehuis se versorgingseenheid toe is, het ons doelbewus nie laat weet as ons kom nie, vir Oom Jack gevra om dit geheim te hou – sodat ons lekker met die ou vrou kon kuier en meer van haar kon hê.

En wanneer dit sommer pot luck was wat jy by haar geniet het, was dit met soveel liefde berei en voorgesit dat ook dít vir konings geskik was.

En wat Judy met haar kos suggereer het (haar liefde en jou spesiaal wees) het sy met die voorsit en bediening uitgespel – haar lewe lank. Tot sy nie meer kon nie. Al wou sy. En het sy steeds probeer.

Blomme, servette, silwer gepoleer. Nie die tweede beste skottel nie, die beste. Die tafeldoek gestryk.

Ag, en nou het ek en Jac baie daarvan in ons, dit wat nie in die gene aan ons oorgedra is nie, is met verloop van amper vyftig en amper sestig jaar se langdurige blootstelling aan ons afgesmeer. En dit sit.

Vergeet die bediening en voorsit, dis bloot goeie maniere – ek praat veral van die feit dat kosmaak veel meer as sommer net kosmaak is – dis offer, dis gee van jouself, dis sê: ek is lief vir jou, jy is vir my spesiaal, hier, neem my, maak met my wat jy wil ek is joune.

Dis liefdesbetuiging aan jou wederhelf, jou kind en elke kraai wat kom inloer.

Daar is vir my niks so lekker om soggens Klaradyn se kospakkie te maak nie. Ek is soms na 20 minute skoon moeg en uitgeput gekommunikeer aan net een ding – ek is lief vir jou my kind.

En omdat 'n mens nie van liefde en water alleen kan leef nie, moet ek vir my en Annieka ook soggens iets saamslaan.

Maar omdat ek soveel kommunikasie in my kospakkies pomp, kom daar periodiek 'n geneuk – daar is oggende wat ek nie kospakkie wíl maak nie.

Of ek begin van 17:00 af voorberei en gesels aan 'n heerlike aandete. Dan gooi Klaradyn die kar om deur dwars of sommer net oormoeg te wees. Dan wil ek nie meer kosmaak nie, dan wil ek die kos nie voorsit of selfs my mond daaraan slaan nie.

Dis dan, soggens om 'n kospakkie, of saans om die etenstafel dat ek dan versoeningswoorde in my kos moet lê. Natuurlik wil ek nie altyd nie. Natuurlik is dit nie altyd maklik nie.

Maar wat ek in woorde nie kan uitdruk nie, kon 'n porsie kos nog altyd oordra, selfs 'n appel in 'n bordjie met 'n messie.

Dan noem ek kosmaak danksy Judy ook 'n offer, en 'n opoffering.

Niks illustreer dit beter as die druiwe en sjokolade van die afgelope week of wat nie.

Daar is druiwe op die rak, alles ten duurste ingevoer uit die buiteland. Vir myself sal ek dit nooit koop nie. Vir Annieka ook nie. Vir Klaradyn wel.

Dan betaal ek R36-00 vir 'n tros druiwe wat my ander tyd van die jaar R6-30 sal kos. Dan kry Klaradyn elke korrel daarvan in haar kosblik (gewas en drooggeskud en in mini-trossies geknip).

En ek weet, as die tros klaar is, nie hoe dit proe nie, want ek het my lippe nie aan 'n enkele een geslaan nie.

Dis simpel, ek weet, maar dis vir Klaradyn – Klaradyn is spesiaal en haar druiwe is spesiaal.

Van die moeilikste, oor die kort termyn, rondom die dierbare ou vrou se afsterwe was dan,  soortgelyk aan Klaradyn se druiwe, die omgaan met haar sjokolade.

Ek het 'n kissie met 'n sleutel bo in haar kas gehou – hom het ek vol gehou met sjokolade en elke oggend vir haar twee gegee om te eet. Ek het ook 'n paar sjokies in 'n bakkie langs haar bed gehou – sodat die verpleegpersoneel dit kon opslurp en ek my verbeel my ma eet dit en dink aan haar kinders en geliefdes.

Dit was nie sommer enige sjokolade nie – haar gunsteling, Ferrero Rocher, kon ek weliswaar nie meer gee nie – dit het 'n neut in die middel waarin sy kon verstik, en fyn splintertjies neut wat in die voue  van die maagwand kon gemors veroorsaak.

Toe verander ek dit na hierdie peperduur Lindt-bolle/balle wat aan Kersfeesboom-balle herinner.

Daarvan het ek nooit in die bakkies langs die bed gesit nie – dit was Judy s'n en nie vir die verpleegpersoneel en verpleegpersoneelhulp nie.

En oor ek nie aldag en heeldag in die winkels rondhang nie, en die kissie waarin ek dit weggesluit gehou het, soos 'n groterige ydelheidstassie gelyk het, het ek lag-lag drie bokse van die goed daarin aangehou...

...sonder om ooit self 'n enkele een daarvan te eet.

Dis nou met die uitsondering van die een keer wat ek een geneem het omdat Klaradyn nie een wou neem voor ek nie ook saam met haar een eet nie.

Donderdagoggend voor haar dood, toe eet ons heerlik Lindt. (“Nee dankie, Ma, nie vir my nie, ek het nou net  gehad.” “Nee dankie, Ma, nie vir my nie, ek het nounet ontbyt gehad.”

Kuier ek in die siekeboeg waarin sy die Sondag opgeneem is, gaan ek eers kamer toe en bring 'n Lindt-bol of twee saam, vir haar en die ou Tannie wat langs haar lê.

Die aand voor haar dood, voer ek haar 'n bol met my gebruiklike woorde van die (voor-)laaste twee of drie weke:  “Eet tog maar 'n ietsie soets my ou vrou – die lewe is bitter genoeg.”

En toe gaan staan en sterf sy en los my met goed 24 van die bolle nog in die houte kissie.

Ek het vir Annieka gesê ek gaan dit weggooi – ek sien nie kans om dit te eet nie.

Maar ek is te suinig en my ingebore/oorgeërfde vrekkigheid laat my nie toe nie.

Ek het gedeel. Klaradyn het saans met storietyd gekry.

Miskien is daar nog in die antieke koekiehouer waarin ek dit oorgepak en langs my bed gesit het. Ek het lanklaas geloer.

Ek het self ook een of twee gehad.

Maklik was dit nie.

En ek het elke keer aan het tjanke gegaan.

Maar 'n lekker huil, was dit gewees, 'n hartseer huil, 'n huil wat jy nie omgee om te huil nie – want dis 'n huil wat sê ons is lief vir jou, jy is vir ons spesiaal. En hoe kan ons jou mis, as jy steeds met ons is.

Dat ek na die naweek nog in die lewe is, is suiwer genade. Die drie van ons is na die Gauteng Good Food & Wine Show)(of is dit Expo) toe.

Kos is mos nie sommer net kos nie, en as daar iewers 'n ophef van kos gemaak word, wil ek daar wees en my eie opheffingswerk doen.

Ek het vir die duur van die tyd wat ons daar was gepeusel, deurmekaar gepeusel.

Met padkos in die motor is ons al die pad van Johannesburg af terug Pretoria toe.

En toe het die besoek aan die kosgedoente my so inspireer dat ek vir ons drie 'n kleinerige filet berei het – nie dat hy so klein was nie, ons het Sondag nog oorskiet verwerk en geniet.

En die hoofbestanddeel, naas die beeshaas, a’la Judy Moolman, niks anders as room nie.

Ja, ongelukkig glo ek, nes my oorle ma, dat daar niks onder die son is, wat nie strate beter smaak met, nie 'n eetlepel of 'n skeut nie, maar 'n hele kannetjie room (of twee). Of dit nou bredie, biltong, vrugte, vleis, poetoepap of polenta is.

Want as jy gedink het ons Moolmans gaan op in die maak en voorsit van kos, dan het jy ons nog nie beleef as ons wegval en daardie kos, selfs al is dit 'n blink gevryfde appel, begin geniet vir wat dit is nie – 'n boodskap van liefde en gee en deel.

(Jammer ek moes aframmel en afjaag hier na die einde nie, maar die girls is klaar gebad en ons gaan nou eet. Bon apetit.)

Goed waaraan ek gedink het terwyl ek hier getik het - die meeste daarvan in Klaradyn se Voortrekker-uur - het ek al uitgesels. Ek het dit opgespoor en hier gepos.

En was ons aandete spesiaal - Klaradyn aard na haar pa/ouma. Ons het op 'n Maandagaand 'n "binnenshuise piekniek" op komberse in Klaradyn se kamer gehad. Sy het aangedra (en ons moes afdra) maar dit was heerlik gesellig.

Die drie van ons het laas so lekker op ons agteralies in haar kamer gesit en kuier, toe sy sommer nog 'n baba was - sy kon nog nie eers loop nie.

No comments: