Watter of wie se plaas dit was, weet ek ongelukkig
nie meer nie. Dit was beslis nie een van die plase wat ons gereeld besoek het
nie, want dan sou ek onthou het.
Ek sien die vertrek voor my, nie veel groter as my
huidige studeerkamer nie, ‘n hoë trap wat lei na die houtdeur. Deel van ‘n
buitegebou.
Binne was ‘n groot houttafel soos die boere gehad
het, en baie houtrakke teen die kante. Ek onthou die rakke leeg. Dit was ‘n
werksplek, nie ‘n stoor plek nie, en ek stel my vandag voor dat die vertrek met
die loop van die seisoene en die normale sikliese gang op ‘n plaas, na gelang
van die betrokke aktiwiteit, deur die loop van die jaar vol verskeie dinge
gestaan het. Plek vir vier of meer pare hande om die tafel, was daar beslis.
Met my besoek aan die vertrek was daar ‘n ding,
vasgeskroef soos ‘n koffie- of vleismeuletjie. Maar vleis- of koffiemeuletjie
was dit beslis nie, eerder iets wat my as jong seun herinner het aan ‘n
eierklitser. Net, selfs al draai jy die hingsel, kan daar beslis niks daarmee
geklits word nie. Die “klitser” self kyk 180 grade dwars, en daar is nie ‘n
manier of hefboom wat die ding 90 grade in ‘n mengbak staan kan maak nie.
Ek het al een keer in my lewe daarna weer so ‘n
kontrepsietjie gesien. In ‘n museum iewers. Die Jan Smuts-huis? Melrose-huis?
Maar dit kon net sowel op Stellenbosch, Darling of Clarens gewees het. Dit sou
kon deurgaan as ‘n laat-Victoriaanse-utensil,
hoewel daar heel moontlik ook van hulle kan wees wat heelwat jonger is.
Dit was naamlik, wat ek sou noem, ‘n gadget wat geelperskes skil. Jy het die
perske hier van sy ners af penetreer met ‘n iets, hom stewig sit gemaak en
slinger gedraai. Die goed wat my aan ‘n eierklitser se draadwerk herinner het,
het dan hier van buite af korte mette met die perske se skil gemaak. Groot
perskes, kleinerige perskes, heel klein perskes en outsize perskes, dit maak nie saak nie. Daar moes ‘n veertjie of
ding gewees het wat die se middellyf takseer het en sy lemme het net gesny tot
daar waar die skil ophou en die vleis begin.
Te lieflik. Daar was perskes in die boord, so ek
kon heerlik speel.
En dit is, vermoed ek ten sterkste, waar dit alles
begin het — my fassinasie met ‘n kontrepsie, utensil, of gadget. Hoofsaaklik
toegespits op die kombuis, met tog ‘n natuurlike aantrekkingskrag vir enige
iets wat elders ook gebruik kan word, van die skrynwerker se werksbank tot die
swembad se aorta, hartkamer, lewer en niere...
Nie ek wat vandag so sê nie, ek wat 'n jaar of wat gelede so gesê het. Hierna klets ek nog dik
stukke oor al die wonderlike kombuisgoeterstes wat my pad gekruis het – gaan kyk
gerus, ek het dit vroeë op Ougoed aan die vergetelheid ontruk.
En vergetelheid was dit beslis.
Tot vanmiddag by die inkopiesentrum waar ek in seker 13 jaar nie was nie.
Dit kan 15 ook wees. Of 8. Hoewel ek twyfel – van ek en Annieka getroud is, glo
ek nie was ek al ooit daar nie.
Ons is Glenfair-sentrum toe om Klaradyn se bril op te tel. Goeie ou
Glenfair-sentrum wat toe Glenfair Centre geword het. Ek sien die mense wat daar
huur, verwys deesdae na hom as Glenfair Boulevard, maar dis seker maar net vandat
die nuwe teater en uithangplekke van die jaar daar neffens oopgemaak het.
Toe ek destyds Pretoria toe gekom het (1989) het ek om twee redes die motor
se neus in daardie rigting gestuur:
eerstens om 'n adrenalien-rush in
Alma-slaghuis, of Die Duitse Slaghuis, soos ek na hom verwys, te beleef. Die
plek se vleise, worse, kase, vleisbrode en wat ook al, is vir my vandag nog steeds
van die lekkerste goed om myself mee te omring.
Met grootste (en grootse) selfbeheersing dat ek daar kon uitstap met nog 'n
sent in my sak oor. Maar ek moes nie, want die ander rede om daar te stop was
Walter’s Feinkost, die Duitse delikatessen. O, dit was 'n jammerte toe hierdie
man die dag sy besigheid, na al die jare toemaak, en sy rug op Suid-Afrika
keer.
Die Duitse Slaghuis het net geskuif, maar toe Walter se delikatessewinkel
sy deure eers toemaak, had ek geen rede om weer daar te kom nie.
Tot vanmiddag met die bril. (En lyk die kind nie lieflik nie!)
Ek soek botter (vir die lekker vars ciabatta wat ons op pad by die nuwe
bakkery gekoop het) en maak gou 'n draai in Checkers.
En daar sien ek dit, halfpad op pad botter toe, seker veertig van die
goeterstes – nie Laat Victoriaans, soos ek die een op die plaaswerf onthou nie,
maar onmiskenbare dieselfde patent, net met 'n eietydse een-en-twintigste-eeuse
charisma.
ek is die mense baie dank verskuldig)
Ek kan dit steeds nie glo nie.
Die skaapribbetjie (en ek het al iemand oorgenooi om te kom saam eet –
gelukkig kon sy nie kom nie) word toe summier op die spreekwoordelike ys
geplaas tot moreaand.
Sodat ons kan vrugteslaai eet. (Ja, ons eet vrugteslaai vir aandete. Wat is
verkeerd daarmee?)
En vanaand is daar selfs brood en botter by, sou jy jou verbeel jy is nog
honger.
En toe ons klaar het met die appels en pere, en die vrugteslaai staan om
geur te trek, toe skil ons ertappels vir môreaand se ribbetjie.
O, hy werk soos 'n droom.
Ek dink ek gaan more terug om nog drie te koop.
Vir presente.
Vir presente.
Nou wil ek perskekonfyt kook.
Hoe lank nog? (Voor dit weer persketyd is?)
No comments:
Post a Comment