Ek en Annieka kon met niks anders as Egypt-Air Europa toe
vlieg nie, want as dit al is wat jy kan bekostig, dan is dit al wat jy kan
bekostig.
Ons is met rugsakke, stewige stapskoene en 'n tweemantentjie
over de waters.
Outjies wat kampeer, eet kampkos, so die gasstofie is ook
in.
En oor ek nie seker was of ons Suid-Afrikaanse
gasbotteltjies in die vreemde beskikbaar was nie, het ek ook 'n hele spul
ekstra gasbotteltjies in al wat sakkie, en tussen al wat onderbroek of kous
was, weggepak gehad.
Synde in die onderwys met 'n eksamen agter die rug die dag
toe die skole sluit, moes alle vraestelle voor ons vertrek klaar gemerk wees.
Dit het tot gevolg gehad dat ons ons rugsakke 'n hele week
voor ons au revoir klaar gepak en in die gereedheidshouding in die gastekamer
staan moes maak.
Op die lughawe gekom, is dit duidelik – geen gasbottels op
'n vliegtuig nie. Ek skroef af (want die stofie moet saam – daar’s nie geld om in
vreemde eenhede, met 'n swak wisselkoers, piksplinternuwe gasstofies te wil staan
en koop nie.
Ek krap ook tussen die onderklere op soek na die spaar
gasbottels.
Maar dis 'n week nadat ons alles gepak en staan gemaak het,
en behalwe dat ons nie kan onthou waar ons orals van die goed ingeprop het nie,
kan ons nie eers onthou hóéveel van die goed tussen die twee rugsakke versprei is
nie.
Die heeltyd knaag dit in my, maar ons sit af Wimpy toe om
oulaas saam met vroulief se ouers 'n koffietjie te drink.
En my koppie was nog nie koud nie, om die waarheid te sê,
die koppie was nog nie eers leeg nie, toe weet ek – daar is iewers in ons
bagasie nog 'n gasbottel.
Ek en Annieka hol af na daar waar ons die rugsakke gegroet
het, maar dis te laat - die vervoerbaan het dit lankal na iewers geslurp waar
ons nie meer daarby kan uitkom nie.
Ons kry herhaaldelik die versekering dat ons nie bekommerd hoef
te wees nie – die tasse word aan metaalverklikkers blootgestel wat die
gasbottels, sou daar wees, beslis sal opspoor.
Ek wonder in die tussentyd natuurlik hoekom gasbottels
verbode sou wees...
... en kom tot die gevolgtrekking dat hoogte bo seespieël
die vark in die verhaal moet wees – so hoog in die lug neem die druk in die
botteltjies dalk so toe, dat dit sommer summier in die bagasieruim ontplof. Hierdie
ontploffing ruk 'n gat in die romp van die vliegtuig, en na die bagasie
uitgevlieg het, word ons passasiers ook, soos in die fliek Airport ’79, die lug ingesuig – dis nou ás ons nie almal klaar met die
eerste aanvanklike ontploffing van die bottel, die ewigheid ingestuur is nie.
'n Tweede en selfs 'n derde beampte in uniform verseker ons egter
dat ons maar kan ontspan en die vlug moet geniet – ons veiligheid is in hul
bekwame hande en die grondpersoneel sou die sakke lankal van enige gasbottels,
as daar wel was, gestroop het.
Behalwe dat ons nie duur lugrederye kon bekostig nie, kon
ons ook nie van duur reisburo’s se dienste gebruik maak nie.
Ons reisburo het ons verseker ons het nie visums vir Egipte
nodig nie – ons is in transito en sal toegelaat word om die ses ure wat ons vir
'n aansluitingsvlug moet wag, in Kaïro se waglokaal deur te bring.
Wat ons, en hulle, egter nie geweet het nie, was dat Egipte
se toerismebedryf 'n vreeslike knou toegedien is deur die een of ander
toersite-aanval van 'n ekstremistegroep. Om hul beeld te probeer herstel, het
hul departement van buitelandse (miskien
is dit binnelandse) sake, geld bewillig om al wat transito-reisiger is, op 'n
gratis stadstoer te trakteer.
Al wat kombi-bestuurder is, kon hom uitgee as toergids, dan
laai hulle jou in die kombi, prop jou 'n heerlike mango-drankie in die hand en
vat jou Cheops toe, papirusfabriek toe, en na die een of ander parfumerie toe.
En aan die einde van die dag betaal die regering jou per
toeristekop wat jy aan Kaïro se vreesaanjaende stedelike verkeer, en burgerlik-totaal-en-al-ongehoorsame-verkeersoortreders,
uitgelewer het.
So gebeur dit toe dat die entrepreneurs wat gereed gestaan
het vir vlug so-en-so-vanaf-Johannesburg se transito-reisigers my en Annieka
onder geen omstandighede in die lughawe se waglokaal wou hou nie. Hulle wou ons
summier in een van hul onpadvaardige omgeboude paneelwaentjies prop sodat ons foto’s
van die tannie sonder haar neus kan neem, hopelik ook 'n geldjie op ʼn
parfuumpie uitgee en met 'n papirusprentjie styf opgerol in ons reistasse
verder gaan. En dan beskaam die hoop nie dat ons straks 'n volgende keer van Kairo
'n oornagstop maak nie.
So desperaat was hulle, dat hulle, omdat hulle ons nie
sonder visums langs die normale kanale by die deur uit en in die motor kon kry
nie, hulle besluit het om ons letterlik by 'n sydeur uit te smokkel.
En so korrup is die beamptes, dat hulle dit toegelaat het.
Al wat ons moes doen was om ons paspoorte vir die een of
ander Ahmed (elke tweede, derde Egiptenaar, vermoed ek, is 'n Ahmed) te gee.
Ons kan dit dan later weer by die een of ander kantoor optel.
Ek was 'n wrak – tien minute later was ek en my vrou twee paspoortlose
onwettige immigrante in 'n vreemde land. Hulle kon, vir al wat ek weet, van
Annieka 'n seksslaaf maak, my inspan om matte te weef – en ons kan niks doen
nie, want ons is identiteitloos en onwettig in 'n Afrika-land.
Die paneelwaentjie laai ons egter later weer voor die lughawe
af, maar nee hulle stap nie saam nie, ons moet net by daardie hoofingang ingaan
en iewers op regterkant sal ons 'n kantoortjie kry met ons paspoorte. “Just ask
for Ahmed.”
Die lughawegebou (noudat ons by die hoofingang in plaas van die klandestiene obskure sydeurtjie
ingaan) herinner aan 'n baie besige Oosterse mark waarvan 'n mens in die
avonture van Sinbad die seevaarder lees – net 100 maal besiger.
Teen alle verwagting in, is daar inderdaad 'n kantoortjie op
regterkant wat vaagweg herinner aan die kantoortjie wat Ahmed 1 ons in die
paneelwa van vertel het.
Net jammer hierdie kantoortjie is onbeman.
Net jammer hierdie kantoortjie is 20 minute later steeds
onbeman sonder enige Ahmed. En ons vlug gaan vertrek.
Ek stap toe maar soos 'n skelm daar in, en daar, op 'n
tafel, waar enige een in kan stap en dit steel, lê my en Annieka se paspoorte. Toe daar
tien minute later steeds geen Ahmed is nie, en ek kan hoor hoe jaag ons
vliegtuigenjin se revolusies op, toe steek ek my hand uit om die goed op te
tel. Ek hoor al hoe gaan die alarms af, die oomblik as ek aan dit vat, ek voel
al hoe sluit die koue staal van dien boeie om my polse, maar niks gebeur nie,
en oomblikke later hol ek Annieka met ons gesteelde paspoorte vertreksaal toe.
Die volgende stop, voor Berlyn, is Frankfurt, maar geen aansluiting
of iets nie, suiwer om enkele passasiers af te laai, en ander op te tel.
'n Halfuur word later 'n driekwartier, en ons styg steeds nie op
nie. Die volgende oomblik laat hulle ons almal uitklim – ook die outjies wat
nounet opgeklim het.
Ek sterf 'n duisend dode – die Duitsers het die gasbottels
opgespoor en passasiers Moolman en Moolman gaan binnekort arresteer word vir
stedelike terreur of aviasie-terrorisme.
Wat toe nie die geval is nie – ek vermoed Europese/Duitse
lugvaartowerhede het net gesê so kan dit nie aangaan nie, hierdie vliegtuig is
totaal en al onlugwaardig en van Duitse bodem styg hy nie weer op nie.
Lufthansa se outjies sal betaal om ons met luukse toerbus in
Berlyn te kry, want op die wieke van Egiptiese vlerke sal dit nie wees nie.
Die een ding wat ek weet van die campingplatz waar ek en Annieka
ons tentpenne moet gaan inslaan, is die feit dat hulle een ding baie duidelik
gestel het: geen nuwe kampeerders na 21:00 die aand nie.
En dis meer as vyf ure met die bus Berlyn toe, selfs al het ons
drie ure gelede al op die bus geklim, sal ons die aandklokreël nie maak nie.
Nee, vertel Ahmed 16 my, op Berlyn-lughawe gekom, moet ek net
Egypt-Air se hulptoonbank kontak, Ahmed 17 sal na my omsien.
En ek glo hom. Ook vir Ahmed 18 wat, toe die luukse toerbus drie
ure later opdaag om ons op te tel, die boodskap herhaal.
Heathrow slaap dalk nooit nie, maar toe ons knap na 12 die nag op Berlyn-lughawe
stop, toe slaap die hele lughawe en elke denk- en ondenkbare Ahmed in 'n 600 km
radius.
En toe ek weer sien, toe is Ahmed 17 van die bus ook weg, toe is
ek en Annieka en ons twee rugsakke al teken van lewe om ons.
Waar en hoe ons die note in munte omskep het, weet ek nie, maar
die vierde slaapplek wat ek bel is 01:00 nog wakker en laat weet sy wag op ons.
Na 01:00 in die nag is die moltreine in stad toe nie so
gereeld nie, en toe ek en Annieka uiteindelik halfpad in stad toe is, toe begin
die bloemin moltrein met ons reverse,
terug lughawe toe.
Annieka begin huil en wil haar pa bel, nie om ons te kom
help nie, maar om haar te kom haal.
Dronk Duitse jeugdiges met gate en ringe en dinge op plekke
waar ek nie gedink het 'n mens gate en ringe en dinge kan hê
nie, kry ons uiteindelik op die regte spoor en lyn
(Dankie tog Annieka, kan Duits praat.)
Ons stap iets voor 03:00 by die oorgewig sersantmajoor van
'n gastehuismatrone/-moeder in, stokflou en doodmoeg.
En wat is die eerste wat beide ek en Annieka raakvat, sy op
soek na haar tandeborsel, ek op soek na my campingplatz-besprekingsvorm? 'n
Spaar gasbottel, wat anders?
Naskrif: Waarom nou
hierdie staaltjie oorvertel? Ek is passasier in 'n luukse toerbus
(overgesetsynde 28-seater taxi op steroïdes) tussen Pretoria en Bloemfontein.
Ek is mos lief vir die Vrystaat, en toe ek om my kyk en die mooi omgewing
indrink, toe onthou ek ons rit deur die Duitse platteland tussen Frankfurt en
Berlyn. Annieka het kort voor lank langs my gelê en slaap, maar ek het elke
oomblik geniet.
En so opspraakwekkend soos ons eerste dag en nag was, net so
opspraakwekkend was ons laaste dag – behalwe dat ek en my vrou dit misgeloop
het en benewens die tekens die laaste aand, eers die volgende dag op die
lughawe en in die lug, via die Duitse koerante, van die volle omvang daarvan
bewus geword het.
Ons is in München en om ons toer af te sluit sit ons ses
dagreise te perd (danksy drie stedelike vervoerstelsel niks meer as 'n uur nie)
uit na die oudste en eerste bierbrouery in Duitsland, gevestig in niks anders
nie as 'n Middeleeuse Katolieke klooster vir monnike nie.
Toe die trein ons ounag terug op ons stasie aflaai en ons
die kilometer of wat kampeerterrein toe stap, val die blare en takke en selfs
stompe langs die pad ons op, maar die reent is duidelik iets van die verlede en
ek en my vrou stap heerlik en gesels tot by die park – dit voel soos gister.
Daar aangekom, hang klere en slaapsakke en tente aan
wasgoeddrade en oor bosse en aan takke – die ablusieblokke is gevul met nat en
bedremmelde toeriste wat op die grond en letterlik in die toilette op die grond
probeer slaap, Daar was 'n verwoestende storm en bykans almal se bykans alles
is óf
papnat óf
verwoes óf
so weggewaai dat hulle dit tot op daardie stadium nog nie kon opspoor nie.
Maar hoe ken jy 'n tweemantent wat 'n Suid-Afrikaner soos
Hans op vreemde bodem staangemaak het. Hy staan met elke tentpen en tou intakt.
Die veselglas- of plastiekgeraamte was weliswaar stukkend geruk deur die
natuur, maar daarvan het ek en Annieka eers bewus geword die volgende oggend
toe ons opbreek.
Maar dis eers aan die hand van die koerante wat hulle in die
lug versprei, dat ons bewus word van die tornado, met bome ontwortel en mense
dood, wat Berlyn die aand, terwyl ons in die buitewyke in 'n kerklike biertuin
gesit en kuier het, getref het.
No comments:
Post a Comment