Pages

23.10.11

Blye weersiens


Van baie boeke wat ek onthou kan ek die tipies Afrikaanse sinnetjie sê:  “Dit was 'n lekker boek om te lees.”

Dan is daar boeke wat nie noodwendig lekker is nie, maar die omstandighede waarin ek dit gelees het, onthou ek as lekker.

Die lekkerste van lekker boeke, daarom die enkele boeke wat dubbel en dwars lekker leeservarings is: lekker stories én lekker omstandighede.

My allerlekkerste lekkerste van lekker boeke, sedert 1988, daarom Jan van Tonder se Is Sagie. Sy Aandenking vir 'n vry man het nie tot my gespreek nie, maar ek is al meer as 20 jaar spyt dat ek Is Sagie uit my hande laat gaan het en nog nooit, êrens, 'n tweede kopie kon raaksnuffel nie.

My Is Sagie het ek, by 'n plek wat ek my verbeel Klein Gelukkie of Gelukkie genoem is, een Saterdag op my rug, in die koelte, op die walle van die Okavango-rivier gelees.

En 23 jaar later sal ek vir die eerste keer wonder welke klein of los gelukkie watter staandemag-lid hier raakgeloop het, dat hulle na die betrokke kampplekkie as Klein Gelukkie verwys het. 'n Paar van ons troepe het die naweek saam met 'n paar PF’s (Permanent Force members) en hul gesinne hier kom uithang.

En as ons nie in die water, 'n effense stroomversnelling sonder enige kanse van krokodille, was nie, was ons op ons rug op die wal. Ons was die Vrydag op Rundu, en ek het my Is Sagie daar raakgeloop in 'n baie klein boekwinkeltjie. (Ek verbeel my trouens dit was iets soos 'n tuisnywerheid, of snuistery-winkel, met 'n enkele rak of twee met 'n paar Afrikaanse boeke op.)

So in my een hand wel 'n bier, maar in die ander 'n boek. En daar ruk Jan van Tonder my in die lewe van Sagie in. Dit was heerlik (heerlik soos in lekker), 'n heerlike storie, 'n heerlike ervaring, 'n heerlike dag. Ek het heerlik gehuil ook. Maar nie 'n slegte huil nie – 'n huil waarvan jy regtig kan sê dat jy heerlik lekker gehuil het.

Daarom ook dat ek nooit oor die Gelukkie in die naam van die kampplek gedink het nie – vir my was dit een moerse geluk, een van die lekkerste dae in twee jaar dienspligpleging aan Jannie Geldenhuis en die ander soos hy.

Toe Die Kind 'n twee of drie jaar later verskyn, toe koop ek dit vir my graad 10’s aan en ek onthou die boek as baie leerders se eerste lekker leeservarings ooit op skool. Vir baie van hulle die eerste (en ongelukkig ook enigste) voorgeskrewe boek wat hulle op hoërskool enduit gelees het.

Drie jaar terug toe maak ek weer so. Sodat die oorgrootte meerderheid van die leerders darem matriek uit kan stap en sê dat hulle daardie boek van bladsy een, tot die laaste, self gelees het én elke oomblik daarvan geniet het.

Maar toe Roepman destyds op die rakke kom, toe het ek geen begeerte om die boek te koop nie. Dit was, weet ek, omdat die boek aan my bemark is as sou dit 'n outobiografiese streep deur hê. En elke mens mag mos maar sy geite hê – as die woorddeel outobio- vaagweg in 'n woord herkenbaar is, bly ek weg. Nie hieroor of daaroor nie, dis suiwer -geit. Of dit nou onnosel-geit of simpel-geit of watse –geit ook al is, maak nie saak nie.

Toe leen 'n kollega my die boek verlede Desember. En ek lees dit maar. Mooi of lekker is die storie waaragtig nie. En ek het getjank. Baie. Maar lekker huil was dit ook nie. Sommer pleinweg 'n baie slegte snot en trane was dit gewees.

Toe die fliek Meimaand begin draai, was ons te besig, en die Vrydagaand wat ek en Annieka uiteindelik vry en vir Klaradyn by Ouma-hulle het, was toe die week waarin hulle die fliek by die laaste teater ophou vertoon het. (Ons het toe nie eers gaan uiteet nie – Annieka het op my skoot voor 'n DVD wat ons uitgeneem het, aan die slaap geraak.)

Met die dat ek die boek al gelees het, was ek al heeltemal uitgehuil aan die storie toe ek uiteindelik die fliek op DVD te siene kry.

Maar die fliek was vir my een van die ontstellendste ervarings in baie jare. Ongelukkig eers aan die einde. Toe die storie uitgewoed is en die name oor die skerm begin rol.

Daar staan Rika Sennet. O genade! Waar was Rika Sennet? Ek het haar nie gesien nie!

Paul Luckhoff! Nee, o, hemel, hy het nie in die fliek gespeel nie! Ek sou hom mos herken het. Dis hy wat oor jare en seisoene heen die rol van Saul Barnard in Peet van Rensburg se verwerking van Dalene Matthee se Kringe in 'n bos gespeel het. Ek het die produksie seker agt keer gesien, letterlik in Johannesburg, Pretoria, Bloemfontein, Durban én op Rundu. Hoeka in 1988, die jaar wat ek op Klein Gelukkie uitgehang het!

O, aarde, en daar is die naam van 'n girl wat saam met my geswot het! Kan nie wees nie, ek het haar ook nie geëien nie.

Ek het Petru Wessels – sy het my heel eerste ATKV-skoletoneelkompetisie-aanbieding beoordeel en ons het jare later minstens een keer 'n jaar saam by gemeenskaplike vriende begin kuier - nie eers herken nie.

En toe ek rewind om hulle te soek, toe het Rika, ou skoolvriendin van my broer, een van die hoofrolle vertolk.

Ek glo maar steeds dat die karakter wat aldus die rolverdeling aan Paul Luckhoff toegedig word, wel deur Paul Luckhoff vertolk word, want van my 1988 Kringe in 'n bos Saul Barnard (ek het op my seven days pas in 1987 ingesit terwyl hulle aan die produksie aan het repeteer was) kon, en kan ek steeds nie, 'n enkele trek herken nie.

Dieselfde wat betref die girl derdejaar was, toe ek eerstejaar was.

Daarom dat ek so ontsteld was, so vreeslik bitterlik ontsteld was – het ons dan so oud geword. Dit wat met hulle gebeur het – om onherkenbaar oud te word – moes dan tog sekerlik met my ook gebeur het!

Maar daarom ook dat ek vanoggend soveel beter voel, en nou hier sit en tik.

In my tweede jaar, was daar hierdie eerstejaar wat van iewers op die platteland – ek onthou nog goed presies van waar – gekom het.

So naïef en jonk en onskuldig en plattelands en alles wat mooi is, was sy gewees, dat sy die een snobgat vroue-dosent grensloos ontstel het, elke keer as sy haar, nie as Mevrou nie, maar as, Antie aangespreek het.

Die lieflike mooi meisiekind het toe oor die jare heen ontwikkel tot waar sy vandag 'n baie prominente figuur oor die eter en op die lug is.

Self het ek haar laas in die middel tagtigs van die vorige eeu gesien. Hoor, hoor ek haar ook maar min – die radio is selde aan in die huis, my motorradio vang geen radiostasie op nie, en ons TV-antenna is jare reeds nie eers gekoppel nie.

En toe gisteraand, op die vliegtuig Baai toe om met Afrikaans-onderwysers te kom gesels, kom hierdie figuur die gangetjie afgestap, en ek vertel myself dis sy, die meisie uit die Verre Dorre Groot Haai Karoo.

Miskien misgis ek my.

En ek noem haar naam. Die naam waaronder ek haar leer ken het, nie die verhoog-, radio- en televisienaam waaronder die Suid-Afrikaanse luister- en kykpubliek haar leer ken het nie.

Maar sy reageer nie.

Miskien het sy nie gehoor nie. Miskien onthou sy nie meer haar naam nie.

Miskien is dit nie sy nie!

Maar toe is sy by my, en ek lees die van op haar kaartjie, en ek wéét dit ís sy.

Dis 26 jaar later... en ek herken haar... soos gister...

Ag, nee wat – ons het g'n so oud geword nie! Ons is nie verby en oor die muur en afgeskryf en vergeet nie. Die beste lê nog voor

Dis al die tyd die bloody Paul Eilers en sy grimeerkunstenaars wat Rika en Paul en Petru en daai outjies 30 jaar ouer en onherkenbaar gemaak het.

Die saak is reg. Die Kaap is Hollands. Die kind se naam is Wit Willem!

No comments: