Op stop agter die vrouens wat in Woolworths se aantrekhokkie
wag op die nuwe style en groottes wat ek moet aandra, loop ek so twee weke
gelede my maermerrie so stukkend teen 'n metaal vertoonrak dat die bloed teen
my been afstroom. By gebrek aan 'n lapsakdoek
moet ek myself glads na die mikrogolfoond, waar die wegneemetes opgewarm word,
haas om daar 'n servet te kry en iets aan die bloed te probeer doen.
Die ewige kind in my het my verlede naweek al voor die
televisie op die punt gehad waar ek die rofie afkrap en wonder of die ding nou
weer gaan begin bloei of nie. Te lekker. Soos van ouds.
Gistermiddag vra ek Annieka of sy die vaagste benul het hoe
die wond aan my been jeuk, en sy laat val dadelik met 'n laggie dat ek dit tog
nie aan Klaradyn moet vertel nie – Klaradyn sal dadelik vir my te vertelle hê
dat dit 'n baie positiewe teken is: my
wond word gesond.
Gisteraand, in die bed, toe ons regskuif vir die aandstorie,
kan Klaradyn, oormoeg soos wat sy is, nie dadelik tot rus kom nie – sy al by
die pleister op haar knie. En as dit nie die pleister op die knie is nie, dan
is dit die wond – met apiebloed aan – op haar toon, of die apiebloed aan haar
hand.
Apiebloed, vir die oningewydes, is merkurochroom. Sy is na skool
reguit na 'n maatjie se huis om saam met twee ander maatjies hierdie betrokke
maatjie se verjaarsdag te vier. En toe Ma haar half ses optel, toe lyk sy, van al
die lekker speel, asof sy op 'n slagveld was.
Teen slapenstyd gisteraand is ek en Annieka altwee toe nou
al tot hier toe, van die moet luister hoe lekker die meisies gejol en gegly en
geval en hulself gebeseer het.
Ek wil ook toe nou dat Klaradyn tot ruste kom en haar
gewonde knie sal uitlos. (“Kyk, Pappa, dis nie apiebloed wat daar uitsteek nie,
dis mý
bloed, regtige egtige bloed.” Ek is ook nie links nie en sê: “So dis nie apiebloed nie, maar
bobbejaantjiebloed.” Sy dink, nodeloos om te sê, nie dis snaaks nie.)
Maar om die aandag toe nou af te lei van die bloederige
vulkaan op haar knie, die een wat dreig om enige oomblik tot uitbarsting te kom,
vestig ek toe nou die aandag op my wond van twee weke gelede. Ek vra haar om my
wond bietjie uit te kyk, en of sy 'n idee het hoe die ding jeuk.
En wat is die eerste wat my kind met die grootste
blymoedigheid in haar hart en vetste glimlag oor haar gesig vir my sê? “O,
maar dis goeie nuus Pappa – dit beteken Pappa se wond word nou gesond!”
Die tweede ding wat sy sê, is om verbaas uit te roep
dat wond en gesond met mekaar rym, selfs al is dit teenoorgesteldes.
Dit moet seker maar haar Ouma wees wat haar aan die verstand
gebring het met die gedagte dat 'n seerplek wat jeuk op genesing dui. Dalk was
dit ek, dalk Annieka. Nog nooit het 'n kind egter met soveel oorgawe die storie
geglo, of met soveel oorgawe oorvertel nie.
Net so het ek vyf en twintig jaar gelede 'n storie gehoor
wat ek vandag nog met die selfde oorgawe glo, en oorvertel.
My ouma aan my ma se kant is in 1986, ek nog op
universiteit, oorlede. Toe ek enkele maande later in 'n geselskap laat val dat
ek die vorige nag, vir die eerste keer sedert haar afsterwe, van haar gedroom
het, maak die proffie in ons geselskap die terloopse opmerking dat dit 'n baie
goeie teken is – dit beteken ek is besig om my ouma se dood te verwerk.
En van toe af, glo ek hierdie terloopse opmerking van hom
soos evangelie: as jy van iemand droom wat afgesterf het, is dit positief, jy
is besig om daardie persoon se dood te verwerk.
Toe word ek 'n uur agt minute, om 24:05, wakker, vir die
eerste keer, uit 'n droom rondom 'n sterwende Judy.
En die eerste wat ek myself wysmaak, is dat dit 'n baie
goeie teken is – ek begin die ou vrou se dood in my en met my onderbewussyn
uitsorteer.
Vir my is dit eintlik nogals iets groots – sedert 1986 het
ek nog nooit nodig gehad om gekonfronteer te word met die afsterwe van iemand
na aan my nie.
My ander ouma se dood het my nie geraak nie – ek wou trouens
nie eers begrafnis toe nie, ek wou standerd 7-klaspartytjie toe. Dis eers toe
my ma dit voor my gooi dat ek een van die draers van die kis is, dat die erns
van die saak begin insink het.
My pa se dood het my geraak. Ook die ouma van wie ek klaar
vertel het. En dan nou, jare later, die dood van my ma, twee maande, enkele dae
gelede.
Dit was 'n droom wat ek, terwyl ek dit gedroom het, suiwer
as droom en geensins as nagmerrie nie, beleef het. Maar die oomblik toe ek
wakker is, en die droom herroep, toe word dit 'n nagmerrie-ervaring waarmee ek
nie konfronteer wil word nie.
Ek het dadelik bewus geword van innerlike konflik: aan die
een kant wil ek die droom herroep, in die herinnering roep, oproep; aan die
ander kant wil ek dit onmiddellik vergeet en verder slaap.
Dan het ek ook 'n vreemde konflik, 'n konflik soos tussen
twee partye of individue (entiteite) beleef. My bewuste ek wou die droom
herroep, die onderbewuste ek, my onderbewussyn, wou die droom nie laat gaan nie
– dit allermins nie in die onbekwame hande van my bewussyn laat nie. En toe is
dit vir 'n ruk lank of die twee met mekaar toutrek oor die onthou van my stomme
ma wat tussen hul hande aan flarde geruk word.
Toe ek 'n half uur later, wat soos 'n uur later voel, nog
nie weer slaap nie, toe kom sit ek maar die rekenaar aan.
“'n Droom wat jy nie interpreteer nie, is soos 'n brief wat
jy onoopgemaak terugstuur, 'n boek wat jy ongelees wegsit.”
Party skryf hierdie gedagte aan Judaïsme en die Talmoed toe; ander vind die oorsprong daarvan
weer in die Koran by die Islam. Nou waar presies dit vandaan kom, of wie eerste
die beeld verwoord het, staan my nie aan nie. Vir my is en bly dit 'n baie waar
en raak opmerking oor drome wat al duidende jare met die mensdom is.
Ek is egter, toe ek wakker word en eers besef wat presies ek
gedroom het, waarvan en waaroor en in welke terme presies ek daarvan gedroom
het, só
ontsteld dat ek myself toe nie toelaat om die droom te herroep nie – en al
waarvan ek bewus word is hoe dit dieper en verder in die baie besitlike dryfsand
van my onderbewussyn wegsink en –sak. En hoe interpreteer jy nou iets waartoe
jy nie meer toegang het nie.
Al wat ek nou verder
kan doen, is om te wonder wat moontlik die droom kon ontketen het – behalwe dan
nou my byna kategismusiese vaste vertroue dat ek besig is om my se dood in my
onderbewussyn te verwerk.
En dan is die enigste antwoord waarby ek uitkom 'n toevallige,
terloopse kort kragmeting tussen my bewuste en my onderbewuste gistermiddag na
skool. 'n Kortkragmeting waarin die onderbewussyn die oorhand oor die bewussyn
gekry het.
Met die dat Klaradyn na skool 'n partytjie had, het ek en
Annieka besluit om die agtermiddag aan te gryp en is ons in aanloop tot die
vryheid van die Vrýdag-agtermiddag met een motor skool toe.
En toe die klok lui om die einde van die skooldag en die
skoolweek aan te dui, toe vat ons die strate.
In 'n stadium is ons in die omgewing van die ouetehuis waar
my ma oor vyf jaar heen te sterwe gekom het. Ek sê vir myself, doelbewus, om nie
die pad te ry wat daar verby lei nie – ek en Annieka het 'n lekker tydjie saam
en ek wil dit nie nou bederf met gedagtes rondom my afgestorwe ou moeder nie.
En ek draai doelbewus 'n ander rigting in.
Maar hoe ken 'n mens nou die mag van die gewoonte: vir vyf
jaar, as ek hier gery het, was dit op pad na die twee oues toe, of op pad terug
van die twee oues af.
En die eerste waarvan ek enkele minute (oomblikke?) later
bewus word, is die feit dat ek met my motor vlak langs, vlak teen, óp
die ouetehuis se voorhek is – my onderbewussyn het my, in weerwil van die
bewussyn, daarheen gelei.
Ek was summier die bliksem in vir die alter-ego wat die
oorhand gekry het, maar het nié toegelaat dat my gedagtes by die ou
vrou gaan kuier om my tydjie saam met my vrou te bederf nie.
Dit in weerwil van Annieka wat opmerk, toe ons daar verby
gaan, hoe haar binneste, elke keer wat sy daar verby ry, ruk. Sy noem ook dat
sy wonder hoe erg, as sy dink hoe erg dit vir haar is, dit nie vir my moet wees
nie.
En toe nou die droom van vannag. En waarom Annieka ook 'n hoofrolspeler
in my droom was.
Ek droom, aan die ander kant, moontlik vir twee maande en
enkele dae nou al, élke nag van my ma – ek weet dit bloot net nie. Vannag was
dalk net toevallig die eerste keer dat ek wakker word terwyl ek rondom Judy droom
– en drome waaruit jy wakker word, kan jy grepe van onthou en herroep; drome
waaruit jy nie wakker word nie, word veilig in een van die sluitkaste in jou
onderbewussyn weggebêre.
En dan kan jy nie krap waar dit nie jeuk nie.
Om terug te kom by die wond aan my been wat jeuk van die
gesond word, in aansluiting dan by die wond in die binneste wat net so lekker
jeuk van die gesondwordingsproses.
En soos Klaradyn tereg opgemerk het: wond
rym met gesond.
Al is hulle teenoorgesteldes.
No comments:
Post a Comment