Ek weet nie watter een van die twee my die ingrypendste
geraak het nie: die nimmereindigende vreugde van geboorte (Klaradyn) of die nimmereindigende
afsluiting en tot einde kom van so 'n geboorte (Judy se dood).
Dit was vir my lankal duidelik dat Klaradyn se geboorte my
lewenslank en elke dag opnuut sal verbly.
En moenie moed opgee nie, ek het dit nie vanaand oor Judy en
haar dood nie, maar oor iets anders.
Want tog was ek op 47 naïef genoeg om te dink dood, anders as geboorte, kom tot 'n einde
en gaan verby.
Dis dalk oor ek wat die dood betref so onervare is: ek was 'n
kind toe my pa dood is en het hom jare na sy dood, toe ek begin man word, vir
die eerste keer begin mis.
In daardie tyd, ek was op universiteit, sterf my oorlewende
ouma ook.
Maar toe kom die weermag, en toe ek daar uitgespoeg word, kon
Ouma se dood my ook nie meer raak nie.
So ek was al die tyd onder die vals indruk dat dood tot 'n einde
begin kom. Na 'n ruk.
En dit lyk my nou dat dit nie die geval is nie:
Ek word steeds weekliks weer daaraan herinner hoe volslae
verby en finaal die ingrepe van die dood is – soos nou toe ek in die verbystap ‘n
bankstaat nadertrek en sien dis Judy s’n.
En tog, ten spyte van die finaliteit en die afskeid wil hierdie
voortdurend-daaraan-herinner word (hoe ontsettend vir altyd verby dit is) nie
tot einde kom nie.
Ek gesels onlangs met 'n dierbare vriendin wat amper 30 jaar
ouer as ek is (dit wil sê sy sit opgegaar met amper 30 jaar meer ervaring en kennis
en wysheid en insig as ek) en sy sê: “My pa is donkiesjare al dood en ek
mis hom party dae, na al hierdie jare nog steeds soos ek niemand anders nog
ooit in my lewe gemis het nie.”
Ek was in die ongelukkig bevoorregte posisie om my ma, my ma
grotendeels, die laaste paar jaar van haar lewe en lank voor haar dood al te
kon mis.
So ek sal lieg as ek sê ek mis die ou vrou.
Dit wat ek sou kon mis, die vrou en ma-figuur wat ek sou kon
mis, het ons lankal van afskeid geneem, en om die pad saam met haar die laaste
vyf jaar te kon loop, het my half gewoond gemaak aan 'n nuwe ma, 'n ander ma. 'n
Ma wat ek grotendeels nie sal mis nie.
Tog is daar, maar alte natuurlik, talle ander kleiner
goedjies, oomblikke, momente, wat ek (begin ek nou vermoed) as ek die dag 74
soos my vriendin is, nog steeds sal mis, asof dit gister was dat ek dit laas
beleef het.
En dan lei ek af dis geensins 'n geheim nie, maar eerder net
nóg
een van daardie dinge waarop NP van Wyk Louw se woorde van toepassing is: die wat weet, die sê nie; die wat sê,
die weet nie.
En as ek dan nou nie kan weet wat die ingrypendste is nie –
geboorte of dood – dan wil-wil ek begin wonder hoeveel te meer ingrypend en
immer onvoltooid dit nie moet wees nie as hierdie twee hande vat en jy as ouer
met die dood van dit waaraan jy geboorte geskenk het, gekonfronteer moet word.
Beide my oumas het op gevorderde leeftyd een van hul seuns
aan die dood afgestaan.
Ouma Van Wyk het ek by herhaling hoor sê
dat ouers nie gemaak is om hul kinders te moet begrawe nie.
Maar ek het dit net gehoor, ek kon dit nie verstaan nie. Ek
was 'n kind.
Twee baie goeie vriende van ons, moes 'n jong kind aan die
dood afstaan.
Ons lewens, het aangegaan.
En ek het tot en met Judy se dood, gedink hulle s'n ook...
Annieka se een oom en tannie het langs twee kinders se
grafte moes staan.
Ek het eendag by die tannie gehoor sy word nog elke oggend
met al haar kinders in gedagtes wakker.
Maar ek het nie verstaan nie.
'n Vriendin van my het 'n suigeling moes begrawe.
Ons praat nie. Nie daaroor nie.
En toe beleef ek, vir die eerste keer as volwassene, dood van
'n naaste aan die hand van Judy.
En ek sê verlede week, uit die bloute, vir Annieka dat sy bly kan
wees dit is haar nog gespaar – daar is niks onder hierdie son so erg, so
ingrypend, so finaal soos die dood nie. En daar is niks onder daardie selfde
son waarop selfs die voorbereidstes onder ons so totaal onvoorbereid op is, as
juis die dood nie.
Maar vanaand tot ek na die bankstaat kyk en ek lees dis Judy
s'n, en my binneste ruk opnuut, vir 'n kort oomblik by die herinner word aan
die finaliteit van die dood wat nooit tot 'n einde kom nie, ineen, toe word ek
weereens herinner dat ek selfs nog minder geweet het van jou eie kind begrawe
as wat ek voor my ma se dood vermoed het ek weet.
Ek dink ook ek begin verstaan waarom daaroor nie gepraat
word nie, waarom as het ware weer van vooraf vriende gemaak moet word: ouers
wat 'n kind aan die dood afstaan kom self ook tot sterwe, hulle sterf nie net hul
kind af nie, maar groot deel van hulself. Die deel wat sou kon praat oor die
dood van 'n kind, is self dood en bestaan nie meer nie – dis 'n ander vriend, 'n
ander mens, 'n nuwe mens wat jy van vooraf moet leer ken, 'n nuwe mens wat van
nuuts af moet probeer leer om te leef.
En dan sê ek nie dis hoe dit ís
nie, dis hoe ek my as oningewyde buitestaner dit voorstel, indink en probeer
verwoord.
Ek weet egter nie van beter nie, en is baie bly ek weet nie
van beter nie.
'n Ander vriend van my moes van sy tweelingbroer afskeid neem.
Gelukkige op 'n relatiewe jong ouderdom.
Of maak ouderdom nie saak nie? Is 14 makliker as 44?
Is dit die bloedverwantskap wat die dood vererger? Of die
lengte en duurte van die verhouding? Of die diepte, aard en omvang?
Ek weet, weer eens, gelukkig genoeg, nié.
Ek weet net, kyk ek na die ervaring om drie maande later
steeds weekliks van Judy afskeid te moet neem ('n afskeid wat, begin ek vermoed,
nooit 100% end kry nie) dan besef ek telkens opnuut, in die woorde van Ouma van
Wyk: “Ouers is nie gemaak om hul kinders te begrawe nie.”
Mag ek nooit verstaan wat sy daarmee bedoel het nie – want wat
sy bedoel het, het ek nie die vaagste benul van nie.
Ek weet dit nou weer. En meer. Terwyl hierdie skrywe duidelik daarvan getuig.
No comments:
Post a Comment