Pages

12.11.11

Jaareinde-oordenking

O, die einde van die jaar darem!

Geen wonder ons gaan elke Nuwejaar met soveel oorgawe in nie – dis oor ons so vuisvoos van die vorige vreksel se doodsnikke is!

Toe Annieka Klaradyn Donderdagaand badkamer toe stuur om te gaan bad, kom dit van Klaradyn:  “Agge, nee, moet ons al weer iewers heen gaan!”

En ek weet nie regtig vir wat die kind so murmureer nie – sy het net Dinsdag- en Woensdagaand 'n verpligting gehad. Verpligtings had haar ma Maandag- en Vrydagaand ook uithuisig. Donderdagaand was eintlik grasie.

En dan roep ek nie die vorige week, waar ons streng gesproke elke aand van die week 'n engagement gehad het en doelbewus moes briek aandraai, in die herinnering nie.

Wat meer is – Dinsdag en Woensdag was háár aande. Dit was nie soos met een van Ma of Pa se aande wat ons haar by Ouma en Oupa kan gaan aflaai nie – nee, allermins; dit was twee aande wat Ma en Pa met bonsende harte en bultende ribbekaste saam met haar laerskool toe moes piekel.

En dan gebruik ek ook nou die werkwoord, piekel. Vir wat sal ek nie weet nie, dit was eintlik net een vet lekkerte. Sien, dit was oor twee aande heen jaareind-prysuitdelingaand waarby die parrabeentjies betrokke kon wees... en onse meisiekind het uitnodiging na beide ontvang.

Iewers, en ek weet wraggies nie waar nie, het 'n Afrikaanse digter of skrywer, woorde soos “'n lewe kan so maklik breek” kwyt geraak. En hierdie woorde van die vent maak dat ek geleenthede soos prysuitdelingsaande lewenslank met versigtigheid, eerder as oorgawe en grootheidswaan, benader.

Ek stap daar in, ten volle bewus van die uitsonderlike voorreg wat dit is, maar pynliker bewus van hoe broos dit alles is, so asof dit nie eers voorreg is nie, maar suiwer genade en niks anders nie. Dis dan wanneer ek ophou om trots te voel, en niks anders as oneindig dankbaar en uitgelewer aan die genade begin voel. Dis dan wanneer ek klein word in die agterste gestoelte wat ek by voorbaat uitgesoek het, en myself nie eens so ver kan kry om 'n kamera uit te ruk en die weerlose klein weerbare meisiekindjie met die mooiste vlegsels en glimlag in die hele skool kan afneem, en die oomblik verewig nie.

Miskien is dit omdat ek te veel van, en te lank al, 'n onderwyser is – dis net die een helfte wat as vaderfiguur in die saal op een van die stoele sit; die ander helfte bly onderwyser agter in die coulisse op die verhoog. En min mense weet beter as onderwysers hoe maklik en hou gou dinge ander rigtings in kan neuk, die pad heel byster kan raak, en selfs kan ontspoor.

En terwyl ek hier tik, begin ander woorde in my gedagtes draai, kry dit 'n wysie en kom grepe daarvan na die bewussyn. Ek herken die woorde na 'n ruk as komende van Koos du Plessis. Ek moet dit gaan soek, en ek kry dit. In hul geheel is seker nie 100% van toepassing nie, trouens glad nie, grotendeels wel, en daarom haal ek alles, ook die meer ontoepaslike dele, aan. Wat in my kop kom maal het, terwyl ek tik, druk ek dan maar skuins:

Gebed

Laat my nooit die grond verlaat nie.
Laat my in U skadu bly.
Gee dat elke aardse vreugde en vrees,
eindelik nietig word vir my.
Elke afdraai paadjie ken ek.
Elke keer het ek verdwaal.
Elke keer het u my iewers kom haal.
Maak dit Heer, die laaste maal.
Elke dag is ‘n gedagte.
Elke kamer net gehuur.
Elke aardse droom van rykdom en roem,
net ‘n skadu teen die muur.
Wat ek is, is net genade.
Wat ek het, is net geleen.

Eintlik smag ek na U waters van rus.
Lei my Heer vanaand daarheen.

Gedagtes en invalshoeke soos hierdie ontneem geleenthede soos die wat ons vandeesweek  met Klaradyn gedeel het geensins van enige luister nie, dit maak dit soveel meer kosbaar en spesiaal.

Die wonderlikste vir my (en jy gaan vir my wil sê dat alle ouers so is, en gaan jou sê dat ek jou kan verseker dat alle ouers nie so is nie) is die seker wete dat dit aan die verhouding tussen my en my kind geen maar geen verskil sou gemaak het as sy nie daar was en verhoog toe geroep is nie. Dit maak my nie meer lief nie; net meer dankbaar.

Saam met die wonderlikste, moet ek seker ook die lekkerste en die mees spesiale deel. En dan het die lekkerste en mees spesiale, dit wat my hart die warmste verwarm, die bonsigste laat bons het, nie by die skool gekom nie, maar na die tyd, by die huis, ure na die kind se normale slapenstyd en Ma en Pa beide op die rand van histerie is omdat dit so laat is en ons nou eers kan gaan slaap.

Sal die merrieperd en verleidster nie lostrek (heel angstig) met:  “Ek het nog huiswerk nie!”

Dit nadat sy ons die middag leedvermakerig vertel het dat sy nie huiswerk het nie – ons kan speel, ons kan swem. Wat ons toe ook gedoen het.

Gelukkig stel sy nie uit nie, anders het ek die vloermoer wat in my opgebou het op die vloer gemoer, maar nee, sy kom dadelik nader, slaan haar arms om my nek en gee my een vet uitgerekte lang soen. Daarmee saam, ook dié woorde: “Juffrou het gesê ons enigste huiswerk is om ons ouers vanaand 'n soentjie te gee en dankie te sê vir alles wat hulle vir ons doen, en die kanse wat hulle ons gee om te doen wat ons doen. My huiswerk is nou klaar. Kan ons asseblief nou gaan slaap.”

Alles wat ek is, is net genade, alles wat ek het, is net geleen...

Ek moet dit mooi, só mooi, só vreeslik bitter baie mooi oppas.

No comments: