Ja, dis hierdie keer nie die kat, Wilson se kat, wat weer kom nie, dis die tandmuis.
Toe ek Klaradyn gisteraand aan die slaap lees en Annieka kom verby, toe spreek ek haar, by herhaling, as Violetta Muis aan.
Toe ek Klaradyn gisteraand aan die slaap lees en Annieka kom verby, toe spreek ek haar, by herhaling, as Violetta Muis aan.
Violetta Muis is geen bekende troetelnaampie wat ek vir
Annieka het nie, dis ongewoon.
Voorts beklemtoon ek die Muis-gedeelte van die woorde, én
ek wys so met my oog na af in die gang.
En was Annieka nie so moeg nie, sou sy beslis geregistreer
het, maar behalwe dat sy oormoeg was, het sy nog die heeldag olik ook gevoel.
Die gevolg is dat sy nie snap nie.
Sy snap nie dat ek haar pas die tandmuis gemaak het en haar
eintlik maar net vriendelik en baie subtiel herinner om tog 'n geldjie in
Klaradyn se skoen te sit nie, nee, sy gaan val op die bed neer en slaap.
En intussen lyk dis soos sirkus in die gang, en het ons al
gehuil ook oor dit wat in die gang aangaan.
Daar is 'n pajamatoppie oopgesprei, 'n kussing, 'n bakkie
met water, twee briefies om die knaagdier om te koop, ‘n blokkie kaas, 'n
verhogie met die tand op, en, om alles af te rond, ‘n geurige klein flessie
salf.
Teen daardie tyd, en dit was wat die trane veroorsaak het,
het ek reeds die flitsie waarby mens snags boek kan lees sonder om jou vrou te
pla, opgetel en gebêre waar dit hoort. Hierdie flitsie se battery was besig om
pap te word, want dit was aangeskakel, hoe lank nie nou al nie, “sodat die muis
kan sien waarheen om te kom, Pappa.”
Ek kon haar oortuig dat die muis bang sal wees die honde
sien hom in die flitsie se lig, hulle is mos nou maar een maal meer soos
kabouters wat dit verkies om in die donker te beweeg.
Dit was maar 'n stryd om die kind rustig te kry.
Na die gebed, lig sy eens weer die kop: “Ek wens ons kon hom in die hamsterhok vang
en dan vat ek hom skool toe.”
Ek kom omtrent iets oor en maan haar om tog nóg
sagter te praat en te hoop dat die mannetjie haar nie nou gehoor het nie, want
hét
hy haar gehoor, sien sy, of een van haar tande, die mannetjie nooit weer nie.
Ag, en toe is die kind van vooraf wakker en bekommerd.
Ek is self ook sommer redelik bedonderd – die vorige keer
dat 'n tand die hasepad (muis se pad?) gekies het, was ek uitstedig en Mamma en
Klaars by Ouma-hulle. En dan weet julle hoe gedra Oumas en Oupas hulle – dis mos
asof hulle betaal word om 'n kind die afgrond in te bederf, en daar is Ouma en
Oupa se tandmuise die soort wat nie 'n blink muntjie in ruil vir 'n blink
tandjie aanbied nie, nee, Ouma en Oupa se tandrot is 'n geldrot wat met
R20-00-note betaal, nie een nie – TWEE.
Stel jou so bloody rot voor!
En nóg ek, nóg Annieka het 'n sent se kontant aan
ons – en dit help nie ons gaan trek nie, ons het die agtermiddag tot op die
laaste limiet loop staan en geld uitgee aan vliegtuigkaartjies Kaap toe.
Die enigste R20-00 (hoe sal dit nou lyk as ons huismuis nou
skielik met niks beters as R5-00 vorendag kan kom nie?) waarop ons ons hande
kan lê,
is die R20-00 wat sy Vrydag van 'n skooluitstappie teruggebring het. En hierdie
R20-00 is met selotape geplak en ek is bang Klaradyn herken dit.
(Stel jou die stomme kind se uitroep voor: “Maar ek ken daardie R20-00! Dis die R20-00
kleingeld wat ek Vrydag van die diereplaas af gebring het!)
So van al die gestoei met die kind wat nie tot rus kan kom
nie, en my eie gestoei in my kop met die voortvarende muise wat my skoonouers
bevriend, is ek toe een wat langs my wakker kind aan die slaap val.
Ek word lyfseer en deur die weer wakker van in die hitte op 'n
te klein enkelbedjie lê – ek en Annieka lê deesdae met ons een voet uit by die
bed en op die grond – so klein raak die bed.
Ek strompel op en kombuis toe na waar ek weet die R20-00 lê
en wag.
By die installasie in die gang, gryp ek die briefies wat sy
uitgesit het. Ek sal dit nooit oor my kry om dit weg te gooi nie, maar ek is te
bang sy spoor dit iewers op, toe gaan steek ek dit in die plastiek oortreksel
van my Kook en Geniet deur S J A de
Villiers weg.
Ek het dit nou weer daar gaan opdiep om dit met Annieka te
deel. Dis die ene harte en soene en glimlagte.
Na sy geteken het, toe dikteer sy en ek moet skryf: “Pappa moet mooi skryf en Pappa moet klein
skryf: ‘Liewe Tandmuis, dankie vir al jou hulp met die tande. Ek hoop julle bou
goed. Julle is mos die beste. Kom asseblief saam met ons Kaap toe. Bring warm
klere en bring koel klere. Kry ons 8 Desember 05:00 op die Gautrein-stasie.
Klaradyn, Hans en Annieka Moolman.”
Maar ek vermoed sy het gereken die feit dat sy nie self
geskryf nie, kan dalk teen haar tel, want toe maak sy 'n tweede kaartjie, ook
met hartjies en glimlaggies en soentjies, op die patroon van die eerste een: “dankie
vir al jou hulp / dankie soo dankie / Gautrei en vliegtuig”
Die rekwisietemeester in my kom na vore as ek die kasie so
kyk. (Ek sou rekwisiete wou maak vir die marionette in kindertelevisiereekse soos
Redding Internasionaal en Liewe Heksie.)
Ek knaag met my
tande deur die blink papier wat die wiggie omvou. Ek eet bykans die helfte van
die kaas op. Ek spoor 'n koki-pen op waarvan die agterste doppie, na my mening
dun genoeg is om 'n tandmuis se tandmerke te kan eggo. Met die agterkant van
die koki knaag ek toe twee of drie
baie realistiese bytmerke uit, en posisioneer dit, effekberekend, naby die
opgerolde R20-00 in haar silwer skoentjie. (Ja, dis nie sommer enige skoen nie –
dis die kerkskoentjies!)
En ek gaan slaap.
Die donderse hond moes toe ingekom het, en die kaas
opgevreet het, want van hierdie baie realistiese rekwisiet was daar vanoggend
niks oor nie.
(Ek verkies dit om nie die opsie dat 'n rot dit in die
middel van die nag kom wegdra het, te oorweeg nie.)
Ek word vroegdag wakker, nog voor die voëltjies
begin sing. Die eerste wat my tref is dat ek nie weet waar my selfoon is nie.
My selfoon is ons wekker. Ek is toe so bang ons verslaap, en ek is toe so
pikwakker geskrik by die blote gedagte aan verslaap, dat ek na 'n halfuur se
rusteloos rondrol, maar opstaan en agter die rekenaar inskuif om te sien dis
enkele minute na 04:00.
Hier van 20 voor 5 af, hoor ek my kind snuif – daar is
omtrent nie 'n ding onder son waarop sy en ek nie 'n allergiese reaksie in die
vorm van 'n chronies-akute snotneus het nie.
Ek hoor haar 'n rukkie later opstaan en badkamer toe gaan.
Dit word stil, baie stil.
Ek besef die opwinding van die tandmuis se besoek gaan haar
nou wawydwakker hê, ek moet kyk of ek haar nie weer terug in droomland kan
kry nie – dis nog 'n goeie uur voor haar normale wakkerwordtyd.
Ek tref haar in ekstase en euforie op die toilet aan: “Pappa, hy was hier! Hy het die briefies
gevat. Hy het die kaas geneem. Hy het van sy water gedrink en vir my 'n volle
R20-00 gelos, kyk hier! Maar, Pappa, daar is een iets wat ek nie verstaan nie –
hy het nie die tandjie gevat nie! Hier is dit nog steeds!”
Ek kan dit nie glo nie, maar sy is reg, ek het nie die tand
gevat nie – ek het nie eers die tand gesien nie. Om die waarheid te sê,
ek was in my deur-die-slaap-wees so gefokus op die R20-00, die briefies en die
kaas, dat ek nie eers vir 'n enkele oomblik aan die donderse tand gedink het
nie.
Gelukkig was ek toe darem al meer as 'n uur wakker en ek het
dadelik 'n antwoord gereed: “Hy het
seker vir die honde geskrik en 'n rigting ingeslaan. Ons sit net vanaand weer
die tandjie uit, miskien kom hy terug daarvoor – en, wie weet, miskien bring hy
nog 'n geldjie saam.”
Die skoen is weer uitgesit, die tafel (spreekwoordelik)
gedek – die verhoog is gereed.
En wat doen Annieka, terwyl ek hier tik? Sy flap haar
skootrekenaar toe en kondig aan dat sy gaan slaap.
Ek gaan nou hier moet afsluit, my beursie soek en hoop daar 'n
R10-00-noot in.
Sê nou daar is net 'n R50-00 in! Skuif ons dan Ouma en Oupa
se going rate vir wisseltande op tot
R70-00? Dit kan tog nie!
En wat maak ek nou met die tand?
Waar het Annieka al die ander gebêre?
Naskrif: As ek so na
my kind se opregte kinderlike geloof kyk, begin ek natuurlik wonder oor die
wenslikheid van al die leuens wat ons rondom die Paashaas, Sinterklaas,
Kersvader en die Tandmuis opdis. Moet mens doelbewus mors met ‘n ander mens se
geloof, hulle om die bos lei, welwetende dat hulle later wreed ontnugter gaan
word? Is dit onskuldige grootmens pret?
Op die onderwerp, maar ook daarvan af, en miskien daarom
eerder rondom, of in die omgewing van, die onderwerp: Klaradyn het hierdie maatjie gehad wat
grootgeword het in 'n godlose huis. Met Kersfees wat die geboorte van Jesus
Christus herdenk, kon die ouers hulle uit die aard van die saak nie versoen
nie. Maar om op te maak vir die kinders wat rondom Kersfees droëbek
sit en nie eers na die kleuterskool se Kerspartytjie kon gaan nie, het hulle
toe dat Sinterklaas (Sint Nikolaus) vroeg in Desember presente bring. In
Christus mog die kinders toe nie glo nie, maar in Sinterklaas wat om die aarde
reis en geskenkies los vir outjies wat heeljaar baie soet was, wel?
Ek kon hierdie twee gedagtes nooit mooi met mekaar versoen
nie.
En dan moes ek myself afvra of dit nie presies is waarom die
geboorte van Christus juis herdenk word waneer dit herdenk word nie – om as
teenfoeter te dien vir die een of ander lekker jollie-patrollie heidense fees wat
in die omgewing van die einde van die jaar geval het nie.
Daarvan weet ek egter gelukkig/ongelukkig te min.
Ek wonder wel, na aanleiding van gisteraand, of dit my kind se
verbeelding, en of dit my kind se geloof is wat so sterk is. (Party gaan vir wil vertel dat dit een en dieselfde ding is!)
Wat Kersvader betref, weet ek van verlede jaar af dat sy rondom
die ongeskrewe reëls van die speletjie begin saamspeel het – en elke oomblik
daarvan nie net geniet nie, maar tot haar voordeel inspan ook.
Wat Sinterklaas, die tandmuis en die belaglikste van hulle
almal – die paashaas – betref, is ek egter steeds nie 100% seker nie.
Onskuldige pret, maar op die lange duur dalk ook glad nie so
onskuldig nie.
Ons sal nie weet nie.
Of miskien wil ek geriefshalwe bloot net nie weet nie.
Maar wag, laat ek my beursie gaan soek om nie die bubble vir my kind te bars nie.
Nie nou al nie.
Naskrif: Ek was verkeerd. Toe ek nou in die gang kom, toe is die tand weg en Annieka het R20-00 ingesit.
Maar sy het hom nie klein opgerol soos elke keer met die R10-00 en gisteraand se R20-00 gebeur het nie.
Hoe moet die stomme kind nou kan glo dis dieselfde muis as hy een aand met die geldjie in 'n kokertjie gerol hier aankom, en die volgende aand nie!
No comments:
Post a Comment