Almarie van die skool het gevra dat ons vir haar van ons
gunstelingresepte sal gee. Wat presies sy daarmee wil doen, het sy nie
gekommunikeer nie, maar te oordeel aan die glimlag op haar mond en die glinsterblink
vonkel in haar oë, weet ons hier kom iets opwindends.
Wat sy wel duidelik
kommunikeer het, is dat dit ons persoonlike gunstelingresepte moet wees, nie
ons gunstelingresepte van Sarie, Rooi Rose, Huisgenoot Wenresepte 9½ of die immergroen Kook & Geniet nie – dit moet onse eie resepte wees.
Hierdie poeding is so sterk onse eie resep, dat daar (soos vir die
meeste van Judy se resepte) nie eers 'n enkelte voorskrif, hoeveelheid of spesifieke
metodiek voor bestaan nie – jy maak dit na gedagte en wat in die kas is, en dan
smaak dit elke keer bietjie anders, maar nooit minder lekker nie, as die vorige
keer wat jy dit saamgeslaan het.
Toe Tiramisu, en elke denkbare variasie op hierdie Italiaanse
tema, die Suid-Afrikaanse huisvrou, restourant, kostydskrif, winkelrak en
kookboek 35 jaar later tref (en het dit ons nie destyds met 'n slag getref en
al wat lekkerbek kombuis is ,oorrompel nie!) was die eerste waaraan ek gedink het die
gedagte dat my ma haar eie lekkerder Boere-tiramisu 'n goeie 35 jaar vantevore al
voorgesit het.
Maar nee, hierdie resep van Judy is geen tiramisu nie, dis 'n lieflike
Suid-Afrikaanse konkoksie uit die laat jare sestig, vroeë jare sewentig van die
vorige eeu, waarmee Hans Moolman en sy broer, Jac, grootgeword het.
Ek maak hom
vandag nog, soms uit nood gebore, soms met weke voor-die-tyd se beplanning en
aankope; ek het dit al vir konings voorgesit, en ons het dit al op die trappie
by die agterdeur gesit en eet. My ma het dit by tye in 'n karavaan langs die see berei en ek het dit al vir toergroep skoolkinders voorgesit.
Dis 'n poeding vir die somer, en jy moet lus wees vir lekker
kosmaak voor jy oorweeg om die gereg aan te pak. Onder lekker kosmaak bedoel ek presies dit – die kosmaakproses moet iets
wees waarna jy uitsien, die kos wat lekker smaak, is 'n bonus.
Jy begin dan ook by die kies van 'n geskikte en mooi genoeg bak, groot genoeg vir die hoeveelheid
mense wat jy wil bedien. Ek hou van 'n bak wat kleiner in omtrek, maar diep is,
maar 'n groter plat bak is ook net so goed.
Jy moet ongelukkig winkels toe gaan om drie of vier pakkies boudoir-beskuitjies
aan te koop. En 'n kannetjie room of twee, as jy nie in die yskas het nie. Maar
die res van die bestanddele is in die kombuis of elders in die huis.
Kry in die gereedheidshouding op die kosmaakoppervlakte die
volgende:
'n Groot kooksel lekker stywe custard (custard klink net soveel lekkerder as vla; die dominee se kinders kry vla, die res van ons gewone mense
kry custard – kastirt – saam met ons
poering, ekskuus, nagereg.)
Hierdie
poeding van jou gaan yskas toe, liefs oornag, dit moet daarom stywe vla wees sodat dit
lekker stol, maar tog nou nie so styf dat dit kraak en kraters val soos 'n koshuistannie
se beste poging om 'n goedkoop blanc mange saam te flans nie.
Nee, gekoopte custard gaan nie werk nie – ek het gesê jy moet van
kosmaak hou as jy hierdie poeding wil maak – slegte lui huisvrouens wat
gekoopte custard gebruik, is nie net slegte lui huisvrouens nie, hulle hou ook nie
van kosmaak nie.
En as jy die dam onder die eend wil uitruk, is jy welkom om 'n
verhewe, lywige, gewigtige, substansiële creme anglais met vanillapeule en allerhande gegeurde suikers op te
tower, maar dis nie nodig nie – gewone custard, daardie soort wat elke keer flop as jy 'n man is en dit nie
presies maak soos hulle op die pakkie sê nie (MOENIE DIE VLAMENGSEL BY DIE KOOKMELK
VOEG NIE – VOEG DIE KOOKMELK BY DIE VLAMENGSEL) werk net so goed.
Behalwe vir die boudoir-beskuitjies, die custard en die room (wat
jy seker lankal aangevoel het, teen die tyd redelik styf geklop moet wees) het
jy nou behoefte aan tekstuur vir jou poeding – goetertjies om in te byt en aan
te kou terwyl jy jou poeding geniet.
Dit moet iets knarserig wees, soos neute, enige neute behalwe
grondboontjies (wat natuurlik glad nie neute is nie, maar boontjies). Kry die
neute kleiner gekap, maar hou miskien twee of drie (of vyf of ses) heel, vir
die versiering op die ou einde.
Krap nou in die kas agter kersies aan, glanskersies of marachino.
Kyk of daar nie stukkies gepreserveerde gemmer van laas jaar oorgebly het nie,
en sny dit ook kleiner. Of watter verglansde vrugte jy ook al in die huis het.
Moontlik het jy van hierdie rosyntjiegrootte sjokoladedruppels in die kas, kry
dit uit.
Maar moenie gaan koop nie, nie ander vrugte en ook nie sjokolade
nie – die neute en die kersies is die belangrikste. Die res is bonus en
interessante variasie.
Volgende moet jy nou daardie boudoir-beskuitjies so kry dat 'n grootmens
dit ook in sy keel kan afkry. (En ek het 'n resep vir ladies fingers as jy wil hê, maar glo my, dis nie nodig nie –
Woolies se duur ingevoerde Italiaanse boudoir biscuits , smaak op die ou einde niks anders
as die Spar om die draai se Beauman’s of Baker’s nie.)
Om die goedjies na iets te laat proe, kan jy jou tot die kombuis
beperk – niks verkeerd daarmee nie – maar ek het nie verniet hierbo gesê dat die
res van die bestanddele in die kombuis of
elders in die huis is nie. Dis daarom op hierdie punt wat jy uitbeweeg drankkabinet toe. Miskien is daar 'n koffielikeur, Tia Maria of iets soortgelyks, wat jy kan
inspan om die boudoir-beskuitjies in 'n ander bloedgroep te kry. (As jy vaneffe
marachino kersies in die kas had, dan het jy tien teen een Amaretto in die
drankkabinet – oorweeg gerus volgende keer wat jy die
poeding maak en meer vrymoedigheid het om buite die boksie te beweeg 'n knertsie daarvan ook.)
Welke toepaslike alkoholasempie jy ook al in die kas opspoor,
gebruik jy nou om ruggraat te gee aan 'n groot treksel lekker sterk koffie wat
jy intussen gebrou en laat afkoel het. (Ja, poeierkoffie sal werk, maar enige sjef het
darem sy trots – maar as dit moet, moet dit seker maar. Maak net seker dat dit nie
uitlek en die gaste agterkom nie.)
Jy kan die koffie versoet, as jy wil.
Jy hoef nie die koffie te
versoet, as jy nie wil nie.
Ek versoet nie die koffie nie.
Jy doop nou jou beskuitjie in die koffie (koffie-met-skop as die
drankkabinet wel iets opgelewer het) en lê hom dan te ruste in die bak.
En nou moet jy jou nie soos 'n NG-predikant uit die jare sestig wil staan en gedra nie - sukke effense katspoegies voggies teen die kind se slape nie, nee, jy gaan groot, jy doop groot, jy druk daai boudoir-koekie se neus toe en jy onderdompel deeglik - daar moet by hom geen twyfel bestaan dat hy behoorlik en sommer baie groot gedoop is nie.
So pak
jy nou 'n hele laag beskonke soldate sy aan sy op die bodem van die bak.
Natuurlik is dit trial and
error – jy gaan party troepe te lank doop en hulle gaan nek omdraai voor jy hulle
in die bak het, ander gaan weer horingdroog en stokstyf hulle koppe neerlê.
Maar jy sal spoedig agterkom hoe lank die beste werk.
En as jou koffie nog warm
is, gaan drink 'n glas witwyn op die stoep en kyk vir die wolke.
My wenk is dat jy egter ook die boudoir-beskuitjie sal uitkyk –
hulle het elkeen 'n voor- en agterkant, 'n bo- en onderkant; die een kant het 'n
kwaslagie suiker oor, die ander kant nie. Lê hulle so neer dat die suiker na
onder is. As jy hulle nou ingeryg het, en daar is een of twee wat droëbek lyk,
kom jy hom met 'n teelepel van jou koffie by – hy pass vinnig uit (soos die kinders sal sê).
Nou strooi jy jou tekstuur – die gekapte neute en gesnipperde kersies
en wat jy ook al nog kan afstaan uit die kas.
Kry die korreltjies kou dan toe onder 'n laag custard.
Herhaal nou elkeen van hierdie drie lae (koekies, kougoed en
custard) en eindig met die geklopte room.
Jy kan die room ook seker bykom met iets. Ek het nog nooit en sal ook nooit. Maar proe-beer gerus, en laat weet.
Jy kan jou poeding nou mooi maak deur dit leliewit te hou, jy kan basaar toe
gaan met thousands & thousands of
sjokolade vermicelli , jy kan dit
keurig versier met neute en kersies – wat ook al jou oog en hart verbly. As jy die room wil spuit uit 'n sak met versiertuit, is jy welkom. Elke diertjie sy plesiertjie. Geniet dit net.
Onthou, jy hoef natuurlik nie al die boudoir-soldate in 'n massagraf ter aarde te bestel
nie, jy kan 'n hele ring van hulle op aandag al in die rondte teen die rand van
die bak staan maak ook. Dit werk lekker in 'n dieperige bak. Die off-cuts lê jy dan plat saam met die ander. Die peloton
kersregoppes laat jy vir die effek kop en skouers bo die rand van die bak uitstaan. Pasop om
hulle nie te veel aan te klam nie – jy wil nie dat hulle knak, omkap en koploos tafel toe gaan
nie.
(Jy kan natuurlik verneuk ook – jy stel nie van die begin af jou
erewag op nie, jy wag tot die bak amper vol is en maak die kort stompies op die
tweede laag vla staan, die eindresultaat proe en lyk dieselfde.)
As julle 6 tafelgenote gaan wees en jy die nagereg nog dieselfde
dag gaan bedien, moet jy toesien dat jy genoeg vir 10 mense maak. As jy
gelukkig is bly daar oor en dan kan jy die res die volgende dag geniet. Hierdie
poeding, maar dis te verstane, is elke slag, klokslag, die tweede dag baie lekkerder
en geuriger as dag 1.
Ek bou myne tot voor die roomlaag en afronding die dag voor die
tyd en rond op die dag van bediening dan met die room af.
Ek kon dit sedert skooldae nog nooit so lekker soos my ma maak
nie, maar ek wil ook nie.
En ek glo Klaradyn sal darem eendag kan sê dat
niemand hierdie poeding soos lekker soos haar pa kon saamslaan nie.
Probeer gerus en begin 'n familietradisie wat oor geslagte sal
strek.
No comments:
Post a Comment