Pages

22.11.11

Dis dan nou amptelik sulketyd

Dis nou meer as 'n jaar dat ek nie meer rook nie.

En ek weet ek sal nie weer rook nie.

Ek sal seker lewenslank nog lus word om te rook as ek dit ruik of aan iemand herken, maar self rook? Beslis nie.

Ek het nie begin om noemenswaardig baie gewig op te tel nie. Ja, ek het aanvanklik, die eerste week of wat, gepeusel en geknaag – ek sou selfs die stoel se pote in my keel afgestuur het as daar niks anders was nie.

Maar toe is die gier ook verby, ek sit 'n wag voor my mond en maak nie 'n asblik van my maag nie.

En 8 maande later begin ek skielik uitswel soos 'n vy aan 'n tak.

Ek het in my kas 4 hemde wat gemaklik pas, die vier wat ek begin Oktober MOES koop, omdat ek elke oggend soos 'n te groot piesang in 'n te klein skil voel.

Die broeke is 'n groter nagmerrie – ek kan nog met 'n hemp waaruit ek swel, skool toe, maar as die broek se twee punte nie meer by mekaar uitkom nie, kan ek met daardie broek nie skool toe nie.

Ek het nou nie minder nie as 9 broeke na heel regs in my kas geskuif – oor ek bloot nie meer in hulle kan kom nie. Dan is daar nog 'n paar waarin ek miskien nog kan kom, maar nie langer as 'n uur kan bly nie.

Ek kontroleer – ek tel nog nie, maar ek kontroleer – nou van Dinsdag af die kilojoules wat ek in my maag afstuur. Ek kan nie anders nie.

Gister het ek van 'n moontlike oorsaak vir die skielike gewigstoename (ek het dit aan die middeljare toegeskryf) van die laaste drie of vier maande gekry.

My cholesterol neig na hoog, dit is nie bo die perk van normaal nie, maar grensend aan dit wat as hoog geag geword. Aangesien die mans in my familie nie ou bene gekou het nie, stel die doktor toe voor ek gebruik medikasie. Dit het my so twee maande geneem om die eerste maand se pilletjies op te gebruik. En ek het nie weer gaan pille kry nie.

Nou sê iemand my dis die geneuk met cholesterol-pille – dit maak jou liggaam verslaaf aan hulle, so by so dat as jy eers op die goed is, jy daarop moet bly. Die liggaam wil daarna glo nie sonder die pille doen, wat dit voorheen self en sonder hulp van pille gedoen het nie.

Bla, bla, bla, bla...

Maar as ek terugdink aan wanneer ek met die pilletjies gestaak het, en wanneer ek begin gewig optel het, dan maak dit perfek sin.

So of dit nou die rede is waarom ek skielik begin stoel het, of nie, maak nie saak nie – ek het ten minste 'n verklaring waarmee ek myself kan vereenselwig. As baie ander, en daar is die letterlikes,  kan glo Noag het saam met hom op 'n skip 'n broei- en teelpaar van elke lewende dier op aarde – ook die duisende soorte wat intussen uitgesterf het, en die duisende soorte wat in ons eie tyd nog wag om ontdek te word – geneem, omdat die ganske aarde oorstroom is, kan ek glo die cholesterolpil se dienskontrakverstryking het my vet gemaak.)

Oktobermaand gesels ek toe een oggend om die ontbyttafel by 'n gastehuis met 'n doodnugter mansonderwyser van ongeveer my ouderdom.

En hy eet gesond, sonder om my oorlade vetterige bord lipiede en ander gemors te kritiseer.

Hy vertel my toe van die dieet wat hy in daardie stadium toe vir rapsie meer as 'n maand volg en hoe goed dit hom nie net doen nie, maar hoe goed dit hom laat voel, ook.

Om 'n lang storie, kort te maak – ek dieet dan nou van Dinsdag af.

In hierdie stadium is dit nog net 'n eetplan, en nie 'n dieet nie – ons het nog hopeloos te veel verkeerde goed in die ys- en koskas wat eers moet op en uit. Daar was byvoorbeeld die lekkerste bak ertappelslaai wat ek in Helman’s mayonnaise verdrink het, wat moes op. Ek weet nog nie hoe lank ek is nie.

En ek weet nie of ek kans sien om die twee appels wat ek elke dag eet, eers te weeg om te weet hoeveel kilojoules in hulle opgesluit is nie

Ek het ook nie die wilskrag om, nadat ek gelees het hoeveel kilojoules daar in 100 g bruin rys en lensies is, te weeg hoeveel weeg 'n koppie bruin rys en lensies, sodat ek kan bereken hoeveel kilojoules daar in my porsie rys is nie.

Ek weet bruin rys en lensies is beter vir ons almal as wit rys sonder lensies, daarom het ek dit gekoop.

Ons sal seker weldra begin weeg en tel en mal gaan.

As ek my splinternuwe elektroniese skaal kan glo, het ek sedert Dinsdag van 126.7 na 123.4, vandag, beweeg. Ek glo nie die skaal nie.

Ek eet beslis nie minder as voorheen nie, eerder oordeelkundiger.

Ek het byvoorbeeld nog nooit voor skool ontbyt geëet nie (ek eet oor naweke ontbyt, en as ek in gastehuise bly). Nou eet ek elke oggend 'n bordjie hawermoutpap (weliswaar sonder die twee eetlepels dubbeldik room en stroom regte egte esdoringstroom – soos ek eintlik daarvan hou – met 'n knypie kaneel of skeut whisky daarby).

En dis amper die lekkerste van die hele storie – daardie vyf minute van rustig wees om tyd te maak om ontbyt te eet.

Ons neem kos skool toe, vir 13:00 of 14:00, en 'n vruggie vir pouse.

Die guru aan wie ek my ore uitleen sê ons moet aanhou eet waarvan ons hou, ons met net kilojoule-vriendeliker weergawes selekteer. Asof iemand nou dalk van 'n gesonder opsie vir Nutella-sjokoladesmeer op wit brood sal weet!

 Wat sou die baie vet kon vervang aan die repie rooivleis wat die tipe biltong is waarvan ek die meeste hou? En hoe nou gemaak met vars wit brood en regte egte botter (of soos ek daarvan hou, regte egte botter afgerond met 'n grypie vars wit brood)?

Die ander ding wat hy propageer, is dat jy openbaar moet gaan met jou dieet en dit nie in die kas moet hou nie.

En dis wat ek vandag doen – ek staan by die stadspoorte en verkondig dit luid:  Hans Moolman is op dieet! En baie begeesterd daarby!

No comments: