Vandag al, en dan nie more nie, wat Klaradyn se graad
1-skooljaar tot 'n einde kom. Juffrou is dan ook al gister, vir hoeveel jare
nie nou al nie, onder die piesangbome, sonder kop en tone, in 'n blikkie bone,
gebore.
Wanneer die piesangbome
bygekom het, weet ek nie – dit was nie daar in 1971 toe ek by Ou Juffrou
Scholtz in die klas was nie.
En wat van pinch-punch
– hou-vir-die-laaste-dag-NIEKS! geword het, weet ek ook nie. Gister sou dit
hou-vir-die-tweede-laaste-dag-NIEKS! gewees
het.
Ons het letterlik ge-pinch,
so knypbeweging teen die maat se boarm uitgevoer, en dit opgevolg met 'n
vriendelike punch. Die nieks (wat seker nix) moet wees, was dan jy wat beide hande se vingers gekruis gehou
het – dit het jou daarvan gevrywaar om terug geknyp en geklop te word.
Behalwe natuurlik nou as jou opponent orreltjies skree, die oomblik wat jy hom pinch-punch. Orreltjies het na jou skoene se veters, wat permanent
(soos jou vingers in die nieks-houding)
geknoop of gekruis was, verwys. Dit sou beteken het dat jy daardie persoon
geklop het terwyl hy eintlik amnestie had – jý is nou in die warm water en
moet weghol want nou kan hý, jóú op sý beurt weer op die boarm bykom.
En kortvoorlank hol almal op die speelgrond rond.
Of die meisietjies hulle hiermee opgehou het, weet ek nie –
ek kan my nie 'n enkele wuiwende vlegsel oproep wat voor my uithol nie.
Hierdie ritueel het homself vier keer 'n jaar afgespeel –
elke keer wat die skoolvakansie aanbreek – en dan nog op één
ander geleentheid – die dag waarop jy dit met 'n blink piksplinternuwe paar
skoolskoene op die skoolterrein waag. Pinch-punch,
hou-vir-jou-nuwe-skoene-NIEKS!
Klaradyn weet danksy Tannie Pat darem iets van hierdie nieks af. Elke keer wat ons daar by
hulle wegry, verlede Sondag weer, sal Pat haar hand deur die motorruit inwerk
en Klaradyn met 'n ligte last-touch-nieks!
vermaak. En al verwag Klaradyn dit nou al, word sy steeds elke keer
onverhoeds betrap.
Ag, dis darem maar lekker om kind te wees. En lewenslank
kind te kan bly.
My skoonpa sê telkens vir my en Annieka, as ons
byvoorbeeld kla oor die een of ander insident of verantwoordelikheid, dat grootword nie vir sissies is nie. Grootword is nie vir
sissies nie – niemand het gesê
dat dit maklik óf
lekker gaan wees nie.
Maar dan praat hy met twee semi-volwassenes.
Ons het al vergeet dat grootword, vir graad 1-kinders,
letterlik ook iets is wat nie vir sissies is nie. Grootword sit nie in enige man se broek nie, of soos my vriend Harm
sal sê,
dit vat 'n man op 'n perd.
Nou, hier teen die einde van die jaar, met almal moeg en
oorstuur gewerk, so onlangs soos verlede week, het ek Klaradyn uitgeluister, of
afgeluister as sy en Mamma gesels, en dikwels met 'n hart wat ruk en oë
wat wil-wil skiet, gedink dat ons grootmense so geneig is om net te vergeet dat
grootword regtig nie vir sissies is nie.
Groeipyne is iets letterliks. Maar figuurlik net so reëel en
meer alledaags.
Wat vir 'n volwassene niks anders as sommer net allerhande klein-kindertjie-kak is nie, is vir
daardie klein kindertjie van jou alles behalwe lawwe poefies, vir hom of haar
is dit dodelike erns.
Klaradyn het nou die aand in die bad (altyd saans in die bad
of na storietyd in die bed, dat haar dag se hartgeselsies los kom) met opregte
ontsteltenis vertel dat sy 'n suigstokkie vir 'n maatjie gegee het, en dat hierdie
maatjie die suigstokkie toe vir 'n ander gegee het.
Vir ons is 'n suigstokkie 'n suigstokkie, dis niks.
Klaradyn, op haar beurt, kry hoogstens een keer in miskien twee weke, skelm
twee suigstokkies in haar een sakkie skool toe. As sy 'n suigstokkie met jou
deel, is dit spesiaal. En as jy hom dan uitdeel aan 'n ander dan kan en mag en
sal dit vir haar as verwerping oorkom.
En ons almal moet daar deur, is daar deur, en gaan steeds
daar deur.
Ek dink onwillekeurig aan 'n kennis wat oor 'n afstand
vanuit haar motor by die inkopiesentrum se parkade op haar vriendin uitgekyk
het, waar dié
rustig, op haar eie, 'n koppie tee by 'n eet-en-drink-plekkie sit en geniet. Sy
besluit om haar vriendin te bel en speels te sê ek sien jou, hê
'n lekker tydjie. Toe die vriendin egter haar selfoon in haar handsak
opgespoor kry en op die skerm sien wie dit is wat bel, moet my vriendin toekyk
hoe die vrou die foon dooddruk en in haar handsak terugplaas.
Grootword is nie vir sissies nie – dit vat 'n man op 'n
perd.
En hier is Klaradyn vandag 'n hele graad 1-jaar groter.
Verlede jaar hierdie tyd het ons begin skoolklere koop –
Annieka het haarself voorgeneem dat sy nie op nommer 199 in die nuwe jaar agter
skoolklere gaan aanry nie, en genadiglik by hierdie slim voorneme van haar
gebly.
Klaradyn kan nou nie verstaan dat dit nie noodwendig nou tyd
is om weer nuwe skoolklere te kry nie – sy dink dis iets wat einde van elke
jaar vervang moet word, nie iets wat vervang word slegs as die klere te klein
of uitgewas en verrinneweer is nie.
En in haar skoolklere het ek my kind hoogstens drie keer
hierdie jaar gesien. En as ek daaraan dink, en dat die jaar nou verby is, wil
ek huil.
Ek het een keer hierdie jaar die voorreg gehad om kind skool
toe te kon neem – dit was dag 1 van graad 1 toe ek toestemming moes vra om die
vroegoggend by die werk weg te kon neem en dit te kan doen; vir die res van die
jaar, moes 'n ander dit doen.
Een keer hierdie hele jaar het ek in 'n eksamen vroeg by die
skool weggeslip dat ek en my kind kan voel hoe dit voel as haar pappa haar na
skool kom kry – o, dit was lekker en spesiaal om my kind in skoolklere te sien.
Haar ouma maak regtig seker dat ons kaalvoetkind op haar
netjiesste lyk as sy skool toe gaan – dit was 13:00 en steeds was my kind se
hare die mooiste gebind en gevleg en in plek van al die kindertjies daar.
(Ouma, jy is 'n ster. Baie dankie vir dit wat jy vir ons beteken deur wat jy
vir ons kind beteken. Dis regtig net my eie bloedma wat jou dit miskien sou kon
nadoen – het sy net die geleentheid gehad.)
Ek wou verlede week weer hier teen 12:30 skelm wegslip om
haar op te gaan tel en te kyk of sy nog so mooi in haar skoolklere lyk, maar
toe val daar iets voor en toe ek 12:45 in die motor kon klim, was ek bang dis
te laat – en Ouma was teen daardie tyd in elk geval ook al self reeds weg by
die huis en tien teen een reeds onder die boom in haar motor voor die skool.
So dis dan hoe dit is – geleentheid om my kind in haar graad
1-jaar bý,
of ván,
die skool te kry, is verby, die uurglas het leeggeloop.
Ek sou elke ma of pa, elke koei of bees van 'n ma of pa wat
ek so gereeld hoor kla oor 'n kind wat by die skool afgelaai of getel moet word,
graag daaraan wil herinner dat hulle hul seëninge moet tel, dis 'n god gegewe
voorreg wat hulle toebedeel is, nie alle ouers is dit beskore nie.
Die Moolman-huishouding het deur die loop van die jaar darem
strome van ander vorme van seën, tot oorlopens toe, geniet, en wat
'n voorreg was dit nie gewees nie.
Ook nie net vanjaar nie – van daardie eerste dag op
kleuterskool is dit asof ons kind met 'n goue lepel in die mond gebore is, kom
dit by onderwysers. Ons kind is deur drie engele aangeraak. Hoe lank dit nog
gaan voortduur weet ek nie, maar ons sal die nuwe skooljaar eersdaags met groot
vertroue ingaan.
En daar het ek toe
inderdaad, onverwags, wel die voorreg om Klaradyn by die skool te sien, so op
haar laaste dag. Ek is laerskool toe om uit te help met die
kleuterskoolkonsert. Ek het nie verwag dat sy gaan kom inloer nie – ek het haar
nie vertel dat ek op pad is nie – netnou kon ek nie my sake by my eie skool in
orde kry nie, en dan is sy teleurgesteld. Ek het weliswaar die heeltyd, van
waar ek op die vertellerstoel sit, geloer of sy nie een van die talle
kleintjies was wat kort-kort kom inloer het nie. Maar helaas. Toe die
kleedrepetisie net mooi tot 'n einde kom, besef ek dis 3 minute voor die
skoolklok lui – en ek sit gou af na die kind se klas toe.
Die verbasing was
groot om Pappa en Ouma daar te kry, maar ek moes terug saal toe, so ons het nie
juis gekuier nie.
Maar dit was spesiaal –
'n hele skooldag se pret en plesier het al in haar uniform kom sit; my kind se
hare was egter nog net so mooi en in plek soos op 'n Maandagoggend.
In Kringe in 'n Bos vra Saul vir Kate (of
Kate vir Saul) hoe hulle oor die berg wat voor hulle lê,
gaan kom. Die antwoord is dan “tree vir tree.”
Ons pad is nog lank,
en hoe steil hy gaan wees, weet nugter – maar hand aan hand, en tree vir tree,
het ons reeds tot hier gekom – ek sien uit na die volgende trek. Met Mamma
links en Klaradyn regs of in die middel, kan dit net 'n plesier wees.
No comments:
Post a Comment