My gemoedstoestand is vanoggend danksy 'n misverstand tussen
my en Annieka vir die eerste keer in seker drie weke die hoogte ingeskiet. Ek
het selfs my ontbytpap op die hout Amerikaanse swaaibankie wat ek 'n klompie
jare gelede aanmekaar getimmer het, gaan geniet. Ek het die motorradio se CD
geruil – ek luister nou 'n verruklike jazz-kombinasie van orrel en saksofoon
uit die jare sewentig.
***
En dit oor Ankie my vra om Klaars se sonbrandroom in die
kassie in die badkamer te gaan haal. Nie “op die rakkie” of “op die kassie nie,”
– 'n besliste “in die kassie.”
Die gastebadkamer het nie kassies nie, net rakkies en ek
word gelaat met die hoofbadkamer wat wel 'n kassie het waarin ek kan krap.
Nou van my kleintyd af is ek mal daaroor om in kassies te
krap – so het ek 'n diamant wat my pa-hulle in hulle hoofslaapkamer se badkamer
se badkamerkassie versteek het, verlore laat gaan. So het ek ook Ouma van Wyk
een dag in trane gehad – ek het op 'n toegeplakte boksie onder in 'n groter
boks onder in haar hangkas afgekom – 'n propperse warderobe was dit gewees,
jare voor die koms van ingeboude kaste.
En toe ek die deeglik verseelde boksie oop het en op haar
afstap met die lokkie hare, enkele foto’tjies (sneppies soos Ouma van snap(shot)s
gepraat het) en briefies in oumens van daardie jare se oumenshandskrif,
blyk dit ek staan met Ouma se sustertjie, wat dood is toe hulle altwee nog laerskoolkinders
was, se lokkie in my hand.
Daai boksie sou my bybly. En vir Ouma. Sy moes met hom
getrek het, eers na die ander woonstel toe, toe ouetehuiswoonstel toe, en toe
ook ouetehuiskamer toe. Want toe Ouma einde ’86 oorlede is, was hierdie boksie,
tien teen een nog net soos ek dit 15 jaar vantevore gelos het – nou net met 'n rits
bros rekkies toegebind – tussen die laaste paar goedjies wat van 'n leeftyd
oorgebly, in haar kamer.
Ek het die boksie nou 25 jaar, onaangeraak in 'n antieke
lessenaar uit my pa se kant van die familie.
Ook van Ouma van Wyk is die kassies-langs-die-bed, links en
regs van my en Annieka. Dis seker bedkassie
en nie kassie-langs-die-bed nie, maar
ek het nou maar een maal groot geword met kassie-langs-die-bed.
“Bêre
dit in die kassie-langs-die-bed.” “Kyk
bietjie in my kassie-langs-die-bed of
dit nie daar is nie.” “Jy moet jou kassie-langs-die-bed
opruim, Oubaas.” Ek hoor my ma. Maar ook einste Ouma van Wyk: “Krap tog
daar in my kassie-langs-die-bed en
kyk of daar nie 'n los geldjie vir jou is nie, Toklok.”
Dit was 1985 en ek was op universiteit, en as ek loop dan
prop Ouma skelmpies 'n silwer 20c in my hand:
“Gaan koop tog vir jou 'n roomysie, Toklok.”
“As ek leef en die Here spaar my,” dan trek ek, en as ons
gelukkig is ek én Annieka, eendag ouetehuis toe met daardie twee
bal-en-klou kassie-langs-die-bed van
Ouma van Wyk. (Hoeka Ouma van Wyk wat altyd gepraat het van “as-ek-leef-en-die-Here-spaar-my.)
Daardie kassies het seker vir die eerste 10 jaar nog na Ouma
geruik. Poeier (Ouma het dit talc genoem),
katjiepoetjie-olie en ander Lennon’s medisyne, oliekolonie... onmiskenbaar
Ouma.
Onder in die kas-gedeelte was Ouma se Bybels, skryfblok en
pen (in 'n netjiese leerportefeulje), ook ander boeke, en bokse met Kersfees-
en verjaarsdagkaartjies.
Die laaikassie was egter soos wat my gereeld haar eie
handsak beskryf het – erger en deurmekaarder as 'n hoer se handsak. Hier was
sneesdoekies (van lap natuurlik), botteltjies en seker 15 jaar sneppies van die
agterkleinkinders wat die kleinkinders van oor die hele land aangestuur het.
Ook Ouma se naelskêrtjie, en haar toonnaelknipper.
Hierdie toonnaelknipper herinner aan die blink instrumente
wat snydokters gebruik, die duurste van die soort wat ek nog te sien gekry het,
was goedkoop namaaksels van hierdie sjirurgiese staal tipe skêre
en knippers.
Sy was al in die ouetehuiswoonstel (na 1977) toe sy my
eendag die vreemde storie van hierdie toonnaelknipper vertel het:
Ouma-hulle het as jong getroudes op George ryk Duitsers vir
bure gehad. Maar hulle pak toe mooi eendag op om terug na die vaderland te gaan.
Sak en pak kon dit ook nie gewees het nie, want baie van die goed het hulle net
so gelos – op die sypaadjie, soos met indertydse boxing day die geval was.
En Ouma-hulle (jy moes hoor hoe Ouma vertel het van
vuurmaakhout soek, buite die dorp, met 'n kind op haar rug; of hoe sy
meelsakkies laag vir laag vasgestik het, en dít oorgetrek het om 'n baba- en
kinderkombersie van te maak) het gaan krap... en op die toonnaelknipper
afgekom.
Vandag deins ons weg by die gedagte aan die gebruik van
buurman se toonnaelknipper wat hy op die sypaadjie gelos het, maar ek dink nie
dit sou in 1935 vreemd oorgekom het nie.
Dit was toe ook al veertig jaar later en die ding was nog so
skerp en effektief soos toe Ouma-hulle die ding tussen die trekrommel opgetel
het – ek het met daardie skêr in Ouma se kassie-langs-die-bed grootgeword van solank terug ek kan onthou.
En toe die kassies trek, toe trek die skêr saam. En 'n hoedetas,
laslappiekombers, gehekelde kombers, melkbeker, vintage rasper, en, en, en, en...
So van ek in 1989 huisopgesit het, in een van my kassies-langs-die-bed se laaitjie, ook
Ouma van Wyk se Duitse sjirurgiese instrument wat toonnaels knip.
Ek verbeel my dit was Uys Krige wat so mooi geskryf het oor
die intimiteit van toonnaelsknip. Een van die vreemdste metafore rondom 'n sekelmaan
wat ek in Afrikaans teëgekom het (dit kan Theunis Engelbrecht of miskien 'n vroeë
Johan de Lange wees) stel dit gelyk aan 'n afgeknipte toonnael wat aan die
naghemel raak.
Ek sal nou nooit sê dat ek liries raak oor die versorging
van my voete nie, maar dit is vir my 'n baie spesiale en hoogs private ritueel,
een van die eie-ste van eie tydjies wat ek het.
En toe word alles deurmekaar gekrap toe Ouma van Wyk se
toonnaelskêr
so vyf of ses jaar in ons huwelik in wegraak. Dis nie iets wat ek op 'n ander
plek kan gaan soek nie, dis nie iets wat ek op 'n ander plek kon gebêre
het nie – ek versorg my voete met my sitvlak op die bed, liefs in die sonlig
wat by die venster instroom, of in die intimiteit van die bedlampie.
Ek het kort-kort verwyte geslinger, ek het seker drie of
vier nuwe toonnaelknippers gekoop (ook ten duurste 'n minderwaardige namaaksel
van iets wat vaagweg die vorm van my verlore staatmaker het), maar dit was net
nooit dieselfde nie.
Ek het selfs gedink my vrou het die ding doelbewus
weggegooi. Vrouens doen sulke goed. En as hulle dit met mans se gunstelinghemde
en –broeke kan doen, wat keer hulle om dit met mans se
gunstelingtoonnaelknippers te doen?
Ek mis nie versorgde voete nie, ek mis daardie spesiale stil
oomblikke van versonke wees, nie net in jou voete nie, maar ook jou verlede,
jou ma s'n, jou ouma s'n, jou oupa en sommer jou hele familie s’n.
En toe vanoggend toe kry ek nie die sonbrandroom in die
badkamerkassie nie. Ek kan sommer met die eerste oogopslag sien dis nie daar
nie.
Maar nou help dit nie ek sê ek kry dit nie, dan haal ek
myself net my vrou se onguns op die hart en om die hals. Sy sê
hoeka ek kan nie soek nie en ek kyk teen my eie ooglede vas.
Sp toe gaan ek nou maar af op my knieë en totter daar in die
vreemde kas rond – om die tyd om te kry tot sy instorm en sê: “Ag, laat ek dit tog net soek, ek weet nie
vir wat vra ek jou nog om iets vir my te soek nie!” (Goed soek kom 'n lang en
swaar pad in ons huwelik.)
Dit terwyl ek weet sy gaan instorm en die ellendige
sonbrandroom tien teen een onder my neus oppik. (Werk dit nie maar altyd so
nie?)
Egter nie hierdie keer nie, nee, “in die kassie” was toe al die
tyd “op die rakkie” en 'n misverstand had my in die verkeerde badkamer.
Maar ek gee nie om nie.
Knap na ek 'n verslaande bottel van daardie goed wat jy
aansit as jy klaar en te veel gesonbrand het, aftersun of so iets, opgespoor het, kry ek toe agter in 'n hoek,
onder 'n gastehanddoek of twee, Oorle’ Ouma van Wyk se toonnaelskêr!
Toe ek die meisies afgesien het, het ek kamer toe gegaan, my
skoolskoene uitgetrek, my kouse ook.
Ek het heen en weer geswaai en ons geveerde vriende uitgeluister terwyl ek my ontbytpap geniet het; in die motor het ek ander musiek ingesit, die mooiste
blymoedigste jazz denkbaar.
Toe my buurvrou in die klas langs my uitvra na die huppel in
my stap, toe sê ek met 'n uitroepteken dat ek my toonnaels geknip het. En
los haar met 'n vraagteken.
In München het ek een keer in 'n winkeltjie ingestap wat
spesialiseer in kamme, borsels en alle ander haarkapperybenodigdhede. Stel jou
voor – 'n winkel gespesialiseer om barbiere, haarkappers en gewone sterflinge
van kamme en borsels te voorsien.
Aangesien ek my gunstelinghaarborsel 'n klompie jare
vantevore in Duitsland gekoop het, ook die borsel waarmee ek sedert 1994
skeerskuim opklits, het ek daar en dan vir my die allerspesiaalste van spesiale kamme
gekoop – een wat van hout gemaak is. Met Duitse vakmanskap en presisie.
Ek wonder seker nou sewe jaar wat van hom kon geword het.
Ek sien uit na my en Annieka se volgende misverstand.
No comments:
Post a Comment