Pages

26.12.11

Kersfeesete-terugblik


En daar is die askar 'n rukkie gelede verby, sonder om ons gemors op te pik – dit terwyl die asblik al verlede week in Woensdag tot oorlopens toe vol was!

Gewoonlik kom die outjies in die aand, in die aand laat, so laat dat ons meestal al in die bed en aan die slaap is, as hulle hier verbykom.

Nie vandag op Tweede Kersdag nie, o, nee, vandag kom hulle ure voor hul normale tyd. So al asof ons Boxing Day hier by ons het, en hulle kom haal in die gees van hierdie tradisie wat lank nie meer deel van ons Kersfees is nie - as dit ooit was.

Iemand het gevra dat ek foto’s sal neem van die voltooide haashok.

Ek het helaas nog nie, selfs nie noudat dit lankal nie meer suiwer haashok is nie – die haashok het Oukersaand ook voëlhok geword en is nou twee Diamantduifies en twee Indiese Ringnekparakiete ryker.

Ai, dit was 'n spesiale vroegoggend-Kersoggend! Ek het hemel op aarde in my eie binnehof gehad; so in die geselskap van die vier geveerde vriende.

Ek was grootbek oor die Kersete, maar dit het uitgewerk presies soos beplan.

Ek spog graag:

Voorgereg – gevlegte aspersies


Dit was lekker om verplig te wees om jou voorgereg met jou vingers te móét eet. Toe ek die bordjies pak, dis nou toe die twee girls elk 'n pre-Christmas supper beauty sleep neem, gebeur dit dat ek twee ekstra bordjies pak; nie hieroor of daaroor nie, sommer omdat ek genoeg aspersies het, en met Judy in die gedagtes aan die sentimentele liedjie van die empty chair at the table gedink het:

There's a Broken Toy in the Stockin'
Hangin' there on the Christmas Tree
And a Story's told by a Star of Gold
And the Light on the Christmas Tree

Bless all the Angels up in Heaven
May they watch o'er him, oh so Tenderly
There's an Empty Chair At The Table
And a Light on the Christmas Tree

Heads Bowed in Prayer to ask His Blessing
For that One still so Dear to you and Me
There's an Empty Chair At The Table
And a Light on the Christmas Tree

En ook maar goed ek het, want toe ek en Klaars knap na 17:00 in die straat afhardloop – sy op haar nuwe rolskaatse en Pappa aan die hand om te keer vir val, kom die boodskap dat Oom Erik-hulle gou 'n draai kom maak.

Toe geniet hulle die twee ekstra voorgeregporsies saam met ons, voor hulle huis toe is om die honde en katte kos te gaan gee.

Die dure parmesaankaas was verruklik. Ek het die tralies bloot aangeklam met olyfolie, suurlemoensap en fyn knoffel, sout en peper – vingerleklekker.

Beestong

Dit was Phillip de Vos wat geskryf het:

“Die een ding wat my kan laat steier,
Is beestong in wynsous,” s
ê Dreyer.
Ek weier volstrek,
Wat kom uit 'n bek –
Gee my maar verkieslik 'n eier.”

Toe ek vir die eerste maal in my lewe beestong kook, toe dink ek weer aan hierdie man se woorde.

Al die resepte laat vir twee of drie ure kook, maar die Woolies-verpakking het dit duidelik gestel – 70 minute. Ek het al die ander ignoreer en my ore aan Woolies uitgeleen. Ek laat my nou wraggies nie vertel dat Woollies se beeste se tonge soveel sagter kan wees as die gemiddelde ander beeste se tonge nie – 70 minute is beslis lank genoeg.

Een van die resepte wou dat ek die tong se vel na slegs 15 minute se kooktyd aftrek, en dit dan verder kook tot die tong sag is. Dit maak vir my sin, want ek het gewonder, toe ek na 70 minute met die vel vroetel, hoeveel van my geurmiddels waarmee ek die water gegeur het, wel deur die tongvel in die vleis gaan sit het.

Ek het die gaarmaak en sny van die tong sonder Klaradyn se kleine ogies gemaak – ek is bevrees, as ons merrieperdjie op 7 sien waar daai lekker tong vandaan kom, sit sy nie weer haar mond daaraan nie, en dring voortaan aan op eier – sonder om te dink waaruit 'n eier, in teenstelling met 'n tong, wat uit 'n bek kom, kom.


Ek het nie die vaagste benul
waarom die ding skeef laai nie!


Die ligte kolle is roomkaas, room en peperwortelsous –eersteklas; die donker kolle is Peter Veldsman se rosyntjiesous waarvan ek die bestanddele gedeel het.

Ontbeende varkboudjie

Hierdie was kleintyd altyd Judy se bydrae tot die Kerstafel, so daardie stoel was sommer baie leeg toe ek hom gekerf en voorberei het. Ek het destyds geweet dit was die begin van die einde van Judy se brein toe ek haar Desember 2000 gevra het of sy vir ons die varkboud vir die Kerstafel sal voorberei.

Sy het by my en Annieka in die kamer ingekom – ek sien haar op die bed kom sit, soos Ouma van Wyk (haar ma) altyd op 'n bed kom sit het, en toe sê sy dat sy graag die varkboud sal maak – maar ons sal haar net moet help, want sy het dit nog nooit in haar lewe gedoen nie. Sy het nog 11 jaar vasgebyt.

My crackling het, soos voorspel, geflop. Ek het aan die speel geraak met Klaradyn, en toe brand dit pikswart. En omdat ek Judy dit nie kan nadoen nie, het ek nie probeer nie. Hier wag ons nog vir skoonpa se skaapboud, wat die bord voltooi het.


Klaradyn het dit verder opge-zhoozsh (Hans het hoeka die tweede Zhoozsh-kookboek van Jeremy Mansfield en sy vrou by Oom Erik-hulle present gekry – twee jaar gelede was dit die eerste een) met vars koljander.

As Afrikaner het ek grootgeword dat daar net een ding by skaapboud is, en dit is kruisement. Ek het maar nou die anderdag eers die wondere van vars koljanderblare leer ken.

En toe ek gisteraand die boudjie met die vermenging van die twee kruie se geure geniet, toe besluit ek om nie weer die pad sonder vars koljander te loop nie.

Waarop kom ek vandag af? In die tweede Zhoozsh gee hulle 'n resep vir 'n pesto van koljander en kruisement, met knoffel, suurlemoensap en vars chilli daarby wat jy op skaaptjops aanbring.

Raai wat gaan die eerste resep uit my nuwe kookboek wees wat ek probeer?

Annieka het ook geswig voor 'n kookboek vir my, dis nou naas drie van Bill Bryson se boeke wat ek nog nie het nie, die een van Deon Meyer en sy vrou.

(Maggies! Dis Jeremy en sy vrou, Jacqui; Deon en sy vrou, Anita! Volgende, Annieka, is dit Eet saam met Hans en Ankie of beter nog – Pappa, Mamma en Klaars Kook!)

Eiervrug, tamatie en komkommer



Hierdie was my lekkerste van die drie slaaie. Ek hou van die komyn en gemaalde koljander daarin.

Koeskoes en pynappel met babaspinasie

Die dwars draai, sit vir my ore aan!

Daar was 'n misverstand rondom watter pynappel ons moes kry, blokkies of snippers – ons het die blokkies toe snippertjies gemaak. Saam met die neute en babaspinasie het dit vorentoe geproe.

Geroosterde soetrissie en feta met basilie



Met hierdie slaai het ek toe gegaan vir die prentjie (waarvan ek die resep nie kon kry nie) in plaas van die resep wat ek gehad het (maar nie 'n prentjie nie).

Dit was heerlik om die soetrissies oor die vlamme te skroei en te verwerk.

Tiramisu-trifle uit die 70’s

Natuurlik "pose" sy net,
ons is klaar met die poeding.

Ai, hierdie poeding bly 'n lekkerte. Klaradyn het heerlik gebou en geroom en versier met neute en kersies, en sommer tikkie groen kruisement ook. Ek was reg vir 'n bazaar-poeding se gevoel, maar sy het volstaan by wat on hier het.

Amper vergeet ek die kaasbord, aan die einde:

Hier is Klaradyn al in haar pajamas. Dit gaan egter nie om die pajamas of die kaasbord nie - let op die Kersgeskenk regs agter! Dis ook net 'n oupa wat 'n sewejarige van, nie een musiekinstrumenterige ding sal voorsien nie, maar TWEE - 'n kitaar, en daardie speeldoos met 'n ingeboude luidspreker ook.

Ek het genoem dat ons Oupa se present by Oupa-hulle moet laat bly, maar Oupa het so vasgeskop en walgeskop dat die ding toe hier by ons bly.

En soos wat die meeste Kersgeskenke teen Boxing Day klaar stukkend is, is dit toe nou nie die geval met hierdie een nie. Selfs sy baterye (nadat die goed al vanoggend 06:00 begin musiek maak het) hou nog.

En of dit nie genoeg is nie, ontdek ek vandag op die passasiersitplek die ekstra baterye wat Oupa saamgestuur het!

Ek is nie goed met foto's nie - hier's 'n sneppie van die tafel; maar dit gaan nie oor die tafel nie, ek wil spog met die silwer engeltjies wat Klaradyn self gemaak en silwer gespuitverf het.

Miskien moet ek tog 'n Pappa, Mamma en Klaars Kook oorweeg.

Ek het in maande nie foto's afgelaai nie. So kom ek toe nou af op ons wildspastei van iewers in Julie.



En vanaand, toe ek wil oorskiet kouevleis-en-slaai, toe is dit reënweer en die vrouens lus vir pannekoek! Kan jy dit nou glo! In die middel van die somer! Pannekoek!


No comments: