Pages

12.12.11

10 Desember 2011


So is ons meisiekind toe nou gister blomme- of strooimeisie op haar niggie se troue.

Klaradyn se niggie is ‘n goeie dertig jaar ouer as sy.

Daarom ook maar goed dat ons in begin van die een-en-twintigste eeu, en nie honderde jare gelede nie, leef – anders sou die kind nooit strooimeisie kon wees nie.

Jare gelede het die Romeinse Reg tien getuies by ‘n huwelikseremonie geverg. Hul teenwoordigheid moes bose geeste, wat glo daarvoor bekend was dat hulle by sulke seremonies uitgehang het, ore aansit. Dis ook hoekom die strooimeisies en –jonkers soos die bruid en bruidegom uitgevat moes wees – die bose geeste moes nie kon onderskei wie dit is wat gaan trou nie; het hulle geweet kon hulle die bruidspaar glo teister.


Ander verklarings vir die ontstaan van die gebruik beweeg weg van die geesteswêreld en sluit by die doodaardse aan: die meisies en jonkers, steeds min of meer van dieselfde ouderdom en geklee soos die bruidspaar, moes ‘n skild om en tussen hulle vorm, sodat die bruid byvoorbeeld nie aangeval en haar bruidskat gesteel kon word nie.

Dan is daar ook diegene wat, getrou aan die tradisie, die oorsprong daarvan in die Bybel gaan soek. En dit daar vind. (Soek en jy sal vind.) En wel in die gedaante van Ragel en Lea se slavinne wat saam met hierdie twee dames by Jakob aangesluit het (Genesis 29:24 en 46:18).

Van my lekkerste kleintydherinneringe hou verband met troues.

Klaradyn het ‘n ervaring gehad wat haar lewenslank gaan bybly.

Oktober al het sy saam met haar Tannie Beverly klere en skoene aangepas. (Met ‘n niggie wat 30 jaar ouer as sy is, is dit seker nie vreemd dat haar tannie, aan haar pa se kant, net ‘n paar jaar jonger as haar ouma, aan haar ma se kant, is nie.)

En tussen Oktober en 10 Desember was al wat sy kon doen, om uit te sien na die groot dag.

Vrydagaand het ons gesukkel om haar aan die slaap gekry, en Saterdagoggend was die eerste wat sy te sê had, selfs nog voor sy haar oë ordentelik oopgemaak het:  “Vandag is die groot dag, né Mamma!”

Gelukkig vir haar was dit nie sommer ‘n troue met koeksisters en melktertjies nie, nee, dit was ‘n spoggerige affêre vanuit die voorste gestoeltes.

Die huweliksbevestiging was vanuit die Presbeteriaanse kerk teen die Kompanjiestuin en vandaar het ons sommer oorgestap na die Mount Nelson-hotel vir die onthaal.

Fotobron
Maar eers moes Sussie se hare gedoen word. Dan moes sy vir die effek ook ‘n bietjie, al is dit net ‘n knertsie, kleur bykry. Die haarkapper, grimeerder en hul assistant het een van die hotelkamers betrek en ons moes Klarie enige tyd na 13:00 daar hê.

Ons besluit toe op 14:00, sodat ons meisiekind darem eers so soorts van ‘n middagslapie – noem dit maar ‘n beauty sleep – in kan kry. Maar met beauty het dit niks te doen gehad; ons wou die kind uitgerus vir die aand hê, ons het geweet sy gaan die agtermiddag en aand, getrou aan haar aard, in hoogste versnelling teen allehoogste revolusies deurbring.

Dit was ‘n fout, ‘n groot fout, want daar hou hulle haar so lank besig met borsels en krultange (selfs ‘n krultangetjie vir die oogwimpers) dat ons eers 15:35 weer terug by die huis is om aan te trek. Dit laat ons toe met 25 minuutjies om Mamma aangetrek en gegrimeer te kry, om Pappa in sy spoggerige pak klere, wat hy spesiaal moes huur, uitgevat te kry. Want 16:00 moes ons streng gesproke terug by die hotel wees vir die strooimeisies om hul rokke aan te trek.

Toe ek en Annieka en Klaradyn teen 16:13 vanaf onder in Kampsbaai oor Kloof Nek en af in Tamboerskloof voortsnel, laat val Annieka dat sy daarvan oortuig is dat sy die enigste vrou op die troue gaan wees wat nie spesiaal ‘n haar-, voete- en naelsafspraak vir die okasie gehad het nie. En ek dink sy was reg.

Daar aangekom het die oom wat help maak het aan die trourok die meisietjies op die hande gedra en selfs van die fynste hangertjies vir om die halse voorsien – ‘n geskenkie, hoor ek later, van haar peetma, Tannie Bev.

Pa en Ma stap toe kerk toe; die meisietjies word aangery in ‘n spoggerige motor.

Daar aangekom het almal toe net oë vir die stralende bruid – wat volgens heersende mode enkele minute laat was. Wat van my kind geword het, en hoe sy haar gedra het (as sy haar enigsins gedra het) weet ek nie; ons was van die laastes om die kerk in te stap en het bykans heelagter plek ingeneem.

Klaradyn se enigste verwysing na ‘n troue was die huweliksbevestiging van Prins William en Kate ses of sewe maande gelede. En daar is sy toe nou in die hande van twee ouer meisietjies wat nie een ‘n enkele woord Afrikaans kan praat nie. Gelukkig verstaan Klaradyn Engels en het sy selfs met my, die oomblik toe ons hier in die Kaap by die Engelse familie aanmeld, begin Engels praat. Sy het ook reeds amper ‘n dag saam met twee seuntjiemaatjies vanuit New York deurgebring. En waar die eerste aand se gesprekke van haar kant af, beperk was tot frases en aanhalings uit die Engelse flieks wat sy gereeld kyk, kons sy haarself ‘n dag of wat later darem al met redelike gemak handhaaf.

Sy het haar rol goed verstaan en net so goed vertolk. Ek sal in my dag des levens nie vergeet met hoeveel delikate toeweiding sy uit haar eie gehelp het om die bruid se sleep agter haar in die troukar te kry nie.

By die hotel aangekom is ons eers in die hoteltuin op versnaperings en ‘n ietsie te drinke trakteer terwyl die bruidspaar enkele foto’s met Tafelberg teen die agtergrond gaan neem het.



Waar is dae uit 1899 toe die hotel op 6 Maart geopen is en jy direk vanaf die hawe met koets deur die Kompanjiestuin by die hotelhekke ingery het.



Honderde, nee, ek is seker, letterlik duisende, rose en honderde lelies en nog meer honderde orgideë wat al die pad vanaf Japan ingevlieg is, het die ou balsaal van die hotel versier. Ek kon verstaan dat die bloemis en sy enkele assistent deurnag gewerk het om alles so keurig te kry. (Om elke lelie te kastreer, vir ingeval die stuifmeel aan iemand se uitrusting afgee, sou my ‘n hele tydjie geneem het – gee my dan maar eerder ‘n nuwe seisoen se lammertjies op die plaas en ‘n hele spul rekkies daarby.)

Die bruid ken ek van sy ‘n pasgebore baba was, sy is bekend vir haar gulle gasvryheid, en die kinders op die troue se ontvangs en versorging (gewoonlik word hulle mos nie eers meer toegelaat nie) was beslis deur haar persoonlik in plek gekry.

Terwyl Mamma en Pappa toegelaat het om deur ‘n Pimm’s en salm uit die mees noordelike waters ververs te word, het die kleintjies elk ‘n kardoesie met versnaperings in die hande gestop gekry.

Wat die kindertjies by die kindertjietafel te ete had, weet ek nie. Dit was beslis nie dieselfde Ceasar’s-slaai vir voorgereg met ‘n keuse tussen bief en vis vir hoofgereg nie – ek weet daar is heerlike ertappelskyfies by betrokke gewees, en ek weet dat sy heerlik geëet het.

Een van my mees afgeronde vriendinne praat altyd van die tradisionele troukakkies as sy verwys na die gehekelde swane of boksies met troukoek wat jare gelede so gewild was. Geen tradisionele huwelikspoefies om saam te neem huis toe op hiérdie troue egter nie. Nee, ons herinnering aan die huweliksbevestiging is opgesluit, eerstens, in ‘n poskaart met vier foto’s wat die gaste self in ‘n fotohokkie kon laat neem. (‘n Eietydse variasie op en weergawe van die ID photo booths wat ‘n mens op straat kry – die soort waarin verliefde paartjies gewoonlik lawwe foto’s van hulself laat neem om ‘n lekker aandjie saam te onthou.)

Aanvanklik het die kinders daarop toegesak (en Klaradyn was een van hul grootste – gelukkig darem nie hul heel grootste nie – ondersteuners) maar hulle is spoedig deur die volwassenes verdring. Met allerhande rekwisiete in ‘n fantasiekis, kon jy lekker laf en verspot wees. Ek, wat op my beste altyd redelik stoïsyns is, het in ‘n stadium ‘n groen pruik, en my vrou ‘n bloue, opgehad.

Ek het so daarna uitgesien om darem ook met Klaradyn ‘n draai op die dansbaan te kan maak – maar teen 23:00 was Sussie uit soos ‘n kers – van moeg en in die oortreffende trap die aand geniet. Sy het haar op ‘n bankie onder Pappa se baadjie opgekrul en in droomland verder troue gehou.

Ons is teen 24:00, na heerlike kaas en beskuitjies, en ‘n keuse van twee troukoeke (die een meer konvensioneel, die ander heelwat minder) huis toe.

En met die dat die bruidegom en sy familie reeds vir geslagte in die bosboubedryf op Knysna is, word ons toe van ‘n sny- en kerfplank uit Knysna-hout, ook ‘n roerbraailepel uit dieselfde hout gesny, voorsien. Dit sal ons nog jare aan die heerlike troue herinner.

Klaradyn, op haar beurt en aan die anderkant, het ‘n magdom beelde en oomblikke en ervarings in haar geheubank opgesluit gekry, beelde en oomblikke en ervarings wat haar vir nog baie jare gaan bybly.

(Miskien laai ek later foto's van ons meisiekind en die groot dag wat sy saam met die bruid gedeel het - ek sal nog sien.)




No comments: