Ek frustreer Klaradyn partykeer grensloos as ek koppig weier
dat sy in die motor bly wanneer ek vir 2 minute by die Spar om die hoek van ons
inhardloop.
Of sy nou gaan nat reën en of die warm teer haar voete gaan
brand, dit maak nie saak nie – ek los haar nie in die kar nie.
Ek vertel haar ek is bang hulle steel haar.
Ek het Annieka eendag gebel, toe antwoord iemand sonder om
te antwoord. Toe hoor ek later Klaradyn was in die motor, Mamma vir twee minute
in Spar, en ek het gebel met Mamma se foon in die motor; Sussie het probeer
antwoord.
Ek was moeilik genoeg om ongelukkig daaroor te wees.
My pa het dit gedoen; my in die motor gelos en vir twee
minute ingehardloop – kroeg toe.
Enige kroeg, die naaste kroeg.
Ek het al daarvan vertel in Kersfees se kenwysie.
Maar eendag, dit sou 'n Saterdagoggend, of in die vakansie
gewees het, het hy weer die motor parkeer en gevra dat ek moet sit, hy kom nou.
Dit was in Alberton, Voortrekkerstraat.
Ek was jonk en het nog nie geweet van kroegtye nie – ek het
om my gekyk en geweet ons is gelukkig ver van 'n kroeg, Alberton se hotelle was heelwat
hoër
op in die straat.
Ek verbeel my ook die Sjinese restourant wat tot lank na
matriek op die eerste vloer van die gebou skuins van oorkant waar hy gestop
het, besigheid gedoen het, sou eers baie later kom.
My pa is vir twee minute in die CNA in.
Hy het my nooit lank in die motor gelos nie, ook nie as hy
as iets in die kroeg gaan wegslaan het nie – ek was vir hom te kosbaar, hy was
vir my te lief.
Hy het ook nie gaan drink om dronk te word nie, ek vermoed hy het net 'n
enkele brandewyn of so iets weggeslaan, en dan is ons verder Buitendien, as Pa wou suip, het hy dit by die huis vanuit sy bed gedoen, vir 'n week of twee wat hy nie kantoor toe gegaan het nie, die drank laat aflewer het,. Tot hy uiteindelik na die een of ander inrigting geneem is en sober teruggekom het.
My pa moes geweet het wat in CNA wag, hy het nie in die
rakke gaan snuffel nie – hy het ingestap, 'n boek geneem, by die toonbank 'n kort
boodskappie op die binneblad geskryf, en by my in die motor aangesluit met die
woorde dat ek die boek moet lees, dis 'n goeie boek waarvan hy gehou het, en hy
is seker ek sal ook van die boek hou.
Dit was 'n Afrikaanse vertaling van Sir Percy Fitzpatrick se
Jock of the Bushveld, maar met die
illustrasies van die oorspronklike Engelse uitgawe wat klassiek en bekend is.
Daardie twee minute, daardie dag, daardie bekommerd wees oor
wat Pappa nou gaan doen, en toe kom hy uit die CNA met 'n boek in sy hand – vir
my, en binne, in is sy kenmerkende handskrif, is daar 'n boodskap - vir mý...
dit is die kosbaarste herinnering wat ek vandag 37 jaar later van my pa het.
Daar is baie herinneringe, nie almal mooi nie, baie is
wel, maar die mooiste van hulle almal, die kosbaarste, is daardie oomblik.
Ek sien hom aangestap kom, ek hoor hom selfs praat.
Ek was tog nog nie 10 jaar oud nie – dit was 15 Mei 1974
gewees.
Saam met die datum, voor in die boek, ook die woorde: Aan Oubaas Van Pappa.
Ek het my pa se naam, 'n skryftafel en koper konfoor van die
familieplaas, ek het die gedigte wat my pa geskryf het, die foto’s wat hy
geneem het, maar nie net hou die boek vir my die kosbaarste herinnering aan my
pa in nie, dit is die kosbaarste besitting wat ek van my pa het.
Want ek sien hom stap, ek hoor hom praat.
Ek verbeel my
selfs ek weet watter baadjie hy aangehad het, ek sien die stukkie spoeg in die
hoek van pa sy mond wat die gewoonte gehad het om daar 'n draderigheid te trek
as hy praat.
Ek ruik hom selfs.
Of is dit sy haarolie – dit was immers die sewentigs.
Ek het die boek oor en oor gelees.
En weer 'n keer oor en
nog 'n keer oor.
Later, as ek wou huil, het ek net die slothoofstuk gelees.
Of sommer net die tweede laaste bladsy. Weer 'n keer, en
dadelik nog 'n keer.
Later, baie jare later, dertig en sewe en dertig jaar later,
het ek nie meer nodig om die slothoofstuk, of hier vanaf die tweede laaste
bladsy te lees, om aan die tjank te gaan nie.
Lankal ook nie meer oor die storie nie.
Die boodskap op die binneblad is al genoeg.
En selfs nog minder – net die onthou, die herinnering, die in-my-geestesoog-oproep van daardie oggend
in Mei.
Gisteraand toe kyk ons die animasiefilm wat hierdie jaar
vrygestel is.
Ek het al vir my en Klaradyn die ouer fliek uitgeneem, maar
sy het binne die eerste 10 minute snuf in die neus gekry en gevra of die hond
gaan doodgaan.
Ek kan nie oor sulke goed vir my kind lieg nie, oor baie
ander goed, ja, maar nie oor sulke goed nie.
Toe weier sy om verder te kyk.
Hulle het in ’92 twee eindes verfilm, maar ek was nie seker
of ek die een met die hond wat oor die bult en in die sonsondergang in verdwyn,
of die een waar hy in die hoenderhok geskiet word, in die DVD-speler had nie.
Toe gaan slaap ons maar.
Klaradyn doen nie doodgaan in stories en flieks nie. Ek wil
haar so graag weer na Charlotte se Web laat kyk, maar verniet.
Dis ook hoekom ons die 2011-animasieprent nie op die groot
skerm gaan kyk het nie – sy wil die fliek nie sien nie, diere gaan dood.
Gisteraand het ek haar uiteindelik so ver gekry, met die
kindertjie-animasiefliek, wat, soos ek haar verseker, natuurlik altyd 'n gelukkige
einde sal hê;
anders is dit nie 'n kindertjiefliek nie.
Maar met Jess se afsterwe, nog nie eers halfpad die fliek in
nie, toe tjank die drie van ons heerlik op 'n streep waar ons op die bank voor
die televisie sit.
Ek was baie bly, want toe is daar vanuit my kind se perspektief uiteindelik 'n rede vir 'n Pappa wat hartseer is - Pappa het seker geweet Jess gaan doodgaan.
Ek het mense hoor kla, destyds toe die fliek vrygestel is,
oor die Amerikaanse aksente en verkragting van die storielyn.
Dit het my geensins gepla nie.
Niks, maar absoluut niks, kan
die wonderlike kindertyd-herinneringe wat Jock van die Bosveld by my oproep,
ooit bederf nie, nie eers Duncan MacNeilie se tweede poging in 20 jaar om
hierdie storie op die silwerdoek oor te vertel nie.
Miskien moet ek maar eendag begin oefen – dan los ek
Klaradyn in die kar, hardloop in Spar in, en kom uit met 'n groot wollerige
speelding in my hand.
Die kere wat ek in 'n kroeg was, kan ek op 47, letterlik op drie vingers van my een hand aftel.
No comments:
Post a Comment