En om te dink dat ek vanjaar my derde wynplaas sou kon
gekoop het, as ek net die geld wat ek die laaste vyf of ses aan restaurantkos
op Klaradyn gemors het, eerder vas belê en toe in eiendom omgesit het.
Die eerste keer toe
ek en Annieka met haar by 'n eetplek ingestap het, het ons met die
uitstap vir mekaar gesê dat dit regtig 'n
vermorsing van geld is om vir haar iets te bestel – ons gaan in die
toekoms beslis nie vir haar afsonderlik iets uit die kombuis aanvra nie.
Ons het dit die tweede en derde en vierde keer ook vir mekaar
gesê.
En as ons dit nie vir mekaar gesê het nie, het ons dit vir onsself
gesê.
So ook, vyf of ses jaar later, die tweede, derde en vierde keer
die pasafgelope vakansie wat ons met haar by 'n eetplek ingestap het.
En tussenin?
Te veel keer om op te noem, óf om te onthou.
Die eerste keer is ons met haar Wimpy toe, die een in Hatfield.
Dit was vir my so 'n volwasse, verantwoordelike, grootmens-ding om
te doen – jy neem jou kind saam met jou in 'n restourant in, jy bestel vir haar
wat sy wil hê.
En omdat jy dit haat om kos te mors en dan maar eerder 'n asblik
van jou maag maak, eet jy vyftien minute later die oorgrootte meerderheid van
die kos waaraan sy nie geraak het nie, op; speel Mamma Russiese roulette met
haar bloedsuikervlakke deur die groot glas sjokolademelkskommel, waaraan die
kind skaars haar mond geslaan het, in haar slukpyp af te jaag.
Die eerste keer wat ons met haar gaan uiteet het, lank voordat sy
self kon eet, was die dag waarop sy presies sewe weke oud was. O, dit was 'n
mylpaal in onse lewens! Ons het die outydse, amper ouwêreldse nosie gehandhaaf
dat 'n kind nie sy of haar voorkop of voet by die huis mag uitsit voor die
eerste sewe weke nie verby is nie.
Dis met groot onwilligheid dat ons haar vir haar weeklikse nageboorte-ondersoeke
na die tannie van die voorgeboortelike klasse geneem het. Toe dié vrou op vyf
weke voorstel ons gaan trakteer onsself op 'n koppie koffie en koek in die een
of ander winkelsentrum, kon ek en Annieka (veilig terug in die motor) nie uitgepraat
raak oor hoe onverantwoordelik hierdie vrou is nie.
Die een of ander kultuur waarvan ek op die hoogste gesag verneem
het, het die wonderlike gebruik om hul pasgebore babas vir die eerste 49 nie een
keer met moederaarde kennis te laat maak nie. Vir die eerste 49 dae word die
kind letterlik op die arms gedra – en dan nie noodwendig suiwer die arms van
die ma nie, maar die arms en hande van die moeders en vrouens in die
gemeenskap.
Ek dink dit moet baie gelukkige babas wees wat so opgelewer, en
van die een hand na die ander oorgelewer, word.
Dag 49 ken ons Klaradyn toe lankal die aarde, maar nie juis die
buitekant van die huis en 'n tuin nie. Toe trek haar ma en pa die stoute skoene
aan om haar mooi aan te trek en hulself te bederf deur saam met haar by Die
Dros in Hatfield te gaan eet.
Natuurlik moes die kamera saam – ek verbeel my ons het selfs die
kelner ingespan om 'n gesinsfoto of twee te neem. Kyk en vandag na daardie
foto’s, val nie net ons trots (dis of die knope oor my bors steeds van my hemp
afspring) my op nie, maar eerstens, en die meeste, hoe jeugdig ek en my vrou
gelyk het. Ek het nog nie enkele grys baardhaartjie nie – vandag soek ons 'n ietsie
swart en kan ek nie eers meer praat van 'n sout-en-peper-baardjie nie, dis
suiwer sout – Annieka is soveel anders mooi en gelukkig as wat sy vandag se dae
mooi en gelukkig is.
Ek het vroeërvanjaar, in die wintervakansie nogal, bygestaan hoe 'n
jong mamma haar vyf weke oue baba in 'n skottel in 'n karavaan bad, 'n haardroër
wat eenkant op sy eie blaas sorg vir bietjie hitte, omdat sy en haar kind saam
met haar ma gaan kamp het – Pappa ry naweke deur van die huis en die werk af.
Ek het besef ons het ons kind beslis nie skade aangedoen nie, ons
het dinge bloot vir onsself baie moeilik gemaak.
Maar kyk net waar trek ek al – ek was by die wynplaas wat ek kon
koop, en hier is ek op die punt om te vertel van die sonkolletjie in die huis
waar ons die kind se vitamine –k-tellings opgejaag het. Is dit vitamine –k, ek
kan nie eers onthou nie? Daardie vitamien wat optel as die kind in die son kom,
die een wat keer dat 'n baba geelsug word.
Aan speelgoed het ons ook gemors. Ek dink hier aan 'n plastiek
swaai en glyplankie wat ons ten duurste met Ouma Nooi se eerste verjaarsdag se
verjaarsdag-geldjies gekoop het. Ek het vandag 'n lieflike foto waar my ma op sewe
of agt of nege en sewentig Klaradyn in die ding swaai, maar dis ook al. Ek
twyfel of Klaradyn in haar leeftyd vir vier ure op die ding was, toe staan hy
stof en vergader teen 'n muur op die
werf.
Ons vervang hom toe, twee jaar later, met 'n volwaardige klimraam
van staal, vyftien keer duurder. Ek twyfel of dit 'n gemis sou gewees het, as
ons hom nie in ons kind se lewe en in ons tuin gehad het nie.
En dan is daar 'n hele paar Kers- en verjaarsdagpresente waaraan
ek kan dink wat eerder in 'n paar morg wingerdlote belê kon word.
Die enigste speelgoed wat uit en uit en deur en deur die moeite en
die geld werd was en is, was en is die fluweel- en streelsagte, wollerige,
pelserige, speelgoed, waarvan Klaradyn só baie het.
Hier waar ek nou sit en werk, kyk ek af op 'n hele werpsel van die
goed wat sy gister, dadelik, toe ons terug van die Kaap hier aangekom het,
bymekaar gekry en mee begin speel het.
Ander kinders het miskien een gunsteling soft toy (soos die Engelsman hierdie opgestopte speelgoed noem).
Nie Klaradyn nie – elkeen is spesiaal, elkeen is 'n gunsteling. Wat opgestopte
speelgoed betref, het Klaradyn regtig 'n hart soos 'n hotel – daar is plek vir
baie.
As dit nie was dat sy om die beurt met elkeen gespeel het nie, het
ek lankal dat sy en haar ma (ek weet nie watter een van die twee die ergste is
nie) briek aandraai.
Ek jok so bietjie, noudat ek mooi daaroor nadink – daar was
miskien tog wel so iets van 'n gunsteling-gunsteling-sagte-speelding. Tiertjie
was sy naam, Tiertjie het met 'n moerse ompad van Duitsland hier aangekom.
Tiertjie was my kind se hart se punt. Tiertjie het baie weggeraak, maar dit was
altyd tydelik. Dan is hy by Ouma vergeet, dan onder 'n passasiersitplek iewers,
dan kom hy uit 'n skoenboks of blik waar hy lê-gemaak en vergeet is.
Maar nou is Tiertjie al meer as twee jaar weg, sommer propperlies
en goed en ordentlik weg, skoonveldweg.
Ons vermoed een van die honde het die ding gaan begrawe. Die oudste
teef dra die geringste sagte speelding van Klaradyn wat sy dalk mag opspoor, na
haar slaapplek toe (en as sy nie 'n speelding kry wat rondlê nie, dan 'n kledingstuk
of selfs 'n skoen). Sy kou nie die ding nie, sy hou die ding, seker maar suiwer
vir vertroosting, net by haar, tussen haar voete of by haar neus. Sussa sou hom
beslis nie begrawe het nie. Maar Sussa se boeta, Boeta, sou hom by Sussa af kon
geneem het, en hý hét die hebbelikheid om die speelgoed en skoene te gaan
begrawe.
Ongelukkig/gelukkig is Boeta nie vreeslik oorspronklik in sy keuse
van plekke in die tuin waar hy sy loot gaan begrawe nie – hy kies regtig net
een baie klein plekkie uit. Baie keer begrawe hy dit ook nie, hy laat dit net
sagkens daar lê. En as hy dit begrawe, is dit ook nooit diep en toe nie – daar steek
altyd 'n arm of 'n been of 'n sool uit.
Ons het al Boeta se lappie aarde omgespit en oopgeskoffel, maar
niks gekry nie.
Ons beplan al van Julie af aan die moeder van alle opruimings in
die motorhuis – een waarvoor ons 'n vullisverwyderingshouer, die grootste wat
daar is, spesiaal deur die munisipaliteit laat aflaai. Miskien, net miskien,
krap ons die ding dan iewers uit 'n boks of sak uit. Maar die prognose lyk nie
te goed nie. Miskien sal ons Tiertjie, sonder dat ons ooit sy liggaamlike
oorskot gekry het, na dese amptelik dood moet verklaar.
Die R200 waarmee Ouma en Oupa die meisiekind toe Kaap toe gestuur
het, die R200 waarvoor ons toe die laaste dag inpiekel Waterfront toe, word toe
amper na vyf minute by die eerste speelgoedwinkel geblaas. En toe, tien minute
later, weer amper by die tweede winkel. En die derde. En die vierde.
Maar toe loop ons 'n Build-a-Bear-winkel
raak. Ons is later, net om seker te maak, terug na die eerste vier plekke, maar
Klaradyn se kop was opgemaak – sy gaan haar geldjie op 'n sagte speelding
uitgee.
'n Kollega by die skool het my twee jaar gelede van die winkel
vertel, en ek en Klaradyn is die eerste dag van die Kersvakansie vir 'n Pappa-en-dogtertjie-uitstappie
soheentoe. Jy kies die vel (die dop, die buitenste) teen 'n aardige onaardse
bedrag natuurlik. Dan kies jy vir 'n ding 'n hart, en stembande, en dan stop jy
hom self op, so styf of troetelsag soos jy hom wil hê.
Ander bedorwe rykgatdogterjies kies dan nog 'n paar
uitrustings en modebykomstighede vir hul poppe (skoene, brille, duikbrille,
rolskaatse, branderplanke, baaikostuums, slaapklere, balrokke, krone, pels- en
ander jasse) maar Klaradyn is altyd tevrede met hoogstens een, miskien twee,
ekstras.
Ek sê ook nou altyd,
want ons het die volgende Kersfees weer gegaan. Daardie keer het Mamma
saamgegaan om in die opwinding te deel. Toe was dit 'n wit hond met pienk harte,
soos 'n foksterriër se kolle, oor sy lyf gespasieer – bid jou dit aan: 'n wit hond oortrek met pienk harte! Die
vorige keer was dit 'n apie.
Ons probeer ons bes om die kind self te laat kies, en nie
namens haar nie. Dit raak moeilik as die kind haar hart op 'n wit hond met
pienk harte vir kolle sit, maar ons byt vas. Want dan het ons al op die harde,
en duur, manier geleer dat Klaradyn klere wat óns, en nie sy nie, kies, bloot
net weier om te dra. En die kind moet leer om haar eie besluite neem en die
gevolge daarvan te dra. Ons sal nie willens en wetens toelaat dat sy haar kop
stamp nie, ons sal rig en stuur, sonder om noodwendig ons roete af te dwing, en
raad gee, voor- en nadele uitwys. Maar die keuse is hare.
Vanjaar het die kind se keuse toevallig geval op iets wat
haar ma en haar pa welgeval.
Ek was so verlig oor die kind se keuse dat ek summier sou pa-staan
vir 'n bykomstigheid, maar Ma het toe klaar haar beursie aangebied. En ek wou
nie inmeng nie, toe staan ek maar terug.
En ek het teen daardie tyd al op drie geleenthede, vroeër
die dag, my beursie baie diep, en wyd, en groot oopgegaap in belang van die
kind.
Want, ja, dit is 'n feit – ons sou soveel ryker kon gewees
het, sonder ons kinders, maar tegelykertyd ook soveel ontelbaar, onhaalbaar, onbetaalbaar
armder.
No comments:
Post a Comment