'n Mens doen dit nie sommer nie, en as jy dit doen, bly jy
tjoepstil daaroor.
Maar ek het dit nou gedoen, dit was heerlik, en dan is dit
met my nou maar een maal hoe dit met my is: wat die hart van vol is, loop die
mond van oor.
Miskien moet ek hierdie uitdrukking eerder aanpas om my soos
'n handskoen te pas: wat die maag van
vol is, loop die mond van oor.
Ek maak miskien een keer 'n jaar 'n skaapboud gaar, en dit
is om Kersdag koue skyfies skaapboud met korreltjies sout op te kan eet.
En toe breek die oond Saterdagaand.
Ek het hom op 220 grade aangehad om ons vis gaar te maak –
sommer 'n boksie bevrore vis. Ek het vars spinasie en murgpampoentjies in die
yskas gereed gehad, omdat ek uitgehonger is vir lekker kookkos. Maar toe beland
ek Klaradyn agtermiddag in die swembad en swem so lekker dat ek hier teen
sesuur uit die swembad vir Annieka in die huis roep om die oond op 220 grade
stel, ons gaan vis eet, daar is nie 'n manier dat ek nou uit die swembad gaan
klim om te kook nie.
Sy murmureer – ons het seker al drie keer vis gehad vandat
ons Donderdag uit die Kaap hier aangekom het, en nou wil ek weer vis gaarmaak.
Maar die vis is in en ek slaan gou vir ons 'n slaaitjie saam. Dis die
allermooiste mengelslaai wat ek in 'n platterige bord uitpak – groen blare,
groen en wit komkommer, spierwit soet skyfies uie, bloedrooi kersietamaties,
liggroen avokado en die helderste, mooiste geelste, soeter as soetste geel soetrissie.
Maar toe ek die vis uit die oond kry om dit na 15 minute om
te draai, is dit nie goudbruin gebak soos ek verwag nie. Ek draai dit maar om
en plaas dit terug vir die laaste 5 minute.
Ons kom dan toe ook 5 minute later agter dat die oond dood
soos 'n mossie is. Ek dog eers dit het iets met die sekerings te doen, ek
verwissel die goed, maar die oond bly dood. ('n Sekering, vir die van ons wat dit vergeet het, of nog nooit geweet
het nie, is die eintlike Afrikaanse naam vir fuse.)
Ek maak my partykeer skuldig aan sulke goed. Soos vandag in
die winkel toe ek Klaradyn vra om op die uitkyk te wees vir die kruisementsous.
'n Wildvreemde vrou wys toe daarna op die rak en sê dat ek seker die mint jelly bedoel en dat sy dit ook nie
as kruisementsous op sal kan spoor
nie.
Want ja, selfs 'n stukkende oond kon my nie van stryk bring
nie – terwyl ek gisteraand ons vissie in 'n pan gaar kry (wat Annieka, wat
nooit met die oond werk nie en my al moes bel om te vra hoe om die ding aan te
kry, met die oond gedoen het, hoe sy hom aan, en toe weer af, gekry het, weet
ek nie, en wil ek ook nie weet nie) noem ek dat ons dan maar skaapboud buite in
die braaier gaar gaan kry. Kom wat wil, breek wat wil, skaapboud gaan ons eet.
En ook nie my skuld nie, my broer en skoonsus se skuld. Ek
en Boeta is een laat agtermiddag winkels toe en met twee lamsboude in die hand
terug huis toe. Hy en sy vrou is meesterkokke en ons aandete daardie aand het
my inspireer om sommer net vir sommer, in plaas van 'n spesiale geleentheid,
lamsboud gaar te maak.
Ek het geweet ons kan nie Sondagaand gesinsete hê
nie, want Klaarskind gaan by Ouma-hulle oorslaap. So toe Annieka geluide maak
van strate toe gaan, toe hou ek my doof. Foeter ons eers saam met haar winkels
toe, kom ons nooit betyds terug om kos te kan maak nie.
Sy is toe ook skaars hier weg, toe spring Pappa en Klaars in
die ander motor en gaan koop kos.
Ek onthou dat my pa 'n hele skaap vir R20-00 gekoop het.
Daar is ek toe nou vanoggend uit en betaal meer as 11 maal daardie
R20-00 van destyds, en dit net vir 'n lammetjie boudjie.
Maar ek doen dit met 'n oop gemoed, dit gebeur nie aldag en
heeldag nie.
Daarmee saam sit ek ongeskilde aartappeltjies en die
lekkerste maar lekkerste salotte wat Woolworths volgens die sakkie al die pad
van Frankryk die land ingebring het.
By die spinasie het ek net fetakaas in klein blokkies
ingesit – Klaradyn se spinasie was skelmpies uit die bord opgeëet
nog voor ek my bord kos opgeskep had.
As murgpampoentjies nie bedoel was om murgsag bedien te word
nie, sou hulle dit nie murgpampoentjies nie, maar iets soos knars- of
kraakpampoentjies genoem het. Ons s'n was murgsag sonder om papsag te wees.
Daarby het ek 'n baie ligte witsousie gemaak – geen kaas, net vetvrye melk en
poeier wat Ina Paarman en haar span saamgeslaan het.
Met die lamsboud wat nog net 15 minute moet gaan, en daarby
die bietjie rustyd en asemskep wat die ding gegun moet word, begin my gewete my
pla dat ons al hierdie kos vir net ons drie gemaak het. Maar dis ook nou al oor
12:00 op 'n Sondagmiddag. Ons bel, maar almal antwoord vanuit ander provinsies.
Skoonpa-hulle, wat om die draai inkopies doen, het ongelukkig pas van die
ontbyttafel opgestaan en wys die uitnodiging ook van die hand.
Met die dat die gasbraaier na die boudjie kon omsien, en nie
ek nie, het ek en Klaradyn ons gebesig met dit wat Klaradyn as “'n aktiwiteit”
aan haar Ma beskryf het. Ons het neffens die braaier begin met 'n verwerasie
maar opgeëindig
met 'n morserige beeldhousessie van lieflik boetseerbare sagte kerswas.
Mamma het die limiet wat die bank op een dag se gelduitgee plaas,
spoedig bereik en haar by ons aangesluit. En toe “wees” of “is” ons ou
gesinnetjie net lekker saam tot opskeptyd.
Dit was een van daardie tydjies onder lapa wat Annieka my
sal bederf met die lieflike woorde soos:
“Ek is lief vir jou my man.” Een van daardie dae wat ons net weer eens
en opnuut besef dat daar niks so lekker soos 'n vakansie by ons huis, hierdie
tyd van die jaar, in Pretoria, is nie.
Ander tye vat ek graag die pad, maar nie Desember nie.
Kookkos in die somer onder die lapa is lekker as jy dit
geensins stomend warm bedien nie – en dis wat ons gedoen het, teen
kamertemperatuur, of dan nou eerder Pretoria-se-hoogsomer-Desembermaand-lapa-temperatuur.
Gewoonlik is ek gaande oor kruisement – ek het die jellie
gehad én
'n sousie van vars kruisement saamgeslaan. Maar hierdie boudjie van ons het so
geurig uit die Jetmaster-gasbraaier gekom dat ek nie eers haastig was om die
kruisement nader te trek nie.
Klaradyn het naas haar groente ook die salotuie geniet, en
selfs Annieka het 'n tweede porsie daarvan met die woorde jy weet ek doen nie juis uie nie maar gee tog maar daar vir my nog 'n skeppie
asseblief, aangevra.
Ek weet 'n mens maak nie sommer 'n lamsboud vir twee en 'n halwe volwassenes gaar nie, maar ek het dit gedoen, en ek sal dit weer doen.
Poeding moes natuurlik wag vir later, baie later – na 'n middagslapie
en langer as 'n uur en 'n half se balpret en speletjies in die swembad:
daar is darem maar onder hierdie son niks so lekker soos 'n lekker
spanspek nie. Saam met dit was daar prima lietsjies en 'n net-so-prima
veselperske.
Dis 'n voorreg en lankal nie meer 'n reg van almal om sulke
lekker gesinstyd en kos te kan geniet.
Geleenthede en dae soos hierdie maak my dankbaar.
Wat die maag, maar veral die hart, van vol is, mag die mond
maar van oorloop.
No comments:
Post a Comment