Pages

24.12.11

Kersfees-spyskaart

Jare gelede bly ek in Duitsland oor by vriende van vriende se vriende.

Hoe ons daarby uitgekom het, weet ek nie (en hoe waar dit is, nog minder) maar die gasvrou maak toe die stelling dat die gemiddelde Duitser slegs twee keer 'n jaar by die kerk uitkom – oor Kersfees en dan weer tydens Pase.

Die gemiddelde wit Afrikaner, ja, slag my maar af, maar volgens my kan 'n Afrikaner bruin of selfs swart ook wees – die gemiddelde wit Afrikaner wil die Afrikaner net nie so definieer nie, en sorg op hul daarvoor dat geen Afrikaner wat nie noodwendig pikspierwit is nie, hom of haar onder geen omstandighede met die Afrikaner kan, of sal, of wil, identifiseer nie...

En daar het ek myself nou weer eens so sterk in die rede geval, dat geen wit Christen die sin se draad sal kan volg nie.

Wat ek my wil verstout om te sê, is dat die gemiddelde Afrikaner, vermoed ek, straks selfs die gemiddelde Suid-Afrikaner, as ek my dit nie mis het nie, deesdae dalkies nog steeds meer in die Kerk kom as die gemiddelde Duitser, maar dat daar min nasies en mense en volkies en gemeenskappe is (behalwe miskien die Britte en die Yanks) wat oor Kersfees so kan kosmaak en kook soos ons.

Baie rondom Kersfees is besig om te verander. Baie rondom die Afrikaner is besig om te verander. Ek kan my byvoorbeeld nie voorstel dat die volgende sinne wat 'n artikel in Beeld vroeër hierdie week afgesluit het, so min soos selfs net vyftien jaar gelede in die gemiddelde Afrikaanse koerant plek sou kry nie, en tog staan dit vanjaar daar:

“Christene glo dat die Koning van die heelal, God self, met Kersfees gebore is as ’n klein, menslike babatjie. Vir baie moderne mense klink dit ongeloofwaardig. Vir Christene is dit egter ’n kernpunt van die geloof.”

Wat egter dieselfde gebly het, hoe modern ons dan nou ook al geword het, is die ete en drinke rondom Kersfees.

'n Vriendin vra gister dat ek sal skryf oor ons naweek se spyskaart, en toe ek klaar het, besef ek ons Kersfees is dalk nie meer die Christusfees wat dit veertig jaar gelede was nie, dis gelukkig nie die geldmaak geskenkefees wat die geldmag daarvan wil maak nie, maar dis waaragtig steeds die eetfees wat dit al vir donkiesjare is.

Hier volg wat ek op haar versoek saamgeslaan het:

Oukersaand is ons en die ander kinders by die twee oues. Kersdag is die oues by ons. Ook nie Kersdag nie, Kersdag-laatagtermiddag met die oog op aandete.

Kersdag is tradisioneel kouevleis en slaaie.

Dit was seker jare gelede die koue left overs van Oukersaand met slaai, maar ons kook deesdae twee keer en het left overs om ons deur te hou tot knap voor Oujaar. Dan kook ons weer. Maar na Nuwejaar is ons gelukkig klaar uithangkos-gemaak tot die eerste verjaarsdag in Maart en Moedersdag in Mei.

Kersdag se koue skaapboud is so 'n sterk tradisie dat die twee oues gesê het ons hoef nie vanjaar boud te kry nie – hulle maak vanjaar lamsboud vir Oukersaand en sal sommer 'n tweede een gereed kry vir Kersdag.

Maar voor ons by die koue boud kan uitkom, het ons skielik eers voorgereg ook bygekry, nie omdat ons dit beplan het nie, bloot omdat ek ten duurste 'n blok 30 maande oue parmesaankaas aangekoop het.

Ons hét 'n inkopielys saamgestel waarop beslis nie 30 maande oue parmesaan aangebring is nie – maar toe kuier ons so lekker tydens die tradisionele Last-minute-Christmas-shopping-ontbyt, dat ons die kosaankope moet afjaag – ons skeur die aankopielys in twee, gryp elkeen 'n trollie en vaar die rakke in.

Maar ek is deur soveel resepte op soek na slaaie wat tog net nie 'n tradisionele mengel- gerasperde wortel- of ertappelslaai is nie, dat ek toe meer as dit wat op my lysie is, begin inpak.

En toe, voor die kase – wat ek by die kase loop soek het, weet ek nie – val ek toe vas by hierdie ingevoerde 30 maande oue wig parmesaankaas, en die kaas roep nie net uit om ingelaai te word nie, dit klim sommer vanself in my trollie.

By die huis gekom is daar niks, maar absoluut niks onder die resepte wat om parmesaankaas vra nie.


Toe kry ons 'n voorgereg by – 'n klassieke ou bekende, maar, by the looks of it, aangebied met hoogs feestelike flair.


Ek google nie resepte nie – ek google die prentjies van die kos wat ek wil maak, en as dit lekker lyk, gaan ek in en ondersoek die resep, of probeer dit sommer sonder resep namaak.


En dis hoe onshierby uitgekom het.

Met die ekonomie wat so sleg is en niemand wat af is see toe nie, was die tou by Woolies so lank dat dit al met die vleisrak af gegaan het. En terwyl ek toe nou so langs die vleisrak staan en luier op pad betaalpunt toe, kyk ek die beestong uit, en die beestong kyk my uit – en ek besluit om vir die eerste keer in my lewe koue beestong voor te berei.


En omdat dit totaal overdadig sal wees om 4 vleise oor Kersfees te hê, ruil die vriendelike beestong toe plek met die filet wat in die trollie was.

Ek gaan hierdie (omdat dit so mooi op 'n bord kan lyk) as vertrekpunt gebruik, maar omdat vroulief mal is oor iets soets saam met haar tong, gaan ek ook Peter Veldsman se rosyntjiesous uit Kos wat ons ken saamslaan:

½ koppie bruinsuiker
2 teelepels mosterdpoeier
2 eetlepels mielieblom aangemaak met 2 eetlepels suurlemoensap
1 lemoen en suurlemoen se gerasperde skil
1 koppie druiwesap
½koppie pitlose rosyne
sout, peper en rooipeper

En dan kry jy dit alles saam in 'n lekker sousie.

Die varkboud probeer ek nou al tien jaar elke jaar glasuur soos my ma dit haar hele lewe lank gedoen het. Vanjaar het ek opgegee – ek het by Woolies gekoop.

Maar ons oond is somehowstukkend – en dis nou te gou om te sê hoe die boud gaan uitkom.


Ek is nie lus vir 'n span nooddienswerkers van die plaaslike elektrisiën in die huis nie –dan was die oond lankal reg.


So ons kook vanjaar sonder oond.


Gelukkig het ons 'n Weber en 'n Jetmaster op die werf.

Dan is daar die drie slaaie (wat ek al gedeel het).

Ek het drie vertrekpunte opgespoor. Maar wat hierdie webwerwe so lekker maak, is die feit dat hulle soortgelyke resepte ook voorstel. Ek lees en bekyk dan alles, en doen op die ou einde bloot soos die gees my lei.

Soetrissieslaai - wat hierdie een opwindend gaan maak is die feit dat die foto nie by die resep pas nie. Ons het die resep op die inkopielys gehad, en ek het alles wat ek van die foto onthou het, ook gekoop. So watter een van die twee slaaie dit gaan wees, weet ek nie.

Eiervrugslaai - dit lyk nie so mooi nie, maar so geurig. As dit nie tot 'n mens spreek nie, is daar talle variasies op die prentjies onder die resep.

Koeskoesslaai - die meer bekende koeskoesslaaie is almal onder hierdie slaai, maar hierdie behoort 'n baie aangename verandering en variasie te wees.
Vanjaar is die eerste Kersfees sonder my ma. So om haar in die herinnering te roep – die varkboud gaan dit duidelik nie doen nie – gaan ek haar kwasi-tiramisu-kwasi-trifle uit die jare 70 van die vorige eeu, lank voor tiramisu hier by ons aangekom het, maak.

Sy het die vingerbeskuitjies, soos vir tiramisu, in koffie gedoop – eintlik koffie en 'n stewige skeut koffielikeur.

Dan 'n laag lekker stywe custard(custard – eintlik sommer net kastirt in propperse Afrikaans – klink darem net sedert kinderdae soveel lekkerder as die vaal en vervelige vla)

Hieroor sprinkel jy gekapte neute en opgesnyde glansvrugte (of wat jy ook al in die yskas het – klein stukkies gemmer is net so lekker)

Dan weer vingerbeskuitjies, vla en kougoedjies, vingerbeskuitjies en laastens, nie vla nie, maar styfgeklopte room.

En dan kan jy dit heel bo so kommen maak soos jy wil – ek gaan sewejarige klein Klaradyn kry om dit te doen, en knowing her gaan ons kersies en sjokolade vermicelli en thousands& thousands en gekapte neute en kruisement blare uit die tuin kry. Maar wat maak dit saak – dis Kersfees en dit moet 'n kindertjie-Kersfees ook kan wees.

Om ons deur te vat ounag toe, is daar 'n baie geurige, baie beleëkaasbord met konfyt en beskuitjies.

Daar was hierdie belaglike duur ingevoerde kaasbord, iets soos R200-00 verbeel ek my. Daar is nie 'n manier dat ek R200-00 vir 'n kaasbord betaal nie, toe stel ek my eie kaasbord saam.


Had ek tog maar die kaasbord gekoop. Twee winkels verder, toe het ek ver verby R200-00 aan hopeloos te veel kaas spandeer.


Gelukkig is 1 Januarie op sy lekkerste met net verskillende kase, brode en beskuitjies.


No comments: