Iewers, ek weet nie wanneer, waar of hoe nie, het hase ter
sprake gekom.
Miskien was dit iewers in Januarie toe ons die kat moes
weggee omdat Klaradyn se allergiese reaksie op die dierbare dierasie haar hele
menswees negatief affekteer het, haar wakker, haar slaap, haar speel en haar
skoolwerk.
My gesonde verstand sê vir my 'n kind wat allergies op katte
reageer, tien teen een ook allergies op konyne gaan reageer.
Maar ek is bereid om dit te probeer.
Ek sou hoenders, eende, makoue, poue en 'n swaan of twee ook
op die werf wou hê.
En as hase blyk om 'n nee-nee te wees, sal ek hierdie ander
groterige knaagdiere ook probeer – marmotte.
Al wat ek ooit gehad het was 'n foksterriër en twee Indiese
ringnekparakiete.
Annieka het 'n hele ark (met uitsondering van miskien rotte
en muise, verbeel ek my) gehad.
Klaradyn moet dieselfde as haar Ma kan geniet. (En alles wat
haar pa nie kon geniet nie – en nog meer.) Dit terwyl sy nou vanuit die
staanspoor op katte uit moet mis!
Daar was die vakansie op die een of ander televisiekanaal
wat op diere fokus, 'n insetsel oor 'n haarlose kat. Hierdie program het die
kind wys gemaak dat mense met 'n allergiese reaksie op katte minder sensitief
vir hierdie katte is.
Ek het gaan loer en miskien is my teorie oor 'n reaksie op
konyne wat soortgelyk aan die van katte gaan wees, verkeerd. Dit blyk dat die
mens nie 'n reaksie op die fisiese haar het nie, maar 'n ensiem wat op die haar
agterbly as die kat hom- of haarself skoongelek het dit word op die haar droog
en val as vlokkie af, of saam met die haar as die kat sy hare verloor.
Die Siberiese kat, ten spyte van 'n digte pels, soos ook die
Balinese ras, het lae vlakke van hierdie ensiem. Ander rasse, soos die Rexe,
het weer korter hare – met minder vlokkies wat gedroog agterbly. Dan is daar
ook die, soos die Orientals en Javaanse katte, met langer hare, maar soveel
minder daarvan, dié sonder 'n dubbellaag pels, dat die probleem van 'n allergiese
reaksie aansienlik krimp. En dan die haarlose Sphynx.
Maar sodra 'n kat se ras 'n naam aan hom gekoppel het en nie
in 'n boks onder 'n snelwegoorbrug opgetel word nie, kos hy die helfte van my
maand se salaris. Die helfte wat ek bereid is om te betaal, al kan ek dit nie
bekostig nie, omdat 'n kat in die huis vir my 'n onnoembare waardetoevoeging
tot enige huis en lewenstyl is, omdat Annieka 'n kat mis, en omdat Klaradyn 'n kat
so vreeslik mis.
Ek het nou twee telers opgespoor wat ons genooi het om te
kom kuier, dat ons kan sien hoe die kind reageer.
Die enkele teler van die Siberiese kat in Suid-Afrika sit
egter in die Kaap.
Ons sal maar sien.
Maar intussen is dit ons en die hase.
Iewers, ek sê dit weer, het dit gekom dat Pappa die
einde van die jaar 'n haashok sal bou. Dit het sommer net deel van die gegewe
geword – hoewel my vrou dit natuurlik nou ten sterkste ontken en te kenne wil
gee ek is die een wat die gedagte inisieer het.
Ons het in 'n stadium wel 'n effense gedragsprobleempie
opgetel, niks om oor huis toe te skryf nie, en ek het gereken vir wat moet die
kind sommer net 'n haashok kry – sy kan mos vir die ding moet wérk.
Dis toe dat ek die gedagte aan 'n wollerige knaagdier as wortel voor die neus
gehou het – verbeter jou gedrag en jy kry die haashok (wat jy in elk geval sou
kry, omdat ek nou al van Julie-maand moet hoor dat ek vir jou een gaan bou.)
Nou kyk, 'n hok sal ek bou – vir wat weet ek ook nie, konyne
word deesdae as huisdiere aangehou soos katte – maar om 'n hok aan te lê,
en dit net vir konyne, daarvoor sien ek nie kans nie! Die hok moet groot genoeg
wees dat ek nie skuldig sal voel om 'n konyn of twee daarin te huisves nie,
maar dit moet ook ruim genoeg wees om voëltjies in te hou.
Toe ons die vakansie op Knysna by World of Birds 'n draai maak, toe weet ek presies op welke wyse ek
my hok aanmekaar gaan timmer. Om een teen R3 000 te koop, is buite die kwessie –
ek sukkel eerder self 'n week lank en kry hom eiehandig teen R3 700 mankoliek
op die been.
Die hok is halfpad gebou. Daar lê nog groot werk voor, maar ons
is amper oor die hond se stert.
Hase sal sy kry.
Ons moet dan nou net wag tot Septembermaand wanneer Pappa
miskien weer 'n geldjie het, dan sit hy vir hom 'n paar voëltjies
ook in.
Dis nou as ons nie dan af ry Kaap toe om 'n ou Siberiese klein katjie op te gaan tel nie.
Maar dis nog lank, en my werk ver van klaar. Laat ek die mymer en speel met woorde laat en teruglim in die tuig.
No comments:
Post a Comment