Pages

22.12.11

Los gedagtes opgebind, toegebind en afgebind


Annieka en Klaradyn totter vanmiddag met die Kersboom en Klaradyn verwoord met effense ongedurigheid 'n ietsie wat haar opreg pla, 'n effense ongelukkigheid, iets wat krap:  “Die Kersboom was nog nooit so kort nie, wat het dan nou skielik met hom gebeur?”

As jy vir my gesê het dat so iets moontlik is, het ek jou nie geglo nie. As jy my dit vir die waarheid oorvertel het, sou ek dit miskien nie hardop gesê het nie, maar ek sou beslis gedink het dat jy lieg.

En hier, vanmiddag, kom dit uit my eie kind se mond!

Ek is onmiddellik na my kindertyd verplaas en in die gedagtes 1969 toe, Bee Gees toe:

When I was small and Christmas trees were tall
We used to love while others used to play
Don't ask me why, but time has passed us by
Someone else moved in from far away

Now we are tall and Christmas trees are small
And you don't ask the time of day
But you and I, our love will never die
But guess we'll cry come first of May

The apple tree that grew for you and me
I watched the apples falling one by one
And I recall the moment of them all
The day I kissed your cheek and you were gone

Now we are tall and Christmas trees are small
And you don't ask the time of day
But you and I, our love will never die
But guess we'll cry come first of May

When I was small and Christmas trees were tall
Do, do, do, do, do, do, do, do, do
Don't ask me why, but time has passed us by
Someone else moved in from far away.

Ek soek nou al jare na 'n gedig van Stephan Bouwer wat ek in 1984 of ’85 laas gehoor het. Dit verwoord iets soortgelyks, op 'n eie oorspronklike manier die dilemma van dit wat Klaradyn verwoord het, iets wat die Bee Gees ook destyds aangeraak het.

Die gedig, wat nie in een van Bouwer se twee bundels opgeneem is nie, maar iewers in 'n Tydskrif vir Letterkunde, of iets soortgelyks, verskyn het, het die titel:  Weer op Ouma Pollie se plaas. Die stem in die gedig spandeer weer 'n Kersfees op sy Ouma Pollie se plaas. Elke strofe sluit af met die woorde:  Kersfees is nie meer dieselfde nie. In die slotstrofe kom die stem egter tot insig, en verbreek die patroon van die vorige strofes met 'n veelseggende variasie:  Kersfees, én ek, is nie meer dieselfde nie.

Dit is 'n gedig wat ek graag oor my leerders se pad wil bring, maar verniet of ek dit kan opspoor.

Ek google gereeld, soos vanaand weer die grepe uit die teks wat ek onthou, maar verniet, geen mens wil dit plaas nie.

In my internet-speurtogte na die gedig het ek selfs al uitgevind dat dit einste Stephan Bouwer was wat in die tagtiger jare, en hoe baie keer het ek nie daar verby gery nie, teen 'n muur teenoor die destydse SAUK die volgende bekende graffiti aangebring het:  Hezkiël 2:13: God weet, so kan dit nie aangaan nie!

Daar is trouens min wat ek jou nie van Stephan Bouwer kan vertel nie – ek het byvoorbeeld in 'n stadium Afrikaans gegee in dieselfde klas waar hy in matriek Afrikaans gekry het – maar presies hoe hy sy grootword en die krimp van Kersbome in sy gedig oor Ouma Pollie se plaas, verwoord het, kan ek jou nie sê nie.

En kyk waar loop my gedagtes nie met my nie! Ek was laas by my kind wat onder my oë, en die honderde klippe wat ons al op haar kop geplaas het om dit te keer, groot word.

Nadat my oë wou-wou trane begin skiet (sommer oor my kind groot word, oor die tyd van die jaar, oor alles en alles wat hierdie jaar gebeur het, oor Kersbome ook eentyd vir my groot was) sit ek toe dadelik af om te kyk of ek nie oor die internet 'n opname van die liedjie waarvan ek Klaradyn sopas met groot opgewondenheid vertel het, kan opspoor nie.

Dit het die rekenaar 0.26 van 'n sekonde geneem om my te oortuig dat ek wel iets vir Klaradyn sal kry om na te luister, ongeveer 121 000 om presies te wees.

Die treffer is wat my betref klassiek – Klaradyn se reaksie het van die melodie se tydloosheid getuig. Sy het summier daarvan gehou.

Ek onthou ook dat ek van die deuntjie gehou het, lank voordat ek die vaagste idee gehad het waaroor die liriek gaan.

En dan is ek iemand wat nie sterk gefokus op enige liriek nie – ek het op universiteit nog steeds nie geweet waaroor die liedjie gaan nie, ek het, om die waarheid te sê, vandag eers agter die kap van die liedjie se byl gekom, toe ek twee karaoke-video’s op Youtube opspoor en ek en Klaradyn dit met oorgawe saam begin sing.

(Sy klim pens en pootjies op my skoot en sê verskonend:  “Ek kan nou maar een maal nie van 'n mens se skoot afbly nie, jammer Pappa. En ek wens stilweg die Kersbome wil reusagtig groot bly.)

Ons kyk en luister seker na drie Bee Gee-opnames van die liedjie. Die interessantste was om die broers dit in 1969 te sien sing, en dan weer dertig jaar later, tydens 'n opname wat hier in Suid-Afrika gemaak is.

Die klanke (en beelde by 'n video-opname) spreek toe so tot my kind, dat sy self skoon bewoë raak.

Wat is dit, so al asof die oë se wassers hierdie tyd van die jaar uitgewerk is.

Ons ry vanmiddag verkeerd en moet verby die ouetehuis waar ek my ma gegroet het verby ry.

En niemand kom iets agter nie, dis nou tot Engelbert Humperdinck oor die motorradio, asof vooraf bestem en met onnabootsbare tydsberekening, Blue Spanish eyes, (Judy se gunsteling, naas Somewhere my Love, uit Dr. Chivago) begin sing.

Dit laat my opnuut wens dat ek nog uit die dae toe Kersfeesbome so groot soos lewensgetroue en –grootte dennebome was, die gedagtebeeld van afgestorwenes wat van bo uit die hemel op ons neerkyk, kon huisves. Die vertroostende kinderbeeld wat ek gehad het van die dooies wat van bo op ons afkyk, byvoorbeeld Judy wat liefdevol oor my toesig hou en, belangrikste van alles, steeds van my liefde en ons almal se gemis aan haar bewus is, bring helaas nie meer troos nie, ek sukkels selfs om dit in die geestesoog op te roep.

Maar dis hoe my pa, na sy dood destyds, op my afgekyk het.

En ek het daarin troos gevind.

Maar toe het ek gewonder of my pa eendag by ons, my, my ma en my broer en ons gesinne gaan aansluit, en of hy by sy eerste vrou in die koor gaan inval.

Toe het ek ook dieselfde oor my ma gewonder – in die hemel luier (en kuier) sy dalk saam met haar eerste man.

Hierna, nog voor die patertjies my ander dinge in die kop kon praat, het ek besef dat ek nie hoef te worry nie – my pa sal die hemelpoorte, as alles wat hulle te vertelle het, waar is, nooit sien nie.

En as my ma aanhou soos sy aanhou, sal sy ook nooit by Petrus met die sleutel ingenooi en verwelkom word nie.

Tog sou dit vir my lieflik wees as sy vanuit die hemel wat ons as kind iewers daar bo, ver, gesien het, stille getuie kon wees van die entjie pad wat ons vandag verby haar sterfhuis gery het.

Dit sou vir my soveel lekkerder gewees het as die spieël waardeur ons nou kyk, die een waarvan Paulus die Korintiërs vertel het, effens minder dof was.

Die gedig wat ek graag met leerders deel wat hierby aanklank vind, ken ek so goed, dat ek dit uit die kop kan opsê (maar my kommas en hoofletters val dalk op ander plekke as waar Lina Spies dit oorspronklik had):

Die kind en die wolf

God was in die begin ‘n wegkruipplek:
tasbaar soos die beertjie in my arms,
naby en seker soos die baksteenmuur
en ek die wyse varkie klein en veilig binne
terwyl die wolf vergeefs sy asem
deur die skoorsteen blaas.

Maar later was my huis van klei en
eindelik heeltemal van strooi:
die mense met hul ou gesigte
het ges
ê daar is geen wolf nie
en kinders wat aan wolwe glo,
is nie vir Jesus lief nie.

En nou, Here, het ek wys geword soos hulle
en in die donker is ek nooit meer bang nie.
Laat tog die wolf weer deur die skoorsteen blaas.

Ek kyk vandag met ander oë na die gedig, as toe ek 'n kind was en die gedig tóé reeds tot my gespreek het.

Gedagtes in die gedig verwoord, gedagtes uit een van haar eerste digbundels (indien nie haar eerste digbundel nie – maar ek is nie 'n kenner nie) is steeds in haar latere (en miskien selfs laaste, tot op datum) digbundels.

Die ander gedagte van vandag wat moet uitkom, terwyl ek dit dan nou so oor gedigte en lirieke het, hou dan verband met 'n baie ou volksliedjie:

Saai die waatlemoen,
saai die waatlemoen,
saai die waatlemoen,
saai die waatlemoen!
My mamma roei die skuitjie,
my pappa blaas die fluitjie,
my boetie draai die orreltjie,
saai die waatlemoen!

Almal het seker nie 'n ding met 'n waatlemoen nie, maar ek het.

En uit wat Klaradyn vandag kwytgeraak het, en die manier waarop sy dit kwytgeraak het, vermoed ek sy gaan ook eendag 'n ding met 'n waatlemoen hê, as sy dit nie reeds lankal het nie.

Dis seker nou al drie jaar, as dit nie vier is nie, dat sy, elke keer as sy dit in die winkels begin gewaar, vra dat ons weer waatlemoen sal koop. In die begin kons sy nie eers die woord van die vorige jaar toe dit in die winkels was, onthou nie; dan vra sy bloot of ons dan nie maar weer een van daai (dan wys sy na die waatlemoen) kan kry nie.

Baie dinge vul met my met nostalgie, maar min dinge doen dit so goed soos 'n waatlemoen.

'n Waatlemoen hou vir my die lekkerste kindertydherinneringe in.

'n Waatlemoen sê vir my dit gaan goed, Pa, en ooms soos Oom Giel, die NG-kerk en die Nasionale Party, Pretoria, is in beheer. (Ek sê weer, kindertydherinneringe, uit en deur die oë van 'n kind.)

Wat Nagmaal, brood en wyn, vir party doen om die Christus-gesin te bind, doen die deel en sny van 'n waatlemoen vir my, om vriende, familie en 'n gesin te bind.

Ons het waatlemoen op Sondagagtermiddag aangesny. By die huis as ons vriende oor had, by Ma-hulle se vriende op Pretoria, by die familie op Brits op die plaas, by my peetouers op hulle plaas buite Bultfontein.

Dis op hoogsomer Sondagagtermiddae, wanneer jy nie na ete kon gaan slaap het nie (daar is mense wat kom kuier het, of ons is die mense wat kom kuier het) lank na etenstyd, as die kos al gaan lê, net voor vertrek, gesny.

En soos wat die man van die huis die voorsnywerk met die skaapboud of die hoender, tydens die middagmaal gedoen het, doen hy ook nou die voorsnywerk met die waatlemoen. Dis hoe dit hoort.

Vriend Riaan het later jare gesê dat ons 'n speenvarkie gaan slag, as ons by hulle kuier en die tyd van die Sondagmiddag waarop ons oorbeweeg na die ritueel van die waatlemoen het aangebreek.

En nou is daar mos twee maniere van 'n waatlemoen sny: in ringe wat halwe sirkels word, en almal kry van alles; of in halfmaanskywe (vir die kinders) met die grootmense wat die kroon kry.

Vandag noem ek laasgenoemde manier, die manier van die ooms, van my pa, die NG-kerk en die Nasionale Party.

Dit was ongelukkig die manier waarop 'n waatlemoen destyds gesny is.

Dis by my beginselsaak om dit nie so te doen nie.

Daardie jare het kinders altyd laaste kos gekry, behalwe as dit by waatlemoen gekom het – dan moes ons eerste in die tou kom val om die tweederangse skywe uit die pad te kry sodat die grootmense (as daar min was), die mans (as daar baie mense was) die stroopsoet kroon met sy lieflike tekstuur kon kry. Dis nou ons, en die wat soos ons was:  die swartes, die van ander politieke partye en kerkverbande, die andersdenkendes en sommer enige een wat nie reg in die regte boksie gepas het nie.

Ek koop hoogstens een keer 'n jaar 'n hele waatlemoen – ons is net nie meer so gereeld soveel mense saam dat meer as 'n helfte nie terug yskas toe moet gaan nie.

Vanmiddag het ek met 'n kwart by die huis aangekom.

Toe ons klaar ge-oe en ge-aa het (“dis die lekkerste waatlemoen nog hierdie seisoen” komende van my én Klaradyn – en dit terwyl dit ons eerste waatlemoen vir die seisoen was) vra Klaradyn wanneer ek dan nou weer 'n hele waatlemoen gaan koop.

Nee, blyk dit op navraag, sy wil weer waatlemoen hê wat sulke halfmaanskywe gesny word.

En toe kry ek lag – ons is nooit so baie om ons waatlemoen nie – en ek weet my kind wat kleintyd (anders as ek wat moes wag tot ek al geskeer het) al geproe het hoe proe 'n waatlemoen se kroon, het hierdie versoek na halfmaanskywe, suiwer om ook die stukkie kroon, wat agterbly as die skyf uitgebreek word, te kry.

En saam met die binneste lag, toe ook weer die binnetoe huil: my ma en Oom Jack het waatlemoen tog so geniet, in die ou huis, die nuwe huis, die ouetehuis en later selfs die Altzheimer-versorginsgeenheid waarnatoe ek vir my ma stukkies waatlemoen aangedra het en haar gevoer het.

Soos hulle opgewonde kon raak oor 'n skyfie Kerskoek, hierdie tyd van die jaar, presies so, het hulle opgewonde geraak oor 'n stukkie koue waatlemoen.

Ek onthou nog toe my ma nie omgegee het om waatlemoenpitte te eet nie.

Ek onthou toe sy begin het om dit versigtig, een vir een, uit te krap. Soos ook Oom Jack.

En dan onthou ek ook die dae wat ek dit vir haar gedoen het.

Soos ek sê, sommer oor my kind groot word, oor die tyd van die jaar, oor alles en alles wat hierdie jaar gebeur het, oor Kersbome ook eentyd vir my groot was. Oor die NG- en NP-afkortings wat genadiglik nie meer in beheer is nie. Oor waatlemoen en oor Kersfeeskoek ook.

Naskrif: 

Ek weet ek het al oor waatlemoen en hoe ek daaroor voel gesels. Ek kon amper nie glo hoe ek dit meer as 'n jaar gelede verwoord het, toe ek dit weer opgespoor het nie. Ek het my gedagtes van destyds summier onder Tweedepouse gaan spoeg en plak. Lees gerus hier.

No comments: