Die Desembervakansie voor ek skool toe is, 1970 – as my
somme reg is, het ons Kersfees en Nuwejaar by vriende van my pa-hulle op 'n plaas
in die Douglas-omgewing deurgebring.
Hierdie vakansie hou meer as 40 jaar later steeds enkele
baie helder en kosbare herinneringe in.
Maar dit hang ook af hoe jy kosbaar interpreteer – die een is kosbaar omdat ek baie en hoë waarde
daaraan heg; die ander is kosbaar omdat dit 'n duur gekogte herinnering is.
Nou klink dit of daar net twee herinneringe is, en dis
verkeerd – daar is baie.
Kom ek sê dan maar eerder dat die
Desembervakansie voor ek skool toe is, een is wat ek nooit sal vergeet nie. Dis
die eerste en enigste keer dat ek met Oujaarsaand vuurwerke buite op die werf
beleef het. Die stoepstoele is van onder die stoep uitgedra en op die kweek
staan gemaak. Daar het ons gaan sit – die grootmense op die stoele, ons op die
gras – en die oom het die goed en die lonte gemaak brand.
Toe kry ek masels en is in 'n kamer waarvan die gordyne om
die een of ander rede dig gehou is, opgesluit. Dit was so 'n siekbed dat ek 'n week
of wat laat vir graad 1 was. Pa-hulle het die vakansie verleng en ons is nie
terug Rand toe, voor ek nie gesond was nie.
Die les waarvoor ek duur betaal het, hou verband met my
Kerspresente.
Voor ek siek geword en in die donker siekekamer afgesonder
is, het ons gesin in ons karavaan wat langs die huis getrek was, geslaap – daar
was ander familie en vriende ook op die plaas saamgetrek, 'n fees van kleuters
en kleintjies my ouderdom.
Wat ek daardie jaar vir Kersfees gekry het, kan ek nie
onthou nie. Ek weet wel dat my ma dit, nog nie toegedraai nie, op die boonste
bed in die karavaan onder haar kniekombersie met blou en groen blokkies
weggesit het om toe te draai.
En sy het vir my gesê om die middag nie in die karavaan te
gaan krap nie, my geskenk is uitgehaal en sy moet skêr en selotape in die huis kry, om dit nog toe te draai.
Sy het natuurlik nie gesê dat dit op die boonste bed
onder die blokkieskombers weggesteek is nie – dis bloot net waar klein Hansie
sy geskenkpakkie opgespoor het, die oomblik toe die grootmense hul gatte in die
een of ander rigting gedraai het.
Dit was net nie dieselfde nie.
Ek kan my voorstel dat ek baie hard gemaak het of ek verras
was toe ek uiteindelik daardie aand die pakkie kry, tien teen een té
hard, want ek onthou soos gister dat my ma en pa my daardie aand aangepraat het
en gevra het of ek nou my les geleer het om nie doelbewus 'n geskenk se
verrassing te bederf deur vooraf te loer nie.
En ek het, baie deeglik.
Dis nou veertig jaar later en nog nooit weer, al is die
geleentheid daar – soos vanjaar weer met die feit dat ek presies weet waar
Annieka my pakkie wegsteek – het ek aan die versoeking toegegee nie. Ek wil
amper so ver gaan om te sê dat die geleentheid nie eers meer enige versoeking vir my
inhou nie = vir veertig jaar nou al nie meer nie. In Afrikaans sê
ons geleentheid gee geneentheid; maar
dis geensins waar wat Hans, met die baie en groot dele Klein Hansie wat nog in
opgesluit is, betref nie.
Omdat ons die karavaan eintlik net slaapkamer was – ons het
in die huis, op die stoep, op die werf en langs die rivier gekuier – is die
tent natuurlik nie opgeslaan nie; dit was net die karavaan met sy afdakkie van
seil wat voor aangeheg was. Onder hierdie afdakkie of “stoepie” is twee
kampeerstoele en 'n klein opvoutafeltjie staangemaak.
En op daardie opvoutafeltjie het daardie jaar, vir die
eerste keer, uitgepak gestaan, die einste klein Kersboompie waarna ek nou kyk
as ek my oë
van die skerm en toetse op die sleutelbord lig.
Oor ons nooit 'n Kersfees by die huis deurgebring het nie –
ek onthou letterlik nie 'n enkele Kersfees in my geboortehuis waar ons tot
einde standerd 2 gebly het nie – en my ouers nie 'n Kersboomtradisie vir my as
kind kon begin nie, het my ma daardie jaar begin om elke jaar 'n Kersboompie
wat nie eers 'n liniaal se lengte hoog is nie, saam te neem in die karavaan.
Vir die boompie is ons al die pad Johannesburg toe, Jacoby’s
toe. Jacoby’s – die naam sê vandag vir my dat dit 'n Joodse onderneming moes gewees
het – was 'n lieflike geskenke- en breekwarewinkel waar ons elke jaar rondom
Kersfees 'n draai gemaak het.
Eintlik was die winkel, met 'n stel trappe op, op die eerste
vloer. Onder was 'n ander deel, miskien gans 'n ander besigheid, waar jy die
lekkerste sjokolade, lekkergoed en ander lekkernye kon koop.
Hierdie jaar het ons dan ook nie net met die Kersfeesboombie
teruggekom nie – my ma sou onder by die lekkergoed ook 'n draai gemaak het en vir
die mense op die plaas 'n gekenkeboks sjokolade (dit was nog die jare van
sjokoladebokse met die mooiste chocolate
box-prentjies van hondjies of katjies of buitelandse natuurtonele op) of
geskenkeblik pepermente of humbugs gekoop
het.
En ek het sedertdien nog nooit 'n enkele Kersfees sonder
daardie Kersboompie gehad nie.
Dis 'n music box-Kersboompie
(ek is somehow te min van 'n taalpuris
om van 'n speeldoos-/musiekdoos-Kersboom te praat) daarby, en wen jy hom op,
dan vermaak hy jou met Jingle Bells.
Dit het my as kind baie keer, baie lank besig gehou – en daardie
deel van kindwees wat deur dié boompie en sy klank vermaak kon word,
het ek veertig jaar later, gelukkig, steeds nie afgesterf nie.
Maar ek is 40 jaar ouer en my belewenis van die boompie het
baie verander – dis nou al jare dat hy saam met die vreugde ook die lekkerste,
warmste trane saam met die lekkerste, warmste, mooiste herinneringe bring.
Saam met die kindwees wat ek nie afgesterf het, bring die
boompie ook alles wat afgesterf het, alles wat ek afgesterf het, alles wat my
afgesterf het, alles wat ek afgesterf het maar ook nie volledig afgesterf het
of wil afsterf nie, alles wat my afgesterf het maar ek nie afgestorwe van wil
wees nie, terug. En in 40 jaar is dit vir 'n nostalgiese melankool soos ek,
nogal baie.
Nee, daar is natuurlik nie 'n persoonsnaam soos
melankool/melanchool nie, maar ek kan nie aan 'n beter een dink om my te
beskryf nie. Ek hou ook van die kontaminasie van mankoliek en melankolies om
melankoliek te vorm – ag, ek is vandag sommer net skoon melankoliek.
Ander jare is ek vroeg om die boompie uit te bring – sitkamer
toe, eetkamer toe, of sommer op die kassie langs my bed.
Ek is ook nie haastig om hom te bêre nie.
Verlede jaar moes ek hom 'n facelift, 'n revamp en
amperse total makeover gee.
Vanjaar het ek moes wag tot ek sterk genoeg gevoel het om
hom uit te bring. Ek het hom lankal uit die kas gehaal, hy het vir my gestaan
en kyk vir seker twee weke, maar ek moes krag kry om hom en die lieflike
gedagtes en herinneringe wat hy bring af te kan stof.
Gister het ek besef, as ek moet wag tot ek die innerlike krag
en sterkte daarvoor het, gaan ek nie vanjaar, vir die eerste keer in veertig
jaar, Kersfees saam met my boompie hê nie – en daarvoor sien ek ook nie
kans nie. So toe kry ek dit gisteraand in 'n gemoedelike tydjie saam met
Annieka in plek.
Ek het nog nie kans gesien nie om hom op te wen en uit
luister nie.
Maar dan hoef ek ook nie – Rome is nie in een dag gebou nie.
Ek weet in elk geval hoe hy klink.
En op Lief-klein Klaradyn kan altyd gereken word – sy sal
hom wel iewers tussen nou en oppaktyd vir ons aan die speel kry, dan blink ons
altwee se oë
alte lekker – op twee verskillende en trouens wyduiteenlopende maniere.
No comments:
Post a Comment